Skip to main content

Johannes 20:19-31 – “Vrede vir julle!”

Die bloed drup stadig uit ‘n klein snytjie in die Jesuïtiese priester, Vader Christovão Ferreira se nek.  Hy hang onderstebo met sy kop in ‘n gat in die grond.  Sy hele liggaam is vasgebind in ‘n sak, sy voete met ‘n tou vasgemaak aan ‘n menshoogte paal.  Sy hande is oor sy bors vasgebind.  ‘n Sirkelvormige stuk plank is om sy nek vasgemaak.  Hy kan niks sien om hom of bo hom nie.  Dit is donker, en al wat hy hoor is die gedrup-drup van die bloed wat oor sy gesig loop en deur sy hare op die grond val.

Die lewe is stadig besig om uit hom te vloei.  Die pyn in sy kop klop-klop onophoudelik.  Die geklop raak al hoe harder.  Sy kop en skouers en hande begin opswel van die drukking van die bloed.  Die pyn is ondraaglik.  Sy gedagtes begin deurmekaar en verward raak.

Die een ding wat soos ‘n refrein deur hom spoel, is dat al wat nodig is om uit hierdie wurggreep van die naderende dood te ontsnap, is om te doen wat die Japanese owerhede van hom vra.

Dit is eintlik net ‘n formaliteit, sê die Inquisitor Inoue.  Trap op die fumi-e, ‘n afbeelding van Jesus aan die kruis, en jy is vry.  En jy sal al die ander Japanese Christene van ‘n seker dood red.  Ons sal hulle ook vry laat, sê hy …

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS:

RUS

Toetrede

Psalm 16:1 Heer, bewaar my dig by U – sit

Votum

Psalm 16:5-11

5Here, U is my lewe, U sorg vir my.

Wat ek ontvang, kom alles van U af.

6’n Pragtige deel is vir my afgemeet,

ja, wat ek ontvang het,

is vir my mooi.

7Ek sal die Here loof wat my

tot die regte insig gebring het;

selfs in die nag bly ek bewus

van wat Hy my leer.

8Ek het die Here altyd by my:

omdat Hy by my is,

sal ek nie struikel nie.

9Daarom is ek bly en juig ek

en voel ek my veilig.

10U gee my nie oor aan die dood nie.

U laat u troue dienaar

nie in die graf kom nie.

11U leer my hoe om te lewe.

By U is daar oorvloedige blydskap.

Uit u hand kom net wat mooi is.

Seëngroet

Die Here groet julle vanoggend soos Jesus sy dissipels kort na sy opstanding gegroet het:  “Vrede vir julle!

Lofsang

Lied 421 Die Here Jesus lewe, Hy het die dood oorwin – staan

Toe-eiening

1 Petrus 1:3-9

3Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop 4op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. 5En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. 6Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings 7sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. 8–9Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle reeds deel aan die saligheid wat die einddoel van julle geloof is. En dit vervul julle met ’n onuitspreeklike en heerlike blydskap.

Geloofsbelydenis

Voorganger:         Jesus sê aan ons soos vir Tomas:  Bring jou vinger hier en kyk na my hande, en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar gelowig.

Gemeente:            My Here en my God! Kom ons twyfel tegemoet soos vir Tomas (uit Joh. 20:27, 28).

(Uit Bybelmedia se Woord en Fees 2016-2017)

Lied 499:1,3 Die Heer is God, en niemand meer – sit

LUISTER

Gebed

Lied 178 Dona nobis pacem – sit

Skriflesing

Johannes 20:19-31: “Vrede vir julle!”

19Daardie Sondagaand was die dissipels bymekaar. Alhoewel die deure gesluit was omdat hulle bang was vir die Jode, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!”

20Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy vir hulle. Die dissipels was baie bly toe hulle die Here sien.

21“Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”

22Nadat Hy dit gesê het, blaas Hy oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees! 23As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.”

24Tomas, wat ook Didimus genoem is, een van die twaalf, was nie by die dissipels toe Jesus gekom het nie. 25Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!”

Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”

Jesus en Tomas

26Ag dae later was Jesus se dissipels weer bymekaar, en Tomas was by julle. Hoewel die deure gesluit was, het Jesus gekom en tussen hulle gaan staan en gesê: “Vrede vir julle!”

27Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.”

28En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!”

29Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”

30Jesus het nog baie ander wondertekens, wat nie in hierdie boek beskrywe is nie, voor sy dissipels gedoen. 31Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê.

Inleiding (kindertyd)

Ek wil vandag met julle oor Tomas gesels.  Hy was iemand wat baie vrae gevra het.  Is daar van julle wat baie vrae vra?  Hou julle van antwoorde soek?  Nou, Tomas was só ‘n mens gewees.  Hy was nie tevrede om net te hoor wat ander vir hom sê nie.  Hy wou self by die antwoorde uitkom.

Op die Sondagaand dat Jesus die eerste keer aan sy dissipels verskyn het, was Tomas egter nie daar nie.  Ons weet nie regtig hoekom nie. Miskien het hy te veel vrae gehad en was nie lus om die ander daarmee te pla nie.

Maar toe hoor hy Jesus het aan hulle verskyn.  Jesus het regtig opgestaan uit die dood.  Maar, hoe kan dit dan wees, het hy gevra?  Hy was by toe Lasarus uit die dood opgestaan het, maar Jesus?  Kan dit regtig wees?

Toe sê hy vir die ander dissipels.  As ek nie self die merke van die spykers in sy hande sien nie, en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, dan sal ek dit nooit glo nie!  Hy wou self sien.  Hy wou self voel.  Hy wou self by die antwoord uitkom.

Jesus het natuurlik geweet wat Tomas vir hulle gesê het, want Hy weet alles.  Agt dae later op ‘n Maandag, miskien weer in die aand, was Tomas by die dissipels.  Hy het intussen besluit dit is seker maar beter om saam met die ander te gesels oor dié dinge.

Die deur was gesluit, want hulle was bang vir die Jode.  Toe skielik staan Jesus daar tussen hulle.  Die geslote deur kon Hom nie uithou nie.  En Jesus sê vir hulle, vrede vir julle!  Toe weet Tomas, die Here Jesus het regtig opgestaan.  Hy lewe!  Hy het dit self met sy eie oë gesien.

Jesus bied toe aan dat Tomas sy vinger in die merke in sy hande steek en kyk of dit regtig Hy is.  En, sê Jesus, bring jou hand en steek hom in my sy.  Kom sien self dat Ek regtig opgestaan het uit die dood.  Maar dit was nie nodig vir Tomas nie.  Hy het al geweet dat dit regtig Jesus is toe Jesus deur die toe deur gekom het.

En Tomas sê eenvoudig: “My Here, en my God!” Sy vrae is beantwoord.  Sy nuuskierigheid is bevredig.  Hy het geweet, die Here Jesus het opgestaan.  Hy kon dit glo.

Julle is seker ook nuuskierig ook allerlei dinge.  Miskien is daar vrae wat julle wil vra.  Ek wil julle uitnooi om dit op ‘n papier te skryf – as jy nie kan nie, vra jou pa of ma om jou te help – dan help ons julle om antwoorde te kry.

Preek

Die bloed drup stadig uit ‘n klein snytjie in die Jesuïtiese priester, Vader Christovão Ferreira se nek.  Hy hang onderstebo met sy kop in ‘n gat in die grond.  Sy hele liggaam is vasgebind in ‘n sak, sy voete met ‘n tou vasgemaak aan ‘n menshoogte paal.  Sy hande is oor sy bors vasgebind.  ‘n Sirkelvormige stuk plank is om sy nek vasgemaak.  Hy kan niks sien om hom of bo hom nie.  Dit is donker, en al wat hy hoor is die gedrup-drup van die bloed wat oor sy gesig loop en deur sy hare op die grond val.

Die lewe is stadig besig om uit hom te vloei.  Die pyn in sy kop klop-klop onophoudelik.  Die geklop raak al hoe harder.  Sy kop en skouers en hande begin opswel van die drukking van die bloed.  Die pyn is ondraaglik.  Sy gedagtes begin deurmekaar en verward raak.

Die een ding wat soos ‘n refrein deur hom spoel, is dat al wat nodig is om uit hierdie wurggreep van die naderende dood te ontsnap, is om te doen wat die Japanese owerhede van hom vra.

Dit is eintlik net ‘n formaliteit, sê die Inquisitor Inoue.  Trap op die fumi-e, ‘n afbeelding van Jesus aan die kruis, en jy is vry.  En jy sal al die ander Japanese Christene van ‘n seker dood red.  Ons sal hulle ook vry laat, sê hy.

Die eerste uur hou Christovão Ferreira nog uit, vas en volhardend in die geloof.  Staan hy sterk soos hy dit nou al vir meer as twintig jaar in die uitdagende vervolgings en martelings doen sedert sy aankoms in Japan in 1601.  Hy is die leier van die Jesuïete.  Hy het so ‘n groot impak al gemaak in sy tyd daar.  Die hele Europa praat van sy standvastigheid.

Maar die gedrup-drup van sy eie bloed is uitmergelend.  Die vrae in sy gemoed oor die leed wat ander Japanese Christene aangedoen word, onder andere as gevolg van sy getuienis aan hulle, vermenigvuldig in sy gedagtes.  Japan is soos ‘n moeras waarin die Christelike evangelie nie kan wortel skiet nie.  Die Christelike godsdiens is soos ‘n lelike vrou waarmee Japan nie wil trou nie.

En na 6 uur van onmenslike pyn en ontbering skree hy dit uit.  Ek sal trap, ek sal trap.  Ek sal trap op Jesus. Bring die fumi-e.  Ek kan nie meer nie.  Ek verloën die Here Jesus.

Die verlossing van sy pyn het gekom, teen ‘n geweldige prys.  Sy geloof.

Het hy maar die woorde van Jesus persoonlik kon hoor: “Vrede vir julle!”  Het hy maar die ondersteuning van die ander dissipels gehad wat Tomas daar in die begin in sy twyfel kon versterk.  Dan sou hy moontlik ook die reaksie kon hê van ‘n Tomas wat bely, “My Here, en my God!

Maar Christovão was alleen.  Sy geloof het gewankel.  Hy het sy geloof afgesweer.  Die Japanese owerhede het gewen.  Sy geloof was gebroke.

Ek wonder hoe sou ek vaar in só ‘n uitmergelende situasie, soos die rolprent Silence dit uitbeeld?  Sou ek soos die gewone Christene man vir man en vrou vir vrou standvastig kon bly in my geloof?  Sou ek die pyn van ‘n kruisiging in die see vir vier dae kon uithou, terwyl die branders met elke hoogwater my laat water sluk en my stadig versmoor?  Sou ek die pyn van die “pit”, die gat in die grond waarin Christene kop onderste bo opgehang is, kon weerstaan?  Beter as Christovão Ferreira?

Sou jy?

Dit is een ding om in ‘n godsdiensvrye land die opstanding van die Here Jesus te vier en opgewonde te raak oor die werklikheid van die opstanding.  Om die boodskap te hoor van die Here Jesus: “Vrede vir julle!” en in aanbidding voor Hom jou lewe aan Hom toe te wy: “My Here, en my God!” Dit is iets heel anders om daardie belydenis te handhaaf wanneer jy gestroop word van alle ander hulp en ondersteuning.  En dit net jy en die verdrukkers is, jy en hulle, en jou getrouheid aan die Here.

Christovão Ferreira se afvalligheid en sy afswering van sy geloof in die Here Jesus het die wêreld van die 17de eeu geruk.  Hulle kon dit nie glo nie.  Hulle het ‘n paar ekspedisies gestuur om uit te vind wat regtig gebeur het, soos die rolprent Silence dit onder andere uitbeeld.  En die gerugte is bevestig.  Ferreira het gevou onder die druk.  Ferreira het nie meer as selibate Vader gelewe nie.  Hy was getroud, al was dit onder dwang, en ongelowig, trouens ‘n Boeddhis.  Japan het gewen.  Die Christendom het verloor.

Ironies genoeg was dit ook die jare van die sinode van Dordt waar die onweerstaanbare genade van die Here Jesus Christus en die volharding van die heiliges in die Dordtse Leerreëls bely is, presies in die tyd wat Christovão Ferreira daarmee geworstel het in Japan.

Hoe kon hierdie Godsman só afvallig raak, is gevra?  En dit was nie maar net ‘n klein afvalligheid nie.  Vir die volgende twee dekades het hy as ‘n Japannees geleef, en met die owerhede saamgewerk in die onderdrukking van die Christelike geloof.  Hy was ‘n ikoon vir hulle, ‘n bekeerling na die Boeddhisme.  Hy het geskryf daaroor.  Hy het ‘n “celebrity” geraak by hulle.

Maar is dit al wat ons daaroor kan sê?  Is dit al wat ons oor Christovão Ferreira en die Japanese Christene van die 17de eeu n.C. kan sê?

Dit is wel wat Martin Scorsese jou sal wil laat glo met sy rolprent gebaseer op die fiktiewe verhaal van die Japanees Shusaku Endo, (沈黙 Chinmoku).  Dit is immers waar die rolprent Silence stop in die uitbeelding van Christovão Ferreira se lewe.

Die werklikheid is egter altyd beter as ‘n rolprent of as ‘n historiese roman wat fiksie rondom historiese feite as die waarheid probeer verkoop.

Die wonder van die werklikheid is dat die boodskap van die opstanding van die Here Jesus in Japan nie met Christovão Ferreira se afvalligheid tot niet gegaan het nie.

In die eerste plek sê die geskiedenis vir ons, anders as wat Martin Scorsese vir ons in die rolprent Silence sê, dat Christovão Ferreira in sy sewentiger jare tot inkeer gekom het en deur die owerhede as Christen tereggestel is.  Die tweede keer in die “pit” het hy volhard en ‘n martelaarsdood gesterf.  Ek het ‘n artikel daaroor geskrywe wat julle gerus kan gaan lees.

Ek haal J.F. Schütte se navorsing daaroor aan (“Ist P. Christovão Ferreira als Martyrer gestorben? Nach dem Bericht eines japanischen ‘Mandarinen’ in Tongking” in die boek Kirisuto-ki und Sayō-yoroku, MN Monograph No. 1, Tokyo, 1940), van Voss & Cieslik pp. 202-8):

“A great change took place in his soul and his deed now appeared to him in a completely different light. He abhorred his action as a cowardly betrayal of God and expressed his inner convictions in a loud voice. His neighbors heard him talking and finally informed the soldiers of the governor. They visited the house of the sick … ‘interpreter’ … and asked him the reason for his grief. The Father (Christovão Ferreira ) explained to them with all frankness and firmness his sorrow and his inner conversion. The soldiers joked and made fun of him, saying that he was out of his mind, but he contradicted them firmly. On the contrary, he showed himself ready to die for his faith.

The soldiers then reported this to the governor, who hesitated for a while but, after he had ascertained the facts, condemned Christovão to death in the pit. The sentence, however, was to be carried out in all secrecy so as to avoid causing excitement in the city. The soldiers returned to Ferreira’s house, and seeing that he remained constant in his intention, they dragged him off to the torture of the pit. However, they were not able to prevent many Japanese, both Christian and non-Christian, as well as non-Christian Chinese, from attending the martyrdom. The soldiers bound Ferreira and hanged him head downward into the pit. With this torture Ferreira ended his life courageously for Christ”

Net soos Tomas se ongeloof nie die laaste sê oor sy lewe gehad het nie.  Op ‘n Maandag, ‘n week na die opstanding kry hy die geleentheid om sy vinger op die merke in Jesus se hande te plaas, en sy hand in sy sy te druk (skyfie).  Trouens, hy het nie eers sover gekom nie.  Hy het genoeg gesien met Jesus wat regdeur die toe deur aan hulle verskyn het en vir hulle “Vrede vir julle!” toegesê het.

Tomas se ongeloof het in geloof verander.  Sy hele lewe het ‘n ander trajek ingeneem.  Hy het ‘n apostel, ‘n gestuurde geraak, soos Jesus dit inderdaad hier vir hulle almal toegesê het: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.

Trouens, gaan lees oor die ongelooflike werk wat Tomas ná hierdie ontmoeting met die Here Jesus in Indië tot aan die verste suidpunt daarvan gehad het.  Daar is vandag nog Christene wat hulle geloof terug herlei na die werk van Tomas in Indië.  Hy het uiteindelik ook as ‘n martelaar vir die Here gesterf, soos dit eintlik met die meeste gestuurdes in daardie tyd gebeur het.

Dit is wat met jou ook op hierdie opstandingsmôre kan gebeur.  Jy het dié boodskap al soveel keer in jou lewe gehoor.  Maar miskien, net miskien, kan die vrede wat God gee jou vandag in ‘n gestuurde verander. Want dít is wat hierdie teks aan ons wil doen.  As jy agterkom dat Jesus ook jou Here en jou God is, dan verander jou hele lewe.  Dan kan jy nie anders as om alles wat jy is en doen in ‘n ander lig te sien nie.

En dan sal ook jy kan volhard in jou getuienis vir die Here Jesus.

Want, dit is In die tweede plek wat die geskiedenis vir ons sê.  Die Japanese Christene van die 17de-19de eeu het in die geloof volhard, ten spyte van die onmenslike en eeuelange vervolging wat hulle vir ongeveer 250 jaar moes deurmaak.

Die werklikheid is – teenoor die rolprent Silence se fiktiewe uitbeelding daarvan – dat daar baie meer martelare as afvalliges was onder die Christene in die 17de eeu in Japan.  Ses-en-twintig martelare is bv. in 1597 tereggestel in Nagasaki waarvan die verhale gedokumenteer is en wat jy by ‘n monument kan gaan sien wat ter ere van hulle daar opgerig is.

Hoewel die getal Christene in Japan van tussen 300 000 en 500 000 in die 16de-17de eeu in die volgende 250 jaar na net ongeveer 30 000 verminder het, het hierdie Kakure Kirishitan – geheime Christene soos hulle genoem is – met die koms van godsdiensvryheid in 1873 na vore gekom en in die openbaar weer hulle geloof beoefen.  ‘n Fassinerende verhaal van volharding in absoluut uitdagende omstandighede.  Op die skerm is die embleem wat hulle vir hulle self gekies het, die Gion Mamori embleem.

Dít is die groter en sterker verhaal van die Christelike geloof!  Nie die verhale van afvalligheid nie, al was daar natuurlik ook altyd diesulkes.

In hierdie Paastyd is dit ‘n wonderlike getuienis van die oorwinning wat die Here Jesus nie net self oor die dood en die doodse magte deur sy opstanding uit die dood behaal het nie – soos ons in Johannes 20 lees – maar ook van die krag wat Hy uitoefen in elkeen wat in Hom glo.  Presies dit wat hierdie besondere verhale van die eerste week ná Jesus se opstanding vir ons voorhou, ook die verhaal van Tomas.

Ek loof Jesus vandag vir sy getrouheid wat selfs in die haglikste omstandighede – waarin van sy getroue getuies blyk voete van klei te hê – Hy hulle steeds nie los nie en hulle uiteindelik tot inkeer bring.  Dit sien ons in die verhaal van Christovão Ferreira.  Dit sien ons in die tallose verhale van getroue volhardende Japanese Christene.  Dit sien ons in die verhale van vasbyter Christene die wêreld oor.

Dít is die Here Jesus wat ons aanbid.  Dít is die God wat ook vir ons enduit getrou sal hou, selfs al faal ons langs die pad en worstel ons met die “stilte” van God wanneer die beproewings van die lewe ons geloof in stryd bring.

Ek hoor die oproep van die Hebreërskrywer weer helder vanoggend:

Terwyl ons dan so ’n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. Hou Hom voor oë wat so ’n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.” (Hebr. 12:1-3).

Ek sluit dus op ‘n hoë noot af.

Die lewende Here Jesus Christus is hier. Die Christus wat deur Woord en Gees by ons is, en wat die wêreld voortdurend met sy vrede seën, is hier by ons, veral sodat ons dit kan begin aangee.  Dit is Hy wat ons vandag stuur om die boodskap van vrede uit te dra, aan almal, waar ons ook al kom. En Hy belowe dat sy genade onweerstaanbaar is en dat al sy kinders in die geloof sal volhard, soos ons Dordtse vaders dit bely het.

Daarom; “Vrede vir julle!” Dit is wat Jesus sê.  Dít is wat jy ook moet aangee vir ander.  “Vrede vir julle!

LEEF

Gebed

Dankoffer

Slotsang

Lied 514 Ek weet vir seker: Jesus is Heer – staan

Seën

(n.a.v. Joh. 20)

“Vrede vir julle!”

“Soos die Vader die Seun gestuur het, word julle ook gestuur met die krag van die Heilige Gees.

Vrede vir julle!”

Respons

VONKK 144:1 Vrede van God, die vrede van God, die vrede van God is met jou – staan

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.