Skip to main content

Hulle sal teen jou veg, maar nie die oorhand oor jou kry nie, want Ek is by jou – Jeremia 1:11-19


Jeremia word geroep

Die profeet Jeremia word in hoofstuk 1 geroep om vernietiging en oordeel oor die volk Juda en hulle leiers aan te kondig. Sy boodskap is dat die volk God vergeet het en geweier het om Hom te erken. Hulle was so nutteloos in die verhouding met God soos ‘n verslete gordel om sy lyf. Daarom is die Here die volk nie meer goedgesind nie en het Hy geen medelye meer met hulle nie. Hy roep Jeremia as ‘n profeet vir die nasies, vers 10:

“om uit te ruk en af te breek, om ten gronde te laat gaan en plat te slaan.”

‘n Ontstellende boodskap wat hom uiters ongewild gemaak het by die volk en veral by die leiers van die volk, veral konings Jojakim en Sedekia. En al het die Here ook ‘n stukkie hoop gegee dat Jeremia ook ‘n boodskap moet bring dat ná die ballingskap daar ‘n tyd sal kom:

“om te bou en te plant,”

was dit hierdie boodskap van vernietiging waarmee Jeremia geworstel het.

Hoe sou jy reageer het?

Ek wonder wat sou jou reaksie wees as jy só ‘n opdrag kry? As die Here jou roep om die valse idees van die geloofsgemeenskap waarvan jy deel is, uit te wys. Bv die idee in Jeremia se tyd:

  • dat God se wet nie meer van toepassing is in hulle tyd nie – Jeremia 8:8: “Kyk, skrywers se leuenagtige pen het die wet leuens gemaak”;
  • dat immoraliteit nie saak maak nie – Jeremia 5:8: “Hulle het bronstige, paarlustige hingste geword; elkeen van hulle runnik vir die vrou van sy medemens”;
  • dat God net liefde is en vrede bring, maak nie saak hoe jy lewe nie – Jeremia 8:11: “Hulle wil die ineenstorting van die dogter van my volk op ‘n maklike manier herstel deur te sê, ‘Vrede, vrede!’ maar daar is geen vrede nie”.

Jeremia moes sy eie mense leer:

  • dat God nie net liefde is nie, maar ook heilig – Jeremia spreek hulle veral aan oor die ontheiliging van die sabbat (Jeremia 17);
  • dat God nie net vergewe nie, maar altyd die sonde straf – Jeremia verkondig aan hulle dat hulle eie boosheid hulle sal tugtig, en hulle afkerighede hulle sal straf (Jer 2:19).
  • dat God nie net vrede bring nie, maar ook verdeeldheid tussen dié wat God se Woord wil gehoorsaam en dié wat dit nie wil doen nie (die visioen van die twee mandjies vye in Jeremia 24).

Soos Vian dit verlede week verkondig het na aanleiding van die soortgelyke woorde van Jesus in Lukas 12. Want dit is wat Jeremia ses eeue tevore vir die volk moes verkondig. In profesie na profesie. In strydgesprekke in die tempel. In gesprek met die gewone mense sowel as met die konings.

Met hierdie boodskap moes hy aanhou ten spyte van die grootste moontlike teenstand van die leiers, die priesters, die ander profete, en die amptenare van die koning, selfs van die volk.

Geen wonder dat Jeremia aanvanklik geworstel het met sy roeping nie, want hy het geweet dit gaan nie maklik wees nie! Vers 6:

“Ag, my Heer, die Here, kyk, ek weet nie hoe om te praat nie, want ek is nog ‘n kind.”

Hy sou later in sy worsteling hiermee sewe keer ernstig bid dat die Here sal optree teen die goddeloses wat hom soveel kwaad aandoen, die sogenaamde sewe “Konfessies” van Jeremia.

  • Jeremia vra dat die Here wraak sal neem teen dié wat teen hom saamsweer – Jer. 11:18-20 – met die Here wat belowe dat Hy ’n ramp oor hulle sal bring – Jer. 11:21-23;
  • Jeremia kla oor die goddeloses se voorspoed – Jer. 12:1-4 – met die Here wat hom bemoedig en versterk vir nog moeiliker tye wat voorlê: “As voetsoldate jou moeg hardloop, hoe sal jy teen perde kan hardloop?” – Jer. 12:5 vv.;
  • Jeremia kla dat die Here hom nie beter ondersteun in die teenstand wat hy ervaar nie – Jer. 15:10-12, 15-18 – met die Here wat hom berispe en bemoedig: “As jy jou woorde terugneem, sal Ek jou weer in my diens neem.” – Jer. 15:19 vv.;
  • Jeremia pleit dat die Here nie vir hom ’n verskrikking sal word deur sy woord nie waar te maak nie – Jer. 17:14-18 – met die Here wat hom sy woord verder verduidelik en belowe dat Hy dit waar sal maak – Jer. 17:19 vv.;
  • Jeremia bid dat sy vyande tot ’n val sal kom omdat hulle nie op sy woord reageer nie – Jer. 18:18-23 – met die Here wat hom ondersteun met ’n volgende woord – Jer. 19:1 vv.;
  • Jeremia kla dat hy net nie meer kan nie, maar tog ook nie van sy roeping kan loskom nie – Jer. 20:7-10 – waarop Jeremia self ’n kort loflied tot God rig dat God tóg by Hom is en bely dat Hy armes uit die mag van slegte mense red – Jer. 20:11-13;
  • Jeremia vervloek die dag waarop hy gebore is, omdat hy net ellende, pyn en vernedering in die uitvoering van sy roeping belewe – Jer. 20:14-18 – waarop daar geen direkte antwoord kom nie. Dit is asof die Here geweet het van Sy Seun wat dieselfde tipe worsteling aan die kruis sou hê, ses eeue later, waarop God ook nie ’n antwoord sou kon gee nie.  Daarom antwoord Hy ook nie nou vir Jeremia nie …

Maar hier sê die Here doodgewoon vir hom:

Moenie sê, ‘Ek is nog ‘n kind’ nie, want na wie ook al Ek jou stuur, moet jy gaan, en wat ook al Ek jou beveel, moet jy sê.

En dan praat die Here hom moed in met twee betekenisvolle visioene en drie kragtige metafore– vers 11-19.

11Die woord van die Here het tot my gekom: “Wat sien jy, Jeremia?” Ek het geantwoord: “Ek sien die tak van ‘n amandelboom.” 12Toe sê die Here vir my: “Jy het goed gekyk, want Ek is bedag daarop om my woord uit te voer.”

13Die woord van die Here het ‘n tweede keer tot my gekom: “Wat sien jy?” En ek het geantwoord: “Ek sien ‘n stomende pot – sy inhoud kook van die noordekant af oor.” 14Toe sê die Here vir my: “Uit die noorde sal die onheil losbreek oor al die inwoners van die land. 15Want kyk, Ek gaan al die familiegroepe van die koninkryke in die noorde oproep,” is die uitspraak van die Here, “en hulle sal kom en hulle sal elkeen sy troon neersit by die ingang van Jerusalem se poorte, en by al haar stadsmure reg rondom, en by al die dorpe van Juda. 16Ek sal my oordele oor hulle uitspreek weens al hulle boosheid – omdat hulle My verlaat het, vir ander gode offers verbrand het en voor hulle handewerk in aanbidding gebuig het.

17Maar jy, jy moet jou heupe omgord, gereedmaak en vir hulle alles gaan sê wat Ek jou beveel. Moenie vir hulle bang wees nie, anders gee Ek jou ‘n rede om vir hulle bang te wees.

18En Ek, kyk, Ek maak jou vandag ‘n versterkte stad[1], ‘n ysterpilaar en ‘n koperstadsmuur teen die hele land – die konings van Juda, Jerusalem se hoë amptenare, haar priesters en die volk van die land. 19Hulle sal teen jou veg, maar sal nie die oorhand oor jou kry nie. Want Ek is by jou,” is die uitspraak van die Here, “om jou te red!”

God gaan binnekort optree

Die twee visioene bevestig dat God gaan optree.

Eerstens sien Jeremia die tak van ‘n amandelboom, die eerste boom wat in die lente bloeisels dra. Dit is alreeds ‘n aanduiding van die feit dat die oordeel binnekort sal aanbreek. Maar, die eintlike betekenis lê in die woordspel wat die Here hier maak. Die woord vir “tak” (shaqed) is baie dieselfde as die woord vir “wag” (shoqed). Wat die Here dus met die visioen van die tak van die amandelboom bedoel, is dat Hy letterlik “wag staan” oor sy woorde, om te doen wat Hy gesê het.

Tweedens spel die Here sy agent uit met die beeld van die stomende pot wat dui op die oordeel wat uit die noorde sal kom. Die leërs van Babilon kom natuurlik vanuit die ooste, maar het telkens uit die noorde ingeval om die tog deur die Trans Jordaniese woestyn oos van Juda te vermy.

God kies Jeremia dus uit om die volk in te lig dat wat God al lankal vir hulle deur baie profete gesê het – veral deur vyf van die Skrifprofete: Amos, Jona, Hosea, Jesaja, Miga – dat sy oordeel nou in vervulling sal gaan – soos twee ander van die Skrifprofete ook in Jeremia as bevestiging van sy boodskap gesê het – Sefanja, en Nahum. Jeremia sou saam met hulle beleef wat min ander profete beleef het, dat die vervulling van hulle profesieë in hulle eie tyd in vervulling sou gaan.

Daar was nie ‘n ander pad vir Jeremia nie. God het ‘n stem nodig gehad onder die volk, en Het Jeremia van vóór sy geboorte voorberei vir hierdie roeping (Jer 1:1-10).

Jeremia moes die volk help om te verstaan dat wat nou met hulle gebeur die vervulling is van die seën en die straf wat in die wet van die Here uitgespel is. Die negatiewe kant van die beloftes van Levitikus 26 en Deuteronomium 28 gaan dus hier in vervulling.

Hulle sal nie die oorhand oor jou kry nie – Ek is by jou

Aan hierdie ontstellende roeping word daar ’n baie persoonlike belofte gekoppel dat die Here Jeremia sal staande hou, uitgedruk met drie metafore. Die Here maak Jeremia: ’n versterkte stad (die prentjie wat ek gekies het vir die agtergrond op die PowerPoint), ’n ysterpilaar, en ’n koperstadsmuur. Die Here sal by hom wees om hom te red en te sorg dat hy nie oorweldig word nie.

“Hulle sal teen jou veg, maar sal nie die oorhand oor jou kry nie. Want Ek is by jou.”

En het hulle nie teen hom geveg nie!

  • Jeremia is in ‘n blok op die plein vasgemaak deur Pasgur (Jer 20).
  • Hy is in die openbaar verneder deur Ganganja (Jer 28)
  • Hy is in ‘n voorhof van bewaking gevange gehou deur Sedekia (Jer 32).
  • Hy is in ‘n opgaarput gegooi deur die leiers waarin hy weggesak het in die modder (Jer 38).

En daarby het die Here selfs beveel dat hy nie mag trou nie; dat hy nie by die gewone feestelikheid van die volk betrokke moes raak nie; dat hy ‘n eensame pad moes loop, as ‘n lewende simbool van die feit dat God nie welkom was in die lewe van sy volk nie (Jer 16).

Die ergste was dat toe alles waar geword het wat Jeremia verkondig het:

  • en Jojakim en Sedekia in verskillende veldtogte verneder en weggevoer is deur koning Nebukadnesar;
  • en al die priester en ander leiers van die volk, en almal van naam onder die volk in drie verskillende fases in ballingskap geneem is…

toe is Jeremia gevange geneem deur sy eie mense en na Egipte weggevoer (Jer 42-43).

So, hoe kan dit dan wees dat God by hom was?! Sou ‘n mens wou vra. Wel…

Hulle het teen Jeremia geveg, maar niemand het die oorhand oor hom gekry nie

Jeremia het nooit teruggedeins vir enige uitdaging nie. En niemand kon die oorhand oor hom kry nie.

  • Toe Pasgur, die hoofopsigter van die tempel, Jeremia geslaan en in ‘n blok vasgemaak het om hom te verneder, het die Here gesorg dat hy na ‘n dag daaruit gered is met ‘n boodskap van dood vir Pasgur (Jer 20).
  • Toe Gananja, die valse profeet, Jeremia teengestaan het, en sy boodskap belaglik gemaak het deur die juk van hout wat Jeremia gedra het, te breek, het die Here hom opdrag gegee om ‘n juk van yster te maak en Gananja se dood aan te kondig. Gananja het net ‘n paar maande later gesterf in lyn met Jeremia se profesie (Jer 28).
  • Toe van die leiers Jeremia in ‘n opgaarput gegooi het om daar te sterf – daar was geen water in nie net modder waarin Jeremia weggesak het – het die Here ‘n Kussiet, Ebed-Meleg, verskaf wat koning Sedekia oorreed het om Jeremia vry te laat. Dit het 30 man gekos om hom uit te kry! Hetsy omdat Sedekia teenstand verwag het, óf omdat Jeremia nie ‘n klein outjie was nie! Jeremia het ook ‘n woord vir Ebed-Meleg van die Here gekry dat hy nie saam met die ander in ballingskap weggevoer sou word nie (Jer 39:15-18). En dit het net so gebeur.
  • Toe die volk uiteindelik weggevoer is in ballingskap, het koning Nebukadnesar self opdrag gegee dat Jeremia uit die voorhof van bewaking waarin hy opgesluit is, uitgehaal sou word, en dat hy self sou kon kies wat hy wil doen (Jer 39:11-14). ‘n Groot eer.

Nie dat dit die einde was van Jeremia se uitdagings nie, want die Here het nog ‘n plan vir hom gehad om vanuit Tagpanhes in die noord-ooste van Egipte sy profesieë klaar te maak. ‘n Boodskap vir die oorblyfsel wat daarheen getrek het, sowel as vir Egipte en vir die nasies van die wêreld (Jer 46-51). Daarom het die Here toegelaat dat hy weggevoer is deur ‘n klomp opstandige Jode onder leierskap van Joganan (Jer 43).

Die Here het Jeremia inderdaad ‘n versterkte stad, ’n ysterpilaar, en ’n koperstadsmuur gemaak wat deur niemand oorwin kon word nie. Hulle het teen Jeremia geveg, maar niemand het die oorhand oor hom gekry nie. Want God was by hom.

Ons is in Christus profete, priesters en konings

Nou, jy mag miskien dink dat hierdie boodskap nie vir jou is nie. Jy is nie ‘n profeet of priester soos Jeremia nie. Jy is ook nie ‘n koning nie…

Wel, ek het nuus vir jou. Jy is wel deel van die koninklike priesterdom wat God geskep het op aarde om sy verlossingsdade aan hierdie wêreld te verkondig (1 Pet 2:9). Dit is nou as jy ‘n volgeling van Jesus Christus, die groot Profeet, Priester, en Koning.

Die Heidelbergse Kategismus verwoord dit só goed en begrond ons status as profete, priesters en konings in die feit dat ons volgelinge van Christus Jesus is:

Sondag 12

31 Vraag: Waarom word Hy Christus, wat Gesalfde beteken, genoem?

Antwoord: Omdat Hy deur God die Vader bestem en aangestel en met die Heilige Gees gesalf is (Ps 45:8; Hebr 1:9; Jes 61:1; Luk 4:18) tot ons hoogste Profeet en Leraar (Deut 18:15; Hand 3:22; 7:37; Jes 55:4), wat aan ons die verborge raad en wil van God aangaande ons verlossing ten volle bekend gemaak het (Joh 1:18; 15:15); tot ons enigste Hoëpriester (Ps 110:4), wat ons met die enige offer van sy liggaam verlos het (Hebr 10:12, 14; 9:12, 14, 28) en met sy voorbidding gedurigdeur by die Vader vir ons intree (Rom 8:34; Hebr 9:24; 1 Joh 2:1; Rom 5:9, 10); tot ons ewige Koning, wat ons met sy Woord en Gees regeer en ons by die verlossing wat verwerf is, beskerm en bewaar (Ps 2:6; Sag 9:9; Matt 1:5; Luk 1:33; Matt 28:18; Joh 10:28 Op 12:10, 11).

32 Vraag: Waarom word jy ‘n Christen genoem (Hand 11:26)?

Antwoord: Omdat ek deur die geloof ‘n lid van Christus is (1 Kor 6:15) en daardeur deel aan sy salwing het (1 Joh 2:27; Hand 2:17) sodat ek sy Naam kan bely (Matt 10:32; Rom 10:10), myself as ‘n lewende dankoffer aan Hom kan toewy (Rom 12:1; 1 Pet 2:5, 9; Op 1:6; 5:8, 10) en in hierdie lewe met ’n vrye gewete teen die sonde en die duiwel kan stry (1 Pet 2:11; Rom 6:12, 13;. Gal 5:16, 17; Ef 6:11; 1 Tim 1:18, 19) en hierna met Christus in ewigheid oor alle skepsels kan regeer (2 Tim 2:12; Matt 25:34).

Wat is ons taak?

Ons word geroep om Christus se Naam in alle kontekste en teenoor alle mense te bely.

Ons word geroep om onsself as ‘n lewende dankoffer toe te wy.

Ons word geroep om teen die sonde en die duiwel te stry. Dit is nie net in ons privaat hoedanigheid nie. Dit is nie net teen persoonlike sonde nie. Dit is ook teen die sondes wat in die kerklike gemeenskap voorkom, sowel as dié in die publieke samelewing. Oral waar die werking van Satan sigbaar word, het elkeen van ons ‘n dure plig om in Christus op te tree:

  • Om ons stem te laat hoor as profete, en die sonde in ons gemeenskap en samelewing uit te wys en die pad na bekering aan te dui. Alles wat in die Bybel as sonde deur God uitgewys word, is die dinge waaroor ons met mense moet gesels en hulle tot bekering moet oproep.
  • Om ons arms as priesters te gaan sit rondom mense wat in die proses swaarkry en die Here te smeek om verandering. Ons moet hulp verleen en intree vir almal wat dit nodig het.
  • Om ons invloed te gebruik as konings om verandering in mense en sisteme te weeg te bring. Dit sluit ons posisies in die ekonomie, die politiek en die burgerlike gemeenskap in. Dit sluit ons vermoëns en besittings in. Ons word geroep om in Christus se Naam verandering te weeg te bring. Sodat mense vry kan raak om die Here as hulle Saligmaker kan aanvaar.

‘n Mens kan nie Jeremia 1 lees en onaangeraak daarvan wegstap nie. Ons sien ook ‘n tak van ‘n amandelboom raak. Die Here gaan sy woorde in vervulling bring. Miskien in ons eie tyd. Ons sien ook ‘n stomende pot wat oorhel, hierdie keer met die toorn van God oor die hele wêreld wat Hom nie ken en dien nie. Hoe kan ons nee sê om hulle te waarsku!?

En ons het dieselfde drie beloftes van die Here. Hy maak ons soos ‘n versterkte stad, soos ‘n ysterpilaar, soos ‘n koperstadsmuur. Niemand sal ons kan oorwin nie. Want God is by ons.

[1] Prentjie van stadmure van https://www.torahmusings.com/2019/03/defining-residence-for-purim/

View all posts in this series

Comment

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.