Skip to main content

Belofte – Romeine 8:28-32

Carisa Smuts skryf vir my dat sy baie nadink oor die tema van droogte, met die windpomp as simbool. Al is dit droogte of voorspoed, die windpomp draai wanneer die wind ook al waai. In droogte is dit die boer se (soms enigste) teken van hoop op reën. Maar die windpomp werk hard om lafenis van diep onder die aarde te kry en vir mens en dier verligting te bring.

Dit pas mooi in by vanaand se tema waarin ek sterk gaan fokus op God se beloftes en hoe seker dié beloftes vir ons in Christus Jesus die ja-woord van God geword het. Wat nodig is dat die Heilige Gees die windpomp van ons geestelike lewe sal laat begin draai, sodat die water van die vervulling van God se beloftes die damme kan begin volmaak, en die oorvloed die omgewing in ‘n lushof kan verander.

Ek bid saam met haar dat die windpomp in ons gemeente sal begin draai, maak nie saak waar in ons lewe ‘n droogte ondervind word nie. En dat die woorde wat die Here gee, elkeen van die beloftes wat ons in die Skrif gaan lees, soos wind sal wees vir daardie windpomp van herlewing.

Toetrede

Lied 163 Soos ‘n wildsbok wat smag na water

Votum en Seëngroet

Lofsang

FLAM 113 Here Jesus, U skyn oor almal

Aanbidding

FLAM 58 O Heer, ons staan voor U gebroke (Skepper Gees)

Lied 528 Leer my u wil, Heer, u doel met my

Gebed

Skriflesing

28Ons weet dat alles ten goede meewerk vir hulle wat God liefhet, diegene wat volgens sy voorneme geroep is; 29want Hy het diegene wat Hy reeds vooruit gekies het, ook vooruit bestem om gelykvormig aan die beeld van sy Seun te word, sodat Hy die Eersgeborene onder baie broers kan wees; 30en diegene wat Hy vooruit bestem het, het Hy ook geroep; en diegene wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek; en diegene wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik. 31Wat sal ons dan hiervan sê? As God vir ons is, wie kan teen ons wees? 32Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal oorgelewer het — sal Hy nie ook saam met Hom alles aan ons skenk nie?”

Prediking

God laat alles ten goede meewerk

Ek het vanoggend die eerste belofte in hierdie gedeelte aangehaal wat Paulus in Romeine aan elke gelowige gee. Dit is dat God alles ten goede laat meewerk:

Ons weet dat alles ten goede meewerk vir hulle wat God liefhet, diegene wat volgens sy voorneme geroep is.” (Rom 8:28).

Dit is een van God se beloftes waarvoor ons kan bid in ons omstandighede, kan vra dat Hy dit waar maak, maar dit is ook die tipe belofte wat God vervul, selfs wanneer ons nie direk daarvoor vra nie.

Ek lees die ware verhaal van ‘n koor in Beatrice, Nebraska, wat die Saterdagmiddag (1 Maart 1950) sou oefen van so 19:15 af. Die predikant het die plek gereed gemaak en gou huis toe gegaan vir ‘n vinnige aandete. Hy was net reg om terug te gaan toe hy sien sy dogter se rok was vuil. Die rok wat sy toe wou aantrek, moes eers gestryk word, so hy was laat.

Een van die hoërskool meisies, Ladona, het gesukkel met haar wiskunde en wou dit eers klaarmaak. Twee ander se motor wou nie vat nie, so hulle bel toe vir Ladona om hulle op te tel, so hulle al drie was laat.

Mevrou Schuster moes haar jong dogter by haar ma gaan los, want dié wou nie saamgaan nie, en sy was laat.

‘n Ander wou eers ‘n belangrike brief skryf. Nog ‘n ander was doodgewoon lui en wou wag tot die allerlaaste minuut. ‘n Ander het die horlosie nie dopgehou nie, en so lekker gekuier dat hy ook laat was.

Die pianis Marilyn Paul wou vroeg kom, maar het aan die slaap geraap en die dirigent, haar ma, was gevolglik laat saam met haar.

Om 19:25 het die kerk opgeblaas. Die dak het ingeplof en die mure het omgeval, weens ‘n lekkende gassilinder. Maar die koorlede was almal laat. Iets wat nog nooit tevore gebeur het nie.[1]

Ons weet dat alles ten goede meewerk vir hulle wat God liefhet, diegene wat volgens sy voorneme geroep is” (Rom 8:28).

Dit is nie verbeelding nie.

Word al God se beloftes vervul?

Die vraag is egter, word al God se beloftes vervul? Kan ‘n mens eenvoudig ‘n belofte in die Skrif neem en op jouself van toepassing maak? Kan ‘n mens dit uit konteks haal en op jouself van toepassing maak, maak nie saak wat die bedoeling van ‘n spesifieke teks was nie?

Die antwoord is natuurlik nee. En terselfdertyd ja.

NEE

As jy ‘n teks op jouself wil van toepassing maak sonder om goed te lees wat daar staan, gaan jy foute maak. Gaan jy die bedoeling van die teks mis. Selfs misverstaan. Selfs verdraai. En die gevaar loop om ‘n dwaling te glo en nog erger te begin verkondig.

Dit is waarom ‘n mens die Bybel en die beloftes in die Bybel nougeset moet lees, verkieslik in ‘n paar vertalings sodat jy die regte nuanses kan raak lees. En as jy met die oorspronklike teks kan werk in ‘n Interliniêre teks – waar die Grieks en Hebreeus saam met Afrikaans of Engels verskyn – soveel te beter.

  • Onthou die wonderlike hulpmiddel Scripture Direct, ‘n app vir selfone, waar die Griekse NT in Grieks en Engels aangebring is, en ‘n uitvoerige verklaring van elke woord gegee word. Dit is baie gebruikersvriendelik en werk met die heel beste woordverklarings.
  • Nog ‘n hulpmiddel is dié van NET Bible(New English Bible) wat uitvoerige voetnotas het om jou te help om so naby aan die oorspronklike betekenis as moontlik uit te kom. Dit is gratis beskikbaar by YouVersionse app vir selfone.

Konteks is koning. Dit help jou om die teks self te hoor, om die lewende stem van God daarin te hoor, en nie maar net jou eie subjektiewe gevoel wat jy teruglees in die teks nie.

JA

Elke teks in die Bybel – as ons dit goed gelees het, met al die hulpmiddels tot ons beskikking, binne konteks – het in Christus deur die werking van die Heilige Gees vir ons betekenis.

Soos Paulus dit hier in Romeine 8 stel:

Ons weet dat alles ten goede meewerk vir hulle wat God liefhet … As God vir ons is, wie kan teen ons wees? Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal oorgelewer het — sal Hy nie ook saam met Hom alles aan ons skenk nie?

Inderdaad: Hy sal alles saam met Hom vir ons skenk. Daarom kan Paulus aan die Korintiërs skryf, en dit is ‘n geweldige omvattende waarheid wat die hele Bybel betrek:

Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom (Christus Jesus) is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons.” (2 Kor 1:20).

Elkeen van die 7 487 beloftes in die Bybel wat Herbert Lockyer gelys en gekategoriseer het, elke Psalm, elke Spreuk, elke deel van die Bybel wat vir ons God se beloftes onderstreep, is in Christus op ons van toepassing (All the Promises of the Bible).

God verheerlik Homself daardeur, sê Paulus aan die Korintiërs. Én vir ons as sy kinders en sy getuies in hierdie wêreld. Die vervulling van God se beloftes is immers ‘n kragtige getuienis aan ‘n verlore gaande wêreld.

Dit is die boodskap van die OT

Dit is ‘n boodskap wat in die OT al gegee word.

Etan sê in Ps 89:35 dat God Hom onveranderlik verbind aan sy beloftes: “wat oor my lippe gegaan het, sal Ek nie verander nie.” Dit beteken dat God nooit een van sy beloftes sal terugtrek nie. Nooit nie. Nie een nie.

Hoekom nie?

Want God het ‘n heerlike doel met sy beloftes.

Dit is die boodskap van die NT

Petrus onderstreep dit in die NT in sy tweede brief aan die gelowiges in die noorde van Turkye:

IMMERS, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien, deur die kennis van Hom wat ons geroep het deur sy heerlikheid en deug,waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.” (2 Pet 1:3-4).

Die beginpunt en ook kragpunt van die geestelike lewe is Godse Goddelike krag wat ons alles gegee het wat ons nodig het vir ‘n toegewyde lewe.  Dit is sy belofte. Dit is wat Hy vir ons waarmaak.

God het die wonderlikste doel met die vervulling van sy beloftes.  God wil hê dat ons: “deel sal hê aan die Goddelike natuur”. Petrus bedoel daarmee nie dat ons as’t ware vergoddelik sal word nie, maar dat ons al hoe meer as nuwe mense kan lewe op grond van die werk wat Hy in ons doen.  In Paulus se woorde, dat ons nie langer deur ons “sondige natuur” beheers sal word nie, maar deur die Gees (veral Rom. 8:1-17; Gal. 5:16-25).

En elke belofte van God wat ons vir onsself toeëien, help ons om hierdie Goddelike natuur in ons te laat ontwikkel. Sodat ons inderdaad saam met Paulus kan uitroep:

Wat sal ons dan hiervan sê? As God vir ons is, wie kan teen ons wees? Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal oorgelewer het — sal Hy nie ook saam met Hom alles aan ons skenk nie?” (Rom 8:31-32).

Elke belofte kan vervul word

Dit is die heerlike waarheid van die Woord. Elke belofte in die Skrif kan vervul word.

  • Agter elke belofte staan God wat nie ‘n woord oor sy lippe laat gaan as Hy dit nie kan waarmaak nie (Ps 89:35). Dit geld trouens van die hele Bybel.
  • Agter elke vervulling staan die Here Jesus wat nie ‘n woord van God onvervuld sal laat nie. Trouens, Hy verklaar onomwonde in sy afskeidsgesprekke in Johannes: “As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.” (Joh 15:7).

Natuurlik is hierdie vervulling afhanklik van sy soewereine en volmaakte besluit, soos Herbert Lockyer sê: “the promises are dated in heaven .. according to what God considers best”, maar dit maak die sekerheid van die vervulling van die beloftes nie minder nie.

Abraham moet 25 jaar wag vir die belofte van ‘n nageslag om te realiseer. Maar uiteindelik is Isak gebore. Dawid moes 40 jaar wag voor sy koningskap bevestig is. Maar uiteindelik is Hy deur die hele volk as koning aanvaar. Paulus het die belofte gehad dat niemand op die seevaart na Rome sou sterf nie, maar dit het hom nie gevrywaar van skipbreuk op die eiland Malta nie. En dit het presies só gebeur.

Natuurlik is daar gevalle waar mense juis nié die belofte verkry het nie, omdat God iets beters nie net vir hulle beoog het nie, maar ook vir dié wat ná hulle kom. So lees ons in die laaste deel van Hebreërs 11.

Maar, soos ek vanoggend uit Psalm 46 die belofte aangehaal het, dit bly steeds waar:

God is vir ons ’n toevlug en sterkte; as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef. Daarom sal ons nie vrees nie, al waggel die aarde en al wankel die berge weg in die hart van die see. Laat sy waters bruis, laat hulle skuim; laat die berge bewe deur sy onstuimigheid! Sela.” (Ps 46:2-4).

God het vir Paulus veilig gebring by sy bestemming, ten spyte van die skipbreuk, soos Hy sy beloftes aan Abraham en Dawid vervul het, ten spyte van die lang wagperiode.

Soos Psalm 82 dit sê: “Ja, ‘n son en skild is die HERE God; genade en eer is wat die HERE skenk. Hy hou wat goed is nie terug van hulle wat onberispelik leef nie.” (Ps 84:12). God is nooit te vroeg nie, nooit te laat nie, altyd betyds. Daarop kan jy staatmaak.

Hoe werk dit prakties?

Ek wil afsluit met ‘n verhaal wat iemand met my gedeel het oor die wyse waarop die Here se beloftes haar bemoedig het op pad na ‘n hofsaak wat redelik bepalend vir haar toekoms sou wees. Ek noem nie name nie, en laat van die detail uit, maar ek het verlof om die verhaal te deel.

En julle sal sien dat die Woord en gebed saam met die ondersteuning van gelowiges wat die pad met haar stap, ‘n bepalende rol gespeel het. En ‘n joernaal is van onskatbare waarde!

Sy lees in die week vóór die hofsaak, só ‘n paar jaar gelede, die een oggend Psalm 140:13: “Ek weet, die Here behartig die regsaak van die hulpelose, Hy sorg vir die reg van die arme.” Dit word haar gebed waarin sy die Here aan dié belofte begin herinner.

Met ‘n erediens daardie week word die teks uit Jeremia 29:11 ‘n bevestiging vir die belofte van God se behartiging van haar regsaak: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting!” ‘n Teks wat vir baie mense al iets beteken het.

Die volgende dag stuur iemand vir haar ‘n bemoedigende gedeelte uit Klaagliedere 3:22-33, die deel waaruit ek vanoggend ook ‘n paar verse gedeel het. Kom ons luister daarna in sy geheel:

deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom. Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra; dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here; dit is goed vir ’n mens om sy las in sy jeug te dra. Laat hy in sy eensaamheid geduldig bly as God hom die las opgelê het, laat hy hom diep verootmoedig —miskien is daar hoop—laat hy sy wang draai vir wie hom slaan, laat hy maar oorvloedig smaad ondervind.Die Here verstoot ’n mens nie vir altyd nie; as Hy beproewing oor ’n mens gebring het, ontferm Hy Hom weer, want sy liefde is groot: dit is teen sy sin dat Hy mense in ellende en beproewing bring.

Watter diep besinning oor die leed wat ‘n mens tref, en hoe God daarin besig is! God se ontferming troef sy beproewings, want sy liefde is groot.

Die aand maak sy haar Bybel oop en dit val oop by Daniël 10. Nie toevallig nie, sê sy. En sy lees vers 19: “Hy het vir my gesê: “Moenie bang wees nie, jy vir wie God liefhet! Dit sal goed gaan met jou. Wees sterk! Wees sterk!

En sy hoor dié woord aan Daniël as ‘n bemoediging ook in haar eie situasie, al verskil hulle konteks redelik radikaal.

Sy ry die volgende dag hof toe en ‘n taxi ry voor haar in. Op sy agterruit is ‘n plakker: “We serve a living God.”

Sy sê, sy voel amper te opgewonde om verder te ry … maar die saak word weer uitgestel. Dit rek teen daardie tyd al amper 18 maande uit.

Sy lees die aand uit Miga 7:7: “Maar ek sal vertrou op die Here, ek sal wag vir die God wat my red. My God sal my gebed verhoor.” En dit bring vertroosting, saam met iemand wat die Here die aand stuur om haar las ligter te maak.

Ek soek: “God met ‘n vel om”, soos die seuntjie die aand gesê het toe sy ma vir hom sê, die Here is hier. Hy hoef nie bang te wees nie. Soms het ons mos net iemand nodig, ‘n asem, ‘n skouer om op te huil, iemand om saam mee te bid.

Die volgende oggend lees sy Spreuke 15:15: “Dit gaan altyd sleg met ’n bedrukte mens; die blymoedige mens se hele lewe is ’n fees.” En sy voel onmiddellik beter en skep weer moed.

Die aand lees sy Sagaria 4:10 en skep nog moed: “Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie.” Die boodskap aan Serubbabel bemoedig haar in haar eie situasie, al is hulle op heeltemal verskillende plekke in hulle posisies en uitdagings.

Sy word verder ondersteun deur vriende. Die aand vóór die volgende hofdatum lees sy Psalm 56:4-5: “Die dag as ek bang word, vertrou ek net op U. In God, wie se woord ek prys, in God stel ek my vertroue, ek is nie bang nie. Wat kan ’n blote mens aan my doen?”

Die dag word daar weer vir uitstel gevra, maar die regter weier. En binne twee weke word die saak tot ‘n punt gebring, en in haar guns besleg.

Nie dat die verhaal daar eindig nie, maar dit is genoeg om die patroon van God se beloftes en die vervulling daarvan te kan agterkom.

Gebed

Ek wil vir jou intree. Onthou om vir my versoeke te stuur, sodat ek dit met meer begrip kan doen. Só kan ons ook die beloftes van die Here begin opsoek om vir jou situasie te bid.

Slotlied

Lied 532 Ons Vader, neem ons hande

Seënbede

Amen

[1]Tan, P.L., 1996. Encyclopedia of 7700 Illustrations: Signs of the Times, Garland, TX: Bible Communications, Inc.

View all posts in this series

Comment

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.