Julle moet my teenwoordigheid opsoek! – Psalm 27

NGK Somerstrand 09:00 13 Maart 2022 – kerk en Youtube video

Verwelkoming

Baie welkom by ons erediens. Mag die Here jou innerlik versterk deur hierdie geloofsgemeenskap sodat jy uiterlik sterk kan staan in hierdie lewe as ‘n getuie van die Here se teenwoordigheid in jou lewe.

Aankondigings

Ds Vian du Plessis van Walvisbaai Moedergemeente het die beroep na Somerstrand gemeente aanvaar. Hy en sy vrou, Natania, en hulle tweeling Josh en Joah, beplan om die laaste week in April in die Baai aan te kom. Diensaanvaarding is vanaf 1 Mei. Verwelkoming en bevestiging is Saterdag 7 Mei. Intreepreek 8 Mei. Vian is druk besig met die afronding van sy bediening in Namibië, en sien baie uit daarna om die bediening by ons voort te sit.

Die kerkraad gaan vir hulle verblyf huur tot die pastorie beskikbaar is. Ons vra dat julle saam met ons soek vir geskikte verblyf. Julle kan direk met my skakel (0825749191).

Baie welkom aan die volgende lidmate wat hierdie jaar by ons ingeskakel het:

  • Johannes, Mari-San en Marli Bodenstein van Albanie
  • Michael en Shanie Vermaak van Jeffreysbaai

Votum en Seëngroet

“Die Here is my lig en my redding – vir wie sal ek vrees? Die Here is die toevlug van my lewe – vir wie sal ek bang wees?”

Loflied

Die liedere is op die blaadjie.

Lied 191:1-3 Grote God, ons bring U eer, ons aanbid U, Koning, Heer – staan

Kindermoment

Ons het twee Sondae gelede die liedjie gesing Lees jou Bybel, bid elke dag, want dit gee jou krag. Ek wil julle vandag herinner aan die belangrikste gebed wat ons kan bid, die Ons Vader. Ons het verlede jaar by Ligkids ‘n hele paar keer daaroor met julle gesels.

Kom ons herhaal dit net weer sodat ons dit goed ken. En dan bid ons dit saam:

9“Só moet julle dan bid:

“Ons Vader wat in die hemele is,

laat u Naam geheilig word.

10Laat u koninkryk kom.

Laat u wil geskied,

soos in die hemel, so ook op die aarde.

11Gee ons vandag ons daaglikse brood.

12En vergeef ons ons skulde,

soos ook ons hulle vergeef

wat teenoor ons skuldig staan.

13En bring ons nie in versoeking nie,

maar verlos ons van die Bose.

Want aan U behoort die koninkryk

en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen. (Matt 6:9-13)

Kom ons bid dit nou saam.

Gebed

Skriflesing en prediking

Ek wil vandag met julle gesels oor God se teenwoordigheid.

Soos ons dit in Dawid se lewe raaksien, veral in die tyd vóór hy koning geraak het. En dan deur Psalm 27 werk om ‘n bietjie dieper in te gaan op die ervaring van God se teenwoordigheid ná hy koning geraak het.

God se teenwoordigheid vóór Dawid koning geraak het

Dawid het God se teenwoordigheid op verskillende maniere ervaar in die tyd vóór sy koningskap:

  • Dawid het ervaar dat God by hom was toe hy as skaapwagter van sy pa se skape gered het uit die bek van die leeu en die klou van die beer (1 Sam 17:34-37).
  • Dawid het ervaar dat God by hom was toe hy as 15 jarige jong seun tot koning gesalf is en die Gees van die Here van hom besit geneem het (1 Sam 16:13).
  • Dawid het ervaar dat God by hom was toe hy Goliat met ‘n klip uit sy slingervel doodgemaak het (1 Sam 17:40-50).
  • Dawid het ervaar dat God by hom was toe Saul hom weens sy groeiende jaloesie met die spies verskeie kere probeer doodmaak het. Dawid kon egter telkens wegkoes vir die dreigende dood (1 Sam 18:6-16; 19:9-17). Saul was geneig om onbeheerbaar op te tree. Hy het selfs vir Jonatan op ‘n keer met die spies probeer doodmaak (1 Sam 20:33-34).
  • Dawid het ervaar dat God by hom was toe Saul al hoe meer opdragte gee om uit te voer wat duidelik daarop gemik was om Dawid dood te maak. Soos die keer toe hy ‘n 100 Filistyne moes doodmaak om met Migal, Saul se dogter, te kan trou. Dawid het sommer 200 doodgemaak. Dit het Saul egter net nog kwater gemaak, want hy kon sien dat die Here met Dawid was (1 Sam 18:20-30). Dit het die kontras met Saul net nog groter gemaak. Want, God het ‘n bose gees in Saul gestuur, en dit het hom beangs en wantrouig gemaak (1 Sam 16:14).
  • Dawid het ervaar dat God by hom was toe Jonatan, sy boesemvriend, nie net vir hom voorspraak by Saul gemaak het nie, maar uiteindelik hom gehelp het om te ontsnap van die woede van die koning (1 Sam 20).

En so kan ‘n mens aangaan deur die 15 jaar wat dit geneem het vir Dawid om uiteindelik op die troon te sit as dertigjarige jongman – die res van die eerste boek van Samuel. Oral waar Dawid gevlug het en moes probeer oorleef in haglike omstandighede, oral waar Saul hom probeer doodmaak het selfs in die grotte waar hy moes skuil, oral waar hy in lewensgevaar was met ‘n prys op sy kop, het Dawid ervaar dat God by hom was; dat God uitkomste gee; dat God hom beskerm.

Dit verwoord Dawid in Psalm 27:

Die Here is my lig en my redding – vir wie sal ek vrees? Die Here is die toevlug van my lewe – vir wie sal ek bang wees? 2As kwaaddoeners op my toesak om my lewendig te verslind, ja, my teenstanders en my vyande, struikel hulle self en val. 3Al sou ‘n leër teen my laer opslaan, sal my hart nie bang wees nie; al sou ‘n oorlog teen my uitbreek, sal ek nogtans bly vertrou.

Soos die een keer wat Saul Dawid regtig in sy mag gehad het in die woestyn van Maon, in die Araba, suid van die Dooie See en die leërs teen mekaar opgestel is, en Dawid duidelik in die minderheid was… maar toe kom daar berig dat die Filistyne vir Israel aanval, en Saul het nie ‘n keuse gehad anders as om Dawid te laat vrygaan nie (1 Sam 23:24-28).

Geen wonder die skrywer van die boek Samuel lig ons in:

Saul het hom die hele tyd gesoek, maar God het hom nie in sy hand oorgegee nie.” (1 Sam 23:14).

God se teenwoordigheid word IN gevaar beleef

Maar, daar is iets wat uitstaan van al hierdie verhale van God se teenwoordigheid.

Daar was die verruklike ervarings. Die salwing as koning; die Gees wat van Dawid besit neem (1 Sam 16). Maar, al die ander verhale in hierdie tyd is verhale waar God se teenwoordigheid IN die gevaar, IN die bedreiging, IN die oorlog, beleef is (1 Sam 17 en verder).

Ja, Dawid het wonderlike ervarings gehad.

God se teenwoordigheid in die skepping. Dink maar aan Psalm 19 waar Dawid oor die wonder van God in die natuur skryf:

2Die hemelruim verkondig die eer van God en die hemelkoepel maak die werk van sy hande bekend.

Maar, dit is telkens so dat God se teenwoordigheid in die midde van gevare en konflik beleef word. Dit is terwyl Dawid in die woestyn is besig om te vlug van Saul dat hy opkyk en die wonder van God se teenwoordigheid in die hemelruim raaksien.

Die enigste plek waar Dawid uiteindelik God se teenwoordigheid sonder konflik kon ervaar, was in die huis van die Here, daar waar Hy deur God se Woord en Gees nie net die dinge wat God gemaak het, kon aanskou in die skepping nie, maar die lieflikhede van God self, in die Woord en deur sy Gees.

Die toppunt van die ervaring van God se teenwoordigheid is deur sy Woord en Gees. Veral in die tempel; daar waar God se wet gehou is; daar waar die ark was met die gerubs wat God se teenwoordigheid gesimboliseer het.

Dink maar aan Psalm 1 waar Dawid skryf oor die vreugde om God se wet te oordink. En Psalm 119:

11In my hart koester ek u woord, sodat ek nie teen U sondig nie.”

Natuurlik was dit nie net in die tempel nie, want God se Gees is immers oral, soos Dawid daarvan in Psalm 139 skryf:

7Waarheen kan ek gaan, weg van u Gees; waarheen kan ek vlug, weg van u teenwoordigheid?

En sy antwoord is, nêrens. God is oral.

Maar, daar is iets spesiaals om in God se huis, in sy besondere teenwoordigheid, tot rus te kom. En sy Woord te oordink.

Al was dit ‘n geweldige proses om die ark uit Filistynse gebied te gaan haal om dit moontlik te maak. Met baie uitdagings, selfs ‘n dreigende burgeroorlog wat Dawid moes bestuur (2 Sam 2). Dit was immers eers nadat hy sewe jaar later die hele Israel kon verenig onder sy koningskap dat hy die ark in Jerusalem kon inbring (2 Sam 6).

God se teenwoordigheid word IN die huis van die Here beleef

En daarom verstaan ons wat Dawid bedoel as hy in die Psalm verder gaan:

Soos Psalm 27 dit in vers 4 sê:

4Een ding het ek van die Here gevra en dit sal ek bly nastreef: om al die dae van my lewe in die huis van die Here te woon, om die lieflikhede van die Here te aanskou en daaroor na te dink in sy tempel.

Geen wonder Dawid het gedans voor die ark uit om die simbool van God se teenwoordigheid te verwelkom toe dit op 37 jarige ouderdom vir hom moontlik geraak het.

Want, dit is daar waar ‘n mens in die huis van die Here die lieflikhede van die Here kan raaksien. Waar die teenwoordigheid van die Here nie maar net ‘n werklikheid word in ‘n soort asemskep spasie nie, maar waar jy diep kan insak en kan toelaat dat God se teenwoordigheid jou binnekant verander.

Soos Dawid dit stel:

5Ja, Hy steek my weg in sy skuiling op ‘n dag van onheil; Hy verberg my in die beskutting van sy tent; Hy tel my hoog op ‘n rots.

En dit is wonderlik:

6Daarom is my kop hoog bo my vyande rondom my.

Maar, sê hy terselfdertyd:

Ek wil met uitroepe van vreugde offers bring in sy tent, ek wil sing, ek wil die Here besing.

Hy wil sy oorwinnings vier saam met die geloofsgemeenskap, in die huis van die Here, waar hulle die wonders van die Here se redding kan aanhoor en self bemoedig word om sterk te staan in hulle lewe vir die Here.

1. En daarmee sit Dawid die eerste belangrike element van die wyse waarop ons in God se teenwoordigheid moet kom, op die tafel. Om met vreugde die Here te besing. Om jou te verbly in God se teenwoordigheid. Om tot rus te kom in sy teenwoordigheid. Om te ervaar hoe goed dit is om in God se teenwoordigheid te wees.

2. Maar, dit is ook die plek waar Dawid in die tweede plek baie bewus van sy sonde raak. Hy word daar bewus van die genade wat Hy nodig het van die Here, Want, dit is die plek waar hy die wet van die Here kan hoor, en om God se genade kan smeek, soos in vers 7:

7Luister tog, Here, na my stem wanneer ek roep, wees my genadig en antwoord my!

Dit is daar waar in die huis van die Here wat God hom kan skoonmaak van sy sonde, sodat hy met nog meer toewyding die teenwoordigheid van die Here kan opsoek, soos God self dit wil.

3. Daarom sê Dawid:

8My hart eggo u woorde: “Julle moet my teenwoordigheid opsoek!” U teenwoordigheid, Here, soek ek op.

Dit is die sentrum van hierdie Psalm. Die enigste direkte “woord van God” tussen die “woorde van Dawid”. En Dawid gryp vas daaraan, die derde element van sy spiritualiteit. U het gesê ek moet u teenwoordigheid opsoek. My hart eggo u woorde! Pragtig vertaal. Daarom, Here, hier is ek, ek soek u teenwoordigheid op.

En hy vra terselfdertyd, bewus van sy sonde, vers 9:

9Moet u gesig nie vir my verberg nie, moet u dienskneg nie in toorn wegwys nie.

Want, hy weet dat God hom tot dusver nie in die steek gelaat het nie:

U was my Helper, moet my nie verstoot of verlaat nie, God wat my red.

En hy bely, vers 10:

10Selfs al verlaat my vader en moeder my, die Here sal my aanneem.

Dit bly sy vertroue, dat al sal sy naaste mense hom in die steek laat, die Here sal nie. Trouens, al sou sy ouers hom verlaat – om watter rede ook al, onterf, of doodgaan – die Here sal Hom aanneem – as God se kind. Watter ongelooflike belofte!

Ek moet sê, die beskrywing van God se toorn in vers 9 het my gepla. Hoekom is Dawid hier so bang daarvoor? In my nadenke is ek gelei na Romeine 1-2 waar uitvoerig oor God se toorn geskrywe word, en waar Paulus stellig verkondig dat God: “elkeen vergeld volgens sy dade:

  • Aan dié wat in goeddoen volhard… gee Hy die ewige lewe; Ewige heerlikheid, eer en vrede, skenk Hy aan elkeen wat goed doen.
  • Maar dié wat uit selfsug ongehoorsaam is aan die waarheid en toegee aan die ongeregtigheid, straf Hy in sy toorn – en gaan kyk maar weer na die reeks sondes wat in Romeine 1 gelys word. En, sê Paulus, lyding en benoudheid bring Hy oor die lewe van elke mens wat kwaad doen… ” (Rom 2:6-11).
  1. Want, Dawid weet in die vierde plek, daar in God se teenwoordigheid – in God se lering en leiding – lê die geheim vir sy lewe, en vra hy, vers 11:

11Here, leer my u pad, lei my op ‘n gelyk pad (sonder hindernisse).”

Die eerste pad in vers 11 verwys hier na God se morele beginsels. Die tweede pad in vers 11 verwys na die koers wat ’n mens in die lewe inslaan, die dinge wat jy beleef en bewerk in die lewe.

So, Dawid vra dat God hom sal leer wat God wil, en hy bid dat die Here sy koers sal bepaal sodat hy die hindernisse daarop kan vermy.

Dawid vra dus dat die Here sal help dat hy op ’n gelyk pad loop – nie noodwendig ’n pad wat sonder uitdagings is nie – maar dat Dawid self ’n gelyk pad sal loop. Ek het daarom ook aan Hebreërs 12:12-13 gedink:

Versterk daarom die slap hande en die lam knieë, en loop die reguit pad. Dan sal wat lam is, nie uit lit raak nie, maar gesond word.

5. En dan vervolg Dawid in die vyfde plek met sy verdere gebed rondom sy teenstanders:

12Moet my nie oorgee aan die begeerte van my teenstanders nie; want vals getuies het teen my opgestaan, en hulle blaas geweld aan. 13As ek darem nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal beleef in die land van die lewendes nie!

En sluit af met die oproep aan homself en aan die geloofsgemeenskap:

14Wag op die Here! Wees sterk en hou moed, ja, wag op die Here!

Die wag op die Here tref my. Dit impliseer geduld. Dit impliseer dat Dawid net rus kry in die teenwoordigheid van die Here.

  • “Wees sterk” in vers 14 beteken om dapper/ferm/oortuig te wees na buite.
  • “Moed hou” beteken dat jy “jou hart sterk laat wees” in die sin van paraat wees/wakker wees/moed hou na binne.

Dws in die wag op die Here – in sy teenwoordigheid – moet ‘n mens sterk staan in die oortuigings wat Hy gee, nie ingee nie, nie moedeloos raak nie, terwyl jy telkens verder wag op die Here se lig en beskerming, sowel as dat jy Hom as toevlug benut soos die eerste deel van die Psalm uitspel.

My vertaling van vers 14 is dus:

Wag op die Here, wees uiterlik sterk, hou innerlik moed, en wag op die Here.

Wat leer ons dus hieruit?

1. Die hele lewe word in die teenwoordigheid van God gelewe. Trouens, dit is IN die konflik van hierdie lewe wat God se teenwoordigheid onder andere belewe word. Ons moet anders kyk na die konflik wat ons in die lewe ervaar. Want, dít is die plekke waar ons ook God se uitkomste sal belewe. En ons moet God vertrou om sy teenwoordigheid in die hitte van die lewe te wys.

2. Maar, ons moet terselfdertyd onsself instel om genoeg tye te skep om ons as gemeente en in ons persoonlike stiltetyd te verdiep in die teenwoordigheid van die Here. Want, dit gee jou die krag om te volhard in God se teenwoordigheid in die lewe daarbuite.

En laat ons onmiddellik onthou dat die Heilige Gees nou in ons woon. Dat ons die tempel van die Here geword het. Persoonlik. En as gemeente.

3. Dit is waarom ons mekaar moet help dat ons nie vasval in sonde en ongehoorsaamheid nie. Want, dit verberg die teenwoordigheid van die Here in ons lewe.

Ek dink ons kerk sukkel hiermee in die breë. Ons sukkel om sonde sonde te noem. Soos die Bybel dit verwoord. Ons wil mense akkommodeer. Ons wil mense ter wille wees. Daarom herdefinieer ons wat sonde is en wat nie. Werk ons net met algemene beginsels soos liefdeloosheid. En vergeet dat God in sy Woord sonde as wetteloosheid beskryf:

“4Elkeen wat sonde doen, beoefen ook wetteloosheid, want sonde is wetteloosheid.” (1 Joh 3:4).

Trouens:

2Hieraan weet ons dat ons die kinders van God liefhet: wanneer ons God liefhet, en sy gebooie nakom. 3Want dit is die liefde vir God, dat ons sy gebooie onderhou, en sy opdragte is nie ‘n swaar las nie; (1 Joh 5:2-3)

Natuurlik sluit die sonde liefdeloosheid in, maar dit gaan baie wyer as net dit. Lees self weer Romeine 1 se lys van sondes. En die verskillende sondelyste van Paulus in Galasiërs 5 en Efesiërs 4.

Want, sonde en die goedpraat van sonde keer dat ons kan floreer in die teenwoordigheid van die Here. Wanneer ons sonde herdefinieer deur die Bybelse uitsprake te ignoreer, dan kan ons ook nie meer die verlossing van die Here daarvoor verkondig nie.

Ons het nie die voorreg om sonde te definieer nie. Net God het daardie voorreg. En Hy het dit uitvoerig gedoen in die Bybel. Wat die Bybel sê, is wat God sê. En daarmee is alles gesê wat gesê kan word.

4. Ons sal ook die konflik oor musiek moet uitsorteer, want dit bedreig ons lofprysing. Ons sal altyd die inhoud moet skoei op ons Bybelse erfenis, maar in terme van styl en taal sal ons meer akkommoderend moet raak. Sonder om enigiets weg te gooi. Maar, wel deur nuwe liedere te verwelkom.

Onthou dat nuwe liedere nog altyd geskryf is, en ingetrek is in ons liedereskat. As jy vandag so oud soos ek is, het jy alreeds van ‘n Gesangeboek en ‘n Hallelujaboek, na twee Jeugsangbundels – die rooie en die bloue – en uiteindelik na ‘n Liedboek geskuif. Daarby het nog Flam en Vonkk gekom, en daar sal nog ander ook kom! Dit is sewe bundels in 60 jaar.

Ek sluit af – daar is nie kortpaaie na God se teenwoordigheid nie. Want, ons moet wag op Hom. Ons moet ons vertroue op Hom volhou. Ons moet in gehoorsaamheid aan Hom volhard. Het ek gesê, wag op die Here? Ja, want vers 14 herhaal dit.

Hy sal Homself aan jou openbaar. Hy sal Homself aan ons openbaar. As ons die pad van Psalm 27 sal volg. Soos ‘n Dawid van ouds.

Gebed

Slotlied

Ek praat volgende week oor bekering. Uit Lukas 13:1-9. Die vraag oor sonde. En die gelykenis van die vyeboom.

Psalm 27:1-3 God is my redder en my lig, vir wie sal ek vervaard wegvlug? – staan

Seën

Dankoffers

YOUTUBE

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.