Skip to main content

Matteus 2:1-12 – Verwag om verras te word

Verwelkoming

Epifanie is ’n Griekse woord wat met “verskyning” vertaal kan word. Dit verwys na God wat in Jesus Christus verskyn het. In hierdie tyd word daar veral aandag geskenk aan die besoek van die sterrekykers, die doop van Jesus en sy eerste wonderwerk. In al drie gebeurtenisse word Jesus se Godheid en koningsheerskappy sigbaar. Die klem val deurentyd op dit wat Jesus hier op aarde geleer en gedoen het.

Die motief van lig is van die begin af gebruik om uitdrukking te gee aan Jesus se koms na die aarde. Hy is die Lig vir die wêreld en as Lig skyn Hy in die duisternis en die duisternis kan dit nie uitdoof nie. Later noem Jesus ook sy dissipels die lig vir die wêreld en gee daarmee aan hulle die verantwoordelikheid om as sy volgelinge te gaan lewe.  Die Lig is aangesteek in hulle lewens.  Nou is hulle ligdraers van God in hierdie wêreld.

Aanleer

Lied 376:1 Wyses het u ster gesien (sit)

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede

Lied 335 Die Heiland is gebore (sit)

Votum

Die volk wat in donkerte geleef het, het ‘n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ‘n lig geskyn. (Jes 9:1)

 

Seëngroet

Genade en vrede vir julle!

 

Lofsang

Lied 374 ‘n Ster het in die ooste (staan)

Lied 376 Wyses het u ster gesien (sit)

 

Gebed

God praat met ons en ons luister

Skriflesing: Matteus 2:1-12

Een van die stories wat telkens gelees word in die Epifanie tyd is die verhaal van die magi, die sterrekykers, wat met Jesus se geboorte in Jerusalem aangekom het om aan die nuwe koning van die Jode hulde te bring.  Sommige noem hulle ook konings op voetspoor van Jes 60:3 “Nasies kom na jou lig toe en konings na die glans van die nuwe dag wat vir jou aangebreek het.”

Dit is ‘n besondere verhaal, wat net deur Matteus vertel word.

En dit is veral besonders, omdat dit 3 groepe mense se reaksies op God se menswording kontrasteer: 1) dié van Herodus en Jerusalem, 2) dié van die priesterhoofde en skrifgeleerdes en 3) dié van die sterrekykers.

En omdat ons vandag die eerste treë van 2012 gee, is dit goed om aan die hand van dié drie groepe mense se reaksies op Jesus, ons eie verhaal vir hierdie jaar te beoordeel, en na te dink oor wat ons reaksie op Jesus dié jaar gaan wees, dws hoe ons graag die nuwe jaar sou wou binnegaan.

Besoek uit die ooste

2 Jesus is in Betlehem in Judea gebore tydens die regering van koning Herodes. Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom 2en gevra: “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.”

3Toe koning Herodes hiervan hoor, was hy, en die hele Jerusalem saam met hom, hewig ontsteld. 4Hy het toe die priesterhoofde en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar geroep en hulle uitgevra oor waar die Christus gebore sou word. 5Hulle het hom geantwoord: “In Betlehem in Judea, want so is dit deur ’n profeet geskrywe:

6En jy, Betlehem, gebied van Juda,

jy is beslis nie die kleinste

onder die leiers van Juda nie.

Uit jou sal ’n leier voortkom

wat vir my volk Israel

’n herder sal wees.” c

7Daarna het Herodes die sterrekykers in die geheim ontbied en noukeurig by hulle vasgestel wanneer die ster verskyn het. 8Hy het hulle na Betlehem toe gestuur met die woorde: “Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom kry, laat my weet, sodat ek ook aan Hom hulde kan gaan bewys.”

9Nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek; en kyk, die ster wat hulle sien opkom het, het hulle gelei totdat dit gaan staan het bo die plek waar die Kindjie was. 10Toe hulle die ster sien, was hulle baie bly. 11Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre. 12En omdat God hulle in ’n droom gewaarsku het om nie na Herodes toe terug te gaan nie, het hulle met ’n ander pad na hulle land toe teruggegaan.

Woordverkondiging

“Eureka!”  Só het die antieke Griekse geleerde, Archimedes, oor en oor geroep terwyl hy kaal in die straat af genael het.  Archimedes het pas vantevore in die bad geklim, en skielik opgelet dat die wateroppervlak styg.  Hoe gereeld hy gebad het, weet ons nie, maar dié spesifieke dag kom hy agter dat die volume van die water wat hy in die bad verplaas, gelyk is aan die volume van sy liggaam in die water.  Verder kliek hy dat die volume van ongelyke voorwerpe sodoende presies gemeet sou kon word.  Dit was voorheen ‘n onoplosbare probleem.  Sedertdien staan sy ontdekking as die Archimedes-beginsel bekend.

Vandaar Archimedes se “Eureka!”  “Ek het die lig gesien!”  Só opgewonde, dat hy kaal deur die strate van Sirakuse genael het.

Nou, dit het onmiddellik ‘n baie praktiese nut gehad.  Voorwerpe kon teen daardie tyd akkuraat geweeg word, maar met Archimedes se ontdekking kon die volume van ‘n voorwerp met die massa daarvan verbind word, om so die digtheid daarvan te bepaal.  Jy kon dus nie meer ‘n bietjie silwer met jou goud meng en daarmee weg kom nie, omdat die digtheid en dus die volume verskil het.  En goudsmede moes van toe af lig loop!

“Eureka!”  “Ek het die lig gesien!”

Om lig te sien

Ons ken almal ‘n “A-ha” moment waar jy skielik die lig sien.  Dit is ook die wonder van die evangelie, trouens wat epifanie in wese beteken, om in Jesus Christus ‘n “A-ha” moment te beleef – nie net dat die Lig van die wêreld verskyn het en jy dit van buite af beskou nie, maar dat die Lig van die wêreld vir jou betekenis kry, dat JY die insig kry in wat sy Koms beteken.  Dit is Epifanie .  Dit lig gaan vir jou aan.  Jy sien die lig in Jesus en dit kry vir jou betekenis.

Reaksies in ons teks

Matteus skryf hieroor in sy evangelie, en gee vir ons ’n beskrywing van drie groepe se reaksies op die Lig van die wêreld, Jesus Christus. En dié reaksies verskil nogal radikaal.

1.  Herodes reageer met berekende ontsteltenis, en Matteus sê die hele Jerusalem saam met hom. ‘n Mens kan aanvaar dat hier van die mense na aan die koningshuis of ten minste die middelklas gepraat word.

Op slinkse wyse ontbied hy die sterrekykers in die geheim, nadat hy deur die profesie van Miga agtergekom het dat die Messias in Betlehem gebore sou word, en beplan om hulle niksvermoedend te gebruik om die koning uit te roei.

Hoekom?

Herodes reageer uit ‘n magsposisie wat geen kompetisie duld nie. Hy is van die begin af ‘n aktiewe teëstander van die boodskap van Kersfees.  Hy verteenwoordig daarmee die gevestigde belange van die magte van die dag. Hy gaan so ver as om deur die sterrekykers die kompetisie uit die weg te probeer ruim – sy manier van “hulde bring”.  En as die sterrekykers te slim is vir hom, en op God se waarskuwing nie teruggaan Jerusalem toe nie, pleeg hy ‘n wrede kindermoord om Jesus by te kom.

Daarmee is hy vir ons ‘n voorbeeld van iemand wat in God se teenwoordigheid kompetisie ruik, en net nie te vinde is daarvoor dat Hy ook ‘n plek in sy lewe kry nie.

Die teenstand kan baie aktief wees – dan sal ‘n mens seker nou nie vanoggend hier in die kerk sit nie, moet ek darem bysê – of dit kan meer subtiel wees, waar God net ingeperk word tot ‘n area wat klein genoeg is om nie die hoof dinge in jou lewe te benadeel of bedreig nie.  Jy staan Hom nie aktief teë nie, maar Hy het net toegang tot jou by ‘n erediens of ‘n noodsituasie, wanneer nood leer bid.

2.  Die priesterhoofde en skrifgeleerdes is weer interessant genoeg tevrede om net die Bybel te lees, die regte antwoord daaruit te haal, en dan terug te sit en niks te doen nie.  Hulle gaan kyk nie eers of daar iemand in Betlehem is nie.  Hulle mis die kairos, die beslissende moment van die wêreldgeskiedenis. Hulle is eintlik tragies-komiese figure.  Hulle verteenwoordig die godsdienstige establishment, wat alles weet, maar nooit so ver kom om tot aksie oor te gaan nie.  Hulle sit met al die antwoorde, maar kan nie die brug slaan na die avontuur van die regte lewe, waar die wonder van die gemeenskap met God wag nie.  Daar breek net nooit ’n regte “A-ha” moment vir hulle aan nie.  Dit Lig van die wêreld verander nie hulle lewens nie.

Want sien, ‘n mens kan so in die Bybel boer, by wyse van spreke, dat jy die God van die Bybel mis.  Jesus verkwalik op ‘n keer sélf die skrifgeleerdes dat hulle die Bybel met groot oorgawe ondersoek, maar nie na Hom toe kom en in Sy teenwoordigheid vir God vind nie.

Ek wil nou definitief nie daarmee sê dat julle nie die Bybel moet lees nie – daarvoor is ek te verbind aan die Bybel as ’n huis om in te woon – maar ek wil wel sê dat die Bybel ‘n pad na God toe moet wees, na luister wat Hy as die Lewende God sê.  En om Hom ook in die glimlag van ‘n kind en in die branders by die see te soek en te vind.

Daar is só ‘n groot gevaar dat ‘n mens in die vergadering van gelowiges kan wees, alles kan hoor en selfs kan saamstem oor die waarheid van die evangelieboodskap, maar nooit die vreugde en die vrede en die uitdagings daarvan ervaar nie.

3.  Die sterrekykers het egter net een doel voor oë: hulle wil die koning sien en sal nie dat iets hulle verhinder om hulle doel te bereik nie.  Hulle wil in die teenwoordigheid van die koning kom, want dit verander alles.

Ons weet min van hierdie sterrekykers.  In die oorlewering van die geskiedenis het hulle name gekry, Caspar, Melchior and Balthazar, maar daar is geen historiese getuienis wat dit bevestig nie.  Dit is nie eers seker of hulle wel drie mans was nie – dit is afgelei uit die drie geskenke wat hulle aan die voete van Jesus neergelê het.  Sommige noem hulle ook konings op voetspoor van Jes 60:3, soos ek vroeër genoem het.

Daar is ’n moontlikheid dat hulle volgelinge van Zoroaster was, ‘n priester van ‘n nuwe monoteïstiese godsdiens in wat vandag bekend staan as Iran.  Die Jode het reeds tydens die ballingskap in Babilonië met hierdie beweging kennis gemaak.  Zoroaster het nogal op ‘n unieke wyse oor God se Eenheid gepraat – een van die min monoteïstiese godsdienste van daardie tyd benewens die Joodse godsdiens – en oor die stryd tussen goed en kwaad.  Koning Kores, wat toestemming verleen het dat die Jode terugkeer na hul land, se seun Darius was ‘n Zoroaster.  Dié godsdiens het dus ‘n groot invloed in die Persiese Ryk uitgeoefen.

Indien hierdie wyse manne dus Persiese priesters was, verklaar dit hulle goeie kennis van die sterrekunde, omdat Zoroasters bekend was daarvoor.  Die Grieke het bv hulle sterrekunde by die Zoroasters geleer.  Griekse filosowe soos Plato en Plini verwys met waardering na hulle, en vermeld hul vermoë om tekens te ontsyfer en die toekoms te voorspel (Rodney Stark, The triumph of Christianity, p 11vv).

Hoe dit ook al sy, ons weet ook nie baie van die ster af nie, of dit ‘n supernova was of ‘n samekoms van ‘n paar planete of doodgewoon ‘n natuurwonder.  En hoe hulle die ster se pad bereken het en toe gevolg het – ons weet dit ook nie.

Ons weet net een ding, en dit is dat hulle die koning wou sien en dat hulle alles in die stryd gewerp het om dit reg te kry.  Hulle, uit ‘n vreemde kultuur, en heel moontlik uit ‘n vreemde godsdiens, het die kairos onderskei, die moment van beslissing in die geskiedenis, die dag dat Christus gebore is.

En hulle kom tot insig, beleef ’n “A-ha” moment, skreeu by wyse van spreke, “Eureka” as hulle uiteindelik die Kind in die krip sien.

En daarmee word hulle verander en ingetrek in die Kersverhaal, ingetrek in die verhaal van God met hierdie wêreld.  As hulle na hulle besoek aan Jesus terug wil gaan, word hulle in ‘n droom deur God gewaarsku om nie vir Herodes te sê waar Jesus is nie.  Dit beteken dat hulle – heidene uit ‘n veraf land, saam met die herders, wat ook nie gerekende mense was nie – ingetrek is in die kring wat om Jesus ontstaan het.  Hulle kom in kontak met God, wat selfs van hulle beskermers van die Kind maak, deurdat hulle Herodes se planne fnuik.

Dit is wonderlik hoe ryk en arm, geleerd en ongeleerd, Jood en heiden mekaar voor die krip ontmoet en in harmonie voor God verkeer.  Dit is regtig ‘n ontmoeting van hemel en aarde, waar die aardse verander word en hemels gemaak word, ’n kairos moment, ’n “A-ha”moment, ’n Epifanie.

En hulle is vir my daarom ‘n voorbeeld van mense wat die moment van beslissing, die dinge waarop dit regtig aankom, kon onderskei.  En wat die een ding, die passie om in die teenwoordigheid van God te wees, met alles in hulle nagejaag het.

Toepassing

As ons nou dink aan die drie groepe en met wie ons wil identifiseer, dink ek ons sal twee goed agterkom:

  1. dat ons graag soos die sterrekykers wil wees – en is dit my gebed vir jou, maar
  2. dat daar tog soms trekke van die twee ander groepe ook in ons menswees sigbaar is, ‘n besig wees met die dinge van God sonder om met die God van die dinge besig te wees, en soms selfs ‘n aktiewe beskerming van ons eie belange, waar ons die Here nie wil toelaat om God te wees nie.

Daar is natuurlik niks verkeerd om met die sterrekykers te wil identifiseer nie, en die gedeelte wil juis dit met ons regkry.  Maar ons sal goed doen om ook te dink aan die tye waar ons soos Herodes of soos die priesterhoofde en die skrifgeleerdes opgetree het.  Dit is dinge wat ons moet bely en laat staan.

Ons is dikwels te idealisties.  Ons glo alles sal regkom as ons eie planne net uitwerk. Die gevaar is dat ons boosheid miskyk.  Boosheid is ’n werklikheid.  Die magte in die wêreld, of dit politieke, ekonomiese, godsdienstige of kerklike magte is, laat hulle nie maklik destabiliseer nie.  Wie koers hou na Jesus toe, mag seerkry.  Mag ly en sterf.

Langs die pad ontdek mens hoe die duisternis ook in jouself woon.  Daar is ’n deel van jou wat die lig haat.  Daar is ’n weerstand teen die sterf aan jouself en die navolg van Jesus.  Voortdurende kompromieë doen hulleself as oplossings aan die hand.  Boosheid is ’n werklikheid in elkeen van ons.

Hierdie boosheid word egter nie met mag en geweld beveg nie.  Die Kindjie in die krip het met sy broosheid en sy eindelike dood aan die kruis die bose oorwin.  Liefde, broosheid, selfoorgawe, die oog gevestig op die uitkomste wat God gee, is die wapens wat boosheid troef.

Maar, die teks wil ons veral motiveer om die momente van God se teenwoordigheid te onthou en daarvoor te leef, die epifanieë van Sy teenwoordigheid in ons lewe, die “A-ha” momente.  Want dit is die dinge wat regtig saak maak.  Die momente uit die verlede waar jy die Here se teenwoordigheid ervaar het.  Waar jy net geweet het, ek is by Hom en Hy is by my en alles is reg, selfs al is alles verkeerd.  En die momente wat kom, waar jy God se teenwoordigheid hierdie jaar gaan ervaar.

Wat jy dus met jou saamvat in die nuwe jaar in, is dié momente. En die enigste voorneme wat gaan sin maak vir die nuwe jaar, is om hierdie Godsmomente te soek, en te verwag, te onderskei en te vertroetel.  Verwag om verras te word …

dan sal jy ook soos Archimedes van blydskap “Eureka” kan roep hierdie jaar!

God stuur ons om te leef

Gebed

Dankoffer

Slotlied

Lied 358 Welkom, o stille nag van vrede (staan)

Seën

Respons

Lied 358 Refrein: Christus kom, Christus kom – gee aan God die eer (staan)


c Vgl. Miga 5:1

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.