Ons kleiner verhale is deel van God se groter verhale – 1 Samuel 1

Tema: Ons kleiner verhale is deel van God se groter verhale – 1 Samuel 1

Somerstrand 14 November 2021 om 09:00 in die kerk en op Youtube live

MUSIEK VOORAF

  1. Lied 492 In U is vreugde
  2. Ons Vader (Musiek: J Lees)

Verwelkoming

Toetrede

Vonk 72:1-3 Wees stil, want die Heilige is hier (sit)

Votum en Seën

Lofsang

Ps 148:1,2,3,9 Prys uit die hemele die Heer (staan)

Oorgang

Lied 278 Hoor ons bid, o Heer (sit)

Gebed

Skriflesing en prediking        

Twee vooraf opmerkings

1. Ek het onlangs ‘n model gebruik om jou te help om die verhale van die Bybel te kan lees sodat jy dit nie net beter kan verstaan nie, maar jou eie pad met die Here in die lig daarvan kan verstaan.

Ek wil die model weer illustreer met die verhaal van Hanna in 1 Samuel 1. Hanna, die kinderlose vrou wat tot die Here gebid het vir ‘n seun. Na ‘n lang tyd van volharding het sy ‘n antwoord op haar gebed ontvang. Samuel, die kind wat nie net haar lewe nie, maar die lewe van die volk verander het.

Enige Bybelse verhaal het drie vlakke van betekenis.

  1. Daar is die vlak van die gebeure. Die feite van die verhaal. Die karakters. Die krisisse. Die ontknopings. En ‘n mens moet deeglik lees om elke nuanse van die verhaal in te neem.
  2. Dan is daar die vlak van bewussyn. Die bewuswording van wat aangaan. Vir die karakters sowel as die lesers. Die betekenis van die verhaal, in hierdie geval, aan die einde van die Rigterstyd. Die betekenis van hierdie verhaal in die groter Bybelse konteks. Die raakpunte met die geboorte van Jesus van Nasaret. Maria se loflied vertoon ooreenkomste met Hanna se lied in hoofstuk 2
  3. Dan is daar laastens die vlak van transendensie, van God se betrokkenheid in die verhaal. Hoe Hy voorsien in hierdie mense se lewens. Hoe Hy Homself bekendmaak. As ‘n aanduiding van wat Hy ook in ons lewens kan doen.

Want, dit is wanneer ons die verhaal van Hanna hier in 1 Samuel 1 goed verstaan, op al drie hierdie vlakke, wat ‘n mens ook jou eie pad kan vind met wat die Here vandag in jou eie lewe wil doen.

2. Ek wil die verhaal ook verbind aan die reis wat ons die volgende jaar met die beloftes van die Here gaan onderneem.

Ek het 365 beloftes gekies vir elke dag van die week. Dit sluit aan by die kerkjaar (RCL) sowel as by ‘n wye reeks behoeftes, algemeen en persoonlik. Ek stuur elke dag vanaf 22 November 2021 die teks van die belofte met ‘n kort oordenking en ‘n skakel na verdere leeswerk.

Gebruik hierdie skakel om deel van ‘n WhatsApp groep te word (groep 1 en 2 is al vol):

Groep 3: https://chat.whatsapp.com/ChQE5jiJOVJH5xgDbA0gfF

Daarmee gee jy my verlof om bydraes aan jou per Whatsapp te stuur. Dit sal ook net ek wees wat op hierdie groep bydraes lewer. Jy kan egter direk boodskappe aan my stuur met opmerkings of vrae. Ek sal ook direk reageer na jou toe.

Jy kan ook registreer by https://www.bybelskool.com/subscribe om die bydraes per e-pos te ontvang.

Vorige bydraes kan gelees word by:

https://www.bybelskool.com/beloftes

Kom ons lees 1 Samuel 1

Hierdie verhaal van Samuel is eintlik as ‘n geheel ook ‘n belofte aan ons. Dit wys hoe God gewerk het in die verlede met sy kinders. Hy doen vandag nog presies dieselfde vir ons wat in Christus is. Want, in Christus is al die beloftes van die Bybel ja, en amen (2 Kor 1:20).

Die boek Samuel begin met die kosbare verhaal van Elkana en Hanna.

11Daar was ‘n sekere man uit Ramatajim Sofim, in die heuwelland van Efraim. Sy naam was Elkana, seun van Jerogam, seun van Elihu, seun van Togu, seun van Suf, uit Efraim. 2Hy het twee vroue gehad. Die eerste vrou se naam was Hanna en die tweede vrou se naam was Peninna. Peninna het kinders gehad, maar Hanna het geen kinders gehad nie.

So op die vlak van die gebeure is dit duidelik dat hierdie familie die Here gedien het. Elkana se naam beteken: God het gekoop / besit / het geskep.

Maar ons kom onmiddellik ook agter dat daar ‘n probleem was. Elkana se eerste vrou, Hanna, was kinderloos. Sy tweede vrou, Peninna – haar naam beteken “juweel” of “robyn” – het ‘n klomp kinders gehad.

Hanna se naam beteken egter “genade” of “genadig” (gracious). ‘n Naam wat swanger is aan belofte – woordspeling bedoel (pun intended).

3Hierdie man het jaar ná jaar uit sy dorp opgegaan om te aanbid en vir die Here, Heerser oor alle magte, offers te bring in Silo, waar die twee seuns van Eli, Hofni en Pinehas, priesters van die Here was. 4Wanneer Elkana die dag geoffer het, het hy vir sy vrou Peninna en vir al haar seuns en dogters dele van die offervleis gegee. 5Maar vir Hanna kon hy net een deel gee – al het hy haar liefgehad – want die Here het haar moederskoot gesluit. 6Haar mededinger het haar ook erg getreiter om haar seer te maak, omdat die Here haar moederskoot gesluit het.

Jaarliks het hierdie familie gehoorsaam die tog aangepak na Silo toe om die Here te aanbid. Dit was waar die ark in dié tyd was voor dit na Jerusalem geskuif is. En as hulle die voorgeskrewe maaltydoffer gebring het, het hy op heel regverdige wyse die vleis wat hulle mag geëet het, onder sy mense verdeel. Maar dit het beteken dat Hanna net een deel kon kry, want sy was kinderloos. Peninna het baie dele van die vleis gekry, omdat sy seuns en dogters gehad het.

Maar dieper as die blote gebeure moet ons bewus raak van die probleme wat die kinderloosheid veroorsaak het. Dat daar die kinderloosheid ‘n ongelykheid veroorsaak het tussen die twee vroue wat deur Peninna uitgebuit is. Trouens, Peninna word as Hanna se mededinger beskrywe. Peninna het gedink kinders hê was soos ‘n wedstryd met ander vroue. ‘n Wedstryd wat sy gewen het deur meer kinders as Hanna te hê. En sy het boonop vir Hanna getreiter deur haar te herinner aan haar kinderloosheid om Hanna nog verder seer te maak. Asof Hanna nie genoeg gely het uit die blote feit van haar kinderloosheid nie. En gehoop het vir ‘n bietjie genade.

Maar, die ding wat ‘n mens nog dieper moet raaksien, is die transendensie in die verhaal. Die kinderloosheid was nie maar net ‘n gebrek aan die kant van Hanna nie. Dit is die Here self wat Hanna se skoot toegesluit het.

Dit het veroorsaak dat Hanna nie maar net kon berus op die normale loop van die lewe nie. Sy moes in haar nood die Here opsoek vir ‘n uitkoms. In die hoop dat Hy vir haar ‘n kind sou hê.  Dat sy genade by Hom sou vind.

En ons weet uit die uitkoms van die verhaal dat daar ‘n groter verhaal was waarby Hanna uiteindelik ingeskryf sou word. Iets wat nie sy of ons wat die verhaal lees kon voorsien nie. Want, God was besig met ‘n baie groter verandering as maar net dat Hy vir Hanna ‘n kind sou gee. Hy sou genade vir sy volk deur haar verskaf.

7So het dit jaar ná jaar gegaan. Elke keer as Hanna opgegaan het na die huis van die Here, het Peninna haar só getreiter dat sy gehuil het en nie wou eet nie. 8Elkana, haar man, het op ‘n keer vir haar gesê: “Hanna, hoekom huil jy? Hoekom eet jy nie? Hoekom is jy hartseer? Is ek nie vir jou meer werd as tien seuns nie?”

Elkana was regtig lief vir Hanna, al kon hulle nie kinders hê nie. Maar die jaarlikse reis na Silo het telkens soos ‘n groot berg voor Hanna kom staan. Sy wou gehoorsaam wees aan die wil van die Here. Maar, Peninna het haar so getreiter dat Hanna selfs nie die een stukkie vleis wat Elkana vir haar gegee het, kon geniet nie.

Hoe mooi word Elkana se liefde vir Hanna geteken nie. “Is ek nie vir jou meer werd as tien seuns nie?”

En dan lees ons van die verandering wat kom.

9Nadat hulle daar in Silo klaar geëet en gedrink het, het Hanna opgestaan. Eli, die priester, het op die stoel by die deurkosyn van die tempel van die Here gesit. 10Sy was bitter ongelukkig en het tot die Here gebid terwyl sy onbedaarlik huil. 11Sy het ‘n gelofte afgelê en gesê: “Here, Heerser oor alle magte, as U tog net die ellende van u slavin wil raaksien en aan my sal dink en u slavin nie sal vergeet nie, en as U aan u slavin ‘n manlike nasaat sal gee, dan sal ek hom aan U, Here, teruggee so lank hy leef. ‘n Skeermes sal nooit oor sy kop gaan nie.”

Hanna besluit om haar hart uit te stort voor die Here. Sy het haar bitterheid oor nie net haar kinderloosheid nie, maar ook die teistering van Peninna voor die Here uitgestort. En sy het verder gegaan en haar met ‘n gelofte aan die Here se uitkoms verbind. Let op hoe sy die Here aanspreek soos ook van haar man in vers 3 gesê word: “Here, Heerser oor die magte.”

Sy erken die Here as haar persoonlike God en vra dat Hy haar ellende sal raaksien. Sy verklaar dat sy God se slavin is. En bid dat Hy haar ‘n kind sal gee. Let op hoe spesifiek sy is. Sy wil ‘n manlike nasaat hê, want sy wil hom teruggee vir die Here dat die seun ‘n Nasireër kan wees, een wat lewenslank aan die Here sal behoort. Daarom sal sy, soos die wet voorskryf, nie ‘n skeermes oor sy kop laat gaan nie.

Let ook op dat Eli daar is, die priester, die tussenganger tussen haar en God, maar dat sy hom verbygaan en direk tot God bid. Trouens, Eli was heeltemal ontoereikend, kom ‘n mens agter, hoewel hy darem sy veroordeling uiteindelik verander in ‘n seënbede:

12Terwyl Hanna so aanhou bid voor die Here, het Eli haar mond dopgehou. 13Maar Hanna self was besig om in haar hart te praat – net haar lippe het beweeg en haar stem was onhoorbaar. Eli het gedink sy is dronk. 14Eli sê toe vir haar: “Hoe lank nog gaan jy dronk bly? Raak ontslae van jou wyn!”

15Maar Hanna het geantwoord en gesê: “Nee, my heer! Ek is ‘n vrou met ‘n swaar gemoed. Wyn of sterk drank het ek nie gedrink nie, maar ek het my hart voor die Here uitgestort. 16Moet my, u slavin, nie as ‘n slegte vrou beskou nie, want dit is oor my kommer en ontsteltenis wat ek so lank gepraat het.”

17Eli het haar geantwoord en gesê: “Gaan in vrede! Die God van Israel sal jou versoek, dit wat jy van Hom gevra het, toestaan.”

18“Mag u slavin genade vind in u oë,” het sy gesê.

Baie betekenisvol. Sy vra vir genade! Dit wat haar naam vir haar gesê het. En die Here het haar toewyding raakgesien en aan haar gedink. Hy was haar genadig. So belowe Eli.

Die vrou is toe daar weg. Sy het geëet, en haar gesig was nie meer droewig nie. 19Hulle het vroeg die volgende môre opgestaan, voor die Here in aanbidding gebuig, en weer na hulle huis in Rama gegaan.

Elkana het met sy vrou Hanna gemeenskap gehad, en die Here het aan haar gedink. 20Met die draai van die jaar was Hanna swanger en het sy aan ‘n seun geboorte gegee. Sy het hom Samuel genoem, “want,” het sy gesê, “van die Here het ek hom gevra”.

Ek het hom van God gevra, en God het na my geluister, sê sy. Daarom gee sy haar seun die naam Samuel – God het gehoor.

Maar, dit is waar dit nou interessant raak. Waar ‘n mens die Goddelike plan sien ontvou. Want, die geboorte en bediening van Samuel is nie net ‘n antwoord op haar gebed nie. Hoe wonderlik dit nou ook al is.

God maak ‘n nuwe begin met Samuel in Israel, want sy Naam is aan Samuel verbind, soos die naam Samuel ook vertaal kan word: “Naam van God”.

Hierdie Samuel sou die aanvoorwerk doen vir beide die profeteskool beweging sowel as die monargie in Israel. Die Here het dus nie net aan Hanna gedink nie in sy gebedsverhoring nie, maar ook aan sy volk en wat Hy vir hulle beplan. Trouens, selfs die nasies is deur hierdie geboorte beïnvloed! Want die belofte aan Abraham is in die geslagslyn van Dawid vervul, die Dawid wat deur Samuel as koning gesalf is.

En ons lees in die res van die hoofstuk hoe Hanna vir Samuel gesorg het. Toe hy gespeen is – drie of vier jaar oud – het sy haar gelofte nagekom.

26Sy het gesê: “Asseblief, my heer! So seker as wat u leef, my heer, ek is die vrou wat hier by u gestaan het om tot die Here te bid. 27Vir hierdie seun het ek gebid, en die Here het my versoek, dit wat ek van Hom gevra het, toegestaan. 28Op my beurt staan ek hom nou aan die Here af. Solank as wat hy leef, is hy geleen aan die Here.”

Hulle het toe daar voor die Here in aanbidding gebuig. (2020-vertaling)

“Hy is geleen aan die Here.” Inderdaad. Soos sy in haar gelofte belowe het. En die Here seën haar met nog seuns en dogters. Haar naam was inderdaad Hanna, die een aan wie God genade verleen het. Ons lees in hoofstuk twee:

21Omdat die Here na Hanna omgesien het, het sy swanger geword. Sy het aan nog drie seuns en twee dogters geboorte gegee. Maar die seuntjie Samuel het by die Here grootgeword.

En in hoofstuk drie begin die Here die pad met Samuel stap. Die begin van die profetiese tradisie in Israel. Die een wat eers Saul en daarna Dawid sou salf as koning Die begin van die monargie. En uiteindelik die geslagslyn waaruit die Messias gebore sou word,

Dit leer ons dat ons kleiner verhale – bv van kinderloosheid – deel is van God se groter verhale – van grootskaalse verandering.

God nooi jou vandag uit om te bly bid vir jou behoeftes. Hy wil dit antwoord.

Die wonder is, dat God ons gebede antwoord binne die groter konteks van wat Hy met hierdie wêreld beoog. Iets wat in die geboorte van Jesus volledig sigbaar geraak het. Iets wat ook in jou lewe kan gebeur.

Lees dus saam met my van volgende week af jou Bybel uit die hoek van die beloftes van die Here. Bid die beloftes van die Here wat jou aangryp.

Laat Jesaja jou motiveer om die Here elke dag te herinner aan sy beloftes:

“Gun julleself geen rus nie! Gun Hom ook geen rus nie!”

Totdat Hy antwoord en sy beloftes in jou en ander se lewens vervul (Jes 62:6-7).

Gebed

Slotlied

Lied 245:1-3 Ek wat vergifnis, Heer, ontvang het  (staan)

Seën

Respons

Refrein Lied 245 Ek loof en prys U deurentyd

View all posts in this series

Maak 'n bydrae

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.