Skip to main content

Daniël 9 – Ek weet wat Ek vir julle beplan

Verwelkoming

engelDie gewildste vers verlede jaar op YouVersion se Bybel toep in Suid-Afrika (soos ook in Kanada, Brittanje en Australië) was Jeremia 29:11: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here, voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!”

Dit is ‘n woord wat Jeremia aan die ballinge in Babel skryf en waarmee die Here hulle uitnooi om ná sewentig jaar, die beplande tyd van ballingskap, Hom aan te roep en om verlossing te vra. En God se belofte was: “Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor. Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met hulle hele hart daarna vra. Julle sal My ontmoet, sê die Here, en Ek sal julle terugbring uit die ballingskap uit …” (Jer. 29:12-14).

Dit is iets wat Daniël ná sewentig jaar gedoen het. Hy het dié belofte aangegryp en tot die Here gebid en die terugkeer uit ballingskap het nét daarna gebeur onder koning Darius (Dan. 9).

Dít is dus ook ‘n teks wat ek vir julle vandag wil saamgee vir dié jaar. In Christus het Jeremia 29 se belofte vir ons in vervulling gegaan. In Christus weet ons dat die Here na ons luister en ons gebede verhoor. In Christus weet ons dat ons sy wil sal ken as ons met ons hele hart daarna vra. En weet ons ons sal Hom ontmoet en Hy sal ons gee wat ons van Hom vra. Alles werk immers ten goede mee vir dié wat God liefhet (Rom. 8:28).

Dit is waaraan die tyd van Epifanie wat hierdie week op die 6de Januarie aanbreek, ons ook van vertel. Dit is die tyd van die lig wat God in Christus in ons lewe kom aansteek. Ons gaan daarom die wit kers van die Adventskrans weer aansteek, dít is immers die Christuskers, om van die nuwe tyd wat God in ons lewe laat aanbreek, te vertel, en wat ons in lied 370 van gaan sing.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Toetrede

Die wit kers van die Adventskrans word aangesteek.

Lied 370:1,3 – Eng’le uit die hoogste hemel sing ter ere van ‘n Kind, van ‘n nuwe tyd wat aanbreek waarin almal vrede vind. Sing hosanna! Sing hosanna! Prys Hom Jesus, Seun van God!

Votum en Seëngroet

“En die Woord het mens geword en onder ons kom woon, en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos dié van die enigste Seun van die Vader, vol genade en waarheid.” (Joh. 1:14)

Loflied

Lied 365:1,3 – Hoor die blye eng’lelied aan die Koningseun gebied: Vrede op aarde – God die eer – Hy daal tot die sondaar neer.

Gebed

God praat met ons en ons luister

Ek het verlede jaar by ‘n aanddiens die verhaal van Daniël se gebed op grond van Jeremia 29 kortliks aangeraak. Ek wou eitlik die RCL teks vir vandag gebruik, Efesiërs 1:30-14, het eintlik ‘n preek daaroor geskryf wat op die Seisoen van Luister se webblad is. Maar, in my stilword en fokus het die teks van Jeremia 29 en uiteindelik Daniël 9 se hantering daarvan die woord van die Here vir vandag geword. Daarom het ek die diens met die aanhaling uit Jeremia 29 begin, en daarom lees ons vandag Daniël 9.

‘n Bietjie agtergrond

Daniël word saam met koning Jojakim in 605 v.C. (Dan. 1:1) weggevoer deur Nebukadnesar, net ná hy die Egiptiese leër by Karchemis oorwin het. Ons weet baie min van hom behalwe wat ons in die boek Daniël lees, en daaruit leer ons dat hy onder die vername families van Israel getel het en ’n goeie opvoeding gehad het.  Ons hoor in die boek van ses belangrike wyses waarop die Here hom in Babel gebruik het.  Ons lees ook van vier visioene wat die toekoms vir die Godsvolk oopsluit.

Wat my interesseer is die visioen, wat eintlik ’n gebed is, wat in hoofstuk 9 vertel word.

Kom ons lees Daniël 9

Daniël bid om vergifnis vir sy volk; die einde van die verdrukking word aangekondig

9 Dit was in die eerste regeringsjaar van Darius seun van Ahasveros. Hy was van geboorte ’n Mediër maar het koning geword oor die Galdese ryk. 2In sy eerste regeringsjaar het ek, Daniël, uit die Skrifte vasgestel dat volgens die woord van die Here wat tot die profeet Jeremia gekom het, Jerusalem sewentig volle jare ’n puinhoop sou wees. 3Daarom het ek my na die Here God gewend in gebed en smeking: ek het gevas, rouklere aangetrek en as oor my kop gegooi.

4Ek het tot die Here my God gebid en bely: “Ag, Here, groot en ontsagwekkende God, U handhaaf u verbond en u trou teenoor dié wat vir U liefhet en u gebooie gehoorsaam. 5Ons het gesondig, ons het oortree, ons het verkeerde dinge gedoen, ons was opstandig en het nie gelewe volgens u gebooie en u bepalings nie. 6Ons het nie geluister na u dienaars die profete nie, wat in u Naam ons konings, ons leiers, ons familiehoofde en die hele bevolking aangespreek het. 7U is regverdig, Here. Dit is onsself wat hierdie ellende oor ons gebring het, oor die mense van Juda, oor die inwoners van Jerusalem, oor die hele Israel, dié wat naby is sowel as dié wat ver is, ver in al die lande waarheen U hulle verstrooi het oor hulle ontrou teenoor U. 8Here, hierdie ellende het oor ons, oor ons konings, oor ons leiers en oor ons familiehoofde gekom omdat ons teen U gesondig het. 9Maar U, Here ons God, bewys barmhartigheid en U vergewe, al was ons opstandig teen U.

10“Ons was nie aan U, Here ons God, gehoorsaam nie, ons het nie volgens u wil gelewe nie, u wil wat U deur u dienaars, die profete, aan ons gegee het. 11Die hele Israel het u wil oortree; hulle het afvallig geword en nie na U geluister nie. Daarom het U die vloek wat met ’n eed bevestig is en wat opgeteken is in die wet van Moses, die dienaar van God, oor ons laat kom. Dit is omdat ons teen U gesondig het. 12U het die woorde wat U in verband met ons en ons regeerders uitgespreek het, in vervulling laat gaan en hierdie groot onheil oor ons gebring. Daar het nog nooit op die aarde so iets gebeur soos in Jerusalem nie. 13Al hierdie onheil het oor ons gekom net soos dit geskryf staan in die wet van Moses; tog het ons, Here ons God, nie ons saak met U reggemaak deur ons van ons sonde te bekeer en in te sien dat U doen wat U sê nie. 14Daarom het U ons hierdie onheil nie gespaar nie maar dit oor ons gebring. Here ons God, U is regverdig in alles wat U doen, ons het nie na U geluister nie.

15“Here ons God, U het u volk deur u groot mag uit Egipte gelei en daardeur u Naam groot gemaak soos dit vandag nog is. Maar ons het gesondig, ons het verkeerd gedoen. 16Here, U het reddingsdade gedoen, neem tog u toorn en u woede weg van Jerusalem, u stad, u heilige berg, want deur ons sonde en deur die oortredinge van ons voorvaders spot almal rondom ons nou met Jerusalem en met u volk. 17Ter wille van Uself, hoor tog my gebed en smeking, en verskyn tog tot redding van u verwoeste heiligdom. 18Luister tog, my God! Hoor ons tog! Sien tog ons verlatenheid raak, en dié van die stad waaroor u Naam uitgeroep is. Ons pleit by U om ontferming, nie omdat ons regverdig is nie, maar op grond van u groot barmhartigheid. 19Hoor, Here! Vergewe, Here! Gee tog ag op ons en tree op! Ter wille van Uself, moenie talm nie, my God. U Naam is oor u stad en oor u volk uitgeroep.”

20Terwyl ek nog praat en bid en my sonde en die sonde van my volk Israel bely en by die Here my God pleit vir sy heilige berg, 21terwyl ek nog so aan die bid was, het Gabriël, die man wat ek die vorige keer in die visioen gesien het, by my aangevlieg gekom. Dit was die tyd van die aandoffer. 22Hy het my kom inlig en vir my gesê: “Daniël, ek het gekom om jou deeglik in te lig. 23Toe jy met jou smeekgebed begin het, is daar ’n antwoord gegee, en ek het gekom om dit vir jou te vertel, want God het jou lief. Gee dus ag op wat ek sê, sodat jy die visioen kan verstaan.

Ek gee hier die OAV weer, omdat die vertaling meer sin maak (kan nie wag vir die BDV nie!).

24Sewentig sewetalle is oor jou volk en jou heilige stad bepaal, om die goddeloosheid te voleindig en om die maat van die sondes vol te maak en om die ongeregtigheid te versoen en om ewige geregtigheid aan te bring en om gesig en profeet te beseël en om wat hoogheilig is, te salf.

25Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ’n Gesalfde, ’n Vors, is sewe sewetalle; en twee-en-sestig sewetalle lank sal dit herstel en opgebou word, met pleine en slote, maar in tye van benoudheid.

26En ná die twee-en-sestig sewetalle sal ’n Gesalfde uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom; en die volk van ’n vors wat sal kom, sal die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde sal met ’n oorstroming wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings.

27En hy sal een week lank met baie ’n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ’n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word.

Daniël lees die Bybel

Dit is die jaar 539 v.C.  Daniël is al 66 jaar in Babel, in sy tagtiger jare.  Vroeër die jaar het hy die Here se sorg in die leeukuil ondervind het (Dan. 6), die eerste regeringsjaar van koning Darius of koning Kores soos hy ook bekend was (vgl. Jes. 45).  Dan vertel die skrywer vir ons dat Daniël in “die Skrifte” – die weergawe van die kanon van dié tyd – in die boek van die profeet Jeremia lees dat die ballingskap deur die Here beperk is.  Hy kom agter dat die Here ’n afgebakende tyd van sewentig jaar vir Jerusalem se verwerping bepaal het (Dan. 9:2 – Jer. 29:10).  Die boek van Jeremia is deur die loop van ’n paar dekades voor en tydens die ballingskap geskryf en uiteindelik vroeg in die ballingskap gefinaliseer.  Daniël het dus ’n kopie daarvan.

Daniël bid God se beloftes

Met dié inligting uit die boek Jeremia besluit Daniël om te bid en die Here God in gebed en smeking te vra dat Hy dié woord van Jeremia, dié belofte wat die Here aan hulle gegee het, waar sal maak.  En hy beklemtoon die erns van sy gebed met ’n vas.  Hy trek rouklere aan en strooi as oor sy kop.

En hy bid ’n ongelooflike gebed:

  1. Daniël vereenselwig hom in die eerste plek met die volk in hulle sonde en ellende.  Hy bely dit en erken daarmee dat God regverdig was deur hulle in ballingskap te stuur.  Die ellende wat hulle ervaar het, is deur hulle eie toedoen.  Hulle was ongehoorsaam, al het God sy verbond en trou gehandhaaf teenoor hulle.  Selfs die profete wat die Here gestuur het, is geminag.  Dít erken Daniël namens almal voor hom en almal wat toe nog lewe.
  2. Hy herinner in die tweede plek die Here aan die vorige Uittog uit Egipte waarmee Hy sy Naam grootgemaak het, soos dit vandag nog is.  Israel se ellende het nie daaraan afbreek gedoen nie. God se eer staan steeds ongeskonde vanweë sy groot dade in die verlede.
  3. Hy beroep hom in die derde plek op God se barmhartigheid en vergifnis en vra dat die Here die stad Jerusalem sal herstel, “nie omdat ons regverdig is nie, maar op grond van u groot barmhartigheid.” Hy vra basies dat die Here sy Woord sal waarmaak. Dat Hy weer sal doen wat Hy in die verlede gedoen het.

Die Here antwoord vir Daniël

En wat gebeur?  Die Here antwoord vir Daniël.  Om die waarheid te sê: “terwyl ek nog praat en bid en my sonde en die sonde van my volk Israel bely”, sê Daniël, kom lig die engel Gabriël hom in, dat die Here sy gebed verhoor het. Hoekom? Want God het vir Daniël lief! Hoe kosbaar!

Ons mag God met ons versoeke nader

Wat ek in die eerste plek wil uitlig, as ‘n boodskap aan jou, is dat Daniël die Bybel gelees het, ’n belofte van die Here raakgesien het, dit voor die Here gebring het, daarvoor gebid het, ernstig was in sy gebed, en dat die Here hom geantwoord het.

Dit is die eerste boodskap vir hierdie jaar, die belofte wat daar in Jer. 29:11 vir ons almal is. Ons mag na die Here toe gaan met ons behoeftes en verwagtinge en Hom ernstig daaroor nader. Dit is immers wat Paulus in Filippense 4 vir ons op só ‘n helder manier skrywe. Geen wonder dat vers 6 van Filippense 4 in YouVersion se Bybel toep die derde gewildste vers in die wêreld, nie net Suid-Afrika, is nie: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle versoeke aan God bekend deur te bid, te smeek, en Hom te dank.”

Ek kan dit nie sterk genoeg onderstreep nie. Dit is die woord van die Here vir dié jaar. God ís die verhoorder van gebed. Niks moet in ons pad staan om ons versoeke aan God bekend te maak nie, met gebede, met smekinge en met danksegging.

Ek sal ook graag saam met julle bid, as julle dit graag wil hê. Want, dít is die woord van die Here wat elkeen van ons vir dié jaar moet aangryp. God weet wat Hy vir ons beplan. Hy wil voorspoed en nie teenspoed nie, ‘n toekoms en ‘n verwagting, gee. Uiteraard binne sy wil en binne sy plan met ons lewens. Maar, ons kan Hom vertrou. Hy sal sorg dat alles ten goede meewerk, want Hy het ons lief.

God span ons in om ‘n verskil te maak

Wat ek egter in die tweede plek wil uitlig, is dat dié verhoring van gebed eintlik van mindere belang was vir die Here. Daar was iets groters op die spel. God het nie net Daniël se gebed beantwoord nie, maar verder gegaan en vir Daniël ingespan om die werk wat God besig was om te doen met die hele wêreld, nie maar net met die Jode nie, aan te kondig.

Watter voorreg.  Watter avontuur!

Let op dat Gabriël eintlik glad nie fokus op die vervulling van die belofte dat die Jode uit ballingskap sal terugkeer nie. Lees maar weer. Gabriël fokus feitlik glad nie op dít wat vir Daniël dié dag/tydperk só ernstig voor gebid en gevas het. Die antwoord op sy gebed word eintlik net as vanselfsprekend veronderstel. God sal immers altyd doen wat Hy beloof het. Selfs al het Daniël dit nie self beleef nie, wel sy tydgenote.

Gabriël fokus op iets heel anders, iets diepers, iets wat die terugkeer na Jerusalem oorskadu. Ek sê dit versigtig, omdat ek rekening hou met die verskuilde taal van die sewetalles, en die verskillende gesalfdes en vorste wat in die teks genoem word. Ek hou ook rekening daarmee dat Daniël ’n beperkte insig gehad het in hoe die terugkeer gaan werk, en wie die Messias(e) sou wees. En ek lees die OT dus hier in die lig van die NT vervulling hiervan.

In sy geheel geneem fokus Gabriël hier op die versoening wat God sal bring deur sy Messias, sy gesalfde, dié Een wat ons uit die NT weet, die Here Jesus self is. Gabriël praat oor ‘n terugkeer nie na Israel nie, maar na God toe, na Hom wat die kern van alles is, dié een wat alles in almal vervul. En dié belofte sal alle mense reg oor die wêreld insluit.

Die boodskap van Gabriël is in verskuilde taal geskryf, en moeilik om te verstaan. Julle is welkom om by die Bybelskool meer te lees oor wat ek daaroor geskryf het en verskillende vertalings en kommentare te raadpleeg. Maar dit gaan oor die nuwe bedeling wat God in die Here Jesus Christus laat aanbreek het.

Die punt wat Gabriël maak, is dus duidelik: daar sal ’n gesalfde kom wat met sy dood versoening sal bring vir die volk. Daar sal ook duidelike teenstand wees teen God wat uiteindelik deur God self getroef sal word. Dit is die kort en die lank daarvan.

God vervul sy beloftes

Wat ek hieruit leer, is dat die vervulling van die belofte van herstel, wonderlik is. God doen wat Hy belowe het. Hy bring die volk terug uit ballingskap, soos ons dit ook uit die geskiedenis weet.

In ‘n eerste rondte beteken dit vir elkeen van ons dat ons die Here met ons behoeftes aan herstel en verlossing kan nader, en dat Hy ons gebede sal verhoor. Dit is wie Hy is. Dit is wat Hy doen.

God wil die hele wêreld herstel

Maar, dieper as dit, sê Daniël se boodskap in ‘n twee rondte, lê daar ‘n herstel oor wat nie net met ons eie behoeftes te make het nie, maar met dié van die hele wêreld. God het van altyd af nie net die Jode in ballingskap in die oog as Hy herstel beplan nie. Hy wil die hele wêreld herstel. Hy wil almal onder die hoofskap van Jesus Christus bring.

Dít is wat die brief aan die Efesiërs vir ons kom sê, dié brief wat ek eintlik wou preek vanoggend. Daar praat Paulus oor die droom wat God het, dié droom dat in Christus alles in die hemel en die aarde onder een Hoof verenig sal word, dít is onder die Here Jesus Christus. Dít is die droom waarvoor ons moet bid en waarvoor ons ons lewe moet gee.

God seën ons in Christus om tot ‘n seën te wees vir die hele wêreld. Hy antwoord ons gebede sodat ons ‘n verskil kan maak. Hy gee vir ons genade, sodat ons dit in oormaat kan uitdeel en van hierdie wêreld ‘n beter plek kan maak.

Lees en bid God se Woord en maak vanjaar ‘n verskil in die wêreld

  1. Lees hierdie jaar die Bybel om in verhouding met God te lewe.  Dit is belangrik vir elkeen van ons persoonlik.  Dit is belangrik vir ons as gemeente.  Niks kan dit vervang in jou lewe nie. Dit is daar wat ons God se beloftes sal hoor en waarvoor ons dan kan bid. Die Here sal ons verstom met sy antwoorde op gebed.
  2. Lees die Bybel om God se stem van ander stemme te kan onderskei.  Daar is baie stemme wat om ons aandag wedywer.  Ons eie behoefte en begeertes kan baie keer ook God se stem dooddruk in ons lewe.  Die Bybel het ’n ongelooflike belangrike rol te speel om te onderskei tussen dít wat van God is en dít wat nie is nie. Ons moet dit ook saam met mekaar lees, sodat ons nie in eensydighede verval nie.
  3. En onthou, God gebruik sy Woord om ons in te span in die wêreld om ’n verskil te maak. Dit hoef seker nie só ’n groot ding te wees soos met Daniël se boodskap oor Jesus nie.  Maar, hoekom ook dan nou nie!

“Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here, voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting!” Inderdaad.

Gebed

GOD STUUR ONS OM TE LEEF

Dankoffers

Onthou daar is vanaand en volgende week nie aanddiens nie. Ons begin weer 18 Januarie met aanddienste.

Slotlied

Lied 353:1-3 – Die Heiland is gebore, soos eeue reeds voorspel.  Daar in die stad van Dawid

word Hy Immanuel.

Seën

Respons

Lied 353:2 se laaste vier reëls – So lief het God die wêreld, Hy gee vir ons sy Seun – só word Hy ons Verlosser, ons Middelaar en Steun.

View all posts in this series

Comment

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.