Lukas 2:1-20 – Vrede op aarde

GeseendeKersfees“Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae.”  Dit staan in die sentrum van die Kersverhaal. Die woorde is die basis van ‘n lied wat in baie kerke veral gedurende Kersfees gesing word en wat ons ook vandag aan die einde gaan sing. Dié engelelied word dikwels afgekort, deur bloot te verwys na Gloria in Excelsis of slegs Gloria.

Saam met Christene uit byna alle kerklike tradisies oor die wêreld sing ons as Gereformeerdes elke Kersfees: “Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae.”

Hoekom?  Want, dit is wat ons raaksien in die verhaal oor die geboorte van ons Here Jesus Christus.  Sy geboorte handel oor sy vrede wat deurbreek op die aarde.

  • Dit handel oor die vrede wat daar met God kom deur sy versoeningsdood aan die kruis. Dit handel oor die las van sonde wat van ons skouers afval.  Dit handel oor die vryheid wat ons ervaar deurdat God ons skuld afskryf, en ons in ‘n vrymoedige verhouding met Hom bring.
  • Dit handel ook oor die vrede wat daar tussen mense van baie verskillende agtergronde kom in die kerk wat die Here in Jerusalem en wyer van die bekende wêreld van daardie tyd skep. Hy maak van vyande vriende.  Hy breek die muur van skeiding af tussen Jood en heiden, tussen Griek en Romein, tussen slaaf en vryman.  Hy skep ‘n gemeenskap waarin vreedsame naasbestaan ‘n werklikheid word.

Hier volg die hele erediens:

Verwelkoming

Geseënde Kersfees!

Dankie vir Prof. “Langpiet” de Villiers (konsertina) en Chandre Brewis (Fluit).

Aanvangslied

Lied 354:1-2 O Christus ons verlange – staan

Aanvangswoord

In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun …

Seëngroet

Mag daar vir julle genade en vrede in oorvloed wees deur julle kennis van God en van Jesus ons Here!

Kerslitanie

Voorganger:     Vir ons is ’n kind gebore. Vir ons het daar verlossing gekom. Kyk, die Redder van Sion is hier!

Gemeente:        Eer aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het.

Voorganger:     Vir ons het die Lig na die wêreld gekom en die duisternis kan dit nie uitwis nie.  Die Lig verlig alle ongeregtigheid. Kyk, die Regter van Israel het gekom!

Gemeente:        Eer aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het.

Voorganger:     Vir ons het daar vrede op aarde gekom. Kyk, die Vredevors het sy tentpenne by ons kom inslaan.

Gemeente:        Eer aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het.

Lofprysing

Lied 358 Welkom o stille nag van vrede   – sit (Albert en Chandré speel dit eers een keer deur)

Aansteek van die Christuskers

Voorganger:     Hy kom as baba, in ’n stal, tussen diere, neergelê in ’n krip

Gemeente:        Daarom buig ons in aanbidding!

Voorganger:     Hy kom in eenvoud, nederigheid, weerloos en broos

Gemeente:        Daarom buig ons in aanbidding!

Voorganger:     Herders is die eerstes wat kom en aanbid

Gemeente:        Daarom buig ons in aanbidding!

Voorganger:     Engele sing vir die heel eerste keer oor die Christuskind

Gemeente:        Daarom buig ons in aanbidding!

Voorganger:     Wyses uit die Ooste bring geskenke vir Hom

Gemeente:        Daarom buig ons in aanbidding!

Voorganger:     Waartoe word ons nou geroep?

Gemeente:        Ons buig in aanbidding, voor Christus, die Here . . .

Aanbidding

Lied 345 Kom alle getroues – sit

Gedig

NP Van Wyk Louw het ’n pragtige gedig geskryf oor die lewe van Jesus – die eerste vers handel oor Sy geboorte:

Nie uit wit paleise nie
wou Hy (uit soewereine Wil)
tot ons soort staat gebore word;
maar, waar die Kuise en die Arme stil
en buite die hotel se poort
verniet loseer het in die stal,
het Hy, Visarendjie van God,
in ons benoude vlees geval…

Aanbidding

Lied 348 Stille nag, heilige nag – sit

Kindertyd

Die storie van “J is for Jesus:  The sweetest story ever told” deur Crystal Bowman.

Een dag, was die wêreld toe onder die sneeu.  Al die mense het in die middel van die dorpie bymekaar gekom, want daar was iets nuuts by die lekkergoedwinkel – iets wat niemand nog ooit vantevore gesien het nie.

Die lekkergoedmaker was opgewonde om sy nuwe Kersfeeslekker vir almal te wys.  Hy het ‘n rooi en wit pepermentstokkie op gehou dat almal kan sien – al die kinders wou daaraan lek!

“Ek het hierdie lekker gemaak”,  het hy verduidelik. Ek het dit gemaak sodat dit soos ‘n letter “J” lyk.

J staan vir Jesus, God se Seun wat aarde toe gekom het, en Kersfees is wanneer ons sy geboorte onthou.

Maar wanneer jy die lekker omdraai, om die letter onderstebo te hou, dan lyk dit soos ‘n skaapwagter se staf.

Skaapwagters was die eerste wat die Goeie Nuus gehoor het. Terwyl die skaapwagters hul skape in die nag opgepas het, was die lug ewe skielik verlig met ‘n helder hemelse lig.

Engele het verskyn en begin sing: “Ere aan God in die hoogste hemel…”

En daar in die dorpie waar Jesus gebore is, het die skaapwagters hom gevind, lekker warm toegewikkel in doeke in ‘n stal.

Die skaapwagters se harte was vol verwondering en vreugde en hulle het gekniel langs die baba seuntjie.

Ek het strepies op die lekker gesit, het die lekkergoedmaker gesê , om te onthou dat Jesus ons sonde weggewas het.  Hy het aan die kruis gesterf, sy bloed het gevloei.  Daarom is daar rooi strepies.

Die wit van die lekker is daar om ons te herinner dat ons vergewe is, ons is so wit soos sneeu.  Jesus is gebore om ons van ons sonde te verlos, om ons heilig en skoon te maak aan die binnekant.

Ek wou hierdie storie met julle deel, het die lekkergoedmaker gesê, sodat Jesus ook julle Verlosser kan wees. Vertel asb. hierdie storie vir almal en sê vir God dankie vir die geskenk van sy Seun!

Gee vir al die kinders “Candy Canes”.

Maria se Wiegelied

Fluit en Orrel

Maria sit in die tuin en wieg die

Jesuskind aan die slaap.

Die blare ritsel in die warm somerwind

en die voëls sing in die bome:

“Slaap, kindjie klein, slaap sag.”

Epiklese

Here, herders op die ope velde het gehoor hoe U vanuit die hemel met hulle praat; en toe ook daarna die boodskap gesien wat die engele gebring het. Hemelse Vader, wees ons genadig sodat ons deur u Gees u stem kan hoor en u Seun kan aanskou. Ons kom buig voor U in gespanne verwagting. Dankie, Here, dat U nog met ons bemoeienis maak.  Dankie dat U vanoggend hier teenwoordig is waar ons biddend tot U nader. Dankie vir die voorreg om Kersfees te kan vier. Amen.

Skriflesing

Nadat Lukas in hoofstuk 1 verhale vertel het wat nie in die ander evangelies voorkom nie – verhale wat sentreer om die aankondigings rondom die twee Godsmanne, Johannes die Doper en Jesus,  en die reaksies wat dit by die twee Godsvroue, Maria en Elisabet, sowel as by Sagaria, die pa van Johannes, uitlok – sluit Lukas in hoofstuk 2 dieselfde verhaal as Matteus (1:18-25) oor die geboorte van Jesus in. Die res van die hoofstuk is daarna weer eie verhale, wat nie in die ander evangelies voorkom nie.

Dit is belangrik om raak te sien dat Lukas die verhale van Jesus aan die gebeure op die wêreldfront verbind.  Dit wys vir ons dat God se werk telkens midde in die konteks van die gewone lewe gebeur.  Lukas noem hier vir keiser Augustus, wat regeer het van 27 v.C. tot 14 n.C., en goewerneur Sirenius van Sirië.  Augustus word genoem omdat Palestina deel van die Romeinse ryk was, en Sirenius omdat hy waarskynlik die hele Palestynse gebied se volkstelling gereël het.  Die volkstelling het ongeveer in 7-6 vC plaasgevind, wat dan ook min of meer Jesus se geboortedatum moes wees.

Lukas 2:1-20

Die geboorte van Jesus

(Matt 1:18–25)

2  In daardie tyd het keiser Augustus ‘n bevel uitgevaardig dat ‘n volkstelling in die hele ryk gehou moet word. 2Hierdie eerste volkstelling het plaasgevind toe Sirenius goewerneur was in die provinsie Sirië. 3Almal het gegaan om hulle te laat inskryf, elkeen na sy eie stad toe.

4Ook Josef het gegaan. Hy het van die dorp Nasaret in Galilea na Judea toe gegaan, na Betlehem, die stad van Dawid, omdat hy tot die huis en geslag van Dawid behoort het. 5Maria, sy verloofde, wat swanger was, het saamgegaan om ingeskryf te word. 6Terwyl hulle daar was, het die tyd gekom dat haar kind gebore moes word. 7Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê, omdat daar vir hulle geen plek in die herberg was nie.

Die skaapwagters en die engele

8Daar was skaapwagters in daardie omgewing wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het. 9Meteens staan daar ‘n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het baie groot geskrik. 10Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. 11Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! 12En dit is vir julle die teken: julle sal ‘n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ‘n krip lê.”

13Skielik was daar saam met die engel ‘n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê:

14“Eer aan God

in die hoogste hemel,

en vrede op aarde

vir die mense in wie Hy

‘n welbehae het!”

15Nadat die engele van hulle af weggegaan het na die hemel toe, sê die skaapwagters vir mekaar: “Kom ons gaan reguit Betlehem toe om te sien wat gebeur het, soos die Here dit aan ons bekend gemaak het.”

16Hulle gaan toe haastig daarheen en kry vir Maria en Josef, en die Kindjie wat in die krip lê. 17Toe hulle Hom sien, het hulle vertel wat oor hierdie Kindjie aan hulle gesê is. 18Almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat die skaapwagters hulle vertel het. 19Maria het alles wat gesê is, onthou en telkens weer by haarself daaroor nagedink. 20Die skaapwagters het toe teruggegaan terwyl hulle God loof en prys oor alles wat hulle gehoor en gesien het. Dit was alles net soos dit vir hulle gesê is.

Prediking

Vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae!

“Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae.”  Dit staan in die sentrum van die Kersverhaal. Die woorde is die basis van ‘n lied wat in baie kerke veral gedurende Kersfees gesing word en wat ons ook vandag aan die einde gaan sing. Dié engelelied word dikwels afgekort, deur bloot te verwys na Gloria in Excelsis of slegs Gloria.

Saam met Christene uit byna alle kerklike tradisies oor die wêreld sing ons as Gereformeerdes elke Kersfees: “Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae.”

Hoekom?  Want, dit is wat ons raaksien in die verhaal oor die geboorte van ons Here Jesus Christus.  Sy geboorte handel oor sy vrede wat deurbreek op die aarde.

  • Dit handel oor die vrede wat daar met God kom deur sy versoeningsdood aan die kruis. Dit handel oor die las van sonde wat van ons skouers afval.  Dit handel oor die vryheid wat ons ervaar deurdat God ons skuld afskryf, en ons in ‘n vrymoedige verhouding met Hom bring.
  • Dit handel ook oor die vrede wat daar tussen mense van baie verskillende agtergronde kom in die kerk wat die Here in Jerusalem en wyer van die bekende wêreld van daardie tyd skep. Hy maak van vyande vriende.  Hy breek die muur van skeiding af tussen Jood en heiden, tussen Griek en Romein, tussen slaaf en vryman.  Hy skep ‘n gemeenskap waarin vreedsame naasbestaan ‘n werklikheid word.

Regtig vrede?

Die vraag is egter: Kan ons dit vandag nog steeds bly sing? Kan ons werklik met oorgawe voortgaan om te sing: “Vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae.”

Want, dit is nou al tweeduisend jaar wat ons dié lied sing en die wêreld beleef nog steeds meer onvrede as vrede.  Ons media is vol van berigte van oorloë, terreuraanvalle, verkragtings, ontvoerings, kapings, xenofobiese aanvalle en plaasmoorde.  Ons sien dit daagliks in die nuusblaaie of op televisie.

Derduisende mense sterf steeds jaarliks weens terreur of oorloë of gewapende konflik wêreldwyd. Derduisende mense word jaarliks as slawe verkoop. Menseroof en -handel is ‘n werklikheid van ons tyd. In Suid Afrika word 18 000 mense jaarliks vermoor, 20 000 verkrag, tientalle mense sterf daagliks weens bendegeweld, en Kerstyd is ‘n tyd van baie padsterftes.

Onvrede is ‘n daaglikse realiteit. Mens wil amper soos Jeremia uitroep: Vrede . . . vrede, terwyl daar geen vrede is nie!

En in die kerk beleef ons ook onvrede.  Daar is diep skeidslyne oor belydenisskrifte, diep skeidslyne oor etiese sake.  Ons sukkel om mekaar oor wesenlike sake te vind, en dit versteur die vrede tussen ons.

So, vrede op aarde?  Kan ons dit regtig ook vandag sing en dit nie net bedoel nie, maar ook iets daarvan beleef?

Slegs vrede in Christus

My antwoord is ja, ons kan.  Maar dit is ‘n gekwalifiseerde ja.

Ons kan sing van die vrede op aarde as ons goed verstaan waaroor die vrede gaan waarvan die engele sing.

  1. Met vrede op aarde het die engele nie die goedkoop najaag van vrede ter wille van vrede bedoel nie. Vrede sluit nie die veg vir geregtigheid uit nie. Vrede sluit nie die veg vir die waarheid uit nie.

Dit kan ook nie, want geregtigheid is bedoel om vrede te bring.  Die waarheid is bedoel om vrede te bring.  Onreg en valsheid is immers per definisie vyande van geregtigheid en die waarheid.

Ons moet dus goed verstaan dat vrede met geregtigheid en met die waarheid te make het, dat die najaag van geregtigheid, en die najaag van die waarheid, juis vrede bring.  En ons moet onsself bereid verklaar om vir dié stryd aan te meld as ons van die vrede op aarde sing, waarvan die engele eenmaal gesing het.

Die Jesus van die krip is ook die Jesus van die kruis.  Die vrede wat Hy gebring het, het Hom sy lewe gekos.  En dit sal ook nooit anders vir ons wees nie.

Dit is iets wat my persoonlik tref in terme van dié dinge waaroor ons in ons kerk onvrede beleef.  Ons sal ook nooit vrede ervaar as ons nie die vraag na geregtigheid en die vraag na die waarheid ernstig opneem en saam worstel tot ons ‘n eensgesinde verstaan en belewenis van geregtigheid en waarheid kom nie.  En vir daardie stryd – en laat ons eerlik wees, dit is ‘n stryd – kan ons nie nee sê nie.

  1. Die vrede is iets wat net in ‘n verhouding met die Here Jesus beskikbaar is.

Om ons te help om die betekenis van dié verhouding te begryp, noem die engele Jesus in hulle boodskap aan die herders met drie name wat sy hele bediening stempel en vir ons die tipe vrede teken wat Hy bring:

Jesus is Verlosser

Dit is ‘n sinoniem vir die naam Jesus wat ook Verlosser of Redder beteken en wat dui op die doel van sy koms – Hy maak sondaars vry, Hy verlos van sonde, Hy maak ons vry van die skuld wat ons dra.  Sonder daardie impak in ons lewe, sal ons nooit die vrede kan beleef wat God bring nie.  Sonder skuldbelydenis sal ons nooit sondevergifnis en die vrede wat dit bring, kan beleef nie.  Ons het dus nodig om ons eie skuld voor die Here te bely, sodat ons daarvan bevry kan word. Anders sal ons nooit self vrede met God ervaar nie, en nooit kan meewerk aan die vrede wat Hy op aarde wil bring nie.

Jesus is ook Christus, die Here

Die eerste woord, Christus, beteken Gesalfde of Messias waarmee by die verwagting van Israel soos deur die profete aangekondig, aangesluit word.  Dit wil sê, Hy is die Een na wie hulle moet luister.

Die tweede woord is Here, kurios, die Griekse woord wat Jode gebruik het om die Hebreeuse naam vir God in die OT, JAHWE, te vertaal, en waarmee Jesus se Goddelike status aangedui word.

Met hierdie twee woorde, Christus en Here, word die leidende rol wat Jesus in ons lewe moet speel, uitgespel.  Hy is die een wat moes kom, en Hy is die Here, die Jahwe van die OT.

En hoe speel Jesus die leidende rol in ons lewe?  Hy doen dit deur sy Woord en sy Gees.

Dit is Sy Woord wat in ons lewe die deurslag moet gee, onder begeleiding en inspirasie van die Heilige Gees, nie ons eie interpretasie daarvan nie.

En ons moet onthou, die gesag van die Bybel lê nie in die woorde daarvan as sodanig opgesluit nie, maar in die God wat daardeur tot ons spreek.

Maar, dit beteken nie dat die Bybel gerelativeer word nie.  Dit verhoog die impak en gesag van die woorde van die Bybel, want dit is die boek wat ons die “besondere openbaring” noem, die boek waarin ons God se stem vir die lewe hoor, die God wat Here is, die God wat nagevolg moet word aan die hand van die riglyne wat dié Woord vir ons gee.  Niks wat daarna geskryf of gepreek is, kan ooit op dieselfde vlak daarmee geplaas word nie.

  1. Ons moet die vrede beliggaam in ons dade en ons optrede teenoor ons medemense

In al ons verhoudings met mense van ander kulture, rasse, klasse, taalgroepe, ander godsdienste, selfs teenoor die natuur, behoort ons sy vrede te beliggaam – soos dit deur die doen van geregtigheid en die najaag van die waarheid na vore kan kom.  Jesus van Nasaret is die Prins van Vrede en Hy nooi almal, vroue, kinders, Jode en Grieke, mense van verskillende rasse, kulture, taalgroepe om deel te vorm van sy shalom gemeenskap, en ons moet alles in die stryd werp om dit vir hulle moontlik te maak om deel van ons gemeenskap te word.

Ons word dus geroep om vredemakers op reis met Jesus – die Verlosser, die Christus, die Here – te word. Dit sluit in om die armes te voed, die wat naak is te klee, om te assosieer met mense ongeag ras, kultuur, status, klas, agtergrond. Dit beteken om te stry en te bid vir geregtigheid en die waarheid, want dit is hoe God se vrede op aarde sal deurbreek.

Moenie vrees nie

So, die engele sê ook vir ons, moenie bang wees nie, moenie vrees nie. Selfs te midde van pyn, hartseer, vertwyfeling, verdrukking en beproewing, moenie angstig rondkyk nie . . . jy het ‘n God wat jou nooit sal begewe of verlaat nie. Sy naam is Jesus, die Prins van vrede.

Kom ons bid en werk vir die vrede van God vir ons land, vir die wêreld. Bid vir die vrede in Israel-Palestina, vir die vrede in die Sentraal-Afrikaanse Republiek, in die Demokratiese Republiek van die Kongo, Egipte, Libië, Mali, Nigerië, Somalië, Soedan, Suid-Soedan, Afghanistan, Burma-Myanmar, Pakistan, die Filippyne, Thailand, die Oekraïne, Irak, Sirië, Jemen, Colombië, Mexiko en talryke ander. Bid vir die vrede van die wêreld. Nie slegs vir die klein kolletjie waar jy woon en werk nie. Bid vir die vrede van wêreld. En raak betrokke, waar jy kan, vir die stryd om geregtigheid en die waarheid.

Kom ons sing saam met die engelekoor die eeu oue triomflied: “Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae!

Gebed

Here, onse Here,

Dankie dat U deur u geboorte, lewe en sterwe kom wys het hoe nederigheid lyk. Dankie dat U met u koms aan die geringes van die samelewing ’n baie besonderse plek in die koninkryk kom gee het.

Here, lei ons dan nou ook deur u Gees om in hierdie feestyd, ongeag ons sosiale status, soos die herders van ouds, getuienisse te wees van U koms en dit wat U vir die mensdom op aarde kom doen het.

Ons dank U ook vir die voorreg om u geboorte met vreugde en in die samesyn van ons geliefdes te herdenk.

Skenk aan ons tog ’n geseënde Somerkersfees.

In die Naam van Jesus Christus bid ons dit.

Amen.

Geloofsbelydenis

15Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie.

Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping.

16God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is:

alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie,

konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders.

Alles is deur Hom en vir Hom geskep.

17Voor alles was Hy al daar, en deur Hom bly alles in stand.

18Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk.

Hy is die oorsprong daarvan,

Hy is die Eerste, die Een wat uit die dood opgestaan het,

sodat Hy die eerste plek in die heelal inneem.

19God het besluit om met sy volle wese in Hom te woon

20en om deur Hom alles met Homself te versoen.

Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel,

deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.

(Kolossense 1)

Offergawes by die deure

Wegsending

Lied 367 Ere aan God, ere aan God – staan

Seën

Die Here sal julle seën en julle oppas.

Die Here sal met deernis na julle kyk en baie goed vir julle wees.

Die Here sal julle gebede beantwoord en vir julle vrede gee.

(Numeri 6:24vv Die Boodskap)

Respons

Lied 367 se laaste drie reëls – staan

     

View all posts in this series

Tags: ,

Trackback from your site.

Leave a comment