Skip to main content

God roep alle mense oral op om hulle te bekeer – Handelinge 17:16-34

Paulus is in Athene waar hy wag vir Silas en Timoteus om van Berea af te kom, na die opstand rondom Paulus en sy boodskap.

Athene was destyds ’n soort wêreld op sy eie. Amper soos Londen of New York. ’n Soort kultuursentrum van tempels, teaters, markpleine – waar mense van oor die hele wêreld saamgetrek is.  Amper ‘n soort geestelike middelpunt vir die denkendes van daardie tyd.  Dit was die soort plek waar die lewe nie stilstaan nie, maar waar nuwe dinge daagliks gebeur.

Soos Lukas dit hier stel: “Al die Atheners en ook die vreemdelinge wat daar woon, het vir niks anders tyd as om oor iets nuuts te praat of daarna te luister nie.

Paulus raak verontwaardig (sy gees roer in hom) weens die baie afgodsbeelde in die stad. En hy begin in die sinagoge met die Jode en ander godvresendes te praat en later ook met die verbygangers op die stadsplein, by die pottebakkersmark, die kerameikos, wat weens die baie afgodsbeelde ook die godemark genoem is, te praat. Nog later ook by die Stoa Poikile, ’n pilaargang op die Areopagus wat met bont kleure geverf was, waar die wysgere en redenaars, die manne wat kan praat, bymekaargekom het.

En die hart van sy boodskap is dit. God: “roep alle mense oral op om hulle te bekeer.” Trouens, in die Engels lui die vertaling só. God: “commands all people everywhere to repent.” (ESV).

Dit is in ‘n neutedop die boodskap wat die Here ook vandag vir ons het.

Verwelkoming

Toetrede

Psalm 104:1,8,15 Ek wil die Here loof en prys– sit

Votum en Seëngroet

Uit een mens het U al die nasies van die mensdom gemaak om die hele aarde te bewoon. U het vir hulle vasgestelde tye bepaal en die grense van hulle woongebied, sodat hulle U kon soek, in die hoop dat hulle na U kan uitreik en U kan vind, want U is nie ver van elkeen van ons af nie. Want deur U leef ons, beweeg ons en bestaan ons. Ons is ook van u geslag.

U het die tye van onkunde oorgesien. Maar nou roep U alle mense oral op om hulle te bekeer. Want U het ‘n dag bepaal waarop U die wêreld in regverdigheid gaan oordeel deur die Man wat U daarvoor aangewys het. En U het dit aan almal bevestig deur hierdie Man, die Here Jesus Christus, uit die dood te laat opstaan. Aan Hom het ons ons hele bestaan te danke tot lof van U, Ons Vader, die Skepper van die hemel en die aarde (Hand 17:26-31).

Lofsang

Lied 161 Halleluja! Heer, U is ons lewe, middelpunt van ál ons hoop– staan

Lied 205:1,2 Bring lof aan die Vader, verheerlik die Seun– staan

Verootmoediging

Paulus skryf: “Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here is van hemel en aarde, woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie. Hy word ook nie deur menslike hande bedien, asof Hy aan iets behoefte het nie — dit is Hy wat aan almal lewe en asem, ja alles, gee. Uit een mens het Hy al die nasies van die mensdom gemaak om die hele aarde te bewoon. Hy het vir hulle vasgestelde tye bepaal en die grense van hulle woongebied, sodat hulle God kon soek, in die hoop dat hulle na Hom kan uitreik en Hom kan vind, want Hy is nie ver van elkeen van ons af nie.” (Hand 17:24-27).

Lied 500:3 Gods dade is volmaak en goed, sy trou is altyd seker– sit

Gebed

Skriflesing

Handelinge 17:16-34 – agtergrond: skildery van Raphael (1515)

16Terwyl Paulus in Athene op hulle gewag het, was hy in sy gees diep verontwaardig toe hy sien dat die stad vol afgodsbeelde is. 17Hy het in die sinagoge met die Jode en die mense wat God vereer, geredeneer en ook elke dag op die markplein met wie ook al daar was. 18Sommige van die Epikuriese en Stoïsynse filosowe het ook met hom gedebatteer, en party van hulle het gesê: “Wat sou hierdie praatjiesmaker tog wil sê?” En omdat hy Jesus en die opstanding verkondig het, het ander van hulle weer opgemerk: “Dit lyk of hy ‘n verkondiger van vreemde gode is.” 19Hulle het hom geneem en na die Areopagus gebring en gesê: “Mag ons weet wat die nuwe leer is wat deur jou verkondig word? 20Want dit wat jy sê, val vreemd op ons ore en ons wil graag weet wat dit beteken.” 21Al die Atheners en ook die vreemdelinge wat daar woon, het vir niks anders tyd as om oor iets nuuts te praat of daarna te luister nie.  22Paulus het toe in die middel van die Areopagus gaan staan en gesê: “Atheners, ek sien dat julle in alle opsigte baie godsdienstig is. 23Want toe ek deur die stad gestap het en noukeurig gekyk het na julle voorwerpe van aanbidding, het ek ook ‘n altaar gevind waarop geskryf staan, ‘Aan ‘n onbekende god.’ Wat julle dan onwetend aanbid, verkondig ek aan julle. 24Die God wat die wêreld gemaak het en alles wat daarin is, Hy wat Here is van hemel en aarde, woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie. 25Hy word ook nie deur menslike hande bedien, asof Hy aan iets behoefte het nie — dit is Hy wat aan almal lewe en asem, ja alles, gee. 26Uit een mens het Hy al die nasies van die mensdom gemaak om die hele aarde te bewoon. Hy het vir hulle vasgestelde tye bepaal en die grense van hulle woongebied, 27sodat hulle God kon soek, in die hoop dat hulle na Hom kan uitreik en Hom kan vind, want Hy is nie ver van elkeen van ons af nie.  28“Want deur Hom leef ons, beweeg ons en bestaan ons, soos sommige van julle digters inderdaad gesê het, ‘Ons is ook van sy geslag.’ 29Aangesien ons dan van God se geslag is, moet ons nie dink dat die goddelike soos goud of silwer of klip is nie — ‘n beeld gevorm deur die vaardigheid en ingewing van ‘n mens. 30God het die tye van onkunde oorgesien, maar nou roep Hy alle mense oral op om hulle te bekeer. 31Want Hy het ‘n dag bepaal waarop Hy die wêreld in regverdigheid gaan oordeel deur ‘n Man wat Hy daarvoor aangewys het. En Hy het dit aan almal bevestig deur Hom uit die dood te laat opstaan.”  32Toe hulle van die opstanding van die dooies hoor, het sommige hom uitgelag, terwyl ander gesê het: “Ons sal jou weer hieroor wil hoor.” 33So het Paulus uit hulle midde vertrek. 34‘n Paar manne het egter gelowig geword en by hom aangesluit, onder wie Dionisius, ‘n lid van die Areopagus, en ‘n vrou met die naam Damaris, en nog ander saam met hulle.

Prediking

Athene

Paulus is in Atene waar hy wag vir Silas en Timoteus om van Berea af te kom, na die opstand rondom Paulus en sy boodskap.

Atene was destyds ’n soort wêreld op sy eie. Amper soos Londen of New York. ’n Soort kultuursentrum van tempels, teaters, markpleine – waar mense van oor die hele wêreld saamgetrek is.  Amper ‘n soort geestelike middelpunt vir die denkendes van daardie tyd.  Dit was die soort plek waar die lewe nie stilstaan nie, maar waar nuwe dinge daagliks gebeur.

Soos Lukas dit hier stel: “Al die Atheners en ook die vreemdelinge wat daar woon, het vir niks anders tyd as om oor iets nuuts te praat of daarna te luister nie.

Paulus raak verontwaardig (sy gees roer in hom) weens die baie afgodsbeelde in die stad. En hy begin in die sinagoge met die Jode en ander godvresendes te praat en later ook met die verbygangers op die stadsplein, by die pottebakkersmark, die kerameikos, wat weens die baie afgodsbeelde ook die godemark genoem is, te praat. Nog later ook by die Stoa Poikile, ’n pilaargang op die Areopagus wat met bont kleure geverf was, waar die wysgere en redenaars, die manne wat kan praat, bymekaargekom het.

En die hart van sy boodskap is dit. God: “roepalle mense oral op om hulle te bekeer.” Trouens, in die Engels lui die vertaling só. God: “commands all people everywhere to repent.” (ESV).

Dit is in ‘n neutedop die boodskap wat die Here ook vandag vir ons het.

 ‘n Boodskap vir kerkmense

Hierdie boodskap van bekering is in die eerste plek aan kerkmense gerig. Paulus doen hier in Atene moeite om hierdie boodskap te bring aan die Jodeen die godvresendesvan die sinagoge – die kerkmense van Atene.

En Paulus is helder in die oproep: God het ‘n dag bepaal waarop Hy die wêreld in regverdigheid gaan oordeel. Hy het ‘n Man daarvoor aangewys. Die Here Jesus Christus. Hy het Jesus se aanstelling bevestig deur Hom uit die dood te laat opstaan. En ons weet nie wanneer dit gaan gebeur nie, maar ons weet verseker dat dit gaan gebeur.

En dié boodskap is goeie nuus vir dié wat in Jesus glo. Met Jesus se Hemelvaart het Hy bevestig dat Hy weer gaan kom om juis dít te doen (Hand 1:7-8). Om die wêreld te oordeel. Vir dié wat in Hom glo, is dit wonderlike nuus. Dit gee hoop. Dit gee moed. Dit is ‘n belofte wat ons laat vasbyt.

Die boodskap van God se oordeel is egter ook slegte nuus vir dié wat nie glo nie. Dié wat nie tot bekering kom nie. Dié wat nie die Here Jesus volg in gehoorsaamheid aan alles wat Hy in sy Woord aan ons openbaar het nie.

Maar, onthou dat dit ‘n boodskap is wat eerstens aan kerkmense gebring is. Mense soos ons. Paulus se eerste gehoor is die Jode en die godvresendes, die godsdienstiges in die sinagoge, die mense wat week na week onder die geklank van die Woord sit.

‘n Boodskap vir alle mense

Daar is egter meer. Hierdie boodskap van bekering is in die tweede plek ook ‘n boodskap wat vir alle mense bedoel is, want per slot van rekening is daar nie ‘n mens op hierdie hele wêreld wat nie deur God geskape is nie.

Om hierdie boodskap van bekering te onderstreep, skets Paulus vir God as volg. Hy beklemtoon drie kenmerke van God.

1. God is die Skepper

Paulus beskryf God uitvoerig as Skepper met verwysing na die kosmos, die hemel en die aarde, en die skepping van mense. Hierdie Skepper kan inderdaad van die mense wat Hy geskep het, verantwoording verwag.

Ek dink ons moet goed hieroor nadink. Daar is nie ‘n mens op hierdie hele aarde wat nie deur God geskape is nie. Ons dink baie keer aan die natuur asof dit los van God bestaan. En ja, God is die Skepper van die natuur. Hy is transendent. Maar, Hy is intiem betrokke daarby. Hy het nie net die natuurwette bepaal nie. Hy sorg ook dat die natuur werk soos Hy dit bedoel het.

Behalwe as Hy juis deur bv droogte mense se aandag wil kry. Of deur reën dieselfde wil doen. Of deur ‘n wonderwerk wil wys dat dit na alles sy wette is, dinge waaroor Hy beheer het, en dat Hy kan doen met die natuur wat Hy wil, soos Hy wil, wanneer Hy wil.

Hierdie God het sy wil bekend gemaak in sy Woord, in die wet en die profete, in die Psalms, in die historiese boeke, in die wysheidsliteratuur, in die evangelies, in die briewe, in sy Openbaring. Dit is die mees omvattende helder duidelike en genoegsame weergawe van sy wil vir die mens. En Hy kan verwag dat ons daarop reageer. Dat ons in Hom glo. Dat ons Hom gehoorsaam.

Dit beteken dat Hy mense tot bekering kan roep, omdat Hy die Skepper is, én dat Hy sy wil bekend gemaak het, sodat mense daarvolgens kan lewe, en met Hom in ‘n verhouding kan lewe.

En om in daardie verhouding te kan lewe, moet ons twee goed besef. Die een is dat sonde ‘n afstand bring met God wat nie van ons kant af oorbrug kan word nie. Ons het ‘n Verlosser nodig, soos wat Paulus verder aan in sy toespraak uitspel.

Daarvoor moet ons die wet ter harte neem, wantsonde is om die wet van God te oortree. Dit is aan die hand van God se wet wat ons weet wat sonde is, waardeur ons ons behoefte aan ‘n Verlosser agterkom, en waardeur ons opgeroep word om in Jesus te glo, en in gehoorsaamheid en gebed die pad met Hom kan loop, soos die Heidelbergse Kategismus dit vir ons opsom.

Maar dit is nie al nie. Ons moet in die tweede plek ook weet dat sonde nie net wetsoortreding is nie. Dit is ook om te lewe in God se wêreld asof Hy nie bestaan. Asof Hy ons nie gemaak het nie. Asof Hy nie iets te sê het vir hoe ons moet lewe nie.

Bekering is dus van die sonde van ons oortredings van God se wet – in sy breedste sin. Bekering is ook van ons idee dat ons in God se wêreld kan leef sonder om Hom te erken of sy riglyne vir die lewe te eer en na te kom.

2. God is die God van die Geskiedenis

God is egter nie net die God van die natuur nie. Hy is nie net die Skepper, die Almagtige nie. Hy is ook die God van die Geskiedenis, die een wat al die nasies se wel en wee bepaal.

Laat dié gedagte ook ‘n slag lekker diep in jou bewussyn insink. Ons koop te maklik die valse idee dat God niks vir die politiek en die ekonomie te sê het nie. Dat in ‘n sekulêre staat soos ons eie die kerk hom net met die private saak van sy eie godsdiens moet bemoei. Só asof God nie in sy Woord helder sê hoe konings en leiers en sakemanne moet optree nie.

Ook hierdie leiers word tot bekering geroep. Niemand word uitgesluit nie. En dit beteken nie dat die staat aan die kerk onderdanig moet wees nie, maar dit beteken wel dat ons van die staat kan verwag om aan die Woord van God onderdanig te wees.

Ek weet dit is nie ‘n gewilde idee nie, soos ons kan sien in die skrywes wat nou oor die Nederlandse Geloofsbelydenis se artikel 36 in die Kerkbode geplaas word. Maar, wat mense gemaklik vergeet, is dat daardie belydenis opgestel is uit ons brondokument, die Bybel, wat verhaal op verhaal, en profesie op profesie, bevat waarin konings en leiers opgeroep word om die Here se wil uit te voer.

God hou alle leiers verantwoordelik vir die posisie van mag en invloed wat hulle beklee. Geen leier het enige gesag behalwe dié wat God aan hom of haar verleen nie. So het Jesus dit aan Pilatus verkondig (Joh 19:1-11). So verkondig Paulus dit aan die Grieke. So is dit ons dure plig om aan die leiers van hierdie wêreld te verkondig.

Sonder uitsondering. Jode, sowel as elkeen van die ander nasies. Gaan lees weer hoe Jeremia vir sy eie mense profeteer, en dan sonder om eers ‘n oog te knip, spreek hy al die nasies om hom aan om die Here te aanbid, selfs al weet hy hoe goed dat hulle ander gode aanbid het (Jer 46-51 – Egiptenaars, Filistyne, Moabiete, Ammoniete, Edomiete, Siriërs, Arabiere, Elamiete, en die Galdeërs in Babel).

Trouens, óns word as gelowiges opgeroep om vir regerings en gesagsfigure te bid dat hulle dit moontlik moet maak vir mense om die Here te aanbid in vryheid: “vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid.” (1 Tim 2).

Wat sit agter hierdie gebed? Die idee dat God die enigste God is, en dat Hy die enigste een is wat die reg het om te verwag dat mense Hom aanbid. Die enigste. En Hy roep mense op – dws ook nasies en regerings – om tot bekering te kom, en Hom te aanbid bó alles en almal. En dit moontlik te maak vir alle mense om die Here te aanbid, presies wat die NGB 36 ook agter die Bybel aan sê.

Daar is nie verskillende gode vir die verskillende nasies nie. Daar is nie ‘n sekulêre god vir die sekulêre staat nie. Daar is maar een God. En Hy moet deur almal gedien word. Ons kan nie in sy wêreld leef asof Hy nie bestaan nie.

En Hy roep alle mense tot bekering, want daar kom ‘n dag. God het dit bepaal, waarop Hy die wêreld in regverdigheid gaan oordeel. Hy het ‘n Man daarvoor aangewys. Die Here Jesus Christus. Hy het Jesus se aanstelling bevestig deur Hom uit die dood te laat opstaan. En ons weet nie wanneer dit gaan gebeur nie, maar ons weet verseker dat dit gaan gebeur.

3. Deur God lewe ons

Maar God doen hierdie oproep nie van ver af nie. Hy werk nie net in die skepping en die geskiedenis nie. Nee, Hy is baie nader aan ons as wat ons ooit kan dink. Hierdie Skeppergod, hierdie God van die geskiedenis, sê Paulus, Hy is ook naby ons. Trouens, in Hom lewe ons, beweeg ons, bestaan ons.

Meer nog, Hy het ons gemaak met ‘n behoefte aan Hom, ‘n ingebore behoefte na God wat deur niks anders as Hyself bevredig kan word nie. Paulus sê: “God het ons gemaak om Hom te soek, al sou ons ook moes rondtas om Hom te vind.”

Daar is ‘n krag van God wat hier rondom ons inwerk op ons, sy teenwoordigheid. Daar is egter ook ‘n krag binne-in ons wat smag na God se teenwoordigheid, wat net tot rus kan kom as ons oopmaak en Hom toelaat om sy teenwoordigheid binne-in ons tot sy reg te laat kom.

Bekering is dus nie net die belydenis van sonde nie. Dit is nie net die belydenis van ons geloof in Jesus Christus nie. Dit is ook die belewenis van God se teenwoordigheid wat ons binnekant inneem en ons lewens kom volmaak.

En dit vervul God daagliks regdeur die wêreld. Om die waarheid te sê, ons leef nie net deur Hom nie, soos die digters sê nie. “Van Hom stam ons af”.  Hy is ons oorsprong. Hy is die Een soos wie ons is, want ons is na sy beeld geskape.

Paulus gebruik hier twee aanhalings van die Griekse digters om die punt te maak dat ons in ons wese aan Hom verbind is en van Hom afhanklik is.

  • Die eerste frase “deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons” kom waarskynlik van Epimenides. Paulus beklemtoon daarmee egter iets anders as Epimenides. Hy beskryf God as die somtotaal van bestaan, dié Een uit wie en tot wie alle dinge is. En wil daarmee die Grieke tot bekering roep, om te skuif van hulle blote godsdienstigheid na geloof en navolging van hierdie God.
  • Die tweede aanhaling, naamlik “ons stam van Hom ook af” is van beide Kleantes en Aratus. In hulle gebruik daarvan, is die lof van Zeus besing, maar weereens is dit net ‘n aanknopingspunt vir Paulus. Hy besing daarmee God se lof, en ‘n mens hoor duidelik ook Genesis 1 weerklink, dat God ons as sy beeld, as sy verteenwoordigers gemaak het.

Dit is sommer ook ‘n antwoord op die vraag wat ons baie keer kry. Nou wat van dié wat nog nooit van God gehoor het nie? Wel, God gebruik selfs ‘n altaar vir ‘n anonieme God in die Areopagus in Atene om sy stem te laat hoor, want dít is hoe naby Hy aan elkeen van ons is.

Maar daarmee kom ons by die derde adres van hierdie boodskap.

‘n Boodskap aan gelowiges

Hierdie boodskap van bekering is in die derde plek ook ‘n boodskap vir ons as gelowiges, dié wat reeds die Here begin navolg het, wat reeds Hom dien, wat reeds die keuse gemaak het om Hom bo alles te stel.

Die gevaar is altyd lewensgroot vir ‘n gemeente om só op die bediening van lidmate te fokus dat die breër prentjie van die wêreld uit die bewussyn verdwyn. Dat die dure verantwoordelikheid wat ons het om die evangelie by alle mense uit te kry, uit ons gesigsveld verdwyn. Dat ons nie meer op bekering fokus nie, maar op bediening. Dat ons nie meer lidmate saamneem om te bid en te werk dat mense die boodskap van bekering hoor nie, maar al ons bronne gebruik om die lidmate se eie behoeftes te  bevredig.

Hoor egter die boodskap van die Here wat ons self roep tot bekering, nie die bekering tot die aanvaarding van die evangelie nie, maar die bekering tot die verkondiging van die evangelie.

God het ‘n dag bepaal waarop Hy die wêreld in regverdigheid gaan oordeel deur ‘n Man wat Hy daarvoor aangewys het. En Hy het dit aan almal bevestig deur Hom uit die dood te laat opstaan. Sy Naam is die Here Jesus Christus.

Die wêreld wag steeds dat ons as gelowiges ons verantwoordelikheid nakom. Om in die Naam van God alle mense tot bekering te roep.

Gebed

Dankoffer

Lied 442 Gees van God wat in my woon, breek die Woord vir my– orrel

Slotlied

Lied 435 Heil’ge Gees, U bou ‘n tempel deur die Woord wat kragtig werk– staan

Seënbede

Amen

Lied 189 Halleluja!(x3) – staan

View all posts in this series

Comment

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.