Skip to main content

Handelinge 2:14a, 22-32 – Jesus het opgestaan

Die mees wesenlike vraag vir die Christelike geloof is wie Jesus van Nasaret is. Die belydenis oor Jesus is die fokuspunt van ons geloof. Dit raak alle ander fasette van ons geloof. Om die waarheid te sê, regdeur die geskiedenis van die kerk is dit die diepste vraag: Wie is Jesus?  

Verwelkoming

Toetrede

Lied 405:1-2 – Roem al wat leef die Heer se dag – staan

Votum en Seëngroet

Lied 409 – Hoor jy die Paasfeesklokke? – staan

Lied 411 – Kom almal laat jul stem verrys (vers 1 en 3 almal, vers 2 dames)– staan

Gebed

Skriflesing          Handelinge 2:14a, 22-32

Petrus se toespraak op die pinksterdag

14Toe staan Petrus saam met die elf ander apostels op en onder leiding van die Heilige Gees spreek hy die mense toe: “Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, ek moet vir julle verduidelik wat gebeur het. Luister na wat ek gaan sê: 15Hierdie mense is nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar nege-uur in die môre. 16Nee, hier gebeur wat God deur die profeet Joël gesê het:

17Só sal dit in die laaste dae wees,

sê God:

Ek sal my Gees uitstort

op alle mense:

julle seuns en julle dogters

sal as profete optree;

julle jongmense sal gesigte sien;

julle oumense sal drome droom.

18Ja, op my dienaars

en my dienaresse

sal Ek in daardie dae

my Gees uitstort,

en hulle sal as profete optree.

19Ek sal tekens bo in die lug

en wonders onder op die aarde gee:

bloed en vuur en rookwolke.

20Die son sal pikdonker word

en die maan bloedrooi

voordat die groot en glorieryke dag

van die Here kom.

21So sal dit dan wees:

elkeen wat die Naam van die Here

aanroep,

sal gered word. c

22“Israeliete, luister na hierdie woorde! God het Jesus van Nasaret aan julle bekend gestel deur die kragtige dade, die wonders en die tekens wat God Hom by julle laat doen het. Daarvan weet julle self. 23God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak. 24Maar God het Hom van die smarte van die dood verlos en Hom uit die dood laat opstaan. Dit was immers vir die dood onmoontlik om Hom gevange te hou. 25Van Hom sê Dawid:

Ek het die Here altyd voor oë.

Hy is aan my regterhand;

ek sal nie wankel nie.

26Daarom is my hart bly

en my tong jubel,

ja meer, ek het die verwagting

dat my liggaam sal lewe,

27want U sal my nie

aan die doderyk oorlaat nie;

U sal nie toelaat dat u troue dienaar

vergaan nie.

28U het my die paaie van die lewe

geleer;

u teenwoordigheid sal my

met vreugde vul. d

29“Broers, wat ons voorvader Dawid betref, moet ek dit vir julle duidelik stel: Hy het gesterwe en is begrawe, en sy graf is nou nog hier by ons. 30Maar hy was ’n profeet en hy het geweet dat God met ’n eed aan hom belowe het dat een van sy nakomelinge op sy troon sou sit. 31Daarom het hy die opstanding van die Christus vooruit gesien en gesê:

Hy is nie aan die doderyk

oorgelaat nie,

en sy liggaam het nie

vergaan nie. e

32God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan; daarvan is ons almal getuies.

Woordverkondiging

Wie is Jesus van Nasaret?

Die mees wesenlike vraag vir die Christelike geloof is wie Jesus van Nasaret is. Die belydenis oor Jesus is die fokuspunt van ons geloof. Dit raak alle ander fasette van ons geloof. Om die waarheid te sê, regdeur die geskiedenis van die kerk is dit die diepste vraag: Wie is Jesus?

Dit is een van die redes waarom daar meer as een evangelie is.  Die Markus evangelie, die oudste van die evangelies, gee immers ‘n korter antwoord oor wie Jesus is. Sy evangelie begin bloot met die vermelding van Johannes die Doper se optrede. Soos die tyd aangestap het, het die vraag oor wie Jesus is vir die kerk egter al hoe dringender geword. Daarom gee Matteus en Lukas langer inleidings, wat vertel van die aankondiging van Jesus se geboorte en die gebeure wat daarmee verband hou. Johannes, die jongste evangelie, gaan nog vêrder terug en voer Jesus se oorsprong as Seun van God reg na die begin van alles toe terug.  Alles om ons beter te laat verstaan wie Jesus is.

Die wesenlike belang van die opstanding om Jesus se betekenis te verstaan

Maar, al vier die evangelies eindig met die opstanding uit die dood en die onmiddellike effek daarvan op die kleiner kring  van die dissipels en ander volgelinge van Jesus sowel as die groter kring van die inwoners van Jerusalem. Want, dit is die hart van die evangelie verhale.

’n Mens kan eintlik sê dat die drie latere evangelies eintlik al hoe langer inleidings vir die opstandingsverhale verskaf het, want die opstanding is die wesenlike van die evangelies.  Daarop moet uitgebrei word.  Elke wonderwerk wat Jesus gedoen het, elke preek wat Hy gepreek het, elke liefdesdaad wat Hy verrig het, het die doel om ons Sy opstanding en die betekenis daarvan beter en beter te laat verstaan.  Die opstanding is dus van wesenlike belang.

Kom ons oordink dit ’n bietjie dieper

Sê nou maar daar woon en werk iemand in ons omgewing. Hierdie persoon gaan van streek tot streek en leer die mense. Hy doen wonderwerke en verwerf ‘n aanhang onder die mense.

Sommige van die persoon se aansprake is nogal dramaties, soos: “God is my Vader, ek is die Seun van God.” Die persoon haal tekste uit die OT aan om te sê Hy is die een wat God uitgekies het en aangestel het om oor al die mense op aarde te heers as Koning en Here.  In Hom kan ons die ewige lewe verkry.

Ons, wat met verbasing luister, wonder hoe ver ons ons aan al Sy praatjies moet steur. Baie mense gaan egter agter hierdie Messias aan. Boonop geskied daar wonderwerke oral waar die persoon gaan. Groot skares trek om ons held saam.

Maar daar is ook baie mense wat aanstoot neem aan die lering van hierdie persoon. Wette en tradisies wat vir ons kosbaar is, en waarop ons samelewing gebou word, word in die wind geslaan. Dit is veral godsdienstige wette wat in die slag bly – die besnydenis en die sabbat. Ons neem ernstig aanstoot. Om boonop te sê jy is die Seun van God, en jy kan God gesagvol bekend stel, is net darem te dik vir ‘n daalder. Om die waarheid te sê, om aanspraak te maak dat jy kan doen wat net God mag doen, soos om sonde te vergewe, en dit buite die stelsel van offerandes om, is absoluut godslasterlik.

Uiteindelik sit ons mense se vroeëre bewondering vir Hom om in afkeuring en verwerping. Die godsdienstige owerhede begin teen Hom in opstand kom en begin die leringe, aansprake en selfbewussyn van hierdie selfaangestelde messias aanvat.

Hulle kla uiteindelik die messias figuur kerklik-godsdienstig aan, kry ‘n skuldigbevinding, oefen druk op die regering uit, en kry dit uiteindelik reg om die skuldige uit die weg te ruim. Die owerheid is bang vir onluste, en word deur ‘n goed beplande straatoptog geforseer om aksie te neem. Die praatjiesmaker word in die publiek tereggestel. Almal slaak ‘n sug van verligting. Die meerderheid se wil het geskied. Nou is daar weer vrede …

Die vrede hou egter net vir drie dae. Op die derde dag verskyn die vermeende praatjiesmaker weer. Die graf is oopgebreek en leeg. Die moeilikheidmaker lewe weer!

Skielik is dit nie meer moontlik om te sê alles was net praatjies nie. Daar val nou nuwe lig op alles wat die aanspraakmaker vroeër gesê het. Al die aansprake oor God, oor kindskap van God, oor gestuur-wees deur God, sy leringe oor die regte godsdienstige ingesteldheid en gebruike, en die doen van dinge wat net God mag doen, blyk skielik na alle waarskynlikheid waar te wees.

Die skare wat op die teregstelling aangedring het, die godsdienstige owerhede wat die vervolging aangevuur het, die regter wat die beslissing gevel het, al die ondersteuners wat die beskuldigde in die steek gelaat het, weet skielik: die aansprake was waar. Wat hier gebeur het, is die werk van God. Hierdie persoon moet ernstig geneem word.

In die lig van die opstanding uit die dood, moet alles oor hierdie persoon opnuut bedink en beoordeel word.

Wat moet ons nou doen?

Fiksie?  Nee dit is presies wat in die tyd van Jesus se lewe, dood en opstanding gebeur het.  Die Jode het gedink dit is die laaste sien van die blikkantien … en skielik word hulle met die onverwagte, die ongelooflike, gekonfronteer. Hy wat dood was, Hy lewe.  Die graf is leeg.

En laat ons hiermee onmiddellik raaksien dat dit doodgewoon ’n feit is dat die opstanding van Jesus baie wyd aanvaar en erken is deur die Jode in Jerusalem.  Daar was wel baie wat die feite teengestaan het, wat valse stories oor Jesus versprei het, wat die Christene met alle mag vervolg het om die boodskap van Jesus se opstanding te probeer onderdruk.

Maar ons sien hier op Pinksterdag dat niemand eers probeer het om met Petrus-hulle te stry nie.  Almal weet dat daar iets besonders gebeur het.  Jesus se opstanding was “the talk of the town” en jy moes skielik alles wat jy oor Hom gedink het, her-evalueer.

Die vraag was dus duidelik, wat moet hulle nou doen?  Want, wat doen ’n mens as die mat onder jou voete uitgeruk word en jy jou standpunt moet verander oor Jesus?  As jy agterkom dat wat Jesus oor Homself gesê het, meer as maar net waarskynlik waar is?  Wat doen jy?  Ek bedoel, mense staan nie gewoonlik uit die dood uit op nie!  Of hoe?!  En hier het dit nou gebeur.  En hulle kan nie daarmee stry nie.

Hoe reageer die opgestane Jesus hierop?

Dit is in dié verwarring en herbedink van die betekenis van Jesus wat die verhaal van Pinksterdag ontvou.  En die interessante is, dit is dieselfde Een wat verguis en verwerp is, wat ook die Een is wat met die verwarde Jode in gesprek tree.  Jesus self, die opgestane Here, tree met die Jode van Jerusalem in gesprek.

En Hy doen dit op twee maniere: 1) deur die uitstorting van die Heilige Gees en 2) deur die getuienis van die dissipels.

1.  Jesus stort die Heilige Gees op die dissipels uit

Eerstens word die Gees van Christus op die wyer dissipelkring uitgestort.  Die opgestane Here Jesus salf hulle om namens Hom en in opdrag van Hom met die Jode te kan praat.

En die hele Jerusalem neem daarvan kennis.

Al die dissipels is met die Heilige Gees vervul en het wonderbaarlik in bekende tale van daardie tyd begin praat, soos die Heilige Gees dit aan elkeen gee. Die effek was dat die Jode uit verskillende wêrelddele wat vir die fees in Jerusalem was, elkeen die groot dade van God in hulle eie moedertaal kon hoor.

Hierdie oorweldigende vervulling van al die gelowiges met die Heilige Gees was natuurlik ook die teken dat Jesus deur hulle nog die hele wêreld vol gaan maak van die getuienis oor Hom, die Here en Christus.  Die vuur wat verdeel in tonge bevestig aan almal dat hierdie evangelie oorvertel moet word en die tale-wonder bevestig verder dat dit vir alle mense bedoel is, soos ’n mens kan sien uit die vyftien-tal nasies wat daar teenwoordig is om die wonder te aanskou en die evangelie in hulle eie taal te hoor.  Hierdie tale-wonder (verstaanbaar) is dus iets anders as die gawe van tale (onverstaanbaar) wat in 1 Korintiërs 12 en 14 van vertel word.

2.  Petrus stel die opgestane Here Jesus aan hulle bekend

Tweedens begin Petrus (en die ander dissipels, hoewel Lukas net sy woorde opgeteken het) die brandende vraag in die Jode se harte na wat hulle moet doen met die opgestane Jesus, beantwoord deur die opgestane Here Jesus aan hulle bekend te stel – nie die Gees nie, hoewel hy later ook oor Hom sou praat – JESUS!

Dit is interessant dat hierdie eerste preek – vers 14-40 –  ’n drie-deling het, (wat in die volksmond as ’n goeie dominees preek bestempel sou kon word!):

  • Hy verklaar wat gebeur het met die uitstorting van die Heilige Gees – vers 14-21;
  • Hy beklemtoon die groot dinge wat God gedoen het, veral deur die opstanding van Jesus Christus – vers 22-36;
  • Hy spel die implikasies daarvan vir die wêreld, dat Jesus die Here en die Christus is – vers 37-40.

Vir ons doel vanoggend is vers 22-32, ’n deel van die tweede deel van Petrus se preek, belangrik.

Daarin sê hy die volgende drie baie belangrike goed oor die opstanding van Jesus:

  1. God het Jesus van Nasaret aan julle bekend gestel deur die kragtige dade, die wonders en die tekens wat God Hom by julle laat doen het. Daarvan weet julle self” – vers 22. Niemand kan daarmee stry nie.  Hulle self was getuies. Jesus se bediening was nie geheim nie.  Almal het daarvan kennis geneem.  Dit was deel van hulle ervaringswêreld.
  2. Dan interpreteer hy vir hulle wat met die kruisiging gebeur het: “God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak.” – vers 23.  Hulle weet wat gebeur het, maar Hy plaas dit in die konteks van God se ingrype, God se daad aan die kruis, sodat hulle dit nie van die Jode se kant, of van die Romeine se kant af nie, maar van God se kant af kan verstaan.  Dit is lewensbelangrik – anders sou hulle nooit die kloutjie by die oor kon kry nie.
  3. En dan belangrik, interpreteer hy vir hulle ook die opstanding van God se kant af, nie maar net van hulle verbaasde en verwarde ervaring daarvan nie: “Maar God het Hom van die smarte van die dood verlos en Hom uit die dood laat opstaan. Dit was immers vir die dood onmoontlik om Hom gevange te hou.” – vers 24.

Dan ná Hy die opstanding verder geanker het in die profetiese vooruitsien van die opstanding in die woorde van Psalm 16 (vers 25-31), wat nog ’n verdere belangrike deel van sy interpretasie was, trek Petrus vir hulle die duidelike gevolgtrekking:

God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan; daarvan is ons almal getuies.” (vers 32)

Daarvan is ons almal getuies. 

Nie net die dissipels nie, maar ook elkeen in Jerusalem.  Dink bietjie daaroor.  Dit is die diep waarheid van die opstanding.  Almal in Jerusalem was getuies …

Dit beteken dat ons anders moet dink oor wat Jesus kom doen het.  Hy het nie net aan die kruis kom sterwe vir ons sondes nie, hoe belangrik dit ook al is.  Hy het immers ook opgestaan uit die dood.   Jesus red dus nie net deur sy kruisdood nie, hoewel dit die dieptepunt van sy offergawe was, maar ook en uiteindelik red Jesus juis deur sy opstanding.

En almal van hulle is nou daarvan getuies.  Die opstanding was vir hulle die bevestiging dat die kruis van Jesus Christus nie ‘n nederlaag was nie, maar die plek waar God beslissend gehandel het.  En hulle reaksie hierop is vir ons die bevestiging dat dié boodskap vir altyd geld.

Geloof en gehoorsaamheid

Die regte reaksie op Petrus se toespraak is daarom geloof en gehoorsame toewyding. Dit is die antwoord op die vraag wat die Jode vra, wat moet ons doen?  Soos Petrus in die derde deel van sy preek sal sê: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.” (vers 38)

Watter wonderlike aanbod!

En daarby is dit ’n boodskap wat uitgebrei word na elkeen van ons: “Wat God belowe het, is vir julle en vir julle kinders en vir almal wat daar vêr is, vir almal wat die Here ons God na Hom toe sal roep.” (vers 39).

Dit is wat die opstanding vir jou beteken.  Dit is waarom die opstanding die grond van ons geloof is.  Dit is waarom dit só in die branding is, omdat teenstanders van die Christelike geloof, juis dié grond onder ons voete wil uithaal.

Die Jode van Jesus se tyd het egter nie kon stry met die opstanding nie, want hulle was daar.  Hulle het die effek daarvan gesien.  Hulle het geweet iets besonders het gebeur.

Dié wat in ongeloof daarop gereageer het, het valse stories versprei en die Christene vervolg en probeer uitroei, omdat dit vir hulle ’n bedreiging was.

Die Jode wat egter dié Pinksterdag bymekaar was, het met oop harte in geloof gereageer en drieduisend nuwe gelowiges is by die eerste kerk gevoeg.  En dié dag is die kerk van Jesus Christus gebore, dié kerk waarvan ons almal die voorreg het om deel van te wees.

Watter wonder.  Watter vreugde.  Watter verhaal om van deel te wees.

Dit is ons erfenis.  Dit is ons hoop.  Dit is ons sekerheid.  Jesus het opgestaan!

Gebed

Dankoffers

Wegsending

Lied 414 – Juig verlostes, juig en sing – staan

Seën

Musikale Amen

Lied 314

 

c Vgl. Joël 2:28–2:32

d Vgl. Ps. 16:8–16:11

e Vgl. Ps. 16:10

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.