Skip to main content

Johannes 18:1-19:42 – Goeie Vrydag – Jesus het self sy kruis gedra – 29 Maart

Verwelkoming

Yan Martel se bekende boek “Life of Pi” wat onlangs ook verfilm is, begin met ‘n onverwagse ontmoeting.  Hierdie ontmoeting word uiteindelik die inspirasie vir die boek.

Dit gebeur in ‘n kroeg waar die skrywer ‘n vreemdeling raakloop. Toe dié hoor dat die skrywer sukkel om koers te kry, bied hy hulp aan: “Jy soek na ‘n storie? Ek sal jou een vertel wat jou in God sal laat glo.”

Wat dan volg, is die ongelooflike storie van Pi se bo-menslike ontberinge op die oop see nádat die skip waarop hy en sy familie was, in ‘n storm vergaan het. Soos wat die storie ontvou, kom jy agter dat Pi se stryd en lyding nog véél erger en verskrikliker was as wat die boek of prent probeer uitbeeld.

Jy verstaan mettertyd dat al die diere, en veral die tier wat hom so fel op sy verflenterde vlot bedreig, eintlik maar beelde, ja, metafore is om die eintlike wreedhede en elemente waarteen Pi as ‘n enkele oorlewende moes stry, te help versag.

Dat hy dit kon oorkóm, was vir Pi byna soos ‘n ervaring van genade, ‘n ingryping van Bo. Vandaar sy uitspraak dat dit ‘n mens in God kan laat glo.

Natuurlik sal nie almal hierdie vermoë om lyding te deurstaan – om dit selfs te sien as iets wat jou lewe kan verryk – toeskryf aan God of aan sy genade nie. “Party mense kry dit net beter reg as ander, meeste gaan daaraan onder” – so sal hulle redeneer.

Vir die gelowiges egter was en is die hoop, selfs vreugde in lyding, nog altyd gekoppel aan die wete dat daar inderdaad ‘n God is, en dat hierdie God lyding ken, ons ook daarin kan dra, dit selfs tot iets besonders kan omvorm.

Hierdie wete dat daar eenmaal, soos die musiekgroep, Prophet, so mooi sing, ‘n houtkruis was, ja, “‘n Redder aan ‘n houtkruis vasgenael”, is ons groot troos en bemoediging wanneer die verskrikkinge van die lewe toeslaan.

Hieraan dink ons weer op Goeie Vrydag – Jesus wat self sy kruis gedra het.

N.a.v. Carel Anthonissen (Boodskap vir vandag)

Toetrede lied – 393:1

Lied 393:1            Middelpunt van ons verlange

Aanvangswoord

U het nie skoonheid of prag gehad

dat ons na u sou kyk nie,

nie die voorkoms dat ons

van u sou hou nie.

U was verag en deur die mense

verstoot,

’n man van lyding wat pyn geken

het,

iemand vir wie die mense

die gesig wegdraai.

U was verag,

ons het u nie gereken nie.

4Tog het U óns lyding op Uself

geneem,

óns siektes het U gedra…

(Uit Jes 53)

Seëngroet

Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, 5en van Jesus Christus, die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde.

Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos 6en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader. Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.

(Openbaring 1:4-6)

Epiklese

Here Jesus, vandag word ons weer in verbystering stil voor u liefde: dat U gekom het na die wêreld toe om te sterf. Ons is verbyster daaroor, Here, want dis nie soos ons is nie. Dankie dat U nie soos ons is nie, Here. Dankie dat U Uself gegee het tot in die dood. Dankie dat U ons Verlosser geword het.

Ons aanbid U, Here Jesus, Koning van die kerk en van ons lewe. Wil U tog op hierdie dag opnuut Uself aan ons verbind; wil U ons asseblief deur u Heilige Gees verander dat ons soos U kan word, U kan navolg, onsself kan aflê. Word U tog meer in ons, Here Jesus, sodat dit nie meer ons sal wees wat lewe nie, maar U in ons!

Seun van God wat gekom het om u lewe vir ons af te lê, hoor ons gebed! Skenk ons die visie, o Vader, om soos U na die wêreld te kyk. Om nie die wêreld te sien as ’n probleem nie, maar as mense wat u liefde en u genade nodig het, as mense wat iewers langs die pad die spoor byster geraak het, sodat  U in Christus Jesus hulle weer kom soek het. Vergewe ons dat ons net dié liefhet wat vir ons liefhet, dat ons net vir hulle bid wat naby ons staan, dat ons tevrede is om met ons eie klein kringetjie gelowiges voort te gaan.

O Vader wat nie behae het in die dood van die sondaar nie, maar daarin dat hy hom bekeer en kan lewe, hoor ons gebed!

 En nou, o Gees van God, bid ons dat U in ons sal werk, sodat Christus in ons lewe verheerlik sal word. Bly met ons besig, o Gees, totdat die dag kom waarop elke knie voor Christus sal buig en elke tong sal bely: Jesus is Here!

Dit alles vra ons met die gebed dat U verheerlik sal word in ons.

Amen.

(Communitas, 29 Maart 2002)

Inleiding tot Skriflesings

Johannes 18-21

Hoofstuk 18-20 is die verhaal van:

  1. Jesus se inhegtenisneming  en verhoor,
  2. Jesus se kruisiging,
  3. Jesus se opstanding en
  4. Jesus se verskyning aan sy dissipels.

Hoofstuk 21 sluit die evangelie af met die herstel van Petrus se verhouding met Jesus.

Ons gaan vandag die hele kruisigingsverhaal lees soos Johannes dit in hoofstuk 18-19 vertel en Sondag fokus op die 1ste opstandingsverhaal in hoofstuk 20.  Ons gaan dit voorlees en onderbreek met liedere en tyd vir stilgebed.

Ek wil egter ‘n paar opmerkings maak voor ons lees.  Daarna gaan ons nagmaal vier.

Johannes 18:1–40

Die verhaal van Getsemane tot net voor die kruisiging word in 6 episodes vertel:

  • Jesus word gevange geneem– Joh 18:1-11;
  • Jesus verskyn voor Annas, die vorige hoëpriester – Joh 18:12-14;
  • Petrus verloën Jesus die eerste keer – Joh 18:15-18;
  • Annas ondervra Jesus aangaande sy leer – Joh 18:19-24;
  • Petrus verloën Jesus nog twee keer – Joh 18:25-27;
  • Pilatus verhoor Jesus – Joh 18:28-40.

Let aan die eenkant op na die opeenstapeling van verspilde kanse.  Judas verspeel sy kans op inkeer.  Die Jode verspeel hul kans om hul Koning te vereer.  Pilatus verspeel sy kans om Jesus ’n regverdige verhoor te gee.  Let aan die ander kant op dat daarin is Jesus eintlik besig om sy eie keuses uit te oefen.  Hy gaan nie die verraaier teë nie.  Hy dwing die Jode nie tot verering nie.  Hy dwarsboom nie Pilatus se diplomatieke spel nie.  Hy gee Homself oor aan die onreg omdat Hy die belofte van God het dat hierdie offer die weg tot lewe vir almal wat in Hom glo, sal word.

Jesus kies om die pad van die kruis te stap vir my

Johannes 19:1-42

In vier bedrywe word die kruisigingsverhaal vertel:

  • Pilatus lewer die Seun van God oor om gekruisig te word uit vrees vir die Jode – 19:1-16;
  • Die soldate kruisig Jesus op Golgota terwyl Jesus sy ma uit liefde aan Johannes toevertrou – 19:17-27;
  • Jesus sterwe met sy lewenstaak volbring – 19:28-37;
  • Jesus word begrawe deur twee geheime dissipels, Josef en Nikodemus – 19:38-42.

Ons het baie voorbeelde van helde wat volhard het met hulle opdragte of enduit volgehou het met ’n spesifieke lewenstaak.  Maar daar is niemand wat meer gedoen het as Jesus nie, veral as ’n mens die blote vernedering van menswees vir God, en die afgryslike vernedering van ’n onskuldige kruisdood in ag neem.  God is in sy diepste wese een wat gee, wat verantwoordelikheid neem en vertrou kan word.

Jesus het self sy kruis gedra en uiteindelik gesê: Dit is volbring!

Skriflesing een – Lambert Jacobs

(Foto deur Lawrence OP by flicker.com – Creative Commons License)

Jesus word gevange geneem – Joh. 18:1-11;

18 Nadat Jesus dit gesê het, het Hy met sy dissipels oor Kedronspruit gegaan. Daar was ’n tuin, en Hy en sy dissipels het daar ingegaan. 2Judas, sy verraaier, het ook die plek geken, omdat Jesus en sy dissipels dikwels daar gekom het.

3Judas het toe die afdeling soldate gevat en die wagte in diens van die priesterhoofde en die Fariseërs en hulle het daar aangekom met lanterns en fakkels en wapens. 4Omdat Jesus geweet het van alles wat oor Hom gaan kom, het Hy vorentoe gekom en vir hulle gevra: “Vir wie soek julle?”

5“Jesus van Nasaret,” antwoord hulle Hom.

“Dit is Ek!” sê Hy toe vir hulle.

Judas, sy verraaier, het ook daar by hulle gestaan. 6Toe Jesus dan vir hulle sê: “Dit is Ek!” het hulle teruggedeins en op die grond neergeval.

7Hy vra hulle toe weer: “Vir wie soek julle?”

En hulle sê: “Jesus van Nasaret.”

8Toe sê Jesus: “Ek het vir julle gesê dit is Ek. As julle My soek, laat die mense hier by My dan toe om weg te gaan.”

9So sou vervul word wat Hy voorheen gesê het: “Van dié wat U My gegee het, het Ek niemand verlore laat gaan nie.”

10Simon Petrus het ’n swaard by hom gehad. Hy ruk dit toe uit, slaan daarmee na die slaaf van die hoëpriester en kap sy regteroor af. Die slaaf se naam was Malgus. 11Toe sê Jesus vir Petrus: “Sit die swaard in sy skede terug. Moet Ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie?”

Jesus verskyn voor Annas, die vorige hoëpriester – Joh. 18:12-14;

(Foto van ’n venster in Newcastle Cathedral deur Lawrence OP by flicker.com – Creative Commons License)

12Toe het die afdeling soldate onder die kommandant saam met die wagte in diens van die Joodse Raad vir Jesus gevange geneem en Hom geboei. 13Hulle het Hom eers na Annas toe gebring. Hy was die skoonpa van Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was. 14Dit was Kajafas wat vir die Jode die raad gegee het dat dit tot hulle voordeel is dat een man vir die volk sterwe.

Lied – 391:1

Lied 391:1            Vervul o Heer my hart

Skriflesing twee – Jennie Troskie

 (Foto deur Fergal Mac Eoinin – CC lisensie)

Petrus verloën Jesus die eerste keer – Joh. 18:15-18;

15Simon Petrus en ’n ander dissipel het agter Jesus aangegaan. Daardie ander dissipel was aan die hoëpriester bekend en het saam met Jesus in die hoëpriester se woning 16ingegaan, maar Petrus het buite by die deur bly staan. Toe het daardie ander dissipel wat aan die hoëpriester bekend was, uitgegaan en met die deurwagter gepraat en vir Petrus ingebring. 17Die diensmeisie wat deurwagter was, sê toe vir Petrus: “Jy is tog nie ook een van hierdie man se dissipels nie?”

“Nee, ek is nie!” antwoord hy.

18Die slawe en die wagte het hulle gestaan en warm maak by die vuur wat hulle gemaak het omdat dit koud was. En Petrus het hom ook saam met hulle gestaan en warm maak.

Annas ondervra Jesus aangaande sy leer – Joh. 18:19-24;

19Die hoëpriester het Jesus toe ondervra oor sy dissipels en oor sy leer. 20Jesus het hom geantwoord: “Ek het in die openbaar met die mense gepraat. Ek het hulle altyd in die sinagoges en in die tempel geleer, waar al die Jode bymekaar kom; en Ek het niks in die geheim gesê nie. 21Waarom ondervra u My? Ondervra dié wat gehoor het wat Ek vir hulle gesê het, hulle weet wat Ek gesê het.”

22Toe Jesus dit sê, het een van die wagte wat daarby gestaan het, hom geklap en gesê: “Antwoord jy die hoëpriester so?”

23Jesus sê toe vir hom: “As wat Ek gesê het, verkeerd was, sê dan wat was verkeerd; maar as dit reg was, waarom slaan jy My?”

24Annas het Hom toe geboei na die hoëpriester Kajafas toe gestuur.

Lied    384

Lied 384                Jesus o dink aan my Afr + Eng

Skriflesing drie – Chris van Wyk

Petrus verloën Jesus nog twee keer – Joh. 18:25-27;

25Simon Petrus het hom nog gestaan en warm maak. Die mense by die vuur vra toe vir hom: “Jy is tog nie ook een van sy dissipels nie?”

Hy het dit ontken en gesê: “Nee, ek is nie!”

26Een van die hoëpriester se slawe wat familie was van die een wie se oor Petrus afgekap het, vra toe: “Het ek jou dan nie in die tuin by hom gesien nie?”

27Petrus het dit weer ontken, en net daarna het daar ’n haan gekraai.

Stilte

Geleentheid vir stilte/ stilgebed

Skriflesing vier – Lambert Jacobs

 (From the east window of Wadham College Chapel, Oxford, by Bernard van Linge, c.1622. – Lawrence OP by flickr.com, CC lisensie)

Pilatus verhoor Jesus – Joh. 18:28-40.

28Toe het hulle vir Jesus van Kajafas af na die ampswoning van die goewerneur toe gebring. Dit was die môre vroeg. Hulle het self nie in die ampswoning ingegaan nie, sodat hulle nie onrein sou word nie maar die paasmaaltyd sou kon eet. 29Pilatus het buite na hulle toe uitgegaan en gevra: “Watter aanklag bring julle teen hierdie man in?”

30Hulle het hom geantwoord: “As hy nie ’n misdadiger was nie, sou ons hom nie aan u uitgelewer het nie.”

31Pilatus sê toe vir hulle: “Vat julle hom en veroordeel hom volgens julle wet.”

Maar die Jode sê vir hom: “Ons mag nie iemand teregstel nie.”

32Dit het gebeur sodat die woorde van Jesus vervul kon word wat Hy gesê het toe Hy aangedui het op watter manier Hy sou sterwe.

33Pilatus het toe weer in sy ampswoning ingegaan en Jesus geroep en vir Hom gevra: “Is jý die koning van die Jode?”

34Jesus het hom toe gevra: “Vra u dit uit u eie, of het ander dit vir u van My gesê?”

35“Ek is mos nie ’n Jood nie!” antwoord Pilatus. “Dit is jou volk en jou priesterhoofde wat jou aan my uitgelewer het. Wat het jy gedoen?”

36“My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie,” antwoord Jesus. “As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”

37“Dan is jy tog wel ’n koning?” vra Pilatus.

“Dit is soos u sê: Ek is ’n koning,” antwoord Jesus. “Ek moet oor die waarheid getuienis aflê. Hiervoor is Ek gebore, en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Elkeen wat aan die waarheid behoort, luister na wat Ek sê.”

38“Wat is waarheid?” sê Pilatus toe vir Hom.

En toe hy dit sê, gaan hy weer uit na die Jode toe en sê vir hulle: “Ek vind geen skuld in hom nie. 39Maar julle is gewoond dat ek vir julle gedurende die paasfees iemand loslaat. Wil julle hê ek moet die koning van die Jode vir julle loslaat?”

40Hulle skreeu toe terug: “Nie vir hom nie, maar vir Barabbas!” En Barabbas was ’n rower.

Lied    377:1

Lied 377:1            O Lam van God onskuldig

Skriflesing vyf – Jennie Troskie

 (stained glass detail from the church of Our Lady and the English Martyrs in Cambridge deur Lawrence OP by flicker.com – CC lisensie)

Pilatus lewer die Seun van God oor om gekruisig te word uit vrees vir die Jode – Joh. 19:1-16;

19 Toe het Pilatus vir Jesus geneem en Hom laat gésel. 2Die soldate het ’n doringkroon gevleg en dit op sy kop gesit. Hulle het vir Hom ’n pers mantel aangetrek 3en herhaaldelik nader na Hom toe gekom en gesê: “Ons groet u, Koning van die Jode!” En elke keer het hulle Hom geklap.

4Pilatus het toe weer buitentoe gekom en vir die Jode gesê: “Kyk, ek bring hom vir julle buitentoe, sodat julle kan weet dat ek geen skuld in hom vind nie.”

5Toe het Jesus buitentoe gekom, nog so met die doringkroon op en die pers mantel aan. Pilatus sê toe vir hulle: “Dit is die mens!”

6Toe die priesterhoofde en die wagte Hom sien, skreeu hulle: “Kruisig hom! Kruisig hom!”

“Vat júlle hom en kruisig hom,” sê Pilatus daarop vir hulle, “want ék vind geen skuld in hom nie.”

7Die Jode sê toe vir hom: “Ons het ’n wet, en volgens dié wet moet hy dood, omdat hy hom as die Seun van God voorgedoen het.”

8Toe Pilatus dit hoor, het hy nog banger geword. 9Hy het weer in sy ampswoning ingegaan en vir Jesus gevra: “Waar kom jy vandaan?”

Jesus het hom egter nie geantwoord nie. 10Pilatus sê toe vir Hom: “Praat jy nie met my nie? Weet jy nie dat ek die mag het om jou los te laat en ook die mag om jou te kruisig nie?”

11En Jesus antwoord hom: “U sou geen gesag oor My gehad het as dit nie van Bo aan u gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u uitgelewer het, groter skuld.”

12Hieroor het Pilatus geprobeer om Hom los te laat; maar die Jode het geskreeu: “As u hom loslaat, is u nie ’n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself as koning voordoen, is in verset teen die keiser.”

13Toe Pilatus dit alles hoor, het hy vir Jesus buitentoe gebring en op die regbank gaan sit op die plek wat Klipterras genoem word, in Hebreeus Gabbata. 14Dit was die voorbereiding vir die paasfees, en dit was omtrent twaalfuur die middag. Hy sê toe vir die Jode: “Hier is julle koning!”

15Maar hulle skreeu: “Vat hom weg! Vat hom weg! Kruisig hom!”

Toe vra Pilatus vir hulle: “Moet ek julle koning kruisig?”

Die priesterhoofde antwoord: “Ons het nie ’n koning nie; ons het net die keiser.”

16Toe het hy Hom op hulle versoek oorgelewer om gekruisig te word, en hulle het Jesus weggeneem.

Stilte

Ruim geleentheid vir stilte/ stilgebed

Skriflesing ses – Chris van Wyk

 (foto deur Lawrence OP by flicr.com – CC lisensie)

Die soldate kruisig Jesus op Golgota terwyl Jesus sy ma uit liefde aan Johannes toevertrou – Joh. 19:17-27;

17Jesus het self sy kruis gedra en uitgegaan na Kopbeenplek toe, soos dit genoem is, in Hebreeus Golgota. 18Daar het hulle Hom gekruisig en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel.

19Pilatus het ook ’n opskrif geskrywe en dit aan die kruis gesit. Daar het geskrywe gestaan: “Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode.” 20Baie van die Jode het hierdie opskrif gelees, omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad was. Die opskrif was in Hebreeus, Latyn en Grieks. 21Die priesterhoofde van die Jode het toe vir Pilatus gesê: “Moenie skrywe: ‘Die Koning van die Jode’ nie, maar skrywe: Hy het gesê: Ek is die Koning van die Jode.”

22Pilatus het vir hulle gesê: “Wat ek geskrywe het, het ek geskrywe.”

23Toe die soldate Jesus dan gekruisig het, het hulle sy boklere gevat en dit in vier dele verdeel, vir elke soldaat ’n deel. Hulle het ook sy onderkleed gevat. Dit was sonder naat van bo af in een stuk geweef. 24Hulle sê toe vir mekaar: “Ons moet dit nie skeur nie. Kom ons loot wie dit moet kry.”

Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word waar dit sê:

“Hulle het my klere

onder mekaar verdeel,

en vir my kleed het hulle geloot.” q

Dit is wat die soldate gedoen het.

25By die kruis van Jesus het ook nog sy moeder en sy moeder se suster en Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan. 26Toe Jesus sy moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief was, wat by haar staan, sê Hy vir haar: “Daar is u seun.”

27Daarna sê Hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.”

Van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem.

Lied    387:1

Lied 387:1            O Heer uit bloed en wonde

Skriflesing sewe – Lambert Jacobs

 (Foto:  stained glass detail by Kempe from Little St Mary’s church in Cambridge deur Lawrence OP by flickr.com – CC lisensie)

Jesus sterwe met sy lewenstaak volbring – Joh. 19:28-37;

28Hierna het Jesus, met die wete dat alles klaar volbring is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.” r

29Daar het ’n kan vol suur wyn gestaan. Die soldate het toe ’n spons vol suur wyn op ’n hisoptakkie gesit en dit teen sy mond gehou. 30Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!”

Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas.

31Dit was Vrydag, en die Jode wou nie hê dat die liggame op die sabbatdag aan die kruis moes bly nie, want daardie sabbatdag was ’n groot dag. Daarom het hulle vir Pilatus gevra dat die mense wat gekruisig is, se bene gebreek en die liggame weggevat moes word. 32Toe het die soldate gekom en die bene van die eerste een gebreek en ook dié van die tweede een wat saam met Jesus gekruisig is. 33Toe hulle egter by Jesus kom en sien dat Hy al klaar dood is, het hulle nie sy bene gebreek nie. 34Maar een van die soldate het met ’n spies in sy sy gesteek, en daar het dadelik bloed en water uitgekom.

35Hy wat dit gesien het, lê daarvan getuienis af, en sy getuienis is waar. Hy weet dat hy die waarheid praat, sodat julle ook kan glo. 36Dit het gebeur sodat die Skrif vervul kan word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.” s37En verder sê die Skrif op ’n ander plek: “Hulle sal Hom sien vir wie hulle deurboor het.” t

Stilte

Tyd vir stilte/ oordenking

Lied    395:1-3

Lied 395:1-3        My Verlosser aan die kruis

Skriflesing agt – Jennie Troskie

 (Foto:  window in Witney parish church, Oxfordshire deur Lawrence OP, CC lisensie)

Jesus word begrawe deur twee geheime dissipels, Josef en Nikodemus – Joh. 19:38-42.

38Hierna het Josef van Arimatea, wat ’n dissipel van Jesus was maar in die geheim, omdat hy vir die Jode bang was, vir Pilatus gevra of hy die liggaam van Jesus mag neem. Pilatus het sy toestemming gegee. Josef het toe gegaan en sy liggaam weggeneem. 39Nikodemus, wat ’n keer in die nag na Jesus toe gekom het, het ook gekom en ’n mengsel van omtrent vyftig liter mirre en aalwyn gebring. 40Hulle het die liggaam van Jesus geneem en dit met die geurolie behandel en in doeke toegedraai, soos dit die gebruik van die Jode was om iemand vir die begrafnis uit te lê.

41By die plek waar Jesus gekruisig is, was daar ’n tuin en in die tuin ’n nuwe graf waarin daar nog niemand begrawe was nie. 42Daar het hulle Jesus begrawe, omdat die sabbatdag vir die Jode al amper aangebreek het en die graf daar naby was.

Gebed

Almagtige en ewige God

U het ons deur die triomfantelike dood en

opstanding van Christus

tot die lewe herstel:

gaan voort met hierdie genesende werk in ons

en gee dat ons wat in hierdie bediening deel

nooit ophou om U met toewyding te dien nie;

ons vra dit deur Christus onse Here. Amen.

(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2012-13)

Apostoliese Geloofsbelydenis

Ek glo in God die Vader, die Almagtige,

die Skepper van die hemel en die aarde.

En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;

wat ontvang is van die Heilige Gees,

gebore is uit die maagd Maria;

wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is,

gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;

wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;

wat opgevaar het na die hemel

en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,

van waar Hy sal kom om te oordeel

dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.

Ek glo in die Heilige Gees.

Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,

die gemeenskap van die heiliges;

die vergewing van sondes;

die opstanding van die vlees

en ’n ewige lewe.

Lied    400:1-5

Lied 400:1,4,5     Juig, juig in Hom

Nagmaal

Dankoffers

Slotlied 385:1-2

Lied        385         Loof die Here, dis volbring 1,2

Seën

Here,

stort u oorvloedige seën oor u mense uit

wat met toewyding die dood van u Seun herdenk het

in die vaste hoop van die opstanding:

skenk hulle vergifnis, en troos hulle:

mag hulle geloof sterker word

en hulle ewige verlossing verseker wees. Amen.

(Uit Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2012-13)

Sonder amen en sonder musiek verlaat ons die kerkgebou.


q Vgl. Ps. 22:19

r Vgl. Ps. 69:22

s Vgl. Ps. 34:21

t Sag. 12:10

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.