Ons begin met lof en dank. Die Psalmis sê: “2 Dit is goed om die HERE te dank.” Die Hebreeuse woord yā∙ḏā(h) kan ook met “loof” vertaal word. Dit kan soms selfs bely beteken, wanneer dit in die konteks met negatiewe dinge gekoppel word. Hier beteken die woord loof of dank weens die dinge waarvoor die Psalmis sê ons die Here moet dank.
Die Psalmis noem God se “troue liefde” en sy “trou in die nag”. Hy wil dit uitjubel met verskillende instrumente: “Want U maak my bly met u werk, HERE, oor u handewerk juig ek.” Trouens, dit gaan ook nie net oor God se werk in die skepping nie, maar oor die gedagtes wat daaragter lê: “6 Hoe groot is u werke, HERE, hoe diep u gedagtes.”
Daar is min dinge wat ‘n mens meer bewus maak van die teenwoordigheid van die Here as om in lofprysing en danksegging voor die Here te verkeer.
Die Psalm begin met die belydenis dat die Here regeer. En sy regering is majestueus en omgord met mag.
Die plek waarin ‘n mens dit sien, is in die wyse waarop dié dinge wat Hy skep, vas staan. Die wêreld staan van altyd af vas, dit wankel nie.
Dieselfde is waar van God se koningskap. Dit is van ouds af vas en onwankelbaar: “U troon staan vas van vroeg af; U is van ewigheid af.” God is omgord met krag en majesteit. Sy skepping is onwankelbaar. Sy regering is onwankelbaar.
Daarom is God meer as in staat om enigiets op sy plek, die aarde, en met sy mense, die nasies, te hanteer. Die Psalmis praat die druising van die ”seestrome” en die gedreun van die “baie waters”, ook die “golwe van die see” wat waarskynlik staan vir beide die geraas van oerwaters van Genesis (vers 4; vgl. Gen. 1:2) wat die oerchaos waaruit God geskep het, in herinnering roep, sowel as vir die geraas van die nasies wat ons samelewing in herinnering roep, soos op ander plekke in die Bybel vermeld word (Jes. 17:12 – vgl. Ps. 2).
Dit is betekenisvol. God troon dus oor die skepping sowel as oor die mensdom. Hy bring orde in die omgewing rondom ons. Hy bring orde in die samelewing rondom ons. God is die God van die aarde en Hy is die God van die mense. Hy voorsien vir die aarde en vir die mense.
Psalm 81 is op Donderdae gebid met verwysing na die vyfde dag van die Skepping waarop die voëls en die visse gemaak is om sy Naam te prys. Die titel kom uit die eerste vers: “Juig tot eer van God, ons krag“.
Psalm 81 is ’n “liturgiese preek” wat:
’n oproep tot lof bevat vir God se krag (vers 2-6);
’n openbaring (preek) wat handel oor God se voorsiening, die volk se koppigheid, maar ook God se gereedheid om te help as hulle sou luister (vers 7-15);
’n appèl aan die einde om die Here te dien, omdat dit God se voorsiening vir hulle sal ontsluit (16-17).
Ek wil dié Psalm daarom gebruik om die erediens te struktureer. Ek gaan die eerste deel lees en dan gaan ons die Here loof met sang.
‘n God wat vergeld, is voorwaar ‘n vreemde prentjie van God vir ons postmoderne oë. Ons samelewing werk mos eintlik net met die idee dat God liefde is, en dat Hy ons in sy genade insluit, en op geen manier ons aan enige standaard hou nie. Ons wêreld dink aan ‘n universele genade waarin niemand uitgesluit word nie, en niemand verantwoordelik gehou word nie. Trouens, daar is baie teoloë wat ook so dink.
Die Psalmis stem egter nie saam nie. Hy skets ‘n heel ander prentjie van God as die idee wat baie vandag het van God as net goed. Die God van die Bybel, sê die Psalmis, is nie net goed nie, maar ook heilig en ontsagwekkend. Die Psalmis begin dus met hierdie prentjie van ‘n God wat vergeld, wat mense nie net hou aan sy standaarde nie, maar inderdaad as “regter van die aarde” optree en mense kan vergeld vir wat hulle doen.
En daar is drie redes waarom dié prentjie sin maak en ‘n noodsaaklike korreksie op ons samelewing se idee van God is.
Die eerste is dat dit God se reg erken om die wêreld aan te spreek en verantwoordelik te hou. Hy is immers die Skepper van alle dinge, van die son en maan en sterre. As Hy vir ons lig in die Skepping voorsien het, het Hy die reg om van alle mense te verwag dat hulle die lig wat Hy in terme van sy Geskrewe Woord verskaf, sal gehoorsaam. En dié Woord is onverbreekbaar, soos Jesus sê in Matt. 10.
Die tweede is dat dit God se reg erken om ons aan te spreek en verantwoordelik te hou. Ons kan nie maar leef soos ons wil nie. Ons het ‘n onontwykbare verpligting om die werke van die vlees in ons eie lewe dood te maak, en die goeie werke wat God vir ons voorberei het, te begin doen (Rom. 8). Ons leef deur die Gees. Daarom moet die Gees ons lewe en lewenstyl bepaal (Gal. 5:25).
Die derde is dat die Psalm ons ingebore sin vir regverdigheid nie net bevestig nie, maar inderdaad vir ons uitnooi om vir God se optrede in te tree, te bid dat Hy wat inderdaad dinge kan regstel, dit sal doen waar onreg vermeerder en mense krepeer van ellende.
Dit is ‘n kort Psalm, maar een wat soos geen ander Psalm is nie.
Die eerste ding wat uitstaan van die Psalm is dat dit ’n direkte visioen op ’n “hemelse vergadering” bevat en dat die lede van dié hemelse vergadering as “gode” beskryf word. Die vraag is dus wie dié “gode” is?
Sommige interpreteer die “gode” in die Psalm as hemelse wesens in die lig van God se optrede om dié vergadering te “gatecrash”. Hulle kan dus as afgode geïnterpreteer word, bv. die Kanaänitiese groep afgode. Indien dié interpretasie geldig is, teken die Psalm vir God as die een wat die afgode se wanpraktyke, onreg, partydigheid en duistere praktyke aan die kaak stel en hulle tot niet maak, soos mense laat uitsterf en soos leiers van hulle magsposisie beroof (vers 7). Sommige vind hierin ook ‘n oordeel oor die politeïsme waarin die monoteïsme van Israel verheerlik word en as die enigste geldige interpretasie van die werklikheid geteken word.
Sommige interpreteer die “gode” as mense, en dink dat die “gode” verbind kan word met regters of amptenare voor wie die volk vir allerlei uitsprake en handelinge moes verskyn. In ’n oordragtelike sin dui die “gode” dus ook op mense wat in magsposisies is, d.w.s. leiers – soos in die regspraak en die regering – en dat hulle daaroor aangespreek kan word.
In ’n sekere sin dui die “gode” dus op afgode en leiers wat in gemeenskap met mekaar boosheid bedryf (Tate).
Die eerste tyd tussen hemelvaart en Pinkster was ‘n baie besondere tyd. Die dissipels moes die afskeid van die Here Jesus verwerk. Hulle moes fokus op die leierskap en het iemand in die plek van Judas gekies as dissipel. En hulle het gedoen wat die Here Jesus hulle gevra het. Hulle het gebid, omdat die Here gesê het dat hulle binne dae met die Heilige Gees vervul sou word. En dít is wat hulle gedoen het. Hulle het eendragtig bymekaar gekom en gebid.
Wat sou hulle as gebede gebruik het? Uiteraard sou hulle waarskynlik gebede gebid het wat die Here Jesus hulle geleer het, bv. die Ons Vader gebed wat Matteus (hfst. 6) en Lukas (hfst. 11) later in hulle evangelies sou opneem en waarskynlik ook spontane gebede, soos Jesus die Samaritaanse vrou geleer het (Joh. 4).
Die moontlikheid is egter sterk dat hulle in dié week tussen Hemelvaart en Pinkster sou aangesluit het by die gebruik van die Fees van die weke of “sabbatsweek” wat in dié tyd gehou is. Ons lees daarvan op ‘n paar plekke in die OT (Eks. 34:22, Deut. 16:10,16; Num. 28:26; Lev. 23:15). Uit Numeri is dit duidelik dat hierdie week sewe weke na paasfees gehou is, en dat dit die fees van die weke genoem is. Dit is ‘n fees wat tot eer van die Here gevier moes word aan die einde van die oes as ‘n gewyde tyd waarin hulle geen gewone werk moes doen nie.
Omdat dit gehou is sewe weke ná die Paasfees, het dit gelei daartoe dat die naam van “Pinkster” (die woord beteken “vyftig”) mettertyd aan dié fees gekoppel is.
Mettertyd is daar Psalms vir dié tyd ontwikkel en een van die voorskrifte vir dié tyd was die lees en bid van die sewe “sabbatsweek” Psalms, een vir elke dag van die “Fees van die weke”, deur baie genoem: Shir Shel Yom (“lied vir die dag”). In die Griekse vertaling van die Psalms in die LXX, die OT Bybel wat die vroeë kerk gebruik het, is daar hierdie sewe Psalms wat in die opskrifte só aangedui word, en in volgorde vir die “sabbatsweek” of “Fees van die weke” voorgeskryf is.