Skip to main content

Bly wag op die Vader se belofte – Hemelvaart 2018

A typical rural Karoo scene in South Africa – a water pumping windmill with a leaking dam. Monochrome

In drie jaar se bediening het Jesus nooit een keer die woord “wag” gebruik nie. Nie een keer nie. Elkeen wat na Hom toe gekom het, is onmiddellik gehelp. Die melaatses. Die blindes. Die verlamdes. Die gebreklikes. Die besetenes. Jesus was die God wat naby gekom het. Hy was Immanuel. God met ons[1].

Daar is wel ‘n gelykenis wat Jesus oor die wederkoms vertel waarin Hy ons waarsku om op die regte manier te “wag” daarvoor (Luk 12). Maar, Jesus sê nooit vir enigiemand tydens sy aardse bediening dat hulle moet wag voor Hy hulle versoeke beantwoord nie. Selfs in sy gesprek met die Siro-Fenisiese vrou oortuig sy Hom met ‘n paar woorde om haar dogter van die bose gees te verlos (Mark 7).[2]

Dit dra die boodskap aan ons almal dat Jesus die tyd van God se genade ingelei het. Dat Hy God se beloftes kom vervul het. Dat in Hom al God se beloftes ja en amen is, soos Paulus ‘n tyd hierna aan die Korintiërs sou skryf (2 Kor 1:20). Dat jy op Hom kan staatmaak om met oorgawe sy beloftes waar te maak.

Daar is egter twee keer, waarvan ek weet, wat Jesus getalm het om iets te doen. Die een keer wat Hy getalm het, was met sy besoek aan die Loofhuttefees (Joh 7) en die tweede keer met Lasarus se siekte (Joh 11). En daar was baie goeie redes daarvoor.

1. Met die Loofhuttefees wou Hy die regte tyd kies om sy lering oor die Heilige Gees te lewer. Nie op die tyd wat sy broers wou hê nie, maar eers op die laaste dag, omdat dit ‘n dag van spesiale betekenis was.

Die Loofhuttefees was die fees wat die sorg van God in die woestyn gevier het. Gedurende die huttefees was daar ’n spesiale ritueel waarin water uit die Siloam poel by die altaar uitgegooi is as teken van die water wat God uit die rots in die woestyn gegee het (Eks 17 – trouens, Paulus verklaar in 1 Kor 10:4 dat die rots Jesus was, maar daaroor ‘n ander dag).

Dat Jesus op die laaste dag van dié fees aankondig dat die Gees uitgestort sal word om die dors van mense na God te les, het daarom ‘n groot impak gemaak, veral omdat die gebrek aan water só ‘n groot rol gespeel het in die woestyn.

Jesus se lering op die laaste dag van die fees (die 8ste dag – Lev 23:36) oor die Gees wat strome lewende water uit gelowiges sal laat vloei (Jes 58:11 – vgl ook Joh 4:10 in Jesus se gesprek met die Samaritaanse vrou), staan dus in direkte verband daarmee.

Soos God toentertyd gewone water gegee het, só gee Jesus geestelike water vir dié wat in Hom glo (Jes 55:1; Open 22:17). En soos Johannes dit verklaar, verwys dit na die Heilige Gees wat God aan elkeen gee wat in Jesus glo.

2. Met Lasarus se siekte wou Jesus Lasarus uit die dood opwek as ‘n teken aan sy dissipels van sy almag, van sy beheer ook van die dood, sodat hulle sou glo dat Hy self inderdaad ook uit die dood uit kan opstaan. Daarom het Hy vier dae gewag voor Hy sy vriende in Betanië gaan besoek het, en toe inderdaad vir Lasarus opgewek uit die dood.

Maar nou is daar hierdie enkele keer, ná sy opstanding, dat Jesus vir sy dissipels die bevel gee om te wag: “Bly wag op die Vader se belofte wat julle van My gehoor het … oor nie baie dae nie sal julle met die Heilige Gees gedoop word.” (Hand 1:5).

Dit maak dit uitsonderlik. En laat ‘n mens wonder wat die rede daarvoor kon wees. Hoekom sal Jesus hierdie een keer vir die dissipels beveel om te wag?

Hoekom moes die dissipels wag?

Soos altyd is die redes in die Bybel vir ons gegee. Ons moet net nougeset lees om dié redes raak te lees. Daar is vier redes waarom Jesus vir hulle aansê om te wag, soos ‘n mens veral uit die lees van dié gedeelte in aansluiting by die OT profesieë raaksien.

1. JERUSALEM:In die eerste plek sou die versoeking vir die dissipels gewees het om Jerusalem te verlaat. Dit was ‘n onveilige plek. Die Joodse Raad het Jesus gekruisig en ‘n valse storie oor sy opstanding versprei.

Maar, die Skrif was baie duidelik daaroor dat Jerusalem die plek sou wees waar die uitstorting van die Gees “van Bo af” sou plaasvind. En Jesus sorg met hierdie bevel dat hulle in Jerusalem bly.

Jesaja profeteer reeds in die 8ste eeu vC dat daar ‘n Messiaanse koning sal kom wat reg sal regeer (Jes 32). En dit sal in Jerusalem gebeur. Mense se oë sal daar oopgemaak word om die waarheid te kan raaksien en daarvolgens te kan begin leef. En al was die situasie in Jerusalem ook hoe benard, in digterlike taal:

So sal dit wees totdat die Gees van Bo af op ons uitgestort word. Dan word die woestyn ’n vrugteboord en word die vrugteboord so dig dat dit vir ’n bos aangesien word.” (Jes 32:15).

Die uitstorting van die Gees moes dus in Jerusalem gebeur. Dit kon op geen ander plek gebeur nie, ten spyte van die teenstand van die Joodse Raad en die vergrype van die Romeinse regstelsel.

Dit is hoe die Here deur Jesaja dit belowe het. Dit is hoe dit in die tyd van die dissipels vervul sou word. Dit is wat die Here Jesus hulle beveel.

2. ALMAL:In die tweede plek was hierdie uitstorting van die Gees nie bedoel vir enkele individue nie. Dit was selfs nie net bedoel vir die dissipels nie. Dit was bedoel vir almal wat die Here se naam sou aanroep. Almal, sonder uitsondering.

Joël het dit twee eeue na Jesaja in die 6de eeu vC geprofeteer: “Wanneer dit alles gebeur het, sal Ek my Gees laat kom op al die mense, julle seuns en julle dogters sal as profete optree, julle oumense sal drome droom, julle jong mans sal visioene sien. In daardie tyd sal Ek my Gees laat kom selfs op dié wat nie in aansien is nie … Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” (Joël 2:28-32).

Die Gees was bedoel vir alle mense. Dit was bedoel vir mans en vrouens. Dit was bedoel vir jongmense en oumense. Dit was bedoel vir slawe en eienaars, armes en rykes. Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sou nie net gered word nie, maar sou die Gees ontvang.

Geen wonder dat Lukas vir ons daarom vertel dat dit nie net die dissipels was wat almal eendragtig volhard het in gebed en smeking nie, maar dat hulle dit saam met ’n aantal vroue en Maria, die moeder van Jesus, en met sy broers gedoen het. ‘n Vervulling van die profesie van Joël.

Jesus se bevel dat hulle in Jerusalem wag, het dit moontlik gemaak. Die plek waar hulle bymekaar gekom het, was heel moontlik die ander Maria, Johannes Markus se ma, se plek. En daarom was daar baie mense wat kon deelneem. Uiteindelik ongeveer 120 mense, sê Handelinge 2 vir ons.

3. PINKSTERFEES:In die derde plek wou Jesus hê dat so baie mense as moontlik die aanvanklike uitstorting van die Heilige Gees sou waarneem en die boodskap daarvan ter harte sou neem.

Daarom gebruik Hy die laaste dag van die fees van die weke wanneer duisende mense in Jerusalem sou wees. Hierdie laaste dag was die vyftigste dag van die fees van die weke, ook genoem die oesfees of die Pinksterfees, wat sewe weke ná die insameling van die oes gehou is (Eks 23; Lev 23; Deut 16). Dit was ‘n feesdag waarop spesiale offers gebring is na die tempel.

Daarom het die Here Jesus geweet dat daar baie mense in Jerusalem saamgetrek sou wees. Ons lees van Jode uit ten minste 15 nasies wat die dag na Petrus-hulle geluister het (Hand 2). En hulle kon die boodskap dus eerstehands, as ooggetuies, versprei in die lande vanwaar hulle gekom het.

Soos onder andere die Ethiopiese minister van finansies dit gedoen het. Ons lees dat hy diep onder die indruk van hierdie gebeure was terwyl hy die boek Jesaja op die pad terug gelees het, op die pad na Gasa. Die Gees het Filippus na hom gebring sodat hy tot bekering kon kom waaruit Afrika se evangelisering gespruit het (Hand 8).

Pinksterdag was ook die dag wat die Jode geassosieer het met die gawe van die wet aan Moses op Sinai, wat daarmee ‘n baie spesiale verband lê tussen die ou bedeling van die wet en die nuwe bedeling van die Gees, soos Paulus uitvoerig hierna sou skryf in een van sy eerste briewe, die brief aan die Galasiërs.

4. VOORBEREIDING:In die vierde plek moes die dissipels voorberei word vir die ontvangs van die Heilige Gees. Nie net moes hulle eie geledere aangevul word nie – Matthias word aangewys as twaalfde dissipel – maar hulle moes ook in gebed op die belofte van die Vader voorberei word.

En daarvoor moes hulle wag, en bid, sodat hulle God se gawe in ontvangs kon neem. Soos Marshall in sy kommentaar op hierdie gedeelte sê: “If the Holy Spirit is the divine gift which empowers and guides the church, the corresponding human attitude towards God is prayer. It is as the church praysthat it receives the Spirit.” (Acts).

Gebed raak daarmee die sentrale geloofsgewoonte van die eerste geloofsgemeenskap. Saam met hulle fokus op die Woord van God – en onthou dit was die OT – bid hulle saam. In die tempel. By hulle huise. En hulle wag op God se belofte, nie net op hierdie belofte van die Heilige Gees nie. Elke belofte van God wat in die Skrif gegee is, word die inhoud van hulle gebede.

En God antwoord hulle gebede, soos Jesus vir hulle belowe het: “As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.” (Joh 15:7).

Tien dae later op Pinksterdag vervul die Vader dan vir hulle hierdie belofte van die Heilige Gees (Hand 2:1-4). En soos hulle voortgegaan het om te volhard in die gebed het die Here meer en meer mense by dié gevoeg wat gered is (Hand 2:42-47). En soos die teenstand teen hulle toegeneem het, het hulle telkens hulle toevlug tot gebed geneem en het die Gees hulle vrymoedigheid laat toeneem om te getuig (Hand 4:23-31).

Hulle het inderdaad die krag ontvang deur die Heilige Gees om Jesus se getuies te wees in Jerusalem, Judea, Samaria en tot aan die eindes van hierdie wêreld toe. Alles, omdat hulle gewag het op die Vader se belofte.

Is hierdie belofte ook op ons van toepassing?

Ja, sê Petrus in sy toespraak ná die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag:

Want die belofte geld vir julle, en ook vir julle kinders, en vir almal daar ver, almal wat die Here ons God na Hom toe roep.” (Hand 2:39).

Hierdie belofte van die Heilige Gees is ook vir ons, trouens vir almal wat antwoord op die roepstem van die Here. Nou nie meer in Jerusalem nie, maar enige plek waar die evangelie aan ons verkondig word.

Hoe word dié belofte vir ons vervul?

Op dieselfde wyse as wat dit vir die eerste hoorders die geval was, deur bekering en vergifnis van sonde waarvan die doop die teken is:

Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gevra: “Wat moet ons doen, broers?” Petrus antwoord hulle: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van julle sondes gedoop word, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.” (Hand 2:37-38).

Ek begin al hoe meer oortuig word dat bekering die groot behoefte in ons tyd is. Ons wil mense troos en omarm en help, en dit is goed so. Maar as hulle, en ons, nie tot bekering kom nie, sal ons die gawe, die belofte van die Here, nie ontvang nie.

Dit is hoe herlewing nog altyd uitgebreek het in die wêreld. Wanneer mense tot ‘n sondebesef kom en hulle tot die Here bekeer. Dit is hoe drieduisend mense op Pinksterdag deel van hierdie herlewing geword het. Dit is hoe die hele NG Kerk in 1860 op die liberale aanslag vanuit Europa gereageer het, toe ‘n 15-jarige jong bruin meisie haar sondes in Worcester bely het, en die gebou geskud het van ‘n rukwind, soos die Heilige Gees vaardig geraak het in die gemeente van Andrew Murray.

En in 1861 het die Pinksterbidure begin in die Paarl na die voorbeeld van ds van der Lingen wat sy gemeente opgeroep het om vir 10 dae te wag op die belofte van die Vader.

Bekering is ononderhandelbaar vir ‘n werk van die Gees. Dit was so op Pinksterdag. Dit is steeds so in enige herlewing regdeur die wêreld.

Wat is die gevolge vir ons lewens?

Wel, dieselfde as wat dit vir die eerste Christene was. Ons word aan God verbind. Ons word verseker van die ewige lewe. Ons sondes word vergewe. Ons begin Hom en Hom alleen dien, soos die Woord dit vir ons onder die leiding van die Gees leer. En God se krag kom in ons aan die werk sodat ons sy getuies sal wees, hier en tot aan die einde van die wêreld.

En dit leer ons dat alle verandering in die lewe kom van daardie eerste gehoorsaamheid aan die opdrag van die Here: om te “bly wag op die Vader se belofte”.

Soos James Orr dit vir my so pragtig opsom: “I will charge my soul to believe and to wait for Him, and will follow His providence, and not go before it, nor stay behind it.

Dit is met dié verwagting wat ons hierdie Pinksterweek ingaan. Dat God se voorsiening vir ons genoeg is, en sal wees. Dat ons sy voorsiening deur sy beloftes sal vertrou. Dat ons sal wag op die beloftes sowel as die vervulling: “and not go before it, nor stay behind it.

Ek het twee jaar terug begin bid dat die Here ons sal seën met ‘n gees van herlewing. Met my reeks oor die Psalms. Ek wag steeds op die vervulling van daardie gebed. Ek wil jou uitnooi om dieselfde te doen.

Watter behoeftes het jy waarvoor God se beloftes voorsiening kan maak?

En ek wil dit doen aan die hand van hierdie bevel van Jesus. Om te bly wag op die Vader se belofte totdat Hy dit sal vervul. In die eerste plek het dit met die vervulling van die Heilige Gees te make – persoonlik en vir ons as gemeente.

Dit is hoe die proses begin ook van die vervulling van al die ander beloftes van God. Soos Paulus skryf: “hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Jesus Christus is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons.” (2 Kor 1:20).

Ek het ‘n belofte van die Here ontvang vir hierdie Pinkster in my stilword op Shama. Dit is ‘n woord uit Paulus se brief aan die Filippense. En ek wil op grond daarvan die Woord van God vir julle met hierdie Pinkster bring: “En my God sal ruimskoots in al julle behoeftes voorsien in ooreenstemming met sy heerlike rykdom in Christus Jesus.” (Fil 4:19).

Praat dus met my. Skryf vir my. Bel my, soos ‘n hele paar van julle al gedoen het. Bring julle behoeftes sodat ons saam na God se beloftes kan soek en daarop kan begin wag totdat Hy dit vervul. Want, dit is wat God belowe. Dit is waarop jy met volharding kan wag. God sal ruimskoots in al julle behoeftes vervul. En die heerlike rykdom in Christus Jesus is sy maatstaf.

Maar, dit alles begin by bekering. Tot Sondag.

[1]Die NAV vertaal wel die “wee julle” in die oorspronklike Grieks met “Ellende wag vir julle”, maar dit het ‘n heel ander betekenis. Ook word “lankmoedig” in die oorspronklike ‘n keer met “wag” vertaal wat ‘n parafrase is.

[2]Weereens is die NAV nie getrou aan die grondteks nie, want in die oorspronklike gebruik Jesus nie die woord “wag” nie. Hy sê doodgewoon: “Laat eers …”.

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.