Galasiërs 2:15-21 – Jy is welkom net soos jy is – Son 13 Junie 2010

Teks – Galasiërs 2:15-21

15Ons is Jode van geboorte en nie sondaars uit die heidene nie. 16En tog weet ons dat ‘n mens nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo. Ook ons het tot die geloof in Christus Jesus gekom, en dit is hoe ons vrygespreek is: deur in Christus te glo en nie deur die wet te onderhou nie, want geen mens word vrygespreek op grond daarvan dat hy die wet onderhou nie.

17As uit ons soeke na vryspraak in Christus geblyk het dat ons ook sondaars is, beteken dit dan dat Christus in diens van die sonde staan? Beslis nie! 18Maar as ek die bepalings van die wet wat ek nietig verklaar het, weer laat geld, dan maak ek myself daarmee tot ‘n oortreder. 19Maar wat my betref, deur die wet is ek vir die wet dood sodat ek vir God kan lewe: ek is saam met Christus gekruisig, 20en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê. 21Ek verwerp nie die genade van God nie. As ‘n mens vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou, sou dit immers beteken dat Christus verniet gesterwe het.

Woordverkondiging

Pa- en Ma-Koedoe moes vir twee dae na ‘n ver plek vir noodsaaklike sake vertrek.  Hulle roep hulle koedoe-kindertjies bymekaar en vra mooi dat hulle by die ander koedoes in die ruigtes moet bly.  Die kinders mag onder geen omstandighede naby die rivier gaan nie, want daar skuil gevaar.  Koning Leeu is in die omgewing en ‘n hele klomp luiperds het hulle by die rivier tuisgemaak.  Dis doodsake.  Die klein koedoetjies beloof hand en mond hulle sal gehoorsaam wees.

Toe pa en ma terugkom, is die kinders skoonveld.  Dit gee ‘n vreeslike soektog af.  “Moet ons nie by die rivier gaan kyk nie?” vra Oupa-koedoe, ‘n ringkop in die koedoe-familie.  Einde ten laaste, toe dit al amper donker was, soek die koedoes rivier langs.  Hulle kom op ‘n klomp klein koedoe-ore af wat daar teen die rivier se wal lê.  Leeu-spore lê die hele wêreld vol. Die oortjies is al wat van die ongelukkige koedoes oorgebly het.

“Nee,” sê pa- en ma-koedoe, “dis beslis nie ons kinders se ore nie, want ons kinders hét nie ore nie!”

Daar was al baie hartseer en ongeluk in die wêreld omdat mense nie luister nie.  Hulle hoor, maar sukkel om werklik te luister en te reageer op wat hulle hoor.

Paulus se brief aan die gemeentes wat hy in Galasië gestig het, is vol van hierdie worsteling.  Luister tog! Hoor tog!  Verstaan tog!  Lewe tog soos ek julle geleer het!

Paulus se stryd met Petrus

Galasiërs is Paulus se mees intense brief.  Die apostel is opgewerk, ontsteld, soms self brutaal en ongenaakbaar.  Die gemeentes moet die regte boodskap hoor!  Hulle moet van die waarheid oortuig word, en so die valsheid kan raaksien.  Hy argumenteer indringend met hulle, sodat hulle die regte keuse vir die waarheid kan uitoefen.

In die gedeelte wat ons teks voorafgaan, vertel Paulus van sy pynlike ervaring met Petrus.  Hy moes hom openlik teen Petrus verset.  Petrus het gelowiges uit die heidendom aanvaar en saam met hulle geëet totdat daar Jode uit Jerusalem opgedaag het.  Skielik word die nie-Jode toe uitgesluit, Petrus begin hom eenkant te hou.  Alles omdat hy bang was vir die voorstanders van die besnydenis.  Op ‘n harde, reguit manier noem Paulus dit huigel (2:13) en ‘n afwyking van die reguit pad van die evangeliese waarheid (2:14).

Dit was ‘n pynlike situasie.  Vandaar die opgewonde trant van die Galasiërbrief.  Terwyl die reddende krag van Jesus Christus mense tot een verloste gemeenskap saambind, bo-oor die beperkende grense van die Joodse wet, wil die Galasiërs nou weer die grense van die wet handhaaf.

Mense en hulle insluiting in die liggaam van Christus is op die spel

Sien, die probleem met die Joodse Christene was nie dat hulle gedink het redding kom deur gehoorsaamheid aan die wet nie.  Hulle het geweet redding is ‘n onverdiende gawe van God.  Máár, hulle het gemeen die gepaste manier om die redding uit te leef, is deur die onderhouding van Joodse gebruike, rondom veral die besnydenis, die dieetwette en die onderhouding van die feesdae.  As jy in Christus glo, en jy is gered, moet jy dit toon deur soos ‘n Jood leef.

Maar die probleem met só ‘n standpunt, is dat dit mense om die verkeerde redes uitsluit.  Die gelowiges uit die heidendom word dus uitgesluit op grond van hulle onvermoë of onwilligheid om aan die Joodse wetsvereistes te voldoen.  Daarmee word die goeie nuus van Jesus Christus beperk.

Die Joodse Christene het dus van die Joodse wet ‘n lewenstyl gemaak wat as ‘n verpligting op alle nuwe bekeerlinge geplaas is.  Daarmee het hulle ‘n “plus” by die goeie nuus geplaas wat die evangelie self bedreig het.  Dit lê ‘n beperking op Christus se werk, volgens vers 17.

Jy is welkom net soos jy is

Die toegang tot verlossing in Jesus Christus setel nie in jouself nie, maar in die genade van God deur Jesus Christus.  Daarom kan niemand voorspel wie die genade sal hoor en aangryp nie.  ‘n Voorwaarde vir insluiting in die geloofsgemeenskap is nooit hoe ordentlik, aanneemlik, aanvaarbaar en verdienstelik jy is nie.

Don Browning sê graag, dat daar eintlik net twee soorte geloofsgemeenskappe is:

  • Die een is waar jy binnekom en gevra word om in die teenwoordigheid van God te wees, maar jouself en dit waarmee jy tans in jou lewe besig is liefs buite moet laat.
  • Die ander geloofsgemeenskap is waar mense in die teenwoordigheid van God ingenooi word en waar hulle volle menswees óók teenwoordig mag wees.

Dit is soos hierdie tweede tipe geloofsgemeenskap wat ons moet wees.  Mense moet kan kom na die Here en na sy kerk letterlik soos hulle is.  Of jy die onrein Samaritaanse vrou by die put is, of Saggeus die hooftollenaar en hoofskurk, die ryk jongman, die Kanaänitiese vrou, Saulus die hoofvervolger van die kerk, Nineve die politieke vyand, of wie ook al is, jy kwalifiseer vir genade.  Jy moet kan kom soos jy is.  Jy is welkom net soos jy is.

Vanuit menslike oorwegings kan die vrye toegang en die oorvloedige genade van God in Jesus ‘n skandaal vir die kerk wees.  Die omhelsing van die sondaar kan vir ons smerig raak, en ons reputasie in gedrang bring.  Letterlik en figuurlik.

Steve Biggs van ‘n gemeente in Melville, Johannesburg, vertel hoedat hulle onlangs T-hemde uitgeruil het in hul straatkinderprojek.  Lidmate het letterlik hul eie T-hemde uitgetrek, dit vir die kinders aangetrek, en die kinders se hemde vir hulself aangetrek.  Die volgende dag het hulle die kinders in die erediens ingenooi, en die skoongewaste flenterklere van die vorige dag saamgebring kerk toe, sonder om hul eie T-hemde terug te verwag.  Dit was verskriklik moeilik om dit te doen, maar dit het die kinders op ‘n kragtige manier ingesluit.  Christus sluit almal in, sy genade is vir ‘n ieder en ‘n elk.  Gelowiges in Melville het die evangelie nuut gehoor, en dit daarom gedoen.

Mense is geskenke van die Here

Wat baie help, is om aan mense te dink as geskenke van die Here.  Mens ontvang mos jou natuurlike broers en susters, jy kies hulle nie self nie.  Dieselfde in die kerklike gemeenskap.  Jou broers en susters in die Here ontvang jy ook.  Hulle is geskenke van die Here aan ons.

Daarom is dit so deurslaggewend hoe ons kyk na mense wat oor ons pad kom.  Mense is geskep na die beeld van God – die ou teologiese gesegde van die Imago Dei. Dit is waar van alle mense wat ons pad kruis.

In ‘n wêreld waar die kitsbank jou waarsku dat alle vreemdelinge as gevaarlik beskou moet word, is dit belangrik om hierdie ingesteldheid van Imago Dei ‘n gewoonte te maak. ‘n Imago Dei blik in jou oë maak nogal ‘n verskil in die manier waarop jy na mense kyk, oor hulle dink en na hulle luister.

Dit geld natuurlik nie net vir die mense met wie ons ‘n natuurlike gevoel van toegeneentheid het nie, maar juis hulle by wie ons sou verby stap omdat hulle anders as ons is. Leer die gewoonte aan om hulle in die oë te kyk, gereed te wees om deur hulle “disrupt” te word en tyd te maak om na hulle te luister.

Mense wat van my verskil is steeds welkom

Wanneer weet ‘n mens iemand behoort aan die Here?  Wanneer is iemand waarlik ‘n Christen?  Is dit wanneer mense my lewenstyl aanneem en daarvolgens lewe?  My reëls van ordentlikheid en behoorlikheid navolg?  Moet mense aantrek, praat, dink, sing, in die erediens vergader, soos ek dink hulle moet?  Of is daar ander gestaltes van gehoorsaamheid moontlik wat mag verskil van my voorkeure?

Paulus gee vir die Galasiërs net een oorweging as kriterium vir Christenska[.  Leef Christus in jou, of nie? En as jy in Christus glo en Hy in jou leef, dan is jy welkom net soos jy is!

Dit is dan ook die betekenis van die moeilike tweede gedeelte van die perikoop wat ons geleeS het.  Want sien, as ons aan Christus behoort, is ons eintlik saam met Hom gekruisig, gekruisig vir ‘n ou manier van leef, volgens die standaarde en reëls van die kultuur waaruit ek kom.  Daarom kan Paulus sê in vers 20: “nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe.”

En “Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê.”

Dit is wat Johannes Calvyn ook bedoel het, toe hy ‘n onderskeid gemaak het tussen die kern van die evangelie en sake van middelmatige belang.  Dit wat van middelmatige belang is (voorkeure, ‘n bepaalde lewenstyl, ons gedragreëls) mag nie verhef word asof dit van die hoogste belang is nie.  Jesus is van die hoogste belang, en Jesus sluit almal in wat deur geloof hulle vertroue op Hom as Redder en Here stel.

En in ons tyd het die bekende sendeling en ekumeniese teoloog Lesslie Newbigin verder hierop uitgebrei en gewaarsku daarteen dat Christene etiese reëls formuleer vir mense wat uit ander kulture of uit ander agtergronde as hulle tot bekering kom.  Wanneer ons reëls aan hulle oplê wat eintlik bloot ons voorkeure is – hoe ons teenoor mekaar in die samelewing moet optree, hoe ons verhoudinge moet werk of selfs hoe ons moet aantrek of hoe ons moet sing of dans – onderskat ons die werk wat die lewende Christus deur sy Woord en Gees in hulle lewens doen.

Dit het ‘n vernietigende effek om mense in of uit te sluit op grond van die lewenstyl wat ons vir onsself gekies het.  Mense moet te alle tye welkom wees net soos hulle is.

Ons het in Suid-Afrika ‘n ongelukkige geskiedenis waarin velkleur by meer as een groep gesien word as deurslaggewend om te bepaal met wie ek my meng, en wie ek bereid is om in te sluit of wie ek uitsluit.  En die effek daarvan is nog lank nie verby nie, en lankal nie meer net ‘n wit fenomeen nie.  En dit bly ‘n vergryp teen die evangelie, en teen die Here van die evangelie.

Maar dit is waar van ‘n hele klomp ander goed ook.  In gemeentes sluit Christene van verskillende ouderdomme mekaar dikwels uit, en veroordeel mekaar, of skep nie ruimte vir mekaar, op grond van voorkeure oor die uitlewing van die evangelie asof dit die evangelie self is.  Dit raak ons musiek, ons style van geloofsbelewing, en kleredrag – om enkele voorbeelde te noem.

Ons moet mekaar hier rondom akkommodeer en insluit eerder as in aparte kerke of gemeentes of selfs binne gemeentes in verskillend groepe te organiseer.  Want ons kan mekaar nie as geskenke van die Here in  verskillende kampe belewe nie.

Ons bou aan ‘n inklusiewe gemeenskap

Ek sluit af.

Die vraag vir die Galasiërs was: Gaan hulle luister na wat Paulus sê, of die gedagtes van die Joodse Christene navolg?  Want dit sou bepaal of hulle regtig ‘n kruis-kulturele gemeenskap sou wees, een waar jy welkom is net soos jy is.  En dit was nie ‘n klein bysaak nie.  Die hart van die evangelie was op die spel.

Die vraag vir ons is net so dringend: Gaan ons luister na wat Paulus sê en ‘n gemeenskap wees waarin kinders en bejaardes, vriende en vreemdelinge, klassieke en kontemporêre musiek welkom sal wees?  Miskien is musiek die volgende groot hekkie vir ons om te oorkom en steeds inklusief te bly, veral vir die 20-40 jariges in ons gemeente, wat ‘n duidelik voorkeur vir ‘n ander styl musiek het.

Die uitdaging vir ons is om te bou aan ‘n inklusiewe gemeenskap en nie net te bly vasklou aan die veilige gemaksones van die bekende en gerieflike nie.  Dan sal ons kan uitleef wat Paulus hier sê, dat “dit nie meer ek (is) wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe.”

     

View all posts in this series

Trackback from your site.

Leave a comment