Skip to main content

Bly by My – Lukas 2:25-40

‘n Seuntjie vra sy ma eendag waarom sy so ‘n paar grys hare het. Sy antwoord dat elke grys haar kom van iets wat hy verkeerd gedoen het. Hy knik so ingedagte en sê: “Nou verstaan ek, dit is hoekom ouma heeltemal grys is!”

Daar is egter ‘n ander grysheid wat nog meer besonders is. ‘n Grysheid wat ‘n teken is van wysheid, nie van spanning of ‘n gebrek aan melanien nie.

Die spreekwoord sê: “Sy is grys.” Daarmee bedoel ons glad nie dat daar ‘n grys haar op haar kop is nie. Net dat sy wys is ver bó haar jare.

Dit is wat Spreuke ook sê:

“Grysheid is ’n sierlike kroon; dit word gevind op die weg van geregtigheid.” (16:31).

Grysheid is nie ‘n ouderdom nie. Dit is ‘n toestand. Dit is ‘n manier van leef. Dit word gevind op die weg van geregtigheid. Dit is die wysheid wat begin by die ontsag vir die Here. Dit is die wysheid wat weet dat die enigste manier van leef wat sin maak, is om by die Here te bly.

Kom ons lees van twee sulke grys mense. Mense wat die wysheid ten toon stel van ‘n lewe by die Here.

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS:

Wie is God?

Boodskap: “Bly by My”

Somerstrand Familiediens 09:00 12 Mei 2019

Chris van Wyk

Vooraf

Lied 453 Aan die Vader dank en ere – kerkkoor en ensemble

Verwelkoming

Moedersdag

Ons wens alle ma’s ‘n gelukkige Moedersdag toe. Óf jy nou ‘n ma is van ‘n tradisionele gesin, óf van ‘n enkelouer gesin, óf ‘n ma is van ‘n saamgestelde gesin. Mag die Here jou seën.

Almal van ons eer vandag ons ma’s. Selfs as jy nooit die persoonlike vreugde van moederskap beleef het nie, kan jy vandag aan ‘n ma dink, of ‘n ouma óf iemand wat daardie rol in jou lewe gespeel het, en haar eer vir die vreugde wat sy in jou lewe gebring het. Dit sluit ons mans in. Ons almal eer ons ma’s.

Pearson reunion

We have a number of Pearsonites here, teachers and learners. Some are here for the Pearson reunion, in remembrance of your “alma mater”. In Latin it means literally your “nourishing mother”. It is fitting to have this reunion on Mother’s Day. Because Pearson High School in many ways also plays a role as your mother.

We also welcome the Pearson Choir with Terry-Ann Jullies as conductor and Anton Steyn as accompanist.

Hulle gaan drie liedere sing gedurende die diens: Gebed; Be Thou My Vision; Ndikhokele. Hulle gaan ook by ons eerste loflied saam met die kerkkoor optree, en aan die einde ná die erediens die Pearson skoollied. Dit gaan voorwaar ‘n fees wees!

Twee kore en die Ensemble

Baie dankie aan die kore en Ensemble vir julle aandeel aan hierdie erediens. Veral Terry-Ann Jullies en Anton Steyn van Pearson, en Janneke en Albert Troskie van Somerstrand.

Applous.

Toetrede

Gebed – Pearson koor

Votum en Seëngroet

Lofprysing en aanbidding

Vonkk 338 Sing vir die Heer ‘n nuwe lied – kerkkoor en Pearson koor

Lied 209 x 2 Heer, met my hele hart (terwyl Pearson koor gaan sit) – staan

Lied 175 Majesteit (Afrikaans en Engels) – staan

Voorbidding

Vir moeders

Vonkk 345:3 Seën die ma’s wat elke dag voed en sorg tot in die nag (vir moeders) – sit

Kindertyd

Om na God te luister is nie so maklik nie.

Ons het hulp nodig.

Ken julle die verhaal van Samuel (1 Sam 3)?

Samuel was die enigste kind van Hanna. Sy het lank gebid vir ‘n kind. Uiteindelik het God vir haar ‘n seun gegee. Sy het ‘n belofte gemaak aan God. Sy sou hierdie seun grootmaak dat hy in die tempel kan gaan werk. Toe hy groot genoeg was, het sy hom vir Eli by die tempel gebring.

Een nag het Samuel in die tempel geslaap. Dit was donker. Net ‘n lampie het dof gebrand. Skielik het hy wakker geword met ‘n stem wat roep: “Samuel, Samuel!”

Hy dog dit is Eli. En hy hardloop na Eli. “Het oom my geroep?”

“Nee”, het Eli gesê. “Gaan slaap maar weer.”

Dit het drie keer gebeur. Die derde keer besef Eli, die Here is besig om met Samuel te praat. En hy sê vir Samuel hoe hy moet antwoord.

Die vierde keer hoor Samuel weer die stem wat roep: “Samuel, Samuel!”

Toe weet hy dit is die Here. En hy antwoord soos oom Eli vir hom gesê het: “Praat, Here, u dienaar luister!”

En die Here praat met Samuel. Hy vertel vir hom wat gaan gebeur met die volk Israel. En met Eli. Die oom het geweet hoe om te luister, maar hy was nie altyd gehoorsaam nie. Die Here sê vir Samuel daarom dat hy almal gaan straf wat nie na Hom luister nie.

Om te doen wat God sê, is ook nie so maklik nie.

Samuel was baie bang om die volgende oggend vir oom Eli te sê wat hy gehoor het. Maar, hy het geweet hy moet. Anders is hy ook ongehoorsaam. Hy sê toe alles vir oom Eli.

Oom Eli het gelukkig nie vir Samuel uitgeskel nie. Hy het mos geweet die Here het gepraat. Oom Eli het daarom die boodskap van die Here aanvaar. Al was dit vir hom sleg.

Van dié dag af het die Here begin om met die volk deur Samuel te praat. Hy het nie meer deur oom Eli gepraat nie. Samuel het een van die groot boodskappers van die Here geword.

Net omdat Samuel geluister het. Hy was gehoorsaam. Daarom het die Here al hoe meer deur hom gepraat.

Oom Eli het hom gehelp – soos ons ouers en die onderwysers dit ook doen. Samuel het ook al hoe meer die Bybel in die tempel gelees. Hy het ‘n kenner van die Bybel geraak. Só kon die Here al hoe meer vir Samuel sê wat hy vir die volk moet sê.

Ons moet luister en gehoorsaam wees aan wat God sê.

Hoe praat God vandag met ons? Deur die Bybel, soos met Samuel. Deur gebed, soos die Heilige Gees met ons praat. Deur predikante wat vir ons van God vertel. Deur ons ouers. Deur onderwysers. Deur vriende wat doen wat die Here vra.

Wat moet ons doen met wat God vir ons sê? Ons moet alles doen, net soos God dit vir ons sê. Veral dit wat Hy in die Bybel sê.  Dit is die duidelikste manier waarop God met ons praat. Ons moet gehoorsaam wees aan wat God sê.

Moedersdag

Dit is Moedersdag vandag. Ek het ‘n klein dankie-sê geskenkie vir jou ma. ‘n Klein Lindt sjokolade. Hou julle daarvan? Ja, julle ma’s ook!

Daar is een vir jou. Een vir jou ma. Neem twee sjokolades. Gee eers een vir jou ma. Dan kan jy joune ook eet.

Skriflesing en Prediking

“Sy is grys”

‘n Seuntjie vra sy ma eendag waarom sy so ‘n paar grys hare het. Sy antwoord dat elke grys haar kom van iets wat hy verkeerd gedoen het. Hy knik so ingedagte en sê: “Nou verstaan ek, dit is hoekom ouma heeltemal grys is!”

Daar is egter ‘n ander grysheid wat nog meer besonders is. ‘n Grysheid wat ‘n teken is van wysheid, nie van spanning of ‘n gebrek aan melanien nie.

Die spreekwoord sê: “Sy is grys.” Daarmee bedoel ons glad nie dat daar ‘n grys haar op haar kop is nie. Net dat sy wys is ver bó haar jare.

Dit is wat Spreuke ook sê:

“Grysheid is ’n sierlike kroon; dit word gevind op die weg van geregtigheid.” (16:31).

Grysheid is nie ‘n ouderdom nie. Dit is ‘n toestand. Dit is ‘n manier van leef. Dit word gevind op die weg van geregtigheid. Dit is die wysheid wat begin by die ontsag vir die Here. Dit is die wysheid wat weet dat die enigste manier van leef wat sin maak, is om by die Here te bly.

Kom ons lees van twee sulke grys mense. Mense wat die wysheid ten toon stel van ‘n lewe by die Here.

Hierdie gebeure vind plaas so 41 dae na Jesus se geboorte, in die jaar 6 vC. Jesus is op 8 dae oud besny. En nou na die 33 dae van die reiniging, het Josef en Maria die 8 km reis van Bethlehem na Jerusalem aangepak om die gebruiklike offers in die tempel te bring. Dit is min of meer so ver soos die Campanile van die kerkgebou af is.

Lukas 2:25-40

25 En kyk, in Jerusalem was daar ‘n man met die naam Simeon. Hierdie man was wetsgehoorsaam en toegewyd en het uitgesien na die herstel van Israel. Die Heilige Gees was met hom. 26 Hy het deur die Heilige Gees ‘n openbaring ontvang dat hy nie die dood sou sien voordat hy die Gesalfde van die Here gesien het nie. 27 Gelei deur die Gees het hy na die tempel gegaan. Toe Jesus se ouers die Kindjie inbring sodat hulle ten opsigte van Hom die gebruiklike voorskrif van die Wet kon nakom, 28 het Simeon Hom in sy arms geneem en God geloof:  29 “Here, nou laat U toe dat u dienskneg in vrede sterf,  soos U gesê het.  30 My oë het inderdaad u verlossing gesien  31 wat U ten aanskoue van al die volke bewerk het,  32 ‘n lig wat vir die nasies tot openbaring dien  en eer bring aan u volk Israel.”

33 Sy pa en ma was verstom oor die dinge wat oor Hom gesê is.  34 Simeon het hulle geseën en vir Maria, sy ma, gesê: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem vir die val en die opstaan van baie mense in Israel, as ‘n teken wat betwis word, 35 sodat die bedoelinge van baie mense aan die lig kan kom. En wat jou betref, ‘n swaard sal deur jou siel gaan.”  36 Daar was ook ‘n profetes, Hanna, ‘n dogter van Fanuel uit die stam van Aser. Sy was al op ver gevorderde leeftyd. Sy is as jong meisie getroud, het sewe jaar lank saam met haar man geleef, 37 en was nou ‘n weduwee van byna vier-en-tagtig jaar oud. Sy het nie van die tempel af weggebly nie en God dag en nag gedien deur te vas en te bid. 38 Juis op daardie oomblik het sy nader gekom en God gedank en met almal wat na die bevryding van Jerusalem uitgesien het, oor die Kindjie gepraat.  39 Toe Josef-hulle alles nagekom het wat die Wet van die Here van hulle verwag, het hulle na Galilea teruggegaan, na hulle tuisdorp Nasaret. 40 Die Kindjie het gegroei en sterk geword en vol wysheid, en die genade van God was met Hom.

Anna was “grys”

Ons weet nie of Simeon en Anna fisies grys was of nie. Ons weet wel dat hulle oud was. Trouens, ‘n mens kan die teks só lees dat Anna al 84 jaar lank ‘n weduwee was. Sy was dus moontlik meer as ‘n 100 jaar oud!

Maar, die belangrike is dat ons weet dat hulle geestelik “grys” mense was. Hulle het die weg van geregtigheid bewandel. Hulle was wyse mense.

Ek gaan vanaand meer sê oor Simeon en hoe die Here hom gelei het.

Ek wil vanoggend fokus op Anna, in Hebreeus Hanna.

Drie dinge staan van die “grysheid” van Anna uit.

1. Anna was ‘n profetes uit die stam van Aser

‘n Bietjie agtergrond.

Aser was ‘n kind van Silpa, die slaaf van Lea, die agste kind wat vir Jakob gebore is. Aser beteken “gelukkig”.

Wanneer Jakob sy kinders seën aan die einde van sy lewe dan beskryf hy Aser se nageslag as mense wat lief sal wees vir kos en die luukses in die lewe (Gen 49).

Dit was dan ook só. Vir eeue was hulle gebied in Israel bekend vir sy uitstekende olyfolie (Deut 33:24). Hulle was welvarende en gelukkige mense.

Maar daar was ook ‘n ander kant hiervan.

Wanneer voorspoed en geluk jou lewensmotto is, kan jy baie maklik verval in ‘n voorspoedsteologie. Nog erger, kan jy verval in ‘n kultuurgodsdiens. ‘n Godsdiens waar jy nie meer ‘n afstand handhaaf van die afvalligheid van die omgewing waarin jy bly nie. Waar jy al hoe meer die voordele van die kultuur geniet, en uiteindelik doodgewoon lyk soos die wêreld lyk.

Ons sien dit met die nageslag van Aser. Met die Intog in Kanaän blyk dit dat die mense van Aser nie eintlik veglustig was nie. Hulle het maar traag deelgeneem aan die Heilige Oorlog wat die Here téén die Kanaäniete en hulle afskuwelike onsedelikheid en afgodery verklaar het.

Die mense van Aser het eerder ooreenkomste gesluit met die Kanaäniete en só afvallig geword van hulle eie godsdiens (Rigt 1:32). Hulle was dus gelukkige mense, maar ook al hoe meer goddelose mense.

Moses het hulle met die Intog ‘n laaste keer aangespoor om dapper te wees, om hulle voorspoed te gebruik om die koninkryk van God te dien (Deut 33:24-25).

Maar, helaas! Die mense van Aser het nie op Moses se woorde ag geslaan nie, en gekies om vrede met hulle goddelose omgewing te sluit.

Daarom het hulle baie keer nee gesê as hulle vir die Heilige Oorlog opgeroep is.

Soos die keer toe Debora die volk juis teen koning Jabin van die Kanaäniete opgeroep het (Rigt 5:17). Aser wou nie byt daaraan nie en het nie saam geveg nie.

Hulle het darem na Gideon geluister in die volgende geveg teen die Midianiete, maar dit was ook net ‘n paar van hulle wat deel was van die uiteindelike 300 soldate wat die Here gebruik het in die oorlog (Rigt 6:35).

‘n Klompie meer het darem in die opruiming na die aanvanklike veldslag diens gedoen (Rigt 7:23). Maar, julle kry die prentjie. Die mense van Aser was sku vir konflik. Hulle was lief vir die voorregte van die lewe. Hulle was nie lief vir die verantwoordelikhede van die lewe nie.

Gelukkig, dit is nie al wat ‘n mens van Aser lees nie.

Toe die Here die volk gestraf het met die eerste ballingskap, en die meeste van die noordelike tienstammeryk weggevoer is, Aser inkluis, het daar ‘n paar mense uit hierdie stam agtergebly en weer die Here begin dien in die tyd van Hiskia (2 Kron 30:11).

Van die mense van Aser het hulle by die volk van Juda geskaar en hulle verantwoordelikhede teenoor God begin nakom.

Dit is só wonderlik om in Aser se verhaal agter te kom dat selfs al kom die meerderheid hulle verantwoordelikhede nie na nie, daar altyd gelowiges is wat standvastig is. Wat nie by die kultuur bly nie, maar by die Here.

Ook dat gelowiges wat eers verkeerd gedoen het saam met die ander, tog tot inkeer kan kom. Soos Anna se voorsate, die gehoorsame deel van Aser.

Want, Anna was ‘n afstammeling van hierdie deel van die stam van Aser. Die mense wat hulle verantwoordelikhede nagekom het. Wat met dankbaarheid die Here gedien het vir al die voorregte wat Hy vir hulle gegee het.

Boonop was sy ‘n profetes. In ‘n tyd waar die profete stil geword het, het sy só na aan die Here gelewe, dat sy ‘n woordvoerder van Hom geword het. Saam met haar voorbidding het God haar gebruik om sy Woord te verkondig.

2. Anna het nie van die tempel weggebly nie. Sy het God dag en nag gedien deur te vas en te bid.

Anna, die profetes, was ‘n bidder van formaat. Sy het reeds ‘n gebedsbediening van tussen 60 en 80 jaar in die tempel gehad! Sy was vir ‘n kort rukkie getroud, sewe jaar, en nou na 84 jaar as weduwee is sy steeds besig met haar lewenstaak, om die Here in die tempel te aanbid deur gebed en vas.

Sy het ook nie net gebid nie, maar van God getuig, soos ons hier lees dat sy onmiddellik ná sy die Here Jesus ontmoet het, van Hom begin praat het met almal wat saam met haar die bevryding van Israel verwag het.

Dit laat ‘n mens onmiddellik dink aan Jesus wat gesê het dat die huis van sy Vader ‘n huis van gebed moet wees (Luk 19:46; vgl Jes 56:7). Anna het nooit opgehou om in die tempel te bid nie!

Anna, die “gryse”, die “wyse profetes”, het dus in die bewuste teenwoordigheid van God geleef. Sy het by God gebly.

Sy het ingetree by God vir alles en almal waarvan sy bewus was. Sy het doelbewus ook gevas sodat haar fokus onbelemmerd op God se teenwoordigheid kon wees. En sy het nie geskroom om vir ander te vertel wat God op haar hart gelê het nie.

3. Sy was daar toe die Kindjie ingebring word

Die wonder van hierdie Godsvrou se toewyding aan die Here, is dat sy die grootste guns van God ontvang, om nie net sy Seun as Kindjie te sien nie, maar ‘n getuie vir Hom te raak.

Sy het dekades lank gewag vir hierdie oomblik. Sy het nie ‘n diens gemis nie, by wyse van spreke. Toe die oomblik kom, was sy daar: “Juis op daardie oomblik het sy nader gekom!”

Dink net hoe maklik sy dié moment sou kon mis, as sy halfhartig was in haar toewyding aan die Here. As sy balans in haar lewe sou gehandhaaf het. Net sou vas en bid as die gevoel haar oorval het.

Maar nou is sy daar op die presiese oomblik wat die Kindjie ingebring word. En sy het die voorreg om die eerste vrou uit haar stam te word wat van die Messias kan getuig.

Sy het met almal gepraat rondom haar. Die Here gedank. Van die bevryding gepraat wat hierdie Kindjie sou bring. Vir die hele Israel. Uiteindelik vir al die nasies, soos Simeon in sy loflied op die Kindjie voorspel het.

Ek kan nie anders as om aan die hand van hierdie verhaal weer na die verhaal van Aser in die OT te kyk nie. Want, daar is ‘n misterieuse kant aan Moses se voorspelling oor die toekoms van Aser. ‘n Raaisel.

Moses sê aan die einde van sy laaste preek in die woestyn oor Aser: “laat hy die liefling wees van sy broers” (Deut 33:24). Laat Aser die gunsteling wees tussen die stamme van Israel.

Wat sou Moses daarmee bedoel het? Want, hulle nalatenskap as stam is maar effentjies. Goeie olyfolie kan jou ook net só ver bring!

Ek wonder egter, as ek na die verhaal van Anna luister, of Moses nie op ‘n verskuilde manier verwys het na hierdie openbaring van die Messias aan ‘n nasaat van Aser nie. Dat Moses hier praat van ‘n bevoorregting in die toekoms.

Met hierdie verhaal in die tempel was daar nog net twee groepe wat met Jesus as Messias kontak gemaak. Die herders het met Jesus kontak gemaak. Die wyse manne het Jesus aanbid.

Maar, hier vertel Lukas vir ons van die eerste twee individue wat Jesus ontmoet. Simeon en Anna. Simeon se stam word egter nie genoem nie.

Net Anna s’n. Sy is van Aser. Die eerste eksplisiete verteenwoordiger van ‘n stam van Israel wat Jesus sien. En dit is iemand uit die stam van Aser, die bevoorregte gunsteling van sy broers.

Moontlik? Wie weet. Maar dit is ‘n aantreklike interpretasie, nie waar nie!

Wat leer Anna vir ons?

Anna leer ons twee dinge.

1. Bly by die Here.

Anna kon besluit het op 21. My man is dood. Ek moet vir myself sorg. Miskien ‘n ander man kry.

Sy kies egter om by die Here te bly. Sy kies om haar lewe bewustelik te leef in sy teenwoordigheid. ‘n Lewe van vas en gebed. ‘n Lewe van God se wil aan mense verkondig as profeet.

Anna het eintlik die tempel nie net haar gebedstuiste gemaak nie. Nee, die tempel het haar totale tuiste geword!

Natuurlik is daar niks vreemds aan ‘n keuse vir moederskap nie. ‘n Keuse vir gesin- en familiewees nie. Josef en Maria is juis gekies om ‘n menslike tuiste vir Jesus te verskaf. Talle van ons word gekies om vir ons kinders deur ons koestering en begeleiding ‘n vaste basis vir die lewe te gee.

Maar, ook ons word deur Anna uitgedaag om nie só op te gaan in die verantwoordelikhede van ons ouerskap dat ons nie meer naby die Here bly nie.

Ons almal moet seker maak dat ons “grys” is soos Anna. Nie deurdat ons grys hare het nie. Maar “grys”, omdat ons kies om by die Here te bly. Om in ontsag vir Hom te lewe. Dit is die begin van die wysheid.

2. Moenie ‘n geleentheid oorslaan nie.

Anna leer ons ook dat ons nie ‘n geleentheid kan oorslaan om met die Here te gesels nie. Dat ons nie ‘n geleentheid kan oorslaan om van die Here te leer nie. Dat ons nie ‘n geleentheid kan oorslaan om vir die Here te werk nie.

Dink net as Anna met ‘n halfhartige hart die Here gedien het. Hoe maklik sy die Kindjie kon gemis het. Maar, sy was dáár toe Jesus ingebring is.

Ek gaan vanaand meer gesels oor ons voorbereiding om die Here se leiding te ervaar.

Maar vanoggend wil ek jou uitnooi om ‘n besluit te neem om nie jou wekker dood te druk môreoggend as jy stiltetyd wil hou nie.

Om nie ‘n enkele geleentheid te laat verbygaan wat die Here jou môre gee om van Hom te getuig nie.

Om hierdie week nie op te hou om te bid, totdat jy weet wat die Here sê oor dié dinge wat Hy op jou hart lê nie.

Ek het hierdie week gevas om ‘n moeilike saak wat oor my pad gekom het, met die Here deur te gesels. Nou, ek vas nie maklik nie. Maar, ek weet nou al, sonder ‘n gefokusde tyd met die Here, mis ek doodgewoon wat Hy vir my wil sê.

Daarom het ek gevas. Die antwoord het gekom. Gelukkig na net een ete wat ek gemis het!

Daar is nie kortpaaie na die teenwoordigheid van God nie.

Volhard daarom in vas en gebed in God se teenwoordigheid – só leer Anna ons – en jy sal God se bevryding sien.

Onthou, grysheid is nie ‘n ouderdom nie. Dit is ‘n toestand. Dit is ‘n manier van leef. Grysheid word gevind op die weg van geregtigheid. Dit begin by die ontsag vir die Here. Dit weet dat die enigste manier van leef wat sin maak, is om by die Here te bly.

Gebed

Dankoffers

Be Thou my vision – Pearson koor

Ndikhokele – Pearson koor

Slotlied

Lied 450 Vader, Seun, Heil’ge Gees (Afrikaans vers 1, Engels vers 1, Afrikaans vers 2) – staan

Seënbede

Lied 450 (refrein in Engels)

Amen

Naspel

Pearson skoollied – Pearson koor en Ensemble

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.