Skip to main content

Die Verlosser kom – Kerssangdiens 2016 – Wees Wakker en Waaksaam

Evening Landscape with Two Men by Caspar David Friedrich
Evening Landscape with Two Men by Caspar David Friedrich

’n Engel van die Here het in ’n droom aan Josef verskyn en die Verlosser van die wêreld aangekondig:

Josef seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees. Sy sal ’n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.” – Matt. 1:20-21

Die Verlosser se aangekondiging word egter van die begin af teengestaan. Die Skrifgeleerdes het verniet vir Herodes tot insig probeer bring met ‘n aanhaling uit Miga 5:1 dat hierdie geboorte gevier moet word. Die Christus, het hulle gesê, sal gebore word In Betlehem in Judea:

En jy, Betlehem, gebied van Juda, jy is beslis nie die kleinste onder die leiers van Juda nie. Uit jou sal ’n leier voortkom wat vir my volk Israel ’n herder sal wees.” (Matt. 2:5-6)

Die boodskap het egter sy hart verhard, en Herodes het die Christus teengestaan en probeer uitwis. Waarmee Herodes ‘n simbool raak van alle mense wat nie met vreugde op die Verlosser reageer nie.

Dit is egter anders met ons vandag. Ons het groot vreugde in die feit dat ons dié Verlosser nie net verwag nie, maar met vreugde reeds lankal ontvang het.

Op hierdie eerste Advent Sondag rig ons daarom oë op die wederkoms van die Here. Hy het gekom en ons het Hom leer ken. Ons sien uit na sy wederkoms en roep mekaar op om gereed te wees as die Here ons kom haal. Niemand weet die presiese dag nie, daarom moet ons wakker en waaksaam bly. Dit is wat Jesus vir ons in die profetiese rede van Matteus 24 vertel.

HIER VOLG DIE HELE ERDIENS:

Verwelkoming

Baie dankie aan al die deelnemers:

Henru en Valmarie van Zyl, Jenni en John-James  Jacobs, Mark, Marcell en Lize   Müller, Adriaan en Stephan Vorster, Alexa en Layla Barnard, Dylan Fourie, Emma van Heerden, Anke Serfontein, Alet Finlaison, Yvonne Weitsz, Elsje Oosthuizen, Monique Millard en Janke Voges.  Dankie ook aan Janneke Jacobs en Anél van Deemter, asook die Kerkkoor.  Sonder Albert se vaardige leiding op die orrel en verskeie insette in die liturgie sal dit natuurlik ook nie moontlik wees nie.  Dankie!

Agtergrond: Evening Landscape with Two Men by Caspar David Friedrich

DIE VERLOSSER IS HIER

Votum – Lied 178 Dona Nobis Pacem (2x) – gemeente – sit

Seëngroet

  • Christus, lank verwag (Vonkk 97) – koor

’n Engel van die Here het in ’n droom aan Josef verskyn en die Verlosser van die wêreld aangekondig:

Josef seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees. Sy sal ’n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.” – Matt. 1:20-21

  • Ding dong (Vonkk 244) – koor
  • O die goeie tyding, o die blye tyding (Lied 344) – gemeente – staan

Inleiding – kindertyd

The Jesus Storybook Bible - Every story whispers his name - Sally Lloyd-Jones en Jago
The Jesus Storybook Bible – Every story whispers his name – Sally Lloyd-Jones en Jago

Skyfie Een:

Alles was gereed.  Die oomblik waarop God gewag het.  Eindelik was die tyd reg.  God het belowe dat Hy ons sou kom help.  Hy sou ‘n Verlosser stuur.  Iemand wat ons kan help.

Maar, hoe sou Hy kom?  Hoe sou Hy lyk?  Wat sou Hy doen?

Die aarde het asem opgehou.  Toe niemand kyk nie, in die nag, het Hy gekom.

The Jesus Storybook Bible - Every story whispers his name - Sally Lloyd-Jones en Jago
The Jesus Storybook Bible – Every story whispers his name – Sally Lloyd-Jones en Jago

Skyfie Twee:

Daar was ‘n jong dogter.  Sy was verloof aan Josef.

Een oggend was sy in haar kamer besig. Skielik was daar ‘n groot lig.  Die engel Gabriël het verskyn.  In haar kamer.

Sy het die lang man daar sien staan. Hy het soos ‘n lig geskyn.  Sy was baie bang.

Jy hoef nie bang te wees nie, Maria,” sê die engel.  “God is baie gelukkig met jou.

Mari kyk rond of hy nie miskien met iemand anders praat nie.

Maria,”sê Gabriël, en hy lag vol blydskap.  Maria se oë raak sommer vol trane.

Maria,” sê Gabriël.  “Jy gaan ‘n kindjie hê.  ‘n Seun.  Jy moet Hom Jesus noem.  Hy is God se eie Seun.  Hy is die Een!  Hy is die Verlosser!

Die God wat al die planete gemaak het, alles gemaak het met net ‘n woord, Hy het Homself nou klein gemaak.  Hy het afgekom na ons toe.  As ‘n baba.

Maar wag!  God stuur ‘n baba om sy werk te doen?

Dit is net te wonderlik!” sê Maria.  Maar haar hart bons in haar binneste.  “Hoe kan dit waar wees?” vra sy.

 

Kan iets te wonderliks wees vir God?” vra Gabriël.

Toe glo Maria vir God.  “Ek is beskikbaar.  Wat God sê, sal ek doen.

The Jesus Storybook Bible - Every story whispers his name - Sally Lloyd-Jones en Jago
The Jesus Storybook Bible – Every story whispers his name – Sally Lloyd-Jones en Jago

Skyfie Drie:

Dit was ook net soos die engel gesê het.  Sy was swanger.

Hulle moes egter na Betlehem toe gaan.  Josef het haar versigtig op die donkie laat ry.

The Jesus Storybook Bible - Every story whispers his name - Sally Lloyd-Jones en Jago
The Jesus Storybook Bible – Every story whispers his name – Sally Lloyd-Jones en Jago

Skyfie Vier:

Toe hulle by die klein dorpie kom, was daar glad nie plek vir hulle nie.

Gaan weg,” sê die mense.  “Daar is nie plek vir julle nie.

Waar sal hulle bly?  Die baba is op pad.  Hy is amper daar.

Toe sê iemand: “Julle kan in ons stal bly.”

The Jesus Storybook Bible - Every story whispers his name - Sally Lloyd-Jones en Jago
The Jesus Storybook Bible – Every story whispers his name – Sally Lloyd-Jones en Jago

Skyfie Vyf:

Hulle het toe saam met die koeie en die donkies en die perde gebly.  Daar was selfs ‘n skaap, en ‘n hoender en ‘n muis.

Die nag het God vir ons die grootste geskenk ooit gegee.  Sy baba Seun. Jesus.

Maria en Josef het hom warm toegedraai.  Hulle het hom in ‘n krip gesit.  Die koeie het nie omgegee nie.  Want Hy lê toe mos op die strooi wat hulle moet eet!

Maar, almal was bly.  God het by ons kom bly.

  • Kom kinders, besing met ‘n vrolike stem (Lied 349) – gemeente (1,3,4 almal, 2 dames) – sit

DIE VERLOSSER WORD TEENGESTAAN

Die Verlosser se aangekondiging word egter van die begin af teengestaan.  Die Skrifgeleerdes het verniet vir Herodes tot insig probeer bring met ‘n aanhaling uit Miga 5:1 dat hierdie geboorte gevier moet word.  Die Christus, het hulle gesê, sal gebore word In Betlehem in Judea:

En jy, Betlehem, gebied van Juda, jy is beslis nie die kleinste onder die leiers van Juda nie.  Uit jou sal ’n leier voortkom wat vir my volk Israel ’n herder sal wees.” (Matt. 2:5-6)

Die boodskap het egter sy hart verhard, en Herodes het die Christus teengestaan en probeer uitwis.  Waarmee Herodes ‘n simbool raak van alle mense wat nie met vreugde op die Verlosser reageer nie.

Dit is egter anders met ons vandag.  Ons het groot vreugde in die feit dat ons dié Verlosser nie net verwag nie, maar met vreugde reeds lankal ontvang het.

  • Die Heiland is gebore (Lied 353) – gemeente (1,3 almal, 2 mans) – sit
  • Die vreugde van Kersfees – koor
  • Joy to the world – gemeente (Eng/Afr [lied 201:1]/Eng) – staan

DIE VERLOSSER ROEP ONS OP TOT WAAKSAAMHEID

Skriflesing – Matt. 24:36-44

Op hierdie eerste Advent Sondag rig ons daarom oë op die wederkoms van die Here. Hy het gekom en ons het Hom leer ken.  Ons sien uit na sy wederkoms en roep mekaar op om gereed te wees as die Here ons kom haal. Niemand weet die presiese dag nie, daarom moet ons wakker en waaksaam bly.  Dit is wat Jesus vir ons in die profetiese rede van Matteus 24 vertel:

Die profetiese rede: die dag en die uur van die wederkoms

(Mark 13:32–37; Luk 17:26–30; 34–36)

36“Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit. 37Soos dit in die dae van Noag was, sal dit ook wees by die koms van die Seun van die mens. 38In daardie dae voor die sondvloed het hulle soos gewoonlik geëet en gedrink en getrou tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. 39Hulle het nie besef wat aan die gang was nie, totdat die sondvloed gekom en hulle almal weggesleur het. Net so sal dit gaan by die koms van die Seun van die mens. 40Dan sal twee mense op die land werk, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word. 41Twee vroue sal by die meul koring maal, die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word. 42Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet watter dag julle Here kom nie.

43“Onthou dit: as die huiseienaar geweet het watter tyd van die nag die dief kom, sou hy wag gehou het en nie toegelaat het dat daar in sy huis ingebreek word nie. 44Om dieselfde rede moet julle ook altyd gereed wees, want die Seun van die mens kom op ’n uur dat julle dit nie verwag nie.”

Integrasie

Jesus gebruik die verhaal van Noag om die onverwagsheid van die wederkoms te beklemtoon.  Alles het gelyk of dit normaal aangaan.  Daar is geëet, gedrink en getrou.  Tot op dié dag wat die sondvloed hulle almal weggesleur het.

Genesis vertel vir ons dat dit die ondergrondse water – die tehom of “diepte” – was wat uitgebars het bo die aarde, saam met ‘n ongelooflike stortreën wat die aarde na sy vorige staat – omring deur water – verander het.  Die skepping is as’t ware omgekeer. Alles is verswelg.  Alles wat leef en beef op aarde het omgekom in die sondvloed.

Die punt van Jesus se verwysing na die tyd van Noag, is dat Hy waarsku dat dit net só sal wees, sê Jesus, met die wederkoms van die Here.  Daar sal geëet, gedrink en getrou word – soos in die tyd van Noag.  Tot op dié dag wat die wederkoms plaasvind.  Jesus sal net skielik daar wees.  Soos ‘n groot vloed wat alles verswelg soos dit in die tyd van Noag was.  Die een oomblik sal jy nog rustig besig wees met wat jy doen.  En dan sal alles skielik anders wees.  Sal jy met sy teenwoordigheid moet rekening hou.

  • Vir dié wat in ‘n verhouding met Hom was, sal dit ‘n feestelike wedersiens
  • Vir dié wat Hom geïgnoreer het, sal dit ‘n ontstellende verswelgende afskeid

Soos Jesus sê, daar sal twee mense langs mekaar op die land werk.  Die een sal saamgeneem – as’t ware in die ark van redding – en die ander een sal agtergelaat word. Twee vroue sal by die meul koring maal, sê Jesus.  Die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word.

En die punt van dié gelykenis?

Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet watter dag julle Here kom nie … julle moet altyd gereed wees, want die Seun van die mens kom op ’n uur dat julle dit nie verwag nie.

Wakker en waaksaam.

DIE VERLOSSER STUUR ONS OM GETROU AAN HOM TE LEWE

Hoe moet ons dit doen?

Jesus gee vir ons ‘n idee in hoofstuk 25 wat dit behels, hoewel ‘n mens natuurlik die hele Bybel hieroor kan nalees, bv. Ps. 122 en Romeine 13 wat ook vir vandag aangegee is as tekste deur die RCL.  In hoofstuk 25 is daar drie uitnemende gelykenisse wat

  1. die dissipels aanspoor tot waaksaamheid in hulle verhouding met die Here Jesus (gelykenis van die tien meisies – 25:1-13),
  2. getrouheid met hul eie bediening (gelykenis van die muntstukke – 25:14-30) en
  3. barmhartigheid teenoor dié wat die evangelie regdeur die wêreld neem (gelykenis van die skape en die bokke – 25:31-46).

Jou oliekan moet vol bly – ook in die tyd van afskakel wat in die vakansietyd kom.  Daagliks moet jou verhouding met die Here vernuwe word, moet jy onder leiding van die Gees lewe.

Jou gawes moet nie onbenut bly nie – ook en veral in dié tyd van afskakel.  God wil hê ons moet mekaar in dié tyd bemoedig.  Gebruik jou gawe van bemoediging daarvoor.  God wil hê dat ons in dié tyd sal uitdeel, presies soos Hy vir ons die gawe van sy Seun gegee het.  Gebruik jou gawe van uitdeling daarvoor.  God wil hê dat ons vir mekaar sal bid.  Gebruik jou gawe van voorbidding daarvoor.  En so kan ek aangaan met al die gawes wat God vir jou gegee het.

En, veral belangrik, ons is verantwoordelik om die evangelie regdeur die wêreld te neem.  Ons moet ook dié mense ondersteun wat die risiko aanvaar om oor grense in ander lande en kulture te gaan werk.  Hulle is die mense waaroor Jesus in die gelykenis praat van die skape en die bokke.

Dit gaan nie daar in die algemeen oor barmhartigheid nie.  Nie dat dit nie ook belangrik is nie.  Maar, dit gaan daar oor die dissipels self:

Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers susters van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.

Dink dus spesifiek aan ons sendelinge en hulle families.  Ons is vir hulle verantwoordelik. Só word ons en bly ons deel van die skape, en nie van die bokke nie!

Bly dus waaksaam, omdat julle nie weet watter dag julle Here kom nie … julle moet altyd gereed wees, want die Seun van die mens kom op ’n uur dat julle dit nie verwag nie.

Gebed

  • Hoor die blye tyding (Vonkk 245) – koor

Dankoffers

  • Somerkersfees – instrumente
  • Hosanna, hosanna – koor

Slotlied

  • Die wat die Here wil dien (Lied 601:1,3,4) – gemeente – staan

Seën

Amen

Respons

  • Lied 358  se Refrein: Kersfees kom, Kersfees kom – gee aan God die eer. Skenk ons ‘n helder Somerkersfees In hierdie land, o Heer.
View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.