Skip to main content

Die genade en waarheid van Jesus sluit die lewe oop

Kerssangdiens 24 November NGK Somerstrand 18:30

Kerssangdiens PowerPoint.pdf

Johannes 1:1-18 (Bybel vir Almal)

Die Woord was daar voor alles begin het.  Die Woord was by God en die Woord was self God.  Hy was in die begin by God. God en die Woord het alles gemaak.  God het niks alleen gemaak nie.  Hy en die Woord het alles gemaak.  Die Woord het die lewe gebring, en hierdie lewe was die lig vir die mense.  Hierdie lig skyn in die donker, en die donker kon nie die lig doodmaak nie.  God het ‘n man gestuur, sy naam was Johannes.  Hy het gekom om vir die mense te vertel van die lig, sodat almal wat dit hoor, kon glo.  Johannes was nie self die lig nie, maar hy moes vir die mense kom vertel van die lig.  Die Woord was die ware lig.  Hy moes vir al die mense lig bring.  Hy het klaar begin om na die wêreld te kom.  Die Woord was in die wêreld.  God en die Woord het die wêreld gemaak, maar die mense van die wêreld wou nie die Woord ken nie.

Hy het na sy eie mense toe gekom, maar hulle het Hom nie aanvaar nie.  Party mense het Hom aanvaar en hulle het in Hom geglo.  Hy het vir hulle gesê hulle mag kinders van God wees.  Elke mens het ‘n pa, maar die kinders van God het nóg ‘n pa.  Hulle Vader is God self.  Die Woord het mens geword en Hy het by ons kom woon.  Toe ons die wonderlike dinge sien wat Hy doen, het ons geweet dat Hy God is.  Niemand anders was soos die Woord nie, net Hy het van die Vader gekom.  Hy het vir ons gewys dat God altyd genadig is.  Johannes het vir die mense vertel van die Woord.  Hy het gesê: “Hy is die Een, ek het van Hom gepraat toe ek vir julle gesê het: “ ‘Iemand sal kom nadat ek gekom het.  Maar Hy is belangriker as ek, want Hy was daar lank voor my.’ “

Die Woord is vol genade.  Ons het genade gekry van Hom, baie genade.  Moses het die wette gebring, maar Jesus Christus het die genade gebring wat nooit ophou nie.  Niemand het vir God gesien nie, nog nooit nie.  Maar Jesus Christus het vir ons duidelik kom sê hoe God is.  Niemand anders is soos Jesus nie, Hy is self God en Hy is altyd naby die Vader.

God en die Woord het alles gemaak

Johannes begin sy evangelie nie by Jesus se geboorte nie. Hy begin nie met ’n geslagsregister wat Jesus binne die geskiedenis van die mensdom en die Jode sou plaas nie – anders as Matteus.  Hy begin nie met die verhaal van Johannes die Doper wat in vervulling van die profesieë van Jesaja die wegbereider vir Jesus was nie – anders as Markus. Hy begin nie met ‘n sorgvuldige geskiedenis van die eerste eeu sodat ‘n mens Jesus binne sy eie tyd kan verstaan nie – anders as Lukas.

Nee, Johannes begin by God se tyd, die ewigheid.  Hy begin vóór die geskiedenis.  Vóórdat daar enigiets was. Vóórdat daar selfs iets was soos tyd en ruimte, was die Woord.  En die Woord was by God.  En die Woord was God. Hulle het alles gemaak. God en die Woord.

Hoe weet ons dit? Want Hy het daarmee lewe geskep vir alle mense.

Jesus is die Lig vir die mense

Johannes sê: “Die Woord het die lewe gebring, en hierdie lewe was die lig vir die mense.  Hierdie lig skyn in die donker, en die donker kon nie die lig doodmaak nie.”

Hierdie Woord van God – Jesus self, sowel as hoe Hy Homself in die skepping en die Bybel aan ons openbaar – is God se diepste kommunikasie aan ons.  In Hom is lewe, sê Johannes, en dié lewe is die lig vir die mense.  Dit skyn in die duisternis van ons sonde en vyandskap teen God en kan nooit uitgedoof word nie.

Ons is getuies van die Lig

Dit is van dié lig waarvan ons ook getuies geraak het, soos Johannes die Doper dit eerste gedoen het.  “Hy het gekom om vir die mense te vertel van die lig, sodat almal wat dit hoor, kon glo.” Soos hy, raak ons self woorde van God, in die kleine, soos ons van Sy Woord getuig en betroubare vertolkers word van die boodskap van God.

Getuie wees is nie vanselfsprekend nie

Maar, getuie wees is nie vanselfsprekend nie.  Dit hang af van jou reaksie op die boodskap van Jesus.  Die realiteit is dat die Jode in die breë dié boodskap van Jesus as die Woord van God, as die lig wat skyn in die duisternis van die sonde, verwerp het.  Sy eie mense, die Jode, het Hom nie aangeneem nie.

Die konflik tussen dié wat God se Woord ontvang en dié wat dit nie ontvang nie, is steeds die ongemaklike waarheid van die begin af.  Dié wat Jesus nie aangeneem het nie, is in stryd met dié wat Hom aangeneem het, selfs soms in die kerk.  En die stryd in die kerk sentreer soos dit maar altyd was en is, om die Woord van God, beide die mensgeworde Woord van God – Jesus – en die geskrewe Woord van God – die Bybel.

Wat is jou reaksie op die Jesus van Kersfees? Is Hy vir jou ‘n werklikheid?  Het jy Hom al aangeneem as jou persoonlike Verlosser, Messias, Here?  Leef jy in ‘n persoonlike verhouding met Hom waarin elke woord van die Bybel ‘n manier word waarop Hy met jou praat en Hy jou begelei?  Is die Woord van God ook die lig in jou lewe?

Die genade en waarheid van Jesus sluit die lewe oop

Die wonder van Kersfees is dat jy vandag opnuut of vir die eerste keer die keuse kan maak om Jesus as jou persoonlike Verlosser, Messias, Here aan te neem.  Hy kom in sy genade na jou toe en stel jou bloot aan die waarheid oor Hom.  Hy is vóór alles.  Hy het alles gemaak.  As jy Hom in jou lewe innooi, sal sy genade en sy waarheid vir jou die lewe oopsluit.

In Jesus is daar lig en lewe.  In Jesus is daar ’n verhouding met God te vinde.  Nêrens anders nie.  Wanneer ons vandag, op Kersdag, voor die Kindjie in die krip buig, buig ons voor die hoë God wat onder ons kom woon het, die Koning van die kosmos. Ons buig voor die lewegewende Woord waardeur alles geskep is, steeds onderhou word, en eenmaal voltooi sal word.

Dan sal jy ook saam met my op die eerste vraag van die jong middel-twintigjarige skrywers Ursinus (28) en Olevianus (26) in die Heidelbergse Kategismus kan bely: “Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort.

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.