Skip to main content

Handelinge 13:13-52 – Die Heilige Gees gee die ewige lewe deur ons getuienis

GOD NOOI ONS UIT EN ONS KOM TOT RUS

Votum en Seëngroet
Lofsang
  • Lied 200:1, 3 – U goedheid, Heer, kan ons nie peil nie – wie word daardeur nie diep getref – sit
  • Lied 492:1,2 – In U is vreugde, vrede en vreugde, Jesus Christus, U is Heer – staan
  • Ps 8 (VONKK 85) Gemeente: Keervers “Here, ons Here, hoe groot is U!” Koor: strofes – sit
  • Lied 293:1,3 – Jesus neem ons kleine kinders met ’n hart vol liefde aan – sit
Doop
Kindertyd

Waaroor het ons verlede week gepraat?  Wat het ek vir julle geleer?

Prentjie 1: Hier is die prentjie weer – as ons gelukkig is, sê ons dankie, Here.  As ons hartseer voel, sê ons, help ons Here.

Vandag wil ek vir julle ’n ware storie vertel – julle kan julle ma’s en pa’s vra om vir julle die video te wys, dan kan julle die hele verhaal luister.

Daar was ’n vrou, Gladys Aylward.  Sy was baie lief vir die Here.  En sy was baie lief vir die mense van China.  En sy wou baie graag vir hulle van Jesus vertel.  Maar toe sy saam met die sendelinge na China toe wou gaan, wou hulle haar nie laat gaan nie.  Hulle het gesê, sy was te eenvoudig.  Sy was net ’n huisbediende in Engeland.  Sy kon nie mense verpleeg nie.  Sy kon nie skoolhou nie.  Sy kon net huise skoonmaak.

Prentjie 2: Hier sit sy en sy is baie hartseer dat sy nie kan gaan nie.

Toe besluit sy, maar sy sal self gaan.  Elke week het sy geld weggesit, amper ’n jaar lank, voor sy genoeg gehad het om met die trein na China, al die pad van Engeland af, kon ry.

Sy kom toe in ’n klein dorpie, Yang Cheng.  En sy ontmoet daar ’n sendeling, Jeannie Lawson, wat maar te bly was dat sy kon help.

Prentjie 3: Hier is Gladys en Jeannie.  Jeannie het ’n herberg gehad, The Inn of the Sixth Happiness, die Herberg van die sesde geluk, en elke aand het sy vir die mense kos gegee en lekker slaapplek … en dan het sy vir hulle stories vertel.  Watter stories dink julle?  Bybelstories!

En weet julle wat gebeur toe? Gladys het begin om te help.  Sy het begin om Chinees te leer, sodat sy ook vir die mense die Bybelstories kon vertel. En baie mense het die verhale van Moses, en Noag, en Dawid en veral van Jesus gehoor.

Prentjie 4: Maar weet julle wat gebeur toe?  Die hoof van die dorpie het besluit dat sy so lief is vir mense dat sy hom moet help met die kinders van Yang Cheng.  Die Chinese het ’n slegte gewoonte gehad om hulle kinders se voete vas te bind dat dit mooi klein sou wees.  Maar dit was baie seer en dan kon hulle nie behoorlik hardloop of selfs loop nie!

Prentjie 5: Hier is ’n prentjie van so ’n voet.  Lyk darem seer nê!

En, omdat sy so lief was vir die mense, het hulle na haar geluister.  En hulle het opgehou om die kinders se voete vas te bind.  En vandag is daar omtrent niemand wat dit nog aan kinders doen nie.

Prentjie 6: En hulle het begin om vir haar kinders te gee wat niemand wou hê nie, en sy het vir hulle begin sorg.

So het sy baie kinders se lewens gered, anders sou hulle op straat moes lewe.

Die hoof van die dorpie was so geraak daardeur, dat hy in Jesus begin glo het.

Een dag het daar oorlog uitgebreek, en moes sy met ’n 100 kinders oor die berge trek om hulle te red.  En sy het dit reggekry.

Prentjie 7: Sy kry later die naam, Jenai, die een wat vir mense lief was, die deugsame vrou.  Die een wat vir hulle die storie van Jesus nie net vertel het nie, maar kom wys het hoe lief Hy vir ons het.

Wat leer ons by haar?  Dat ons lief moet wees vir mense.  Dat ons hulle moet help.  En dat as ons ook vir hulle die stories van Jesus vertel, dan sal hulle ook in Jesus begin glo.

Terugvoer

Daaglikse ondersoek

Gebed

GOD PRAAT MET ONS EN ONS LUISTER

Skriflesing

Die verhaal is opgedeel in 5 dele:

  • 13-14 – Die reis na Antiogië in Pisidië en die besoek aan die sinagoge op die eerste sabbatdag.
  • 15-41Paulus se toespraak na die voorlesing uit die wet en die profete op versoek van die raadslede van die sinagoge waarin hy uitbrei oor die geskiedenis van die Godsvolk, en  Jesus se geboorte, dood en opstanding as appèl tot geloof aanbied.
  • 42-43 – Die gesprek na die tyd met die Jode en godvresendes wat tot ’n uitnodiging lei om weer op te tree die volgende sabbat.
  • 44-47 – Die byeenkoms die volgende sabbat waar byna die hele stad van Antiogië in Pisidië opdaag en die Jode met afguns vervul word en Paulus en Barnabas begin beledig, maar die heidene met blydskap die woord van die Here toejuig.
  • 48-52 – Die 3 gevolge van hierdie byeenkoms: die Jode sweep die stad teen hulle op wat tot hulle vervolging lei; die apostels beweeg aan; die gelowiges bly agter met blydskap en vol van die Heilige Gees.

Paulus en Barnabas in Antiogië in Pisidië

13Paulus en sy reisgenote het met ’n skip van Pafos af vertrek en by Perge in Pamfilië aangekom. Daar het Johannes hulle verlaat en na Jerusalem toe teruggegaan. 14Maar hulle het die reis van Perge af voortgesit en in Antiogië in Pisidië gekom.

Op die sabbatdag het hulle na die sinagoge toe gegaan en daar gaan sit. 15Ná die voorlesing uit die wet en die profete het die raadslede van die sinagoge hulle laat weet: “Broers, as julle vir die volk ’n woord van bemoediging het, praat maar.”

16Paulus het opgestaan, met ’n handbeweging aandag gevra en gesê: “Israeliete en godvresendes, luister!

  • Dan gee Paulus vir hulle ’n oorsig van die geskiedenis van Egipte af na Kanaän en beklemtoon God se verkiesing van hulle as sy volk, en sy verdraagsaamheid met hulle en die gawe van die land Kanaän.
  • Dan praat hy oor die leiers wat God hulle gegee het en noem Jesus as die een wat uit die geslag van Dawid gebore is as die Verlosser van Israel, die verwagte Messias.
  • Hy praat oor die feit dat die Jode in Jerusalem Jesus nie wou erken nie en Hom aan die kruis laat spyker het.
  • Hy praat oor die feit dat God vir Jesus weer uit die dood opgewek het, waarvan baie mense kan getuig, ook hulle wat hierdie boodskap wêreldwyd verkondig.
  • In Jesus se naam kan hulle ook vergewing van sondes kry, nie deur die wet nie, maar deur geloof in Jesus.

42Terwyl hulle die sinagoge verlaat, het die mense vir Paulus en Barnabas gevra om hulle die volgende sabbatdag meer van hierdie dinge te vertel. 43Nadat die sinagoge uit was, het baie van die Jode en van die mense wat vantevore uit die heidendom tot die Jodedom oorgegaan het, saam met Paulus en Barnabas gegaan. Dié het met hulle gepraat en hulle aangemoedig om op die genade van God te bly vertrou.

44Die volgende sabbatdag het byna die hele stad bymekaargekom om die woord van die Here te hoor. 45Toe die Jode die groot opkoms sien, is hulle met afguns vervul en het hulle telkens Paulus se woorde teëgespreek en hom beledig. 46Paulus en Barnabas het reguit vir hulle gesê: “Die woord van God moes eerste aan julle verkondig word. Maar omdat julle dit verwerp en daarmee beslis dat julle die ewige lewe nie werd is nie, gaan ons nou na die mense toe wat nie Jode is nie,

47want so lui die Here se opdrag aan ons:

Ek het U gegee as ’n lig

vir die nasies,

sodat U verlossing kan bring

tot in die uithoeke

van die aarde.” d

48Toe die heidene dit hoor, was hulle baie bly oor die woord van die Here en het hulle dit toegejuig. Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword. 49Die woord van die Here het dwarsdeur die hele streek versprei. 50Maar die Jode het vooraanstaande godvresende vroue en toonaangewende burgers van die stad teen Paulus en Barnabas opgesweep. Hulle is vervolg en uit die streek verdrywe. 51Hulle het toe as gebaar teen die stad die stof van hulle voete afgeskud en na Ikonium toe gegaan. 52Die gelowiges in Antiogië was vol blydskap en vol van die Heilige Gees.

Woordverkondiging
Gladys Aylward

Die verhaal van Gladys Aylward fassineer my.  Sy het gelewe van 1902 – 1970 en was ’n Britse huisbediende.  En met ’n eenvoudige opleiding – sy was ’n groot leser – en ’n passie vir China – sy het later Chinese burgerskap aanvaar – het sy eenvoudig wonders verrig.

Saam met Jeannie Lawson het sy die verste noord van enige sendeling tot op daardie stadium met die evangelie gegaan en só op ’n treffende wyse mense se lewens verander.

Een gesprek met Jeannie het my veral aangegryp.  Reg aan die begin toe sy daar aankom, het sy ’n teregstelling aanskou, en was teen die grond oor die wreedheid daarvan.  Jeannie se perspektief daarop en hoe ons as Christene ook moet dink oor ons roeping en ons passie vir verandering, is as volg:

“There are many things that are horrible in China.  But they will change – one thing at a time with the help of the Lord.  And that’s what we are here for.”

Daarby het sy gevoeg:

“It’s a hard life for a young woman, But it won’t seem hard, I promise you.  When at my age you look back, it will only seem beautiful.”

Die idee vir die herberg se naam, The Inn of the Sixth Happiness, kom van die 5 vreugdes waarvan Chinese praat: welvaart, lang lewe, gesondheid, deugsaamheid, en ‘n vredevolle dood op ’n hoë ouderdom.  Die sesde in Jeannie se oë is die een wat jy self uitvind, en wat natuurlik ook die evangelie van Jesus Christus insluit.  Dit is waarom sy die naam vir die herberg gekies het.

Dat die mandarin haar hulp inkry om met voet-inspeksies die eeue-oue gebruik van voetbindery stop te sit, was aan die een kant ’n regtige gevaarlike onderneming.  Maar dit word ook die manier waarop sy haar geloof met mense kan deel, waardeur sy slaag in haar passie en roeping, om ’n getuie vir Jesus in China te wees. En, soos sy op ’n punt sê, haar beker van geluk loop oor.

Sy stop selfs een keer ’n tronkopstand en bring daardeur groot hervormings te weeg in die tronk.  Soos die mandarin van haar sê: “She thrives on difficulties!”

Sy kry uiteindelik die naam Jenai – die een wat mense liefhet.  Op ’n stadium sê ’n kolonel, Lin Nan, tussen wie daar volgens die fliek ’n verhouding ontwikkel, hoewel sy dit in die werklike lewe ontken het, vir haar: “I love China as it could be” waarop sy antwoord, “I love China as it is.” En haar hele lewe word gewy daaraan om stukkie vir stukkie deur haar liefde vir mense hulle ’n gevoel van menswaardigheid te gee en ’n verskil te maak.

Die mandarin word uiteindelik ’n Christen, oortuig deur haar liefde vir mense.

Met die Tweede Wêreldoorlog wat uitbreek, word sy met 100 weeskinders gelaat (50 volgens die fliek), met wie sy oor die berge na veiligheid trek – met die liedjie: “This old man, he played one, he played knick-knack on my thumb, with a knick-knack paddy-whack, give a dog a bone, This old man came rolling home.” om die kinders moed te gee.

Die fliek is gebaseer op die boek The Small Woman van Alan Burgess (1957).

Sy is na die 2de Wêreldoorlog na Taiwan en het daar ’n kinderhuis begin wat sy tot haar dood bestuur het.  Sy is vandag nog in China bekend as Ai-weh-deh – die deugsame vrou – of Jenai, soos die dorpie haar geken het – die een wat mense lief het.

Deurbrake in Antiogië in Pisidië

Gladys Aylward se verhaal eggo die gebeure in Antiogië in Pisidië.

Die proses wat:

  • in Sesarea begin het met die oorskryding van gemeenskapsgrense na ander nasies, weliswaar godvresendes uit daardie nasies wat hulle met die Joodse geloof geassosieer het (Kornelius),
  • in Antiogië in Sirië voortgesit is met die klomp Griekssprekendes wat tot geloof kom,

word nou in Antiogië in Pisidië verder gevoer.

Kyk op die kaart

Dié gemeente van Antiogië in Sirië het die droom van God gesnap dat Hy sy liefde met almal wil deel.  Dit is wat hulle die moed gegee het om vir Barnabas en Paulus in opdrag van die Heilige Gees af te sonder en te stuur om van die Here te getuig.

En dié twee het getrou en gehoorsaam gegaan as geskenk van die gemeente in Antiogië (in Sirië) aan die nasies.

En hulle werk dra hier in die naamgenoot stad Antiogië in Pisidië groot seën wanneer mense ook hier tot bekering kom.

Hoewel die getuienis van die evangelie teenstand uitlok, en duidelike risiko’s vir die getuies inhou, dra dit ook groot vrug en word God se werk deur die getuienis verder gevoer.

En ons sien hier hoe die heidene bly is oor die Woord van die Here en dit toejuig.  Mense wat vroeër uitgesluit was van die hoop op God, word nou ingesluit en kry deel aan die ewige lewe.

En die Woord van die Here versprei deur die hele streek.

Hoe die getuienis werk

Dit is hoe getuienis gewoonlik werk.  Dit is ‘n dinamiese proses wat deur vier fases gaan:

  1. Daar is ’n ontvanklikheid en verwagting wat geskep word.
  2. Die boodskap van Jesus as Verlosser word verkondig.
  3. Daar is gesprekvoering om die boodskap jou eie te maak.
  4. Daar is altyd twee reaksies – sommige glo en ander staan die boodskap teë.

Kom ons kyk hoe dit werk:

Een:  Ontvanklikheid en verwagting

Op die Sabbatdag gaan Barnabas en Paulus se reisgeselskap na die sinagoge.  Hulle word gasvry ontvang en die raadslede van die sinagoge gee hulle ’n spreekbeurt.  Dié geleentheid volg op ’n voorlesing uit die wet en die profete.

Paulus benut die geleentheid deur oor God se werk te getuig, met Jesus as hoogtepunt, dié Een wat hulle sondes kan vergewe.

En dit lei daartoe dat mense, Jode sowel as mense wat uit die heidendom na die Jodedom oorgegaan het, meer wil weet.

Twee: Die boodskap van Jesus as Verlosser

Maar wat ons ook moet hoor uit Paulus se getuienis, is dat dit oor Jesus gaan en nie oor onsself nie.

Ons dink te maklik getuienis is jou eie persoonlike storie.  En hoewel dit natuurlik ’n rol speel, gaan dit eintlik in getuienis om Jesus self.  Getuienis fokus daarom op wat God doen.  Jesus Christus, en dit wat God deur Jesus doen, moet sentraal staan, soos Paulus en Barnabas dit vir ons hier demonstreer.

En let op hoe Paulus die Skriflesing in die sinagoge, die voorlesing uit die wet en die profete, gebruik om by Jesus te eindig.  Hy begin by die woestyn, werk deur die leiers en die konings om via Dawid by Jesus uit te kom, die Messias.

En die sentrale aspek van sy getuienis is dat hierdie Jesus deur die Jode veroordeel is, deur hulle doodgemaak is, maar toe deur God uit die dood opgewek is.  En hy wys vir hulle dat God, deur Jesus uit die dood te laat opstaan, al sy beloftes van ouds af vervul het, dat Hy inderdaad die Messias is.

En die wonderlike gevolg is, dat terwyl die wet mense nie kon vryspreek nie – en hulle weet dit mos uit eie ervaring, jy moet telkens weer ’n offer bring vir jou sondes – doen Jesus dit eenmalig en vir altyd.  Hy verlos van sonde.

Hierdie vergewing van sondes, getuig Paulus, kom deur Jesus.  Elkeen wat glo, word vrygespreek van alle sondes.

Nou dít is getuienis!

Drie: Gesprekvoering en internalisering (jou eie maak)

Maar dit verg natuurlik ook ’n heel nuwe manier van dink vir sy gehoor.  Bekering is nodig.  Dit beteken geloof in Jesus en die heroriëntering van jou lewe aan Jesus.

Daarom volg daar na die getuienis op die eerste Sabbatdag ’n week van gesprekvoering.  Mense kry geleentheid om oor die boodskap na te dink en dit te internaliseer, hulle eie te maak.

En Paulus en Barnabas gaan voort om mense aan te moedig om op die genade van God se vertrou.  Dit verhoog mense se verwagting en stel hulle in staat om sinvol op die getuienis te reageer.

Ons moet nooit die noodsaak van hierdie fase onderskat nie.  Ons het sulke “heilige gesprekke”  nodig, waar oor die betekenis van Jesus en die betekenis wat Hy vir die lewe het, gesels moet word.

En die stories wat ons wil vertel, pas in hierdie fase in, soos dit ook die geval was in die verhaal van Gladys Aylward.  En die stof vir hierdie gesprek kan kom uit ons daaglikse ondersoek, wat ons die week ingeoefen het, waar ons nadink oor waar ons God in die goed en die sleg van die lewe ervaar het.

Vier: Twee reaksies

Maar, dit bring ons by die ontknoping van enige getuienis, die uiteindelike reaksie van die mense op die boodskap van Jesus.  Jy kan nie neutraal bly nie.  Jy reageer in geloof, of jy reageer in ongeloof.

Eers die ongeloof: Die volgende Sabbat is Paulus en Barnabas dus weer aan die woord.  Nou is die groter meerderheid van die Jode egter afgunstig en maak die deur toe vir Paulus se verdere getuienis.  Hulle ontvanklikheid  verdamp.  En die Jode sê nee vir Jesus.

Mens sou verwag hulle sou bly wees dat soveel mense die Woord van die Here hoor, maar die Jode reageer soos die Jode in Jerusalem reeds vroeër teenoor Jesus gereageer het.  Hulle begin Paulus onderbreek en verwerp sy boodskap.

Paulus en Barnabas bly egter as ’n span optree en draai geen doekies om nie, al word hulle beledig en sleg gesê.  Hulle spel die gevolge van die Jode se teëstand van die boodskap uit.  Hulle ongeloof beteken dat hulle die ewige lewe nie werd is nie.

Hierdie teenstand verdiep, en selfs die leiers van die gemeenskap word teen Paulus en Barnabas opgesweep sodat hulle uit die gemeenskap verdrywe word.  Die weerstand en verwerping van die getuienis is volkome.

Maar dan ook die geloof: Die heidene juig die Woord van die Here toe en raak gelowig.  Soos Lukas sê, almal wat bestem was vir die ewige lewe, raak gelowig, dws almal wie se harte God aangeraak het, dié raak gelowig.

En daarmee kom Paulus en Barnabas se roeping om die evangelie na die heidennasies te neem volledig tot sy reg, soos God dit van hulle gevra het.

En ons moet leer, dat hierdie twee reaksies – geloof en ongeloof – altyd teenwoordig is wanneer getuig word.  Getuies maak vrede daarmee, al word hulle hoe beledig, en al laat hulle die uitkoms van hul getuienis aan die Here oor, hou hulle ook nooit op om dit te doen nie!

Getuienis met hoop

Wat leer ons dus van Barnabas en Paulus se getuienis hier in Antiogië in Pisidië?

  • Dat ons ’n roeping het om te getuig – die evangelie moet aan almal bekend gemaak word.  En elkeen wat Jesus ken, is daarmee ’n getuie, en het die opdrag om te gaan vertel.  En ons moet gebruik wat ons het.  Paulus en Barnabas het baie gawes gehad wat hulle kon gebruik.  Gladys Aylward het minder gehad.  Maar hulle het gebruik wat hulle gehad het en die Here het dit gebruik om Sy naam te verheerlik.
  • Dat getuienis baie keer lei tot belediging.  Daar is meer weerstand teen die evangelie as wat daar aanvaarding is, wêreldwyd.  Ons moet nie afgeskrik word daardeur nie, maar ook nie dit ontken nie.  Paulus sou net hierna in die volgende dorp gestenig word.  Stefanus het vroeër met sy lewe geboet.  Maar, ten spyte daarvan het hulle aangegaan en hulle rol gespeel.  Dieselfde oortuiging en ook soms ’n stukkie hardkoppigheid, moet deel van ons eie mondering wees om te doen wat die Here van ons vra.
  • Dat God deur ons getuienis groot en wonderlike dinge doen.  God gee inderdaad die ewige lewe aan mense deur ons getuienis.  Hierdie getuienis kan kom deur preke, maar veral deur “heilige gesprekke.  En ons kan weet, niemand getuig ooit tevergeefs van die werke van God deur Jesus Christus van Nasaret nie.  Daarvoor sorg die Here self.  Dit sien ons in die lewe van Barnabas en Paulus.  Dit sien ons in die lewe van Gladys Aylward.

Dit is met dié hoop dat ons van Hom met ons lewe en woorde getuig oral waar ons kom – ook gewone gelowiges soos Handelinge ons duidelik leer.  Daardeur ontdek ons, die Heilige Gees gebruik ons inderdaad.  Dit is alles die werk van die Heilige Gees.

  • Paulus en Barnabas se getuienis was nie tevergeefs nie.
  • Gladys Aylward se getuienis was nie tevergeefs nie.  Let veral op dat sy gewerk het met wat sy het – ’n liefde vir mense, ’n deursettingsvermoë, selfs ’n stukkie hardkoppigheid, om stukkie vir stukkie mense se lewens te verander.  En let op dat haar betrokkenheid by die voet-inspeksies, wat eintlik na ’n hindernis in haar pad kon lyk, die deur vir haar getuienis oopgemaak het, en in der waarheid haar getuienis geword het!
  • Saam met al die getuies deur die eeue dra ons werk in diens van die evangelie steeds geweldige vrug.
  • Laat ons onsself ywerig by hierdie stroom getuies inwerp en doen wat ons moet!

GOD STUUR ONS OM TE LEEF

Geestelike gewoonte

In julle joernaal het julle die onderstaande beskrywing van getuienis as geestelike gewoonte.

Die Christelike lewe begin by die getuienis oor Jesus as Verlosser.  Dit word geleef deur van sy lewende teenwoordigheid deur die opstanding te vertel, en van die impak daarvan op alle fasette van die lewe te getuig.

Getuienis is die wyse waarop die Groot Opdrag van Jesus (Matt 28:20) uitgevoer word.  Dit is die wyse waarop die hele wêreld bereik word (Hand 1:8).  Dit sluit in dat die werklikheid van Jesus se opstanding en teenwoordigheid verkondig word; dat grense na ander wat anders glo oorgesteek word om jou geloof te deel – altyd met ’n diep respek vir ander mense se verstaansraamwerke; dat jou eie reis met Christus baie keer die aanknopingspunt vir jou getuienis is; dat jy gasvryheid demonstreer in jou lewe saam met mense.

Beplan hoe jy voor ons volgende byeenkoms die geestelike gewoonte van getuienis gaan beoefen.  Hier is ’n paar opsies om jou gedagtes te stimuleer:

  • Skryf op ’n bladsy wat jou vandag in die erediens getref het. Kies iemand wat ’n oortuigde gelowige is en deel dit met hom of haar.
  • Skryf ’n bladsy oor jou ervaring van Jesus Christus die afgelope jaar. Deel dit met ’n goeie vriend of vriendin of iemand wat saam met jou die eredienste bywoon.
  • Trek vir jou op ’n bladsy ’n lewenslyn en merk die hoogtepunte en laagtepunte in jou reis met die Here. Deel dit met iemand wat jy vertrou.
  • Begin om vir iemand te bid wat die blydskap van ’n verhouding met Jesus nog moet ontdek. Dink aan iemand by jou werk, in die gemeenskap of selfs in jou vriendekring.
Gebed
Dankoffer

Koor Lied 442 “Gees van God wat in my woon”

Slotsang

Lied 436:1-3 Herskep, o Gees, laat leef, o Gees, laat kom die koninkryk met mag – staan

Seën
Amen

Lied 311 (Koor is voorsangers)

 


d Vgl. Jes. 49:6

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.