Skip to main content

Matteus 2:1-12 – Jesus is Koning van almal en oor die hele lewe – 6 Jan 2013

Verwelkoming

1.  Brand in New Brighton – Verklaring van die burgemeester, ZANOXOLO WAYILE (4 Januarie 2013 op Facebook: (https://www.facebook.com/pages/Nelson-Mandela-Bay-Municipality/113567355326312?fref=ts)

Groot brand op 3 Januarie – 300 shacks afgebrand in die informele buurt Chris Hani in New Brighton.  Kos word tot Maandag twee keer ‘n dag voorsien sowel as tydelike huisvesting.  Mediese hulp en hulp met ID’s ensomeer word gegee.  Hulle werk saam met Gift of the Givers en wil graag 100 skuilings bou.  Mens kan hulle ondersteun deur nie-bederfbare voedsel te gee soos blikkieskos.  Gee dit af by die Brandweer in Walmer Boulevard tydens kantoorure.

2.  Die Storie – Om die jaartema Geseën om te seën tot sy reg te laat kom, fokus ons in die eredienste gedurende die skoolkwartale op die oorhoofse aaneenlopende verhaal van God en sy mense in die Bybel. Ons gebruik as vertrekpunt hiervoor die inhoud van die boek Die Storie.  Hierdie boek van Max Lucado en Randy Frazee gebruik die Nuwe Lewende Vertaling as Bybelteks en vertel die aaneenlopende verhaal van die Bybel in 31 hoofstukke.  Die voordeel hiervan is dat die werklike teks van die Bybel gebruik word, en mense in ‘n jaar nie net die verhalende gedeeltes van die Bybel deurlees nie, maar ook ‘n globale prentjie van God se verhaal met sy mense sal kry.

Die boek is in Afrikaans beskikbaar in verskillende uitgawes vir volwassenes, tieners, jonger kinders, en selfs vir voorskoolse kinders.  Daar is ook baie ander hulpmiddels beskikbaar, soos DVD’s.  Kyk gerus hier na meer inligting: http://www.cumuitgewers.co.za/contentpage/die_storie/inleiding/ .  Ons sal dit teen afslag te koop aanbied.  Ons sal ook kyk of daar ‘n eboek weergawe beskikbaar word.

Ons wil dus graag hê dat almal in die gemeente saam met ons die Bybel op dié manier deurlees, terwyl ons dan elke Sondag fokus op een van die onderwerpe uit die Bybelgedeeltes wat in die voorafgaande week gelees is.  Daar sal kleingroepmateriaal beskikbaar wees vir Bybelstudiegroepe, gemeenteselle en huisgodsdiens, sodat mense saam met ons die pad met die Bybel kan loop.

Klema gaan ook dieselfde reeks volg.  Ons beplan om elke keer ‘n kwartaal vooruit te beplan om duplisering uit te skakel, en die onderwerpe vir die onderskeie gehore aan te pas.

Die Bybelskool sal daarby aansluit soos en waar dit kan.  Ons lees die eerste kwartaal die 2de Psalmboek (Ps 42-72).  Ek begin bydraes plaas die 23ste Januarie en die eerste byeenkoms is ook dieselfde dag die 23ste Januarie.  Dit duur 6 weke vir die 36 Psalms.

Toetrede

Lied 376 Wyses het u ster gesien –sit

Votum

Kom, gemeente van Somerstrand, laat skyn jou lig! Vir jou het die lig gekom, die magtige teenwoordigheid van die Here het vir jou lig gebring. Daar is donkerte oor die aarde, duisternis oor die nasies, maar oor jou gee die Here lig, oor jou verskyn sy magtige teenwoordigheid. Nasies kom na jou lig toe en konings na die glans van die nuwe dag wat vir jou aangebreek het. (Jesaja 60:1-3 aangepas)

Seëngroet

Liewe gemeente, genade en vrede van God die Vader wat op die eerste dag gesê het:  “Laat daar lig wees.” Genade en vrede van Jesus die Seun wat as Lig mens op aarde geword het.  En genade en vrede van die Heilige Gees wat ook ons hart en verstand verlig.  Amen.  (Cas Wepener, Soos ‘n blom na die son draai, Bybel-Media 2011)

Lofsang

Lied 367 Ere aan God – staan

Lied 350 In die stad van koning Dawid – sit

Familietyd

Die Bybel sê nie daar was 3 wyse manne nie.  Omdat daar drie geskenke genoem word, het mense nog altyd maar stories vertel van 3 wyse manne.  Daar is selfs legendes wat vir hulle name gee:  Caspar, Melchior en Balthasar.

Maar daar is ook ‘n legende van ‘n vierde wyse man!  Die storie is dat sy naam Artaban was.  Hy was op pad van Persië af om die ander wyse manne te ontmoet.  Sy geskenk was juwele.  Saam met hom het hy 3 kosbare juwele gedra:  ‘n saffier, ‘n robyn en ‘n pêrel

Langs die pad het hy ‘n ou Joodse man ontmoet wat besig was om dood te gaan van koors.  Artaban het besluit om die ou man op te pas totdat hy gesond is.  Só mis Artaban sy ontmoeting met die ander wyse manne.  Artaban het die kosbare saffier verkoop om seker te maak dat die ou man versorg is.  Die ou man het vir hom vertel dat die profete gesê het die Messias sal in Betlehem gebore word.  Daarom, toe die ou man gesond is, het Artaban op sy eie vertrek, op pad na Betlehem. 

In Betlehem aangekom, vertel ‘n jong ma vir hom dat die ander wyse manne reeds weg is en dat die familie wat hy soek, gevlug het.  Terwyl Artaban nog in Betlehem is en wonder wat om te doen, arriveer Herodes se soldate om al die jong seuns dood te maak.  Artaban gee vir ‘n soldaat sy robyn om seker te maak dat die soldaat nie die jong vrou se baba seun doodmaak nie.

Nou het Artaban net ‘n pêrel oor gehad, maar hy het besluit om aan te hou soek vir die Koning.  Uiteindelik, na 30 jaar van soek, kom hy tydens Paasfees in Jerusalem.  Almal was in rep en roer oor ‘n man genaamd Jesus wat beweer het dat hy die Seun van God was.  Artaban het gewonder of hy sy pêrel kan gebruik om die jong man te red.  Hy was nog op pad om te kyk wat hy kan doen, toe hy ‘n jong meisie sien huil.  Sy het hom vertel dat sy huil omdat sy as ‘n slaaf verkoop gaan word om haar pa se skuld te betaal.  Artaban kon dit nie oor sy hart kry nie!  Daarom het hy sy pêrel – sy laaste juweel – gebruik om haar pa se skuld te betaal.

Net toe kom Jesus verby gestap, besig op die kruis te dra, op pad om doodgemaak te word.  Toe Artaban in Jesus se oë kyk, het hy geweet dít is die Koning waarna hy so lank gesoek het.  Hy kon nooit sy drie geskenke vir Jesus gee nie, maar in daardie oomblik het hy geweet:  deur sy geskenke te gebruik om ander te help, hét hy dit vir Jesus gegee.

Gebed

Skriflesing

Ons is nou in daardie gedeelte van die kerklike jaar wat as epifanie (“verskyning”) bekend staan.  Ons aandag word na Advent en Kersfees gefokus op die betekenis van die verskyning van God se genade in Jesus Christus.

Van die vroegste eeue verstaan die Christelike kerk epifanie as ‘n tyd om die identiteit van die Christuskind te onderskei.  Deur te verstaan wie Jesus is, weet ons hoe om wys en reg voor God en met mekaar in God se wêreld te lewe.

Matteus 2

2 Jesus is in Betlehem in Judea gebore tydens die regering van koning Herodes. Na Jesus se geboorte het daar sterrekykers uit die ooste in Jerusalem aangekom 2en gevra: “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.”

3Toe koning Herodes hiervan hoor, was hy, en die hele Jerusalem saam met hom, hewig ontsteld. 4Hy het toe die priesterhoofde en die skrifgeleerdes van die volk bymekaar geroep en hulle uitgevra oor waar die Christus gebore sou word. 5Hulle het hom geantwoord: “In Betlehem in Judea, want so is dit deur ’n profeet geskrywe:

6En jy, Betlehem, gebied van Juda,

jy is beslis nie die kleinste

onder die leiers van Juda nie.

Uit jou sal ’n leier voortkom

wat vir my volk Israel

’n herder sal wees.” (Miga 5:1)

7Daarna het Herodes die sterrekykers in die geheim ontbied en noukeurig by hulle vasgestel wanneer die ster verskyn het. 8Hy het hulle na Betlehem toe gestuur met die woorde: “Gaan doen noukeurig ondersoek na die Kindjie, en as julle Hom kry, laat my weet, sodat ek ook aan Hom hulde kan gaan bewys.”

9Nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek; en kyk, die ster wat hulle sien opkom het, het hulle gelei totdat dit gaan staan het bo die plek waar die Kindjie was. 10Toe hulle die ster sien, was hulle baie bly. 11Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre. 12En omdat God hulle in ’n droom gewaarsku het om nie na Herodes toe terug te gaan nie, het hulle met ’n ander pad na hulle land toe teruggegaan.

Woordverkondiging

Identifiseer met karakters in die verhaal

Hierdie verhaal van Matteus is vir ons baie bekend.  Trouens, ek het dieselfde teks verlede jaar as die nuwejaarsboodskap gebruik. 

Ek het toe veral gefokus op hoe ons reaksies op die Christus-kind ons help om ons self te verstaan, deur ons te help om met verskillende karakters in die verhaal te identifiseer. 

  • ’n Mens kan identifiseer met die magi, die sterrekykers, en soos hulle jou lewe laat draai om hierdie een begeerte om Jesus as die Koningskind te leer ken en Hom te dien.  Want dit is die primêre ding, die hoofsaak, wat jou lewe kan verander.
  • ’n Mens kan ook identifiseer met Herodes en Jerusalem se magsbeheptheid wat ten alle koste teenstand wil uitwis.  Dit kan jou help om te besef dat jy versigtig moet wees vir die donkerte in jou wat hierdie jaar kan kompeteer met die roeping wat die Here vir jou het en wat jou kan laat nee sê vir Hom.
  • Of jy kan identifiseer met die Skrifgeleerdes en priesterhoofde wat al die regte kennis het, selfs die Skrifte reg kan uitlê en weet dat die Christus in Bethlehem gebore moet word, maar nooit gaan kyk nie.  Dit is seker die hartseerste van die drie reaksies.  Jy kan saamloop met ons almal en geniet wat die Here vir ons gee hierdie jaar, selfs vir ander vertel wat gebeur, sonder om ooit self te gaan kyk, betrokke te raak en self te ondervind dat die Here werklik is en ook vir jou en deur jou wonderwerke wil doen.

En dit is steeds vir my ’n wonderlike boodskap, een wat ek sou kon herhaal vanoggend.  Maar, ek gaan nie, want daar is meer in hierdie teks.

Matteus 2 is ’n sleutel om die Christus-Kind self beter te verstaan

Ek wil vandag die teks gebruik as ’n sleutel om die Christus-kind self beter te verstaan, om jou begrip van wat hier gebeur, te verruim, om jou uit te daag om meer raak te sien in die Christus-Kind, om Hom raak te sien as Kind ja, maar meer nog, as Christus-Koning en uiteindelik as Christus-God.  Die implikasies daarvan vir jou lewe is ingrypend.

Want sien, die eintlike verskyning waaroor dit hier gaan, die hart van Epifanie, is die verskyning van Jesus.

So. Wie is hierdie Kind? Wie is hierdie Jesus? Waarom is sy geboorte of verskyning so belangrik? Dit is die vrae wat Matteus, na sy fokus in die vorige perikoop op Josef en Maria, met die verhaal van die sterrekykers en Herodes wil beantwoord.

1.  Jesus is die Koning

Die eerste ding wat Matteus wil hê dat ons van die Christus-Kind sal raaksien in hierdie verhaal, is dat Hy Koning is.  Niks minder as die koningskap van Jesus is die sentrale fokus van hierdie gedeelte.  Reeds in die verhaal van Jesus as pasgebore baba, op sy eerste dag in die wêreld, is dit vir Matteus belangrik om vir ons van Sy koningskap te vertel.

Sy koningskap word deur drie merkers in die teks beklemtoon.

  1. Die eerste merker is dat Jesus in Bethlehem, die koningstad, gebore is (vers 1).  Dit is dié Betlehem waar Dawid vandaan gekom het en wat in die profesie oor die opvolger van Dawid genoem word (vers 1, 6).  Vier keer word in die teks na Betlehem verwys (vers 1, 5, 6, 8). Hier het Dawid se familie gebly. Lukas noem in sy evangelie vir Betlehem “die stad van Dawid” (Luk 2:4).  Jesus is dus in die regte koningstad gebore.
  2. Die tweede merker is die sterrekykers se vraag in vers 2 wat Jesus se koningskap onderstreep: “Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is?  Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.”  En die klimaks van die verhaal is wanneer die sterrekykers voor Jesus, as Koning, buig en geskenke bring (vers 11).  Hulle reaksie en interpretasie van Jesus bevestig dus sy koningskap.
  3. Die derde merker is die ontsteltenis van Herodes en die hele Jerusalem wanneer hulle by die sterrekykers hoor die koning van die Jode is gebore.    

Let op dat Herodes nie die feite bestry nie.  Trouens, dis ironies dat Herodes in vers 4 navraag doen oor die geboorte van “die Christus”. Hiermee word hy die eerste persoon in hierdie evangelie (behalwe Matteus self) wat na Jesus as die Christus verwys.

Maar, Let ook op, dat hoewel Herodes volgens vers 8 verklaar dat hy aan die kind hulde wil betoon, Matteus in die volgende perikoop in vers 13 en 16 ons vertel dat Herodes se eintlike motief was om seker te maak dat hy enige bedreiging van sy posisie as heerser sal kan uitwis. 

Hoekom? Want hy het geweet dat die Christus-koning van die Jode uit die stam Juda sou kom, volgens die Skrifte, en die feite was doodgewoon dat Herodes nie eers ’n ware Jood was nie.  Hy was van Edomitiese (nageslag van Esau) en Arabiese afkoms en is deur die Romeine as Koning aangestel, nie deur die Jode nie.  Sy posisie was dus altyd in die weegskaal en kon net deur geweld in standgehou word.

Gelukkig word sy jakkalsstreke gefnuik deur God wat in ‘n droom met die sterrekykers praat.  Selfs sy gruwelike moord op die jong seuntjies, waarvan die volgende paragraaf vertel, misluk.  Josef vlug met Jesus na Egipte.  Uiteindelik kom Herodes se verset tot niks, maar sy verhaal dien ironies as ’n ekstra stuk getuienis dat Jesus Koning is, spesifiek die Christus-Koning!

2.  Jesus is Koning van alle mense

Die tweede ding wat Matteus wil aantoon is dat Jesus Koning oor alle mense is.  Dit is waarom die sterrekykers se reaksie so belangrik is.  Hulle het Jesus se ster gesien, en gekom om hulde te bewys.  Sonder om die talle vrae oor wie die sterrekykers was en waarom die ster hulle gemotiveer het, te antwoord, vertel Matteus hiermee vir ons dat selfs mense wat nie Jode was nie, kom om hulde aan die koning van die Jode te bewys.  Die kindjie Jesus, word reeds as kind deur die nasies as koning herken, erken en gehuldig. 

Aangesien die geboorte van die koning goeie nuus vir die heidense sterrekykers was, is hulle aanbidding ‘n voorspel van die Here se uitreik na alle nasies.  Jesus se geboorte is goeie nuus vir almal, en roep almal op om Hom aanbiddend as koning te ontvang, en te huldig.  Reeds as kind was dit immers van Hom waar dat mense van ’n ander nie-Joodse land kom om aan Hom hulde te bewys.  Hoeveel te meer dan nie na sy kruisiging, opstanding en hemelvaart nie!

Dit is ’n feit dat geen ander figuur in die geskiedenis van die mensdom ooit soveel kulturele grense tussen mense oorskry het nie en ’n plek gevind het in die hart van soveel diverse kulturele kontekste nie. Om die waarheid te sê, die Christendom groei daagliks met ongeveer 70 000 mense … (Baukham – Jesus: A very short history).  Ons kan dit vandag vier, want van die Amerikas regdeur Europa en Afrika tot in die vêrste punt van Asië kom Jesus aan in mense se lewens, want Hy is inderdaad die Koning van alle mense.

Jesus se koningskap is dus belangrike nuus vir alle mense.  Almal wat oë het om te sien, moet leer om Jesus raak te sien.  Jesus is die koning van al die nasies. Wanneer Matteus uiteindelik sy evangelie sal afsluit met Jesus se opdrag om na al die nasies te gaan, word hierdie feit, wat al by sy geboorte bekend gestel is, finaal bevestig met die woorde van die Groot Opdrag – Gaan dan heen – dat Jesus koning van alle mense is en dat dít ons groot taak is, om hulle van Hom te vertel.

Jesus is Koning oor die hele lewe

Die derde ding wat Matteus wil aantoon is dat hierdie Jesus Koning is oor die hele lewe.

Jesus se koningskap word vir ons hier as ‘n publieke koningskap geteken.  Dit is immers waarvoor Hy gekom het, om die koninkryk van God te vestig.  Alles wat Hy gedoen het, was gesentreer daarom.

Die eerste kant daarvan is dat die nasies van Jesus kennis neem.  Ook Herodes neem kennis.  So ook Jerusalem se mense.  Selfs die priesterhoofde en die Skrifgeleerdes neem kennis. 

Ons moet mekaar oor en oor hieraan herinner.  God se koningskap het met alles en met almal te make.  Dit omvat alles en raak almal.  Dit is ‘n koningskap wat strek oor God se ganse wêreld.  Niks is daarvan uitgesluit nie.  Selfs die natuur en die ekologie is daarby ingesluit.

Die Westerse kultuur se neiging is mos om godsdiens te privatiseer tot ‘n geestelike waarheid of twee in ’n mens se individuele verhouding met God en dit uiteindelik ook meesal heeltemal af te skryf.  Jesus het volgens die Westerse kultuur iets vir my hart en my geestelike lewe te sê, maar niks vir my leefwêreld nie en veral nie vir ander se leefwêrelde nie. 

Maar dit is nie die prentjie wat die evangelie van Jesus se Koningskap skets nie.  Hy is Koning van alles en almal en dit strek oor die hele lewe.  

Die tweede kant van sy koningskap is dat Hy sy volk soos ’n herder sal lei.  Om dit te bevestig, haal Matteus, in sy eie woorde, die profesie uit Miga 5 aan (Miga was die tydgenoot van Jesaja in die 8ste eeu v.C.):

“6En jy, Betlehem, gebied van Juda, jy is beslis nie die kleinste onder die leiers van Juda nie. Uit jou sal ’n leier voortkom wat vir my volk Israel ’n herder sal wees.”

Jesus is die ware herder – soos Johannes later van Hom sou sê, die Goeie Herder – die koning wat sy skape soos ’n herder sal begelei na weiding en waters waar daar rus en vrede is. Trouens, Hebreërs praat ook van Hom as die Groot Herder (13:20) en Petrus van Hom as die Opper-Herder (1 Pet. 5:4).  Jesus se Herderskap is ’n sentrale kenmerk van wat Hy vir ons doen en wil doen.

Die derde kant van sy koningskap is dat Hy geregtigheid en vrede sal bring.  Matteus se hele beskrywing van hierdie besoek uit die Ooste herinner ’n mens aan Psalm 72, een van die Psalms wat ons in die Bybelskool hierdie kwartaal gaan lees.  ’n Mens kan eintlik nie anders as om hierdie verhaal van die sterrekykers te sien as die vervulling van Psalm 72 vers 11 en 15 nie.  Daar staan:

11Mag alle konings voor hom buig en al die nasies hom dien. 15Mag die koning lank lewe, mag daar vir hom goud uit Skeba gebring word

Maar dit is nie al nie.  Die ding wat ons weet Jesus die graagste doen – soos ons in Lukas 4 lees in sy preek in sy tuisdorp Nasaret en regdeur sy bediening geïllustreer sien – is dat Hy geregtigheid en vrede wil bring.  Met sy prediking, met sy lering en met sy genesings is dít wat Hy doen: om dinge te herstel en reg te stel en só rus vir almal en alles op hierdie aarde te bring. 

En dit is presies waaroor Psalm 72 gaan, waar dit nie net verwys na die hulde wat daar vir die Koning van die nasies af gebring sal word nie, maar dit ook duidelik sê dat hierdie koning een sal wees wat met geregtigheid sal regeer en ware vrede sal vestig.

12Hy sal die arme red wat om hulp roep,  die verdrukte en dié wat geen helper het nie; 13hy sal hom oor die swakke en die behoeftige ontferm, die lewens van die arm mense beskerm. 14Hy sal hulle van onderdrukking en geweld bevry; hulle lewens sal kosbaar wees in sy oë.

En dít kan ’n mens reeds by Jesus se geboorte in die verhaal van Matteus raaksien, in die manier waarop hy Jesus en die hulde aan Hom beskrywe.  Jesus is Koning. Hy is ’n publieke koning. Hy het met alles en almal te make en Hy bring geregtigheid en vrede.

Wat sien jy dus raak in die Christus-Kind vir 2013?

Matteus teken vir jou ’n prentjie van Jesus as Koning, ’n Koning vir al die nasies, ’n Koning wat ’n Herder vir jou wil wees en wat geregtigheid en vrede skep en wil skep, omdat Hy Koning oor die hele lewe is.

Dit het ’n impak op elke gedagte wat jy oor hierdie jaar het.  Dit beïnvloed elke ding wat jy hierdie jaar gaan aanpak.  Dit raak die manier waarop jy oor jouself en jou mense gaan dink en hoe jy oor ons land en die wêreld gaan dink.

Ek het die afgelope 6 maande baie dinge ervaar.  Sommige daarvan was baie goed – ek het vir 23 dae geen e-pos gelees nie, dit is ’n rekord!  en baie boeke kon lees in my langverlof, ook ’n paar boeke op die Internet gepubliseer.  Maar, sommige van my ervaringe was baie swaar – persoonlik en ook in my vriendekring en by sommige lidmate met wie ek kontak gehad het in my verlof, sowel as in terme van wat in ons land aan die gang is. 

  • Ek praat van siekte en geweld, van verlies en dood – persoonlik en in my vriendekring. 
  • En ek praat van korrupsie wat so ongelooflik wydverspreid in ons land voorkom, asook van die verskillende perspektiewe wat die verskillende kulture in ons land het wat ons met misverstande laat – ons verskil selfs oor troeteldiere, wil dit my voorkom. 
  • Vir laasgenoemde het ons blootstelling en begrip nodig, vir eersgenoemde het ons verlossing en verandering nodig.

En dit hou natuurlik nie op nie.  Elke dag het sy kwota slegte dinge wat gebeur wat ons moet hanteer.  En só is dit in elkeen van julle se lewe … en daarmee het ek baie deernis, veral omdat ek self deur die meule gegaan het.

Maar, ek het een ding geleer in hierdie 6 maande: God dra ons en ons laste dag vir dag (Ps. 68:20).  En hierdie teksgedeelte van Matteus 2 versterk my geloof dat dit God as Koning en Herder is wat ons dra.  En dat Hy dit doen as die God van die hele wêreld … en Hy oortuig my dat daar niemand uitgesluit is van sy heerskappy nie. Daarmee kan ek werk en daarmee kan ek leef.

En ek wil die getuienis van dié ervaring aangee, vir elkeen van julle wat deur ’n moeilike tyd gaan, ook in die week wat kom.

God se sorg vir ek en my mense in moeilike omstandighede moedig my aan om my hele lewe rondom Hom te wil bou, ek wil meer van Hom leer, veral in die Bybel, maar ook in die praktyk van die lewe en in gebed en ek wil leer om al hoe meer die regte dinge te doen en die dinge waarmee ek nie raad het nie, na Hom toe te neem en in te tree vir dit wat verkeerd is en om vir verlossing en verandering te bid. 

Ek wil dit saam met julle doen.  Hier in die eredienste, in ons bedieninge en in ons kleingroepe.  Want ek is oortuig, Jesus is Koning en dat Hy ons geseën het tot hiertoe met Sy teenwoordigheid en Sy uitkomste, dat dit nie gaan ophou nie – Hy dra ons dag vir dag – en belangrik, dat Hy daarmee bedoel dat ons vir ander tot ’n seën sal wees. 

Totdat die hele aarde erken en bely dat Hy Koning is.

Amen!

Gebed

Dankoffer

Slotsang

Lied 488 Helder skyn u lig vir die nasies verse 1, 3, 4 en 5

Seën

Respons

Lied 488 vers 5 laaste reël:  Laat u ryk, Heer, oral kom

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.