Skip to main content

Lukas 14:25-33 – Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aankom nie, kan nie my dissipel wees nie

A man walking towards a cross with sunbeams
A man walking towards a cross with sunbeams

Die sweet begin pêrel teen die ou man se slape.  Die berg is steil. Hy gaan staan om asem te skep.   Sy oë dwaal terug.  Sy mense is net ‘n veraf spikkeltjie in die dynserige hitte van die vlakte.  Hy weet hulle sal vir hom wag.  Hy sluk swaar.  Wat sê hy vir hulle as hy leë hande terugkeer?

Hy draai om.  Daar is nie meer tyd vir draal nie.  Die tyd het gekom.  Hulle moet die berg uit.  Hy trek sy gordel reg waaraan die mes hang.  Hy versit die potjie met kole na sy ander hand.  Dan kyk hy links.  Sy seun het darem regtig sterk geraak.  Hy dra die hout met gemak.  Sy treë is lank.  Die man weet hy sal homself al hoe meer moet inspan om by te hou.  Sy hart swel van trots …

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

Verwelkoming

  • Potjiekos kompetisie uitgestel tot 17 September

GOD NOOI ONS UIT EN ONS KOM TOT RUS

Toetrede

Flam 318 Nader tot die Here – sit (groep)

Votum

Psalm 139:1-6

Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.

2Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit,

U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.

3Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit,

U is met al my paaie goed bekend.

4Daar is nog nie ’n woord op my tong nie

of U, Here, weet wat dit gaan wees.

5U omsluit my van alle kante, U neem my in besit.

6Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip.

Seëngroet

Lofsang

Lied 284 Laat, Heer, u vrede deur my vloei – sit (groep en orrel)

Lied 550 Twee ogies om Gods werk te sien – staan (groep)

GOD PRAAT EN ONS LUISTER

Inleiding

Al die kinders kom vorentoe.

Skriflesing

Jesus is besig om na Jerusalem te reis.  Lukas sê reeds in hoofstuk 9 dat “toe die tyd nader kom dat Jesus in die hemel opgeneem sou word, het Hy vasbeslote die reis na Jerusalem begin.” (Luk. 9:51).

Sy fisiese oog is dus gemik op die lyding wat Hy in Jerusalem moet ondergaan om ons van die sonde te verlos deur sy kruisdood.  Sy geestelike oog is egter gerig op die heerlikheid wat vir Hom voorlê.

Ons moenie die implikasie hiervan vir onsself onderskat nie.  Dit is ook ‘n metafoor vir ons geestelike lewe.  Daar is ‘n roeping wat elkeen van ons het vir dié lewe, in die “hiermaals”.  Maar dieper as die dinge waartoe die Here ons roep in dié lewe, is die roeping om vir ewig saam met Hom in die “hiernamaals” te wees.

Dit is ongelooflik om die pad na Jerusalem met Hom te volg en agter te kom wat op die pad gebeur.  Oral roep Hy mense om die pad saam met Hom aan te durf, saam met Hom op pad te wees.

  • Sommige verwerp Hom, soos die Samaritane waarvan ons lees in Luk. 9:53.
  • Sommige aanvaar Hom, soos Marta en Maria, waar veral Maria na sy woorde luister, die beste deel kies, soos Jesus sê (Luk. 10:38-42).
  • Hy leer die dissipels hoe om te bid (Luk. 11:1-13), hoe om eenheid met mekaar te bewaar deur vas te hou aan Jesus, en Hom alleen, en saam met Hom in die koninkryk te werk en dié bymekaar te maak wat aan Hom behoort (Luk. 11:14-23).
  • Hy praat oor die sorge van die lewe, oor die tekens van die tye, oor die verdeling wat Hy bring, omdat sy boodskap onvermydelik verwerp of aanvaar sal word. Hy moedig hulle aan dat  hulle die “smal deur” moet kies en dat hulle al hulle kragte moet inspan om by die smal deur in te gaan.  Daar sal immers baie wees wat die reis saam met Hom onderneem, selfs saam met Hom geëet en gedrink het, sê Jesus, maar nooit sover gekom het om self te begin om reg te doen en reg te leef nie.  Hulle sal huil en op hulle tande kners, sê Jesus, as hulle by die “smal deur” aankom en toegang geweier word.  Hulle sal almal sien wat wel toegelaat is, maar self buitentoe weggejaag word (Luk. 13:22-30).

Regdeur is die Here Jesus dus besig om die eise van dissipelskap uit te spel.  Die hart daarvan is dissipels se lojaliteit.

Jesus weet veral dat die eise van dissipelskap baie keer ons normale familie lojaliteite in gedrang kan bring.  Daarom teken Lukas die volgende gesprek van Jesus aan met die menigte wat saam met Hom gereis het.

Lukas 14:25-33

25’n Groot menigte het saam met Jesus gereis. Hy draai toe om en sê vir hulle: 26“As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders, en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe. 27Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aankom nie, kan nie my dissipel wees nie.

28“Wie van julle wat ’n gebou wil oprig, gaan nie eers sit en die koste bereken, om te sien of hy genoeg geld het om die werk te voltooi nie? 29Anders, as hy die fondament gelê het en nie in staat is om die gebou te voltooi nie, sal almal wat dit sien, met hom die spot begin dryf. 30Hulle sal sê: ‘Hier is ’n man wat begin bou het maar nie kon klaar maak nie.’

31“Of watter koning wat met ’n ander koning in ’n oorlog betrokke raak, sal nie eers gaan sit en oorweeg of hy met sy tien duisend man sterk genoeg is om die ander een teen te staan wat met twintig duisend teen hom optrek nie? 32Anders stuur hy ’n afvaarding om vredesvoorwaardes te vra terwyl die ander een nog ver is.

33“So kan niemand van julle my dissipel wees as hy nie bereid is om van al sy besittings afstand te doen nie.”

Integrasie

Die sweet begin pêrel teen die ou man se slape.  Die berg is steil. Hy gaan staan om asem te skep.   Sy oë dwaal terug.  Sy mense is net ‘n veraf spikkeltjie in die dynserige hitte van die vlakte.  Hy weet hulle sal vir hom wag.  Hy sluk swaar.  Wat sê hy vir hulle as hy leë hande terugkeer?

Hy draai om.  Daar is nie meer tyd vir draal nie.  Die tyd het gekom.  Hulle moet die berg uit.  Hy trek sy gordel reg waaraan die mes hang.  Hy versit die potjie met kole na sy ander hand.  Dan kyk hy links.  Sy seun het darem regtig sterk geraak.  Hy dra die hout met gemak.  Sy treë is lank.  Die man weet hy sal homself al hoe meer moet inspan om by te hou.  Sy hart swel van trots.

Dan bars die bewussyn weer helder deur in sy gedagte.  Dit is vir dié seun van hom, dié een wat hy liefhet, wat hulle hier is.  Hoe kan dit wees?  Hoe kan God dit van hom vra?  Hoe kan hierdie geskenk, hierdie voorsiening vir sy toekoms, net so weggeneem word van hom?  Sommer so.  Sonder rede.  Sonder verduideliking.

Terwyl sy voete hulle pad begin vind tussen die klippers deur, gaan sy gedagte terug na vier dae gelede.

Die aand was koud.  So asof die aandluggie geweet het wat kom.  “Abraham!” het God gesê.  “Hier is ek!” het hy geantwoord.  “Vat jou seun, jou enigste seun, Isak wat jy liefhet, en gaan na die landstreek Moria toe en offer jou seun as brandoffer daar op een van die berge wat Ek vir jou sal aanwys.”

Sy wêreld het vir ‘n oomblik gaan stilstaan.  Dit was asof sy verlede en sy toekoms in een verstikkende oomblik tot stilstand gekom het.  Asof niks van voorheen meer enigiets getel het nie. En sy hele toekoms in die weegskaal gekom het.  Net die ontsettende bewussyn van die belang van die hede.  Die wete dat hierdie oomblik lotsbepalend is.

Miskien moes hy God ingevra het, soos die keer met Sodom en Gomorra, verwyt hy homself.  Dit woel weer in sy hart.  Miskien moes ek weer gevra het: “Sal U die regverdiges saam met die goddeloses vernietig?” Want, onthou hy, die Here het nie kwaad geword nie.  God was geduldig met hom.  Elke keer het die Here hom geantwoord.  Sy voorstelle eerbiedig.  Selfs vir Lot gered, soos hy later gehoor het, al was daar toe nie eens tien regverdiges in die stad nie, soos hy in sy vrymoedigheid gevra het.

Maar, onthou hy, hy het onmiddellik geweet dat hierdie eis van God onverbiddelik was.  Dat hy nie met dié God kan redeneer nie.  Dat daar vir hom net die pad van gehoorsaamheid voorgelê het.  Sommer so.  Sonder rede.  Sonder verduideliking.

En Sara?  Hy kon haar nie in die oë kyk nie. Nie na sy saam met hom só lank vir Isak gewag het nie.  Dié dat hy vroeg die volgende oggend weg is sonder om met haar te praat.  Sommer so.  Sonder rede.  Sonder verduideliking.

Deur die wasigheid, voel dit vir hom, kom Isak se vraag: “Pa?  “Ja, my seun?” antwoord hy.  “Hier is vuur en hout, maar waar is die lam om te offer?”

Abraham kry dit reg om die bewing uit sy stem te hou: “My seun, God sal sy eie offerlam voorsien.”  En dis asof sy woorde ander ore vind.  Asof dit eggo van die berg af in ‘n ander werklikheid in.

Hy buk om die eerste klip op te tel.  Sy seun se vraende oë volg hom.  Met die twaalfde een is die altaar klaar.  Groot is sy verbasing toe Isak toelaat dat hy hom op die altaar vasbind.  Net sy oë wyk nie van sy pa s’n nie.

Abraham steek sy hand uit na die mes … en meteens vul die stem van God die lug hier om hom.  Roep die Engel van die Here uit die hemel: “Abraham, Abraham!” Soos vier dae terug antwoord Abraham: “Hier is ek!”

En voordat die stem kom, weet Abraham al, die Here het voorsien: “Los jou seun!  Moenie iets aan hom doen nie.  Nou weet Ek dat jy My dien: jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie.”

Toe Abraham weer kyk, sien hy agter hom ‘n skaapram wat aan sy horings in ‘n bos vasgevang is.  Hy het die ram gaan vat en hom in die plek van sy seun as brandoffer geoffer.

En hy het geweet wat hy sy twee slawe, en later vir Sara, moes antwoord op sy terugreis; “Die Here voorsien.  Op die berg van die Here word voorsien.”

Dit is ‘n ontstellende en netelige verhaal

Dit is ‘n ontstellende verhaal dié, die verhaal van Abraham en Isak op die berg Moria in Genesis 22, soos ek dit met digterlike vryheid vertel het.  Dit is een van die netelige tekste in die Bybel.  Dit is een van daardie tekste wat jou voorveronderstellings van God uitdaag.  Wat jou laat wonder oor God.  Wat jou laat wonder oor Abraham.  Wat jou selfs laat wonder oor Isak.  Dit is ‘n gedeelte wat jy eintlik anders wil uitlê, sodat dit aanvaarbaar kan raak vir ‘n moderne lewensgevoel.

Vir kritiese geleerdes is dié gedeelte daarom in ernstige konflik met die moderne begrip van die wêreld en die mens.  Waar is die naasteliefde in dié verhaal?  En die versoeking is dan om die teks te herinterpreteer dat ‘n mens die konflik met die moderne lewensgevoel kan verwyder, selfs met ‘n beroep op die Bybel en die liefdesgebod.  Alles om die ontstellende en netelige kante van die teks en van wat dit oor God en menswees sê, aanvaarbaar te maak vir hoe ons vandag oor die lewe dink.

Maar, dan sal ons die drie uiters belangrike boodskappe van hierdie teks mis.  ‘n Teks wat geëggo word in die boodskap van Jesus aan die skare mense wat Hom gevolg het.  ‘n Boodskap wat juis óns voorveronderstellings wil uitdaag.  Wat ons pogings om die Skrif mak te maak, ontbloot.  Wat ons moderne lewensgevoel in lyn wil bring met wie God regtig is, eerder as om die teks anders uit te lê.

  1. Geloof is vir Abraham ‘n ernstige saak

Hierdie verhaal konfronteer ons met die erns van geloof.  Die verhaal wys ons hoe ernstig geloof is.  Vir Abraham. Hierdie toetsing van sy geloof was ’n saak van lewe en dood vir hom.

Nie maar net sy fisieke lewe en dood nie.  Nee, die voortbestaan van sy geloof in God.

Abraham word gekonfronteer met hoe ver hy dit met God sal waag in geloof.  Sal hy in God glo al word die mat volledig onder sy voete uitgeruk?  Al verdwyn al die sekerhede en selfs die beloftes van God?  Al maak niks meer sin nie?  Al word van hom goed gevra wat teen alle menslike wysheid indruis?

Soos Derek Kidner sê:

“Abraham’s trust was to be weighed in the balance against common sense, human affection, and lifelong ambition; in fact against everything earthly.”

Vir Abraham was sy geloof in God dus op die spel, en alles wat tot dusver in die geloof met hom gebeur het, selfs al het die opdrag van die Here vir hom geen sin gemaak nie. Trouens, al het dit teen die karakter van God ingegaan, altans soos hy gedink het dat God is, want daar was nog min van God se wil vir die mens op skrif gestel vierduisend jaar gelede.

Dit is hoe ernstig geloof is.  Indien Abraham nie hierdie toets sou slaag nie, sou sy hele geloofslewe tot niks gekom het nie.  Van nul en gener waarde gewees het. ‘n Moeisame oefening in futiliteit.  Alles verniet.  Van begin tot einde.  En daarmee sou hy verder moes saamlewe, ‘n lewe van verwyt, ‘n lewe van verlies.  Van wat kon gewees het.  En wat in die niet verdwyn het.

Abraham het dus iets verstaan van wat Jesus later sou sê in die teks wat ons vandag gelees het:

26“As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders, en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe. 27Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aankom nie, kan nie my dissipel wees nie.

Dit is hoe ernstig geloof is.  Wat Jesus in die NT vra, het Abraham lank terug al in die OT gedoen.  Hy het gedoen wat Jesus hier vra.  Hy het afstand gedoen van sy eie kind.  Want God het dit van hom gevra.

Dit is die waarheid van hierdie netelige en ontstellende teks in die Bybel.

En hoekom is dit só belangrik? 

Want, ons moet die boodskap van die Bybel goed hoor, iets wat in die wet van God as ‘n reël vir alle tye en omstandighede neergelê is.  God vra onverdeelde lojaliteit. Hy is ‘n jaloerse God.  Hy duld geen konkurrent nie.  Hy soek nie mededingers in ons lojaliteit nie.

“‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ (aangehaal uit Deut. 6:5) en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod.” (Matt. 22:37-38).

Soos Jesus sê:

26“As iemand na My toe kom, kan hy nie my dissipel wees nie tensy hy afstand doen van sy eie vader en moeder en vrou en kinders, en broers en susters, ja, selfs van sy eie lewe. 27Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aankom nie, kan nie my dissipel wees nie.

Soos dit die geval was met Abraham, só vra Jesus dit van elkeen van ons.  Hy vra ‘n dissipelskap wat bereid is om jou eie kruis te dra, om te sterf vir jou eie belange en God se belange absoluut eerste te stel, selfs al is dit netelig, selfs al is dit ontstellend, selfs al kos dit jou wat ook al.  Jesus vra dat daar ‘n afstand kom tussen jou lojaliteit aan God en alle ander dinge in jou lewe.

Ek weet ons probeer sin maak van hierdie teks deur dit te versag met die idee van sirkels van lojaliteit.  God in die middel.  Dan die res – jou pa en ma, jou vrou en kinders, jou broers en susters – en dan jou eie lewe.  Dit klink netjies.  Dit klink haalbaar.  Dit sit alles mooi in vakkies.

Maar diep binne in jou weet jy dat só ‘n verklaring net ‘n stukkie van die waarheid kan bevat.  Ons is net te geneig om balans in ons lewe te probeer bring. Ons gee God wat Hom toekom.  So ook vir jou familie. En laaste vir jouself en jou besittings.

Die probleem is net, dan raak die deel wat God kry eintlik al hoe minder en al hoe kleiner.  Hy bly in die middel soos ‘n Bullseye op ‘n Dartboard, maar ook net so klein soos ‘n Bullseye.  God soek nie die middelpunt van jou lewe nie.  Hy soek die hele bord, jou hele lewe.

Hoekom?  Want, die idee van sirkels van lojaliteit help jou min as jy iets gevra word wat niemand anders se goedkeuring gaan wegdra nie.  Ook nie jou familie se goedkeuring nie.  Trouens, wanneer gehoorsaamheid jou diep in die moeilikheid kan bring as jy aan God gehoorsaam is.  As jy dit waag om Hom op sy Woord te neem en dit probeer uitvoer.  Soos ‘n Abraham.

Dit is waarom Jesus in Lukas 14 sê dat jy baie goed moet gaan sit en dink wat jy doen as jy agter Hom wil aankom.  As jy ‘n dissipel wil wees.  As jy bekend wil staan as iemand wat die Here Jesus volg. 

Jesus sê vir jou:

  • Moenie uitgevang word dat jy ‘n huis probeer bou sonder genoeg geld nie. Dit is nie die moeite werd nie.
  • Moenie oorlog maak met te min mense nie. Dit is ook nie die moeite werd

Bly dan liewers in jou ou huis.  Maak vrede met jou vyande sodat jy nie op jou baadjie kry nie.

En net vir in geval jy gedink het jou besittings is van hierdie uitdaging uitgesluit, sê Jesus:

“So kan niemand van julle my dissipel wees as hy nie bereid is om van al sy besittings afstand te doen nie.”

Die punt is.  Daar is net een persoon in die sirkel van lojaliteit.  Dit is God.  Hy alleen.  Dit is wat Abraham se verhaal ons leer. Dit is hoe ernstig geloof is. Dit is wat die wet van die Here in Eksodus 20:4-5 van ons vra.

“Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My.”

Dit is wat Jesus van ons vra:

“Niemand van julle kan my dissipel wees as hy nie bereid is om van al sy besittings afstand te doen nie.”

Dit is alles of niks.  Dit is nie God in die middel met alle ander verantwoordelikhede netjies daaraan ondergeskik gerangskik nie.  Dit is God in die sirkel.  Of nie.

Dit is hoe ernstig geloof is.

  1. Geloof is vir God ‘n ernstige saak

Die ander kant van hierdie boodskap is dat soos geloof vir Abraham ‘n ernstige saak is, só is geloof ook vir God ‘n ernstige saak.

Daar is ‘n Joodse legende oor die rede waarom Abraham in hierdie krisis beland het.  Die legende word op die patroon van die verhaal van Job vertel.

Op ’n dag toe Satan ná ’n inspeksietoer van die aarde met God aan die gesels raak, sê Satan dat hy ’n vinnige verrassingsbesoekie aan Abraham gebring het.

“Toevallig was dit juis Isak se verjaardag en yslike feesvierings was aan die gang. Groot vrolikheid, ’n yslike maaltyd, almal was uitgenooi. Maar, vertel Satan, hy het ook slegte nuus vir God. Dis nou nie dat hy wil stories aandra nie, maar sy indruk is dat Abraham besig is om die Here te vergeet. Die hele dag, sê Satan, is daar nie ’n enkele offer vir die Here gebring nie – nie eens ’n ou lammetjie nie. Dis nou net Isak voor en Isak agter; Isak is al wat nog vir Abraham saak maak. Maar, so lui die storie verder, die Here was nie oortuig nie. Hy het vir Satan bly sê dat hy ’n fout maak, dat dit nie kan wees nie, dat dit veral van Abraham nie waar kan wees nie. Abraham het Hom lief, het die Here gesê, so lief dat hy vir Hom enigiets sal gee indien Hy daarvoor sou vra. Kom ons toets dan vir Abraham, het Satan vinnig gereageer. Kom ons kyk of hy bereid is om enigiets te gee wat U vra. Wat van Isak? Vra hom om Isak vir U te gaan offer! Dan sal ons weet; dan sal ons mos kan sien of hy regtig alles, ook sy kind, in u hande sal plaas – hierop volg dan, volgens die legende, die geskiedenis van Genesis 22.” (Coenie Burger).

Nou, dit is net ‘n legende.  Maar, dit onderstreep die erns van Genesis 22.  Dit help ons verstaan dat  Abraham se geloof uiteindelik nie net vir hom ‘n saak van lewe en dood was nie.  Abraham se geloof was ook vir God geen speletjie nie. Dit was ’n saak van dodelike erns. Ook vir God.

Daarom is dit van soveel belang om God se stem aan Abraham te hoor:

“Nou weet ek dat jy My dien …”

Die hemel het ‘n sug van verligting geslaak toe Abraham in God geglo het ten spyte van die toets wat vir hom gestel is.

  1. Geloof is vir jou ‘n ernstige saak

Wat ons bring by vandag en ons eie geloof in God.  Geloof is ook vir jou ‘n ernstige saak.

God sal waarskynlik nie van jou vra om jou seun of dogter fisiek te offer nie.   Hy kan en sal egter van jou vra dat jy Hom eerste stel in jou lewe.  Dat jy in die eerste plek lojaal aan Hom sal wees en bly. Selfs al word jy daarin getoets.

Dit gebeur dikwels in ons persoonlike lewe en in die lewe van die kerk dat daar sulke tye van toetsing kom. Dit is die tye waarin ons lojaliteite en prioriteite opnuut geweeg word.

Die grootste gevaar vir die kerk is dat ons lojaliteite en prioriteite maklik skeef getrek word. Ons begin leef asof ons die beloftes van God besit. Ons begin leef en optree asof ons die beskikkingsreg het oor die gawes van God.

Iemand vertel die verhaal van kinders wat ’n jakkals probeer vang het. Die een seun het die jakkals gejaag tot in sy gat en daar ’n deel van die jakkals beetgekry. Hy het geskreeu: “Ek het hom! Ek het hom!” Kort daarna het sy wysie verander: “Hy het my! Hy het my!”

Net so kan dit maklik gebeur dat die Here se mense mag dink dat hulle nog in beheer van ’n situasie is, terwyl hulle lankal vasgevang is in die spinnerak van nuwe lojaliteite. Prof Bethel Müller skryf in ‘n preekstudie oor die teks:

“Daar is baie dinge wat ons kan opbou in ons land: ons bodem, taal, kultuur, wetenskap, ekonomie. Dis alles belangrik … Maar dan moet ons oppas dat ons nie so besig is net met die opbou van hierdie dinge ter wille van hulleself nie, dat ons ons daarmee so afsloof dat ons te moeg en te lusteloos is vir die eintlike bouwerk aan die tempel van die Here.”

Jy sien, die kerk mag nie dubbelvisie hê nie. Die kerk kan nie twee Here dien nie. Jesus waarsku dat ons altyd die een bo die ander sal stel (Matt. 6:19-33). Die kerk se hoogste lojaliteit is altyd om haarself vir die koninkryk van God en vir sy wil te beywer. God sal vir die ander dinge sorg.

Die toets waarvoor ons dikwels gestel word, is of ons bereid is om die Here onvoorwaardelik te volg. Om sy stem in die Skrif nie net te hoor nie, maar ook te doen, selfs as dit netelig is, selfs as dit ontstellend is.

As die Here vandag vir sy kerk vra om sy opdragte in die Skrif bo alle ander opdragte en lojaliteite te stel – bo ons toekoms, kinders, man, vrou, werk, die heersende moraal van die samelewing – wat sal die kerk se pad wees?

Martin Luther King het tereg eenmaal gesê:

“The ultimate measure of a man is not where he stands in times of comfort and convenience, but where he stands in times of challenge and controversy.” So word die kerk ook uitgeken.  So word jy ook uitgeken.

Ek sluit met die verhaal van Johannes Hus, een van die eerste Hervormers wat op Maarten Luther só ‘n groot impak gehad het, al het hy meer as ‘n honderd jaar vroeër geleef.  Johannes Hus se moed van oortuiging het Luther geïnspireer om sy eie pad met die Here voluit en enduit te volg.

Johannes Hus, die Boheemse Hervormer, is 601 jaar gelede, op 6 Julie 1415, finaal gevonnis tot die dood.  Sy kettery was dat hy die Skrif se gesag bó dié van die kerk geag het en geleer het dat ’n mens nie iets ander as Christus nodig het vir sondevergiffenis nie.  Hy het sterk teen die aflaatstelsel (indulgences) en die verering van heilige objekte (relics) in opstand gekom.

Voor keiser Sigismund het die biskoppe sy siel aan die duiwel toevertrou, waarop Hus geantwoord het:

“En ek wy dit toe aan die mees barmhartige Here Jesus Christus.”

Op pad na die brandstapel het Hus verby ’n “bonfire” van sy boeke gestap.  Hy het gestop, gelag, en vir die omstanders gesê, moenie al die leuens glo wat oor my vertel word nie.

Toe hy by die brandstapel kom, het hy gekniel en gebid. Vir die laaste keer is hy gevra of hy sy besware teen die kerk terugtrek.  Hy het geantwoord:

“God is my getuie dat die getuienis teen my vals is.  Ek het nooit iets gedink of gepreek wat nie gemik was daarop om mense te red, indien enigsins moontlik, van hulle sondes nie.  Ek het die waarheid van die evangelie geskryf, geleer en gepreek; vandag sal ek met vreugde sterf.”

Hulle het sy kleed uitgetrek, sy hande agter sy rug vasgebind, en sy nek met ’n geroeste ketting aan die brandstapel vasgemaak.  Hy het daarop kommentaar gelewer met ’n glimlag dat sy Redder met ’n swaarder ketting geboei was.  Toe die vuur aangesteek is, het Hus ‘n weergawe van die Jesus-gebed begin sing: “Christus, Seun van die lewende God, wees ons genadig.” en toe: “Christus, Seun van die lewende God, wees my genadig.”

Hy het met ’n gebed begin wat hy nie klaar gemaak het nie, want die wind het die vlamme in sy gesig gewaai.

(Lutzer, Rescuing the Gospel, in die hoofstuk A Morning Star (John Knox) and a Goose and Swan (Hus en Luther).

Gebed

GOD STUUR ONS OM TE LEEF

Verootmoediging

Hoekom sal ons vasstaan in geloof?

Ek dink twee van die ander tekste vir vandag gee vir ons ‘n antwoord.

  • Psalm 139 sê vir ons dat God ons gemaak het. Hy het ons al gesien toe ons ongebore was.  Hy is met al ons paaie goed bekend.  Hy omsluit ons van alle kante.  Ons kan Hom vertrou dat Hy die beste weet en die beste sal doen met ons lewe.
  • Jeremia 18 sluit hierby aan en sê dat God soewerein is en met ons kan maak wat Hy wil. Hy het ‘n absolute reg op ons lewe, want ons is soos klei in sy hande.  Waar ons ons oorgee aan wat Hy met ons wil maak, daar het ons vervulling, beantwoord ons aan ons doel.  Waar ons teëstribbel, daar het ons onvrede en misluk ons in ons doel.

Dít is waarom ons lojaal aan God kan wees, ons volledig kan gee vir Hom.  Want Hy het ons gemaak, en weet wat die beste vir ons is, en wat die beste is wat Hy met ons lewe kan maak.  Ons kan Hom vertrou. Ons kan onsself aan Hom oorgee.

Daarom kan ons die woorde van Jeremia vandag ter harte neem:

”Elkeen moet hom van sy verkeerde lewe bekeer. Maak julle lewe en julle dade reg.”

Lied 528:1 Leer my u wil, Heer, u wil met my – sit (orrel)

Dankoffer

Slotsang

Lied 524 God roep ons om met woord en daad aktief vir Hom te werk – staan (orrel)

Respons

Lied 524:3 se laaste twee reëls: Deur omgee en met uitreik, Heer, gaan ons met blydskap voort – staan (orrel)

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.