Jeremia 1:4-10 – geken, gevorm, geheilig en aangestel

Horace Vernet, Jeremiah on the ruins of Jerusalem (1844)

Horace Vernet, Jeremiah on the ruins of Jerusalem (1844)

Die roeping van Jeremia

Ek wil vandag gesels oor roeping.  En ek wil Jeremia as lens gebruik dat jy oor jou eie roeping as kind van die Here kan dink.  Want, ek is oortuig, die groei in ‘n mens se geestelike lewe begin by jou bewussyn van roeping.  En ek sal afsluit met ‘n paar gedagtes oor ons roeping as geloofsgemeenskap.

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

Verwelkoming

Hugo en Jakkie Wolmarans

GOD NOOI ONS IN EN ONS KOM TOT RUS

Aanvangswoord

Psalm 103:1-5

Van Dawid.

Ek wil die Here loof, met alles wat in my is, wil ek sy heilige Naam loof.

2Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie.

3Dit is Hy wat al my sonde vergewe,

wat al my siekte genees,

4wat my red van die graf

en my met liefde en ontferming kroon,

5wat my die goeie in oorvloed laat geniet,

my die jeugdige krag van die arend skenk.

Lied 162 U self het ons geroep, Heer, en daarom kom ons saam – sit (orrel) – koor is voorsangers

Seëngroet

Matt 11:28-30

28Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30My juk is sag en my las is lig.”

Lofsang

Vonkk 85 Here, ons Here, hoe groot is U – sit (orrel) – Gemeente sing keerverse, koor sing Psalmverse (uit Psalm 8)

Lied 209 Heer met my hele hart – staan (orrel)

Flam 117 Loof Hom met die tromme, loof Hom met die harp – staan (groep)

GOD PRAAT EN ONS LUISTER

Skriflesing

Skildery as agtergrond is van Horace Vernet, Jeremiah on the ruins of Jerusalem (1844).

Jeremia 1:4-10

Die profeet Jeremia worstel in sy boek met sy roeping om vernietiging en oordeel oor die volk Juda en hulle leiers aan te kondig.  Sy boodskap is dat die volk God vergeet het en geweier het om Hom te erken.  Hulle is so nutteloos in die verhouding met God soos ‘n verslete gordel om Sy lyf.  Daarom is die Here hulle nie meer goedgesind nie en het Hy geen medelye meer met hulle nie.  En al breek dit Jeremia se hart, verkondig hy dat soos ‘n kleipot gebreek word, sal die Here hierdie volk en hierdie stad breek.  Die ballingskap in Babel is hulle straf.  Die Here gaan hulle nie spaar nie en hulle deur hulle vyande laat wegvoer.

Ironies genoeg is die ballingskap egter ook hulle redding.  As deel van Jeremia se roeping om ook op te bou en te vestig, beskryf hy daarom die weggevoerde ballinge as ‘n mandjie goeie vye en in ‘n brief verkondig hy die Here se goeie guns aan hulle:

Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting.  Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid, en Ek sal julle gebede verhoor.” (29:11-12).

Dit is in ‘n neutedop wat Jeremia se roeping behels het.  Hieraan was hy getrou en gehoorsaam.  Vandat hy ‘n jong tienerseun was tot met sy dood as ou man in Egipte.

4Die woord van die Here het tot my gekom:

5Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel.

6“Ag, Here my God,” het ek geantwoord, “ek kan nie goed praat nie, ek is nog te jonk.”

7Toe sê die Here vir my: Jy moenie sê: “Ek is te jonk” nie.  Jy moet gaan na wie toe Ek jou ook al stuur, en alles wat Ek jou beveel om te sê, moet jy sê.  8Moenie vir hulle bang wees nie, want Ek is by jou, Ek sal jou red.  Dit is wat die Here gesê het.

9Hy het sy hand uitgesteek, my mond aangeraak en vir my gesê: Ek het nou my woorde in jou mond gelê.  10Kyk, Ek stel jou vandag aan oor nasies en oor koninkryke om af te breek en uit te roei, om te vernietig en plat te slaan, te bou en te vestig.

Liedboek 551 Jesus nooi die kindertjies – staan (orrel) – vers 1,3,4 almal saam, koor vers 2

Kinders kom vorentoe

Inleiding

Lofliedjie 6 Laat julle liggies skyn – staan (groep)

Integrasie

Die roeping van Jeremia

Ek wil vandag gesels oor roeping.  En ek wil Jeremia as lens gebruik dat jy oor jou eie roeping as kind van die Here kan dink.  Want, ek is oortuig, die groei in ‘n mens se geestelike lewe begin by jou bewussyn van roeping.  En ek sal afsluit met ‘n paar gedagtes oor ons roeping as geloofsgemeenskap.

Ek wil vyf goed uitlig van die roeping van Jeremia.

1.  Jeremia beskryf sy roepingsgebeure met die frase: “Die woord van die Here het tot my gekom“. Hoewel hy nie uitbrei oor die presiese aard daarvan nie, dui die res van die hoofstuk se beskrywings op ‘n ervaring wat Jeremia met sy sintuie ervaar het.  Ten minste sy ore, mond en sy oë was betrokke, soos ‘n mens uit die roepings-woorde, die aanraking en die roepings-visioene aflei wat later in die hoofstuk beskryf word.

Waarom dit my tref, is dat dit eintlik die normale manier beskryf waarop die Here met ons werk.  Daarmee bedoel ek nie dat ons altyd buitengewone ervaring sal hê soos hy nie, maar dat God met ons praat, veral uit sy Woord.  Elke keer as ons erns maak met die Woord van die Here, as ons nadink daaroor, as ons dit ter harte neem, praat die Here met ons.  Dit is wat gebeur as ‘n mens in ‘n verhouding met die Here staan.  Jy kan staatmaak daarop.  Trouens, dit is asof die Woord soos ‘n oop elektriese draad word vir jou.  Jy maak dit net oop en begin om daaroor na te dink, dan hoor jy die Woord van die Here vir jou lewe.

2.  Die roepingsgebeure word as ‘n gesprek tussen God en Jeremia uitgebeeld, soos meermale die geval was met ander ervarings van Bybelfigure wat deur God geroep is — Abraham, (Gen. 12), Moses (Eks. 3), Samuel (1 Sam. 3), Jesaja (Jes. 6), Esegiël (Eseg. 1), Jesus (Matt. 3), die dissipels (Matt. 4), Paulus (Hand. 9) ensomeer. Trouens, dié tipe gesprek teken hulle verhouding met die Here.  Gesprek met God stempel die pad wat hulle met Hom loop.

Ek het net weer dié week die ongelooflike voorreg hiervan besef.  Die Here het verlede week in die erediens met my gepraat oor iets wat vir my voorlê.  Toe ek by die huis kom was daar ‘n e-pos van iemand wat my attent gemaak het op ‘n aspek van dié ding waarvoor ek my voorberei.  En terwyl ek besig is om iets te begin skryf, kom daar ‘n sms wat my herinner aan my roeping voor die Here, en waarmee ek uiteindelik na die Here kon gaan in gebed en sy leiding kon ontvang vir hoe ek die pad moet stap rondom die saak.

En dit het deur die week telkens gebeur vanuit die teks wat ek en Lynette elke oggend lees waarmee ek dan deur die dag met die Here in gesprek bly en telkens weer en meer hoor hoe die Here wil hê dat ek moet leef, waarby ek betrokke moet wees, wat ek moet doen, en soms wat ek nie moet doen nie.

Dit is wat dit beteken om met die Here te wandel. Alles begin by sy stem wat ‘n mens in die Bybel die helderste hoor.  En in jou gehoorsaamheid daaraan praat die Here op verskeie ander maniere en begelei ‘n mens om die roeping wat jy het, te kan uitvoer.

God se Woord is lewend en kragtig.  God se Gees getuig in ons hart om die Woord van die Here lewend vir ons te maak.  Dit is nie anders vir jou nie.  Dit is die deel van elke kind van God.

3.  Die roeping is altyd spesifiek gerig op iets wat die Here wil doen of wil laat gebeur deur jou lewe en deur jou getuienis.

Kyk, ons weet nou mos al dat roeping nie net iets is wat profete en predikante ontvang nie.  Alles wat ons doen, kan immers as ‘n uitvoering van God se roeping van ons as mense en dissipels beskou word.  Dit geld elke kind van God.  En God roep en gebruik mense in gewone beroepe en situasies.

Maar, ’n mens moet tog versigtig wees om te sê dat enige werk outomaties jou roeping is nie. Ons kan eers van roeping praat wanneer ons weet dat die Here se Woord na ons toe gekom het, as Hy met ons in gesprek begin tree het, as Hy ons op spesifieke wyses begin gebruik, en ons met Hom en sy roeping vir ons ‘n pad begin stap.

Dit is wat ons met die Ontdek jou Gawes kursus op die oomblik probeer doen; dat mense die gawes wat die Here vir hulle gegee het, ontdek, sodat hulle ook kan agterkom hoe hulle die Here hulle daarmee wil gebruik en hulle ook hulle “roeping” kan ontdek, uiteraard as hulle nie alreeds in ‘n roeping is nie.  ‘n Genadegawe is ‘n besondere vermoë wat God jou gee om in sy koninkryk vir Hom op ‘n besondere manier te dien.  En ek is regtig bereid om wyer in die gemeente die kursus aan te bied, bv. in kleingroepe.

Roeping het dus met ‘n mandaat van God te doen; iets waarvoor Hy jou roep en waarvoor Hy jou ‘n taak gee. Dit is God wat die inisiatief hierin neem.  En dit is iets wat jy weet.  Iets wat jou lewe rig.  Iets waaraan jy jou verbind.  Iets wat jou net nie los nie, waarom jou hele lewe draai.  Daarvan kan jy seker wees.

Dit sien ons by Jeremia.  God motiveer hom aanvanklik met vier werkwoorde vir sy roeping: geken, gevorm, gewy (geheilig) en aangestel (gegee/gekies).

Let op dat God hom ken nog voor die Here hom skep … ‘n diepsinnige perspektief op die lewe!  God skep Jeremia volgens die prentjie wat Hy van hom het en voer dit deur met sy vorming in die moederskoot en daarbuite vir die roeping wat God vir hom het.

‘n Lewensveranderende gedagte om oor na te dink!

Interessant genoeg word dieselfde woord “aanstel” (gegee/gekies) gebruik vir die beskrywing van Abraham se roeping in Genesis 18:19.  Amos gebruik dit ook met verwysing na die verkiesing van Israel (Amos 3:2):

Ek het hom gekies dat hy sy kinders en sy nageslag kan beveel om op my pad te bly deur te doen wat goed en reg is, sodat Ek vir Abraham kan doen wat Ek hom beloof het.”

Peterson vertaal dit so mooi:

Yes, I’ve settled on him as the one to train his children and future family to observe God’s way of life, live kindly and generously and fairly, so that God can complete in Abraham what he promised him.” (The Message).

Terug by Jeremia.

4.  Jeremia se reaksie daarop is om sy jonkheid as hindernis, as ‘n verskoning, voor te hou. Dit is ook iets wat baie keer gebeur dat ‘n mens terugdeins vir die roeping van die Here. “Ek is ‘n seun,” sê Jeremia, ‘n woord wat beide vir babas en kleiner kinders sowel as vir tieners en jong volwassenes gebruik is.  Hy was dus waarskynlik nog nie in sy twintigerjare nie.  “Ek kan nie goed praat nie,” sê Jeremia, waarmee hy waarskynlik bedoel dat hy nie genoeg “gesag” het om te kan praat nie, eerder as dat hy nie vlot kon praat nie.

Die Here word egter nie daardeur van stryk gebring nie en praat hom moed in, meer nog raak sy mond aan, dié mond waaroor hy bekommerd is.  Dit legitimeer sy woorde as God s’n.  God se gesag sal dus sy woorde stempel.  Dit herinner aan die gloeiende kool vuur waarmee Jesaja se mond aangeraak is toe hy oor sy onrein lippe gekla het (Jes. 6:6).

5.  God is dus ernstig oor sy roeping en laat ons nie los nie. Dit is die ervaring van elkeen wat ‘n roeping van die Here ontvang.  God se roeping is onberoulik.  Jy kan dit nie ignoreer nie.  Jy kan die nie ontwyk nie.

Dit sien ons ook by Jeremia.  Die Here spel die inhoud van Jeremia se roeping uit met ses woorde en twee visioene (later in die hoofstuk).  En dit is presies wat in sy bediening gebeur het.

  • Hy het die oordeel sowel as die seën van die Here verkondig. Die oordeel word met vier woorde uitgedruk: breek, uitroei, vernietig, platslaan.  Die seën (verlossing, redding) word met twee woorde uitgedruk: bou en vestig.  Dit is ook ongeveer die ratio waarin sy profesieë gelewer is, dubbeld soveel profesieë van oordeel as profesieë van hoop.
  • En met die die twee visioene bevestig God dat Hy gaan optree (amandeltak) — God sê letterlik Hy “staan wag” oor sy woorde, om te doen wat Ek gesê het — en dat die oordeel uit die noorde sal kom (kokende pot – die leërs van Assirië en Babilon kom natuurlik van die ooste, maar het telkens uit die noorde ingeval om die tog deur die Transjordanië woestyn oos van Juda te vermy).

Aan hierdie roeping word darem ook ‘n belofte gekoppel dat die Here Jeremia sal staande hou, uitgedruk met drie metafore: ‘n vestingstad, ‘n ysterpilaar, en ‘n bronsmuur.  Die Here sal by hom wees om hom te red en te sorg dat hy nie oorweldig word nie.

God is hier.  Hy roep elkeen van ons tot ‘n lewe saam met Hom.  Hy het vir elkeen van ons ‘n spesifieke roeping.  Dit hou baie keer verband met ons gawes en met ons gemeenskap.  As jy weet wat dit is, verbind jou nou weer daaraan.  As jy nie weet wat dit is nie, vra dat die Here jou sal wys.

Doen dit nou in stilgebed.

Gebed

GOD STUUR ONS OM TE LEEF

Verbintenis

Ek wil ‘n sesde en laaste aspek van roeping op die tafel sit.

6.  Dit is die feit dat ons as geloofsgemeenskap ook ‘n roeping het. Ons as gemeente is saam ook betrokke by dinge wat die Here op ons hart lê. Dinge soos die sendelinge wat ons ondersteun.  Dinge soos die barmhartigheidsprojekte waarby ons betrokke is. Dinge waarvoor ons bid.  Mense wat ons ondersteun.  Ons visie: Luister en Leef.

Maar, dié roeping is nie net vir daar ver nie.  Dit is ook vir hier naby.  Vir die wyse waarop ons saam die Here dien.  Vir die wyse waarop ons na mekaar omsien en mekaar aanmoedig en bemoedig om die pad van die Here te loop en daarin volhard.

Een van die gedeeltes wat ons dié week in ons kleingroepe aandag aan gegee het, was Hebreërs 12.  En ek is regdeur die week aangespreek deur die teks, hoewel Jeremia 1 die primêre teks vir vanoggend was.  En ek is oortuig dat ons as gemeente ons hieraan gesamentlik moet verbind.

Dié teks bevat die waarskuwing aan elkeen van ons om nie die genade wat God vir ons gee, te verontagsaam nie, en daarby toe te sien dat niemand van ons die spoor byster raak op pad na die ewige lewe by God nie.

En dit is nie net my roeping as predikant om uit te voer nie.  Dit is die roeping wat ons gesamentlik as gemeente het en waaraan elkeen van ons onsself moet verbind.

Hebreërs 12:14-17 sê:

14Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ’n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie. 15Sorg dat niemand van die genade van God afvallig word nie. Sorg dat daar nie verbittering soos ’n wortel uitspruit, moeilikheid veroorsaak en baie besmet nie. 16Sorg ook dat niemand sedeloos en goddeloos lewe nie, soos Esau wat vir een maaltyd sy eersgeboortereg verkoop het. 17Julle weet dat hy verwerp is toe hy daarna die seën wou verkry. Daar was vir hom geen moontlikheid om die saak reg te stel nie, al het hy met trane daarna gesoek.

Wat ons moet raaksien in die teks, is dat ‘n mens die oproep nie net in ‘n persoonlike hoedanigheid moet lees nie, d.w.s. dat jy self heilig en onberispelik moet lewe nie.  Nee, ons word geroep om vir mekaar sorg te dra, om te sorg dat niemand van die genade van God afvallig word, niemand sedeloos en goddeloos lewe nie.

Ons geestelike stryd is nie net teen persoonlike sonde nie, al is dit ook hoe werklik.  Ons stryd, sê Hebreërs is teen die mag van die sonde ook in die geloofsgemeenskap.  Die verlossing van Christus moet in alle dele van ons eie lewe sowel as in die lewe van die geloofsgemeenskap as ‘n geheel beleef en geleef word.  Jesus moet voor oë gehou word en Hy moet in die volle konsekwensie van die woord gevolg word.

Ek is besig om Genesis voor te berei vir die Bybelskool en is tans besig met Genesis 4 waarin die stryd tussen broers die stryd teen die sonde is, soos ons dit in die lewe van ‘n Kain wat Abel vermoor het, raaksien.  Dié tipe stryd is van die begin af deel van die geloofskonteks.  Die goddelose in die Psalms is nie mense buite die geloofsgemeenskap nie, maar deel van die liturgie en die erediens in Jerusalem.  Hulle sê die voorskrifte van die Here op en hulle beskou hulleself as deel van die verbond, sê Psalm 50, maar steur hulle nie aan óf God se gebod óf die geloofsgemeenskap se wel en weë nie!

Jesus wys ons daarom deur sy voorbeeld aan die kruis hoe om die sondige optrede van sondaars teen ons te verdra – want dít is ten diepste waarom Hy deur sy eie mense vermoor is – sonder om vir die skande daarvan terug te deins nie, maar om soos Hy, en met die krag wat Hy verleen, teen die sonde weerstand te bied as ’n saak wat letterlik lewe en dood inhou.

Hou Hom voor oë wat so ’n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.” (Hebr. 12:3).

Ons durf dus nie geestelik moeg raak en uitsak in ons weerstand teen die sonde nie.

  • Dit sluit die persoonlike geestelike stryd teen die sonde in, d.w.s. dat ons soos atlete die lam hande en die swak knieë moet versterk (aangehaal uit 35:3: Stilwees en vertroue teen ‘n oormag!), reguit paaie vir onsself moet maak (aangehaal uit Spr. 4:26: Baken jou koers af!) sodat ons op God se pad kan bly en ons gesond kan word in ons eie toewyding (Hebr. 12:13).
  • Maar dit sluit ook die stryd in die geloofsgemeenskap in dat ons die vrede najaag met alle mense in die geloofsgemeenskap – nie soseer subjektief om in vrede met mekaar te lewe nie, soso die kommentare sê, maar eerder objektief dat hulle almal die vrede van Christus kan ervaar en omhels as die evangelie – en terselfdertyd ook heiligheid, want ons weet dat niemand sonder heiligmaking die Here sal sien nie (Hebr. 12:14).  Niemand nie! Dit is slegs die mense wat rein van hart is wat die Here sal sien, het Jesus immers gesê ( 5:8: Jesus fokus op die stryd vir geregtigheid!).
  • Dit sluit dus in dat ons na mekaar sal omsien en sorg dat niemand in die genade van die Here veragter nie (Hebr. 12:15).  Ons almal moet vorder op die pad van heiligmaking en ons het mekaar nodig op daardie pad. Niemand mag argeloos en traakmynieagtig raak in ons toewyding aan die Here nie.  As ons sulke mense nie waarsku nie, sal God hulle bloed van ons hande eis.  Esegiël praat baie spesifiek van die goddelose wat deur ons gewaarsku moet word ( 3; Eseg. 33: God soek bekering nie die dood nie!). Dit is onse mense!
  • Dit sluit in dat ons sorg dat ons nie onderling verbitterd raak oor iets en dit onenigheid en besoedeling bring nie (Hebr. 12:15).  Anders word ons as geloofsgemeenskap besoedel en word ons karakter letterlik verander na ’n gemeenskap waarin die heilige God nie meer tuis sal voel nie.  Die uiteinde daarvan is afvalligheid en goddeloosheid, d.w.s. waar God se bestaan en werk onder ons nie meer as ’n kragtige realiteit ervaar word nie.  Herlewing begin altyd waar ons ons sondigheid voor God besef en tot inkeer kom, persoonlik en as geloofsgemeenskap. En daarvoor moet ons bid en werk.
  • Dit sluit dus in dat ons sedeloosheid (pornos) en goddeloosheid (bebelos – goddeloos of wêreldsgesind) moet vermy, en daadwerklik moet teenstaan.  Dit is in wese soortgelyk aan wat die sinode in Jerusalem besluit het dat alle geloofsgemeenskappe hulleself aan moet hou (Handelinge 15), en deur Jesus in sy brief aan Tiatira herhaal (Openbaring 2).  Vermy losbandigheid en afgodery, die dinge wat julle kan besoedel in julle verhoudinge met mekaar, en díe dinge wat julle afvallig kan maak van God.

Hoekom is dit so belangrik?  

Die diepste rede is dat God gepraat het en dit van ons eis, sê die geestelike leier van die Hebreër gemeente, waarskynlik ‘n huisgemeente in Rome.  Ons kan nie anders as om na God te luister nie, want Hy is ’n verterende vuur, waarsku Hebreërs ons.

God se woorde moet met ontsag en eerbied hanteer word.  Ons gee onsself dus oor óf aan die suiwering van die heiligmaking in dié lewe, óf aan die vuur van vernietiging van die toekomstige bedeling.  Laasgenoemde sal katastrofies wees vir die onsedelikes en afgodsdienaars (Openbaring 21:8).

Geen wonder dat die skrywer net hierna in hoofstuk 13 oor die broederliefde, die huwelik en geldgierigheid praat nie, die drie dinge wat die heiligmaking op ’n menslike vlak die meeste kan beïnvloed nie en net daarna oor aanbidding binne die gemeente, die een ding wat die heiligmaking op ’n geestelike verhoudingsvlak die meeste kan beïnvloed nie.

Ek sluit af met die oproep tot ‘n heilige lewe:

Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil, want ons God is ’n verterende vuur.” (Hebr. 12:28-29).

  • Lees meer wat ek verder oor Hebreërs sê in my Lees, Luister, Leef metodiek by http://bybelskool.com/hebreers/.
  • Jy kan dit ook as ’n eboekaflaai om dit rustig op jou iPad of rekenaar te bestudeer.

Gebed

Dankoffer

Slotsang

Lied 436 Herskep, o Gees, laat leef, o Gees, laat kom u koninkryk met mag – staan (orrel)

Respons

Lied 436:3 se laaste twee reëls: Laat ons uit God se liefde leef, en dankbaar waak en bid en werk – staan (orrel)

     

View all posts in this series

Trackback from your site.

Leave a comment