Wie weet of Hy nie weer voorspoed sal gee nie – Joël

Biddag vir reën Somerstrand 14 Februarie 2018

Verwelkoming

Ek gaan julle in gebed begelei aan die hand van die profesie van Joël. Ek het die bewegings in die boek in ses dele opgedeel. Daar gaan by vier daarvan tyd vir stilgebed wees. Volg net die PowerPoint en my instruksies.

Toetrede

Flam 22 Ek soek na U God, my God en Lied 163 Soos ‘n wildsbok – sing saam of luister net

Votum

O Here, onse God, ons verlang na U.

Ons sug, ons soek na U.

Soos stofdroë aarde verlang na die reën,

so dors ons ook na U. (Nav Vonkk 136)

Seëngroet

Ek groet julle in die Naam van die Vader, die Seun en die Skepper-Gees

1. Die vyand uit die noorde

Die profeet Joël tree waarskynlik in die tyd van Jeremia op. Hulle praat dieselfde taal oor die “vyand uit die noorde” (2:20) wat verwys na bedreiging van die Galdeërs onder Nebukadnesar. Dit is die laat sesde eeu vC.

2. Die effek van die droogte

Joël skilder hierdie bedreiging as ‘n vlaag van vier opeenvolgende sprinkaanplae (1:4) sowel as ‘n uitmergelende droogte (1:20). “Die landerye is vernietig, die grond is uitgedor. Ja, die graan is vernietig, die druiweoes het verdroog” (1:10). “Die wingerdstok het verdor en die vyeboom het verwelk, die granaat, selfs die palm en die appelboom” (1:12).

Dít is ‘n metafoor vir die vyand wat teen die land optrek en hulle sal vernietig.

Aan die een kant is dit werklike sprinkane wat aan die hand van hulle vreeslike vreetlus beskryf word sowel as ‘n werklike droogte. Maar aan die ander kant is dit ook ‘n tekening van die politieke vyand, soos ons in hoofstuk 2 sal sien.

Die verwoesting van sprinkane en die droogte is iets waarmee ons almal kan identifiseer. Laat jou gedagtes ‘n bietjie gaan oor die effek wat dit in die groter Kaapland het. Bring die bedreiging wat dit vir mens en dier en omgewing het voor die Here.

Stilgebed

3. Kom by mekaar en roep saam na die Here

Vir Joël was dit duidelik dat dit alles dui op die “dag van die Here” (1:15; 2:1; 3:14) wat aanbreek. Maar die sprinkane en die droogte was ook tekens daarvan dat die Here nie net oordeel bring nie, maar in die oordeel ‘n hand van verlossing wil uitsteek na almal wat bereid is om hulle voor Hom te verootmoedig.

Die vernietiging word in landbou terme uitgespel, maar dit is ook ‘n metafoor vir die volk se lyding, want dit is “my” wingerd wat verwoes is, “my” vyeboom wat afgebreek, kaalgestroop, en die bas van afgevreet is (1:7).

Dit raak ‘n mens dat selfs in hulle vernietiging die Here hulle egter met Hom identifiseer. Hulle is steeds syne.

Daarom is die oproep soveel dringender: “Trek rouklere aan en treur, priesters … roep ‘n gewyde byeenkoms uit: Laat die oudstes en al die inwoners van die land saamkom in die huis van die Here julle God, en roep om hulp tot die Here” (1:13-14).

Die krisis wat die Here stuur, is gemik daarop dat daar ‘n nuwe eendragtigheid onder die volk gevestig kan word. God gebruik die verwoestende ervarings om die volk tot bekering te roep.

Terwyl die veeboere se vee bulk en blêr, roep Joël direk tot die Here en verklaar dat almal, soos die diere, “wag op uitkoms van U af.

Die Here roep ons op tot bekering deur die verwoestende effek wat ons om ons ervaar. Bring jou eie lewe voor die Here en maak reg wat verkeerd is. Hy vergewe en Hy vernuwe. Bid vir die uitkoms van die Here af.

Stilgebed

4. Kom met julle hele hart terug na My toe

Die Here roep hulle dus op om van harte terug te keer na Hom toe, een van die roerendste bekeringsboodskappe wat ons in die Bybel het. Die volk word tot ‘n vas van die hart opgeroep: “Skeur julle harte en nie julle klere nie, keer terug na die Here julle God; want Hy is genadig en barmhartig, geduldig en vol troue liefde” (2:13).

Die Here fokus in Joël nie soseer op ‘n lys van die volk se sondes nie. Trouens, nêrens in die boek Joël vind ons só ‘n lysie van sondes nie. Dit is asof Joël in ag neem dat die volk eintlik self weet wat fout is. Die omstandighede is benard genoeg dat hulle kennis geneem het dat hier groot fout is, moontlik veral deur die sprinkaanplae.

Die Here wil deur die ontberinge wat hulle ekonomies en polities beleef hulle terugwen vir Homself. Hy fokus dus meer op hoe om dinge reg te maak, as op dié dinge wat die probleem in die eerste plek veroorsaak het. Bekering lê hier dus nie soseer in die toe-eiening van die sondelysie nie, maar in die terugkeer met hulle hele hart na die Here toe.

Let ook op hoe die beskrywing van God ooreenkom met die beloftes wat Moses met die Intog in die land aan die volk oorgedra het: “Wanneer al hierdie dinge, die seën en die straf wat ek (Moses) jou voorgehou het, oor jou kom … en jy terugkom na die Here jou God en Hom gehoorsaam en jy en jou kinders met hart en siel doen wat ek jou vandag beveel het, sal die Here jou God jou omstandighede verander.” (Deut. 30:1-2).

Dit het God reeds op die berg Sinai gesê: “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie.” (Eks. 34:6-7).

Dít is wie God is, selfs in sy oordeel. Hy kan van plan verander en sy straf herroep. Hy kan red, sê Joël, maar nie sonder meer nie. Daar is genade vir dié wat hulle resloos op Hom verlaat. Sy genade troef dus steeds sy oordeel, soos ons nog helderder in die NT sien.

Maar dan, sê Joël: “Kom terug na die Here julle God toe: Hy is genadig en barmhartig …” Hy is bereid om straf te herroep. “Wie weet of Hy nie die straf sal herroep nie; of Hy nie weer voorspoed sal gee nie” (2:13-14) moedig Joël die mense aan.

Stilgebed

 5. Bekering sal die vervulling van God se rykste beloftes oopsluit

In die tweede rondte van Joël se aankondiging met die ramshoring in hoofstuk twee bars die visioen deur dat die verootmoediging van die volk die gewenste uitwerking sal kan hê. Die redding van die Here sal in drie transformasies gesien kan word:

  • die vyand sal verdryf word en hulle land sal herstel word (2:18-20),
  • die volk en die omgewing sal volledig herstel word (2:21-27), en
  • God se Gees sal op alle mense uitgestort word (2:28-32).

Die profeet roep daarom die hele gemeente bymekaar, jonk en oud, “self dié wat nog drink”!, leiers, priesters en volgelinge, om hulle te reinig voor die Here. Die normale gang van die lewe – selfs die uitsonderlike gang daarvan (wittebroodskamer) – moet onderbreek word om die Here te smeek om medelye en om die openbaring dat Hy hulle God is. Niemand is te jonk (suigelinge) of te oud, te belangrik of te onbelangrik, te besig of te ontspanne, om die ontmoeting met die Here te mag mis nie. Die hoop is dat die Here die straf sal herroep, sodat hulle nie ‘n bespotting onder die nasies sal word en wees nie.

Die Here herstel hulle land: ekonomies en polities. Hulle sal weer oorgenoeg hê om van te lewe. Die Here herstel die volk. Hulle sal die Here weer kan dien soos van ouds: “Dan sal julle weet dat Ek in julle midde is, Israel. Ek is die Here julle God en niemand anders nie” (2:27).

Joël roep die volk daarom op, om selfs vóór die uitkoms gekom het, die Here te loof: “Kinders van Sion, juig en wees bly in die Here julle God, want Hy gee vir julle reën as teken van geregtigheid, soos voorheen sal Hy stortbuie en laat reëns vir julle laat uitsak” (2:23).

Die toppunt van die belofte is egter geestelik: “Wanneer dit alles gebeur het, sal Ek my Gees laat kom op al die mense …” Die Here herstel hulle geestelike gemeenskap met Hom.

Die Gees word op jonk en oud, manlik en vroulik en op alle sosiale klasse van die samelewing – “selfs op dié wat nie in aansien is nie”– trouens op alle mense – “Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” – uitgestort, iets wat met Pinksterdag in vervulling gegaan het (Hand 2).

Stilgebed

6. God gee oorvloed vir sy volk in sy blywende reddende teenwoordigheid

In ‘n reeks metafore van oorvloed – volop wyn, oorvloed melk, oorvloed water – word die toekoms van Juda en Jerusalem geteken in hoofstuk drie. “Op daardie dag sal die berge drup van die sap van druiwe, en die heuwels sal vloei van melk, en al die spruite van Juda sal stroom van water” (3:18).

Die feit dat dit “op die berge” en “op die heuwels” en “in al die spruite van Juda” gesien en ervaar sal word, dui op die oorvloed van God se blywende reddende teenwoordigheid.

Die Here herstel dus die verhouding met Hom en vergewe hulle die afvalligheid, en Hy wys dit ook in die tydelike seën van reën.

Gebed

Slotlied

Lied 433:1 Kom Skepper-Gees, kom gee u seën en laat die oes sing in die reën – acapella (x2)

Seën

Mag God se seën oor jou stroom soos sagte reën;

mag sy hand jou uitred en bewaar.

Mag jy sy goedheid elke dag opnuut ervaar;

mag jou lewe uit dankbaarheid Hom loof en eer,

dat die wêreld kan weet dat God regeer.   

Amen (Vonkk 87 n.a.v. Psalm 67)

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.