Kolossense 3:18-4:1 – Respek vir my Naby-mense

Inleiding

Die gemeente van Kolosse is waarskynlik nie deur Paulus gestig nie (Kol 2:1), hoewel hy op ‘n keer deur die landstreek van Frigië, waar hulle geleë was, gereis het (Hand 16:6).  Hulle was egter duidelik sterk onder sy invloed.  Epafras wat van Kolosse af was – en ook Paulus se medewerker – was moontlik die skakel tussen hulle, en ‘n moontlike stigter van die gemeente (Kol 1:7; 4:12).  Die stad was geleë naby Efese in Klein-Asië (160 km na die ooste), in die suid-weste van wat vandag as Turkye bekend staan.  Hulle was ook nou verbind aan die naburige gemeentes in Laodisea en Hiërapolis (4:13,15).

Die brief is uit die gevangenis geskryf – soos ook Filippense, Efesiërs en Filemon – en soos met die ander drie briewe word die brief met Paulus se Romeinse gevangenisskap verbind (Kol 4:3,10,18).  Die brief was dus waarskynlik in die vroeë sestigerjare nC geskrywe, net voor ‘n aardbewing die stad getref het in 61 nC en volgens historici waarskynlik die plek verwoes het.  Vandag is daar net ruïnes oor.

Dit is duidelik dat Paulus hierdie brief skryf om sekere idees en praktyke wat begin posvat het in die gemeente se invloed teë te werk.  Dit is dus nie soseer die mense self – bv. dwaalleraars – wat aangevat word nie.  Hy vat eerder hulle idees en praktyke aan.

Wat ‘n mens uit die brief aflei, is dat hierdie idees en gebruike van ’n interessante vermenging van Joodse en ander godsdienstige en filosofiese idees  en praktyke gekom het.  ‘n Swetterjoel vreemde invloede dus wat gedreig het om die boodskap van Christus te verdring en hulle in bygeloof te laat verval.

Paulus help dus die gemeente en sy leiers om vir dié idees en praktyke te kan nee sê, voor dit te veel aanhangers in die gemeente sou hê.  Die brief is dus eintlik een van die vroegste Christelike Apologieë, wat die Christelike godsdiens teenoor leë filosofiese teorieë en vreemde gebruike verdedig.

Paulus wil daarteenoor sterk beklemtoon dat dit in die Christelike geloof net om Christus gaan, iets wat hy ook sterk beklemtoon het in sy brief aan Filippi (Fil. 3:1 vv.).  Die enigste manier om te leef, is om vanuit ‘n verhouding met Christus te leef en Hom toe te laat om alle verhoudinge waarbinne jy leef, te beïnvloed (Kol. 3 vv.).  Dit het ‘n invloed op jou eie menswees (3:5-17), op jou verhoudings in die huweliks- en gesinslewe, op jou verhoudings in die werksplek (3:18-4:1), sowel as op jou verhouding met mense wat nog buite die geloof staan (4:5).

Kolossense 3:1-4:1

Paulus maak nou ‘n laaste fundamentele uitspraak oor hulle verbintenis met Christus Jesus voor hy drie van die implikasies daarvan uitspel vir:

  1. hulle gedagtes oor hulleself;
  2. hulle lewenstyl en gedrag;
  3. al die verhoudings waarin hulle is.

Ek gaan ‘n paar opmerkings maak oor die eerste twee punte om die konteks te verskaf vir die laaste punt en dan Kolossense 3:18-4:1 lees en ‘n paar gedagtes daaroor deel oor die tema om in respek vir jou naby-mense te leef.

Rig julle gedagtes op die dinge daarbo – 3:1-4

Dit is uiters belangrik om oor jouself vanuit jou verbintenis met Christus Jesus te dink.  Want dit beïnvloed alles.  Vir Paulus is die opstanding nie iets wat net met Christus gebeur het nie.  Dit is iets wat ook met ons gebeur, die oomblik as ons in Hom glo.  Ons status verander.  Ons is in Christus nie meer dood in ons sonde nie, maar opgewek in ‘n nuwe lewe.  Trouens, ons lewe is verborge in God.  En daarom is ons toekoms verseker.  Saam met Christus sal hierdie status aan die einde van die tyd vir almal bekend word, wanneer Christus weer verskyn.

Daarom moet ons ons gedagtes rig op die dinge daarbo.  Paulus bedoel natuurlik nie dat ons net oor die hemel moet dink, en glad nie oor die aarde nie.    Dit spel hy juis in die volgende deel uit.  Die dinge van die aarde is dinge soos onsedelikheid, slegte begeertes en gierigheid.  Dit moet nie deel van ons denke wees nie.  Die dinge daarbo is dinge soos meelewendheid, goedgesindheid en verdraagsaamheid.  Dit moet ons denke volmaak.

Leef as nuwe mense – 3:5-17

Dit is ongelooflik hoe elke woord wat Paulus hier skryf van betekenis is.  ‘n Mens kan uitvoerig uitwei oor hoe Paulus die ou lewe beskrywe wat afgelê moet word (3:5-11 – 2 groepe van 5 sondes elk word genoem) en hoe hy dan beskrywe hoe die nuwe lewe geleef moet word (3:12-17 – 15 deugdes of karaktertrekke word genoem).  Eintlik kan ‘n mens ‘n paar maande hieroor nadink, en daar sal elke dag nog dinge wees wat vir jou nuut oopgaan!  Tyd en ruimte ontbreek my egter.  Daarom maak ek net ‘n paar opmerkings hieroor:

  • Ons het ‘n prentjie nodig van die tipe mens wat God wil hê dat ons moet wees. En die prentjie wat Paulus hier kies, is dat ons vernuwe moet word na die beeld van ons Skepper.  Dit beteken dat ons moet groei tot die volle kennis van God, want Hy is ons Skepper.
  • Dit is waarom dit so onsinnig is om klem te lê op jou afkoms (Griek of Jood), jou vorige godsdiens (besny of nie besny nie), jou taal of jou kultuur (onbeskaaf) of jou klas (slaaf of vry). Daar is net een ding wat belangrik is, en dit is of jy in Christus glo of nie, en of Hy in jou lewe of nie.
  • En belangrik: die prentjie wat Paulus skilder van die beeld van ons Skepper is nie sy Almag, of Alomteenwoordigheid, of sy Skeppingsmag nie … maar sy karakter. En dit is wat in ons moet groei: meelewendheid, goedgesindheid, nederigheid, sagmoedigheid en verdraagsaamheid.  Dit is hoe God is.  Dit is hoe ons moet wees.
  • Dit is waarom ons met mekaar geduldig moet wees, en mekaar moet vergewe … want dit gebeur nie oornag nie! Ons moet bo alles mekaar liefhê, sodat ons nie deur onderlinge verskille uitmekaar gedryf word nie, veral nie verskille soos afkoms, taal, kultuur of klas nie.  Selfs nie ons verskille in die wyse waarop ons die karaktertrekke van die nuwe lewe al vertoon of nie, moet ons verlei om onderskeid te maak tussen gelowiges nie.
  • Let op hoe Paulus sê dat die vrede wat Christus gee die deurslag in ons lewe moet gee. Dit moet letterlik skeidsregter speel tussen verskillende opsies.
  • En ek kan nie nalaat om ook op die koop toe klem te lê op Paulus se aandrang dat die boodskap van Christus in sy volle rykdom in ons moet bly Ons moet mekaar daarin onderrig en sorg dra dat almal van ons tot die volle kennis van God groei.
  • En dan is daar nog die dankbaarheid waarvan ons moet sing … op allerhande maniere …

Leef in verhoudings soos die Here verlang – 3:18-4:1

18Vrouens, wees aan julle mans onderdanig soos dit pas by mense wat in die Here glo. 19Mans, julle moet julle vrouens liefhê, moenie die lewe vir hulle bitter maak nie. 20Kinders, wees in alles aan julle ouers gehoorsaam, want die Here verlang dit van kinders wat in Hom glo. 21Vaders, moenie gedurig by julle kinders fout soek dat hulle moedeloos word nie. 22Slawe, wees in alles gehoorsaam aan julle eienaars hier op aarde. Moenie net werk om deur hulle raakgesien te word en so in mense se guns te kom nie, maar werk met ’n opregte hart uit eerbied vir die Here. 23Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, 24omdat julle weet dat julle van die Here as beloning sal kry wat Hy belowe het. Christus is die Here in wie se diens julle staan. 25Wie onreg doen, sal gestraf word oor die onreg wat hy gedoen het; die Here trek niemand voor nie. 4 Eienaars, behandel julle slawe reg en billik in die wete dat julle ook onder iemand staan, onder die Here in die hemel.

Let op hoe Paulus drie tipe verhoudings beskryf: huweliksverhoudings, gesinsverhoudings en arbeidsverhoudinge.  Dit word deur geleerdes ‘n “huistafel” genoem, omdat al drie verhoudings tipies in ‘n huishouding voorgekom het.

Dit is belangrik om die vorige twee perikope se boodskap in berekening te bring in wat Paulus hier oor die drie verhoudings sê.  Die verbintenis met Christus Jesus (3:1-4) en die karakter van God (3:5-17) moet die vertrekpunt vorm vir die wyse waarop in elkeen van hierdie verhoudings opgetree word.  Dit wil sê, die spesifieke opdragte wat hy aan die onderskeie persone in die verhoudings gee, moet verstaan word in die lig van Jesus se Heerskappy en die karakter van God wat in ons gevorm moet word.

Daar is egter nog twee goed wat ons in gedagte moet hou om dié teks goed te kan hoor.  ‘n Mens kan die teks hoor dat een van twee goed hiermee kan gebeur:

  • dat die teks meewerk aan die onderdrukking van vrouens.
  • dat die teks nie die slawe oproep om hul slawejuk af te gooi nie en daarmee slawerny goedkeur.

Ons moet ook erken dat gedeeltes soos hierdie al dikwels in die verlede misbruik is presies om dié gedagtes te ondersteun. Maar dit was verdraaiings van wat die Bybel sê.

In die eerste plek, agter hierdie gedagtes van Paulus sit nie ‘n “hiërargie” nie.  Uit ander gedeeltes weet ons dat Paulus skryf: “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één” (Galasiërs 3:28).

Daar is dus nie by Paulus ʼn gedagte dat ʼn man belangriker as ʼn vrou is nie. Anders sou Paulus nie in van sy ander briewe mans en vrouens opgeroep het om “… uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig” (Efesiërs 5:21) te wees nie.

In die tweede plek, Ons moet ook pasop om nie die antieke term, “slaaf”, met hedendaagse konnotasies te vul nie.  Daar is groot verskille tussen slawerny in die antieke tyd en die slawerny wat ons vandag ken.  Die term wat Paulus hier vir “slaaf” gebruik, is “doulos”, en dit was ʼn soort vrywillige dienskneg (in Engels bekend as ʼn “bondservant”).  Hierdie diensknegte was vir ʼn termyn van 7-10 jaar in die diens van die “eienaar” en het ʼn volwaardige dagloon ontvang. Die boek Levitikus brei hierop uit en het gereël dat daar elke sewe jaar ‘n vrylating van slawe moet wees, en elke vyftigste jaar selfs ‘n teruggee van alle grond wat om een of ander rede vervreem is.

Uitbuitery en mishandeling van slawe is dus altyd kwaai veroordeel in die Bybel. Geen wonder dat baie van hierdie “slawe” na die termyn besluit het om by die eienaar aan te bly nie.

Waaroor die Bybel dus skrywe, is glad nie dieselfde as die ras-slawerny of mensehandel waarmee ons vandag bekend is nie.

Met dié gedagtes kan ons nou ordentlik kyk na wat Paulus hier vir ons sê.

Vers 18 – Vrouens, wees aan julle mans onderdanig soos dit pas by mense wat in die Here glo.  Let op dat dit van ‘n huweliksverhouding praat nie van ‘n algemene standaard vir alle vroue nie.  Onthou ook dat die woord onderdanig beteken om die ander se belange op die hart te dra, d.w.s. om lief te wees.  In Efesiërs 5 sal Paulus dit nog verder uitlê deur te sê dat alle gelowiges, mans en vrouens, aan mekaar onderdanig moet wees, mekaar se belange sal dien.  Dit is presies wat hy wil hê in ‘n huweliksverhouding ook moet gebeur.

Vers 19 – Mans, julle moet julle vrouens liefhê, moenie die lewe vir hulle bitter maak nie.  Vir die mans lê hy die “belange op die hart dra” uit as ‘n liefde wat ernstig poog om die lewe nie vir hulle bitter te maak nie.

Vers 20 – Kinders, wees in alles aan julle ouers gehoorsaam, want die Here verlang dit van kinders wat in Hom glo.  In die verhouding met ons ouers word kinders aangemoedig om gehoorsaam te wees, want dit is wat die Here Jesus van ons wat in Hom glo verwag.

Vers 21 – Vaders, moenie gedurig by julle kinders fout soek dat hulle moedeloos word nie.  In die verhouding tussen ouers en kinders word pa’s (en natuurlik ook ma’s, gewaarsku teen ‘n foutvinderige gesindheid sodat hulle nie moedeloos word nie.

Vers 22 – Slawe, wees in alles gehoorsaam aan julle eienaars hier op aarde. Moenie net werk om deur hulle raakgesien te word en so in mense se guns te kom nie, maar werk met ’n opregte hart uit eerbied vir die Here.  Paulus sal in die laaste vers van die perikoop op die eienaars in die arbeidsverhouding, maar moedig hier gelowige slawe aan om ook soos kinders gehoorsaam te wees.  Hy gaan verder dat hulle hulle werk nie moet doen om in mense se guns te kom nie, maar met ‘n opregte hart te werk en daarmee hulle eerbied vir die Here te wys.

Vers 23-24 – Vir ons almal: Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here as beloning sal kry wat Hy belowe het. Christus is die Here in wie se diens julle staan.  En dan gee Paulus ‘n gerusstelling waar dinge nie uitwerk soos jy dit beplan het nie, waar jou goedhartigheid en hardwerkendheid nie beloon word soos jy dit verwag nie.  Die Here sal onpartydig oordeel oor alle verhoudinge.  Daarvan kan ons seker wees.

Vers 25 – Vir ons almal: Wie onreg doen, sal gestraf word oor die onreg wat hy gedoen het; die Here trek niemand voor nie.  Hy sien alles en Hy sal alles regstel.

Hoofstuk 4 vers 1 – Eienaars, behandel julle slawe reg en billik in die wete dat julle ook onder iemand staan, onder die Here in die hemel.  Eienaars staan ook onder gesag, die gesag van die Here.  Hulle moet ander dus hanteer soos die Here hulle hanteer, vol barmhartigheid en genade.

Die opdrag tot onderdanigheid, liefhê, gehoorsaamheid, die vermyding van foutvinderigheid, opregtheid, en reg en billikheid moet dus op ‘n positiewe wyse  aangegryp word om daardeur die karakter van God aan ander ten toon te stel.  Dit sal ons almal motiveer en aanmoedig om te leef as nuwe mense.

‘n Laaste gedagte.  Ons moet versigtig wees om die opdrag aan bv. die vroue, kinders en slawe as ‘n billike en regverdige verwagting van die mans, ouers en eienaars te verstaan wat eenvoudig toegepas kan word, sonder dat daar van mans, ouers, eienaars ensomeer dieselfde verwagting is nie.  Dit sou tot erge misbruik aanleiding kon gee as ons hierdie etiese voorskrifte onafhanklik van ander se opdrag om op soortgelyke wyse lief te hê, genaakbaar te wees, en regverdig en billike op te tree, hanteer word.

Dieselfde geld die opdragte aan die mans, ouers en eienaars.  Die reaksies van mans, ouers en eienaars op liefdelose of onbillike optredes deur vrouens, kinders of slawe kan baie maklik as beskuldigings teen hulle gebruik word, sonder om ag te slaan op die wyse waarop vroue, kinders en slawe hulle hanteer.  Dié dinge is bedoel om wedersyds nagekom te word.

     

View all posts in this series

Trackback from your site.

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Nee, Elmarie, jy hoef nie. Ons kan 250 mense akkommodeer. Skryf net in by die deure. Baie welkom.

  • Avatar

    Prof Elmarie Venter

    |

    More Ds Chris. Ons is 3 wat wil bywoon. Moet ons nog bespreek? Groete
    Elmarie

  • Vreesloos 1

    |

    […] Pinkster-reeks se titel vanjaar is “Vreesloos”– oor geloof in ‘n tyd waar ons bang […]

  • 21 Mei 2020

    |

    […] Pinkster-reeks se titel vanjaar is “Vreesloos”– oor geloof in ‘n tyd waar ons bang […]

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Ons het vir baie lank ‘n versorgingskommissie gehad vir leraars en personeellede. Dit was persone in die gemeente wat gereeld op informele wyse met elkeen van ons kontak gemaak het, belanggestel het in wat in ons lewens aangaan, uitgevra het na uitdagings, en vir ons gebid het. Dit was benewens die diensverhoudingekommissie wat meer op die formele dinge gekonsentreer het. Die inperking het ‘n bietjie daaraan verander, maar dit was ‘n baie goeie informele sisteem van versorging.

  • Avatar

    Des Sampson

    |

    Goeie dag. Ek is voorsitter van die DVK op Hartenbos. Wat doen julle mbt die versorging van predikante en kantoor personeel?

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dit was Rethie van Niekerk se preek. Sy het in die preek verwys na die Hebreeuse woorde.

    Die eerste reël (seën) het drie woorde, dan vyf woorde, dan sewe woorde.  15, 20, 25 konsonante (onthou ʾ is ook ‘n konsonant).  11, 13, 16 lettergrepe (ek het weer getel, en dit is die korrekte aantal).

    24 yĕbārekkā yĕhwâh wĕyišmĕrekā
    25 yāʾēr yĕhwâh pānāyw ʾēlêykā wîyḥunekā
    26 yiśāʾ yĕhwâh pānāyw ʾēlêykā wĕyāśēm lĕkā šālôwm

    Hoop dit maak sin.

  • Avatar

    Annemarie vn Zyl

    |

    NUM 6; GOD SE SEEN, Goeiemore
    Ek het vanoggend hierdie Bybelstudie gedoen en dit was wonderlik. Die deel DIE TEKS verstaan ek egter glad nie. ek kry die aantal woorde reg maar glad nie die konsonante en lettergrepe nie. Ek verstaan ook nie die doel van hierdie deel nie, tensy jy wil bewys dat dit menslik amper onmoontlik is om die seen so te skryf, met die spesifieke aantal konsonante en lettergrepe sonder God se ingryping.. ek sal dit waardeer as iemand die deel in kort vir my verduidelik Baie dankie Annemarie van zyl.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie Corrie! Mooi jaar vir jou.

  • Avatar

    Corrie

    |

    Ds. Chris, soos altyd ń opbeurende en positiewe bydra deur U, vir die toepassing deur die kinders van God. Selfs hulle wat Hom nog nie as hul Saligmaker en Verlosser aangeneem het nie, sal baat by diė insetsel. Ek vra dat God se seën op U sal rus.

  • Avatar

    C Joubert

    |

    Inspirerende en besielende boodskappe

  • Avatar

    Sonja Lizemore

    |

    Beste Ds Chris.
    Net n GROOT DANKIE vir die liedere. Dit is baie spesiaal.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Carol, jy is reg, dit is ‘n kosbare insig! Ek het ook onlangs gepreek oor die inwonende Christus, as jy meer wil lees. Baie seën.

  • Avatar

    Carol

    |

    Baie dankie vir die eerste keer in my lewe besef ek nou wat my probleem is. Ek het nog nie vir JESUS in my ontdek nie dis geen wonder dat my verhouding met JESUS nêrens kom nie. Geen ontmoeting geen kennis of wysheid en GEEN GROEI.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Annelize – ons hou dienste in die kerkgebou (Louis Bothasingel 177, Somerstrand) om 09:00 Sondae tegelykertyd met ons Youtube erediens ook om 09:00. Ons het ook ‘n meer informele Youtube erediens – Pulse – wat van 11:00 af op ‘n Sondag beskikbaar is. Ter wille van die personeel se verlof sal ons DV van 27 Desember tot 24 Januarie nie fisiese eredienste in die kerk hê nie, net die Youtube erediens 09:00. Dié dienste word weer hervat van 31 Januarie af sowel as moontlik ‘n aanddiens om 18:30. As jy hier is, maak ‘n afspraak dat ons jou kan verwelkom. My sel is “nul agt twee 5749191”. Groete, Chris van Wyk.

  • Avatar

    Annelize

    |

    Helo ek trek end November PE toe v Grahamstad.
    Hoe werk kerkdienste by julle. Weens Covid. Is daar dienste of is Alles online.
    Baie dankie
    Annelize Brisley