Skip to main content

Psalm 24 – om in God se teenwoordigheid tot rus te kom – 01

7-Psalms-A5-flyerPinkster 1 – 6 Mei 2016

Verwelkoming

Pinkster in die NG Kerk familie

Die 10 dae tussen Hemelvaart en Pinksterdag was nog altyd ’n baie besondere tyd in die NG Kerk familie.  Vir meer as 150 jaar al word die tyd aan Pinksterbidure afgestaan.  Die fokus is op die werk van die Heilige Gees, die nuwe lewe wat Hy bring, en die krag wat Hy gee, veral in gebed, sodat ons by God se werk in die lewe kan aansluit.

Die stimulus daarvoor begin interessant genoeg in ’n North Dutch Reformed kerk in Fulton straat, New York in Amerika, en ironies genoeg in 1857, presies in dieselfde jaar van die gewraakte besluit “ten gevolge van de zwakheid van sommige” wat hier by ons tot aparte kerkvorming gelei het.

Amerika was in ‘n toestand van sosiale, morele, politieke, geestelike en ekonomiese verval. Op 14 Oktober dié jaar het die bankstelsel van die VSA ineengestort. Die spoorweë het bankrot gespeel.  Fabrieke het toegemaak.  Die onrus oor die nagevolge slawerny was aan die oplaai.  Burgeroorlog het gedreig.  Mense was radeloos en sonder hoop. Die toekoms was donker.

Jeremiah Lanphier, ‘n stadsendeling van die gemeente in Fultonstraat, was baie bekommerd oor die impak van die landsituasie op die geestelike toestand van die mense van New York. Hy besluit toe om elke week ‘n middaguur-gebedsbyeenkoms tussen 12:00 en 13:00 te hou. Hy het pamflette laat druk om mense uit te nooi vir die eerste byeenkoms op 23 September 1857.  Dit sou plaasvind in die konsistorie van die kerk in Fultonstraat.

Slegs 6 mense het die eerste week se byeenkoms bygewoon. Die tweede week het die bidders verdriedubbel.  20 mense het kom bid. Die derde week was daar 40. Die vierde week was daar 100. Binne enkele weke was die kerkgebou vol en het mense van toe af daagliks bymekaargekom om tydens middagete te bid. Mettertyd is daar nog en nog gebedsbyeenkomste gereël. By sommige was daar tot 5000 teenwoordig. Voor die einde van 1857 was daar honderde gebedsbyeenkomste in verskillende areas en het dit daagliks gegroei. Dit is beleef as ‘n herlewende werk van God.

Duisende mense het in dié tyd tot bekering gekom. Dit het nie net by New York gebly nie, maar oor die hele Amerika uitgebrei. Die teenwoordigheid van God was só tasbaar dat van die bemanningslede van ‘n skip wat New York se hawe binnegekom het, vertel het dat hulle gevoel het hoe hulle ‘n gebied binnevaar waar daar ‘n Goddelike teenwoordigheid was. Op een van die skepe het ‘n kaptein en 30 bemanningslede blykbaar tot bekering gekom nog voordat die skip in die hawe vasgemeer het.

Gou het dié herlewing uitgebrei na  Brittanje, Duitsland, Indië, Indonesië en Swede. Twee jaar later, in 1860, het die herlewing ook na Suid–Afrika gekom. Dr. Andrew Murray se pa, ds. Andrew Murray van Graaff-Reinet het toe reeds vir 36 jaar lank al elke Vrydagaand vir herlewing gebid. ‘n Boekie met die titel De kracht des Gebeds is destyds versprei en dit het gehelp om ‘n gees van gebed in baie gemeentes te laat posvat.

In April 1860 het die NG Kerk ‘n groot konferensie in Worcester gehou. 374 Predikante en gemeenteleiers het dit bygewoon. Die verhale van die herlewing in die VSA is hier vertel. Op ‘n stadium het dr. Andrew Murray opgestaan om te bid. Ooggetuies sê dit was die begin van ‘n magtige werk van die Here, want daarná het berigte van Bolandse dorpe begin instroom van hoe die Here werk.

Herlewing het ook in Worcester uitgebreek waar dr. Andrew Murray predikant was. Een aand was 60 jongmense bymekaar vir gebed. ‘n Vyftienjarige slawemeisie het opgestaan en net gesê: “O, hoe lief het ek Jesus.” Skielik het almal die geluid van ‘n veraf gedreun gehoor. Dit het nadergekom en die hele gebou het fisies geskud. Almal het gelyktydig begin bid. God se teenwoordigheid het die plek tasbaar gevul. Elkeen was ontsettend bewus van sy/haar sondelas en almal het na die Here geroep.

Niemand het van die predikant notisie geneem toe hy hulle wou stilmaak nie. Almal het gebid en wou net met alle mag van die ondraagbare las van sonde ontslae raak. Oorvol bidure het aand vir aand plaasgevind en dikwels tot in die vroeë oggendure aangehou. Dit was duidelik dat die Here se hand op Worcester was. Die hele gemeenskap het verander.

En so het die herlewing uitgebrei na Calvinia, Swellendam, Heidelberg en uiteindelik ook na Paarl. In die Paarl-Franschoek vallei was daar ‘n magtige beweging van die Heilige Gees. Iemand het gesê daar was kwalik iemand vanaf Franschoek tot Wellington wat nie aangeraak was nie.

Dit was juis in die Paarl Strooidakkerk, waar die gebruik in die NG Kerk om die 10 aande tussen hemelvaartdag en Pinkstersondag, gebedsbyeenkomste te hou, ontstaan het. Want hier het ds G.W.A. van der Lingen die Paarlse gemeente opgeroep tot 10 dae van gebed vóór Pinkstersondag 1861.

Die seën en vrug hiervan was só omvangryk dat dit rimpelings regoor SA gemaak het. Sóveel so dat die NG Kerk sinode in 1867 besluit het om alle gemeentes aan te moedig om elke jaar die 10 dae voor Pinkstersondag in gebedsbyeenkomste bymekaar te kom.

Die res van die verhaal is geskiedenis … soos elke NG Kerk lidmaat in ons vier kerke van kan getuig.

Pinkster 2016 – die krag van gebed

Ek is oortuig dat ons ‘n nuwe ervaring van die krag van gebed hierdie Pinkster gaan hê.  Ons kerk het in die negentiende eeu ‘n ongekende herlewing beleef ná dekades van gebedsvoorbereiding.  Toe die kerk in groot getalle begin bid het, het dit nie net nuwe lewe gebring in gemeentes nie, die genade van God het oor die grense van ons gemeentes ingevloei regdeur die hele kontinent.

Ek was onlangs op Wellington en is net weer blootgestel aan die omvattende visie en geestelike krag wat uit die bediening van Andrew Murray voortgespruit het.  Hierdie gebedsreus het nie net miljoene mense met sy meer as 200 boeke geïnspireer die afgelope twee eeue nie, maar hy het onvermoeid gewerk aan die opheffing van armoede en die  opleiding van vroue.  Sy visie vir sending, gewortel in sy vertroue in die voorsienigheid van God, het gelei daartoe dat meer as 500 sendelinge opgelei en uitgestuur is tydens sy bediening! Sy nalatenskap is dat tientalle kerke in Afrika geplant is, talle skole tot stand gekom het, o.a. Grey Kollege in Bloemfontein, en verskeie kolleges vir onderwys en maatskaplike werk gestig is.  Kragtig!

Ons fokus daarom op gebed hierdie Pinkster 2016.  Dieselfde Here wat Andrew Murray geïnspireer en gestuur het, is ook aan die werk in ons lewens.  Om ons te help, gebruik ek die sewe Psalms wat met die sabbatsweek geassosieer is, die tyd voor die eerste Pinksteruitstorting.  Ek gee dié boekie uit sodat jy dié Psalms kan voorberei deur dit vooraf te lees en oordink aan die hand van die paar opmerkings wat ek daaroor maak.  Daar is ook ‘n kort boodskap wat die essensie van die Psalm saamvat.

GOD NOOI ONS UIT EN ONS KOM TOT RUS

Toetrede

Flam 318 Nader tot die Here – sit (groep)

Votum – Ps. 24:1-2

1 Aan die HERE behoort die aarde en alles daarop,  die wêreld en dié wat daar woon,  2 want Hy het dit op oseane gegrond  en op strome gevestig.

Seëngroet

Lofprysing

Lied 436 Herskep, o Gees, laat leef, o Gees – staan (orrel)

Vonkk 174:1,4 Strome van seën uit die hemel – staan (orrel)

Flam 78 God is goed, Hy lewe! – staan (groep)

Kinderpinkster in Ark

Toewyding – Ps. 24:3-5

3 Wie mag teen die berg van die HERE opgaan  en wie mag in sy heiligdom staan?  4 Die mens met skoon hande en ‘n rein hart  wat nie na nietigheid hunker  en nie sweer by wat vals is nie,  5 sal seën ontvang van die HERE  en geregtigheid van die God wat red.

My ervaring die afgelope jaar en ’n half is dat die Here my vir Homself wil hê, dat ek dinge moet uitsorteer in my eie lewe, sondes waarmee ek my hele lewe lank vrede gemaak het, moet bely en van afstand moet doen.  Dit was ’n moeilike proses en ek is steeds besig daarmee, veral tans om my ongeduld deur die Gees te laat transformeer na geduld.  My skerpheid in reaksies te temper met die goedhartigheid en selfbeheersing van die Gees.  Om op die Here te wag, en nie maar net te reageer vanuit my eie menswees nie, om wel sterk te staan en moed te hou, in die uitvoering van my roeping, maar altyd weer te wag op die Here.

Dit is waar ek is.

Ek dink dit is waar ons as kerk ook moet kom, want ons het weer helder insig nodig in die helder boodskap van die Here dat Hy heilig is, en dat Hy nie sonde kan en nie sal duld nie.  Hy het immers sy Seun aan die kruis laat sterf om ons met Hom te versoen.  Hy begeer dat ons sy aanbod van vergifnis sal aanvaar.  Hy sal so ver gaan met ons as wat nodig is om ons by die punt van skuldbelydenis en vergifnis en ’n nuwe lewe te kry, maar wat Hy nooit sal doen nie, is om sy eis tot ’n heilige lewe te laat vaar nie.

Twee weke terug het Asbury Theological Seminary, met kampusse in Kentucky waar ek onlangs was, en ook in Florida, ’n daglange gebed en vas geleentheid gereël omdat daar ’n kampuswye ervaring was dat die Here begin beweeg het op die kampus en mense tot inkeer gebring het.  En dit is nie ongelowiges nie.  Dit is gelowiges, studente, leraars, dosente, die leiers.

http://timothytennent.com/2016/04/28/reflections-on-the-day-of-prayer/

Timothy Tennent, die president, het besluit om die seminarium vir ’n hele dag lank toe te maak vir vas en gebed, Maandag 25 April.  Dit was baie ontwrigtend.  Almal moes hulle skedules skoonmaak en tyd neem om die Here te soek en Hom die prioriteit te maak in hulle lewens.

Hulle het afgesluit met nagmaal.  En die wonder was, professore en skoonmakers, administratiewe personeel en studente het almal saam gekniel voor die Here dié dag lank.  Hulle was almal sondaars in die teenwoordigheid van God wat sy genade en heerlikheid in Jesus Christus aan hulle openbaar het.

Dit is eintlik al wat ek graag wil hê hierdie Pinkster moet gebeur. Dat ons saam voor die Here kom en in sy teenwoordigheid as sondaars bymekaar kom en sy genade en sy heerlikheid ervaar.

Jesus sê van ons in een van die saligsprekinge in die Bergrede: “Geseënd is die mense wat suiwer van hart is, want hulle sal God sien.”  (Matt. 5:8)

Dit is wat ek vir ons bid – dat ons weer suiwerheid van hart sal ervaar deur die vergifnis van ons sonde en dat ons God sal sien.

Kom ons gee ‘n tyd van stilte en wy ons daarna aan die Here toe.

Vonkk 146:1-2 My gees, my siel, my liggaam wy ek aan U, o Heer – sit (orrel)

GOD PRAAT MET ONS EN ONS LUISTER

Pinkster in Handelinge

Die beweging in Amerika en Suid-Afrika gaan natuurlik ver terug, na die eerste ervaring van Pinkster, soos ons dit in Handelinge 1-2 aantref.

Ons lees in Handelinge 1 dat Jesus in die tyd tussen sy opstanding en sy Hemelvaart baie tyd met die dissipels gespandeer het.  Hy het met vele tekens getoon dat Hy werklik leef.  Hy het oor die sake van die koninkryk van God met hulle gepraat.  Die belangrikste was egter dat Hy deur die Heilige Gees vir hulle opdrag gegee het om nie uit Jerusalem weg te gaan nie, maar te bly wag op die Vader se belofte wat hulle van Hom gehoor het.

Hulle sou oor nie baie dae nie deur die Heilige Gees gedoop word, en krag ontvang om Jesus se getuies te wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria, en tot aan die einde van die aarde.

En dit is presies wat hulle toe gaan doen het.  Toe Jesus met sy Hemelvaart van hulle weggeneem is, het hulle teruggekeer na Jerusalem – ’n Sabbatsreis ver van die Olyfberg af (ongeveer 880 meter, die afstand wat die Jode op die Sabbat mag afgelê het [Jos. 3:4; Num. 35:5]) – en in die bovertrek waar hulle gereeld was, bymekaargekom.

Daar het hulle almal eensgesind in gebed volhard saam met die vroue, waaronder Maria, Jesus se ma, sowel as saam met Jesus se broers.

Benewens een groter verkiesingsvergadering – daar was ongeveer 120 mense bymekaar – waar Mattias in die plek van Judas as apostel (apostels en dissipels word in hierdie hoofstuk uitruilbaar gebruik) gekies is, is die enigste ander aktiwiteit waarvan ons lees, dat hulle eensgesind in gebed volhard het.

Sewe Psalms vir Pinkstertyd

Wat sou die dissipels as gebede gebruik het?

Uiteraard sou hulle waarskynlik gebede gebid het wat die Here Jesus hulle geleer het, bv. die Ons Vader gebed wat Matteus (hfst. 6) en Lukas (hfst. 11) later in hulle evangelies sou opneem en waarskynlik ook spontane gebede, soos Jesus die Samaritaanse vrou geleer het (Joh. 4).

Die moontlikheid is egter sterk dat hulle in dié week tussen Hemelvaart en Pinkster sou aangesluit het by die gebruik van die Fees van die weke of “sabbatsweek” wat in dié tyd gehou is.  Ons lees daarvan in Eks. 34:22, Deut. 16:10,16; Num. 28:26; Lev. 23:15.  Dit is gehou sewe weke ná die Paasfees, wat gelei het daartoe dat die naam van “Pinkster” (die woord beteken “vyftig”) mettertyd aan dié fees gekoppel is.

Een van die voorskrifte vir dié tyd was die lees en bid van sewe “sabbatsweek” Psalms, een vir elke dag van die “Fees van die weke”, deur baie genoem: Shir Shel Yom (“lied vir die dag”).  In die Griekse vertaling van die Psalms in die LXX, die OT Bybel wat die vroeë kerk gebruik het, is daar juis sewe Psalms wat in die opskrifte só aangedui word, en in volgorde vir die “sabbatsweek” of “Fees van die weke” voorgeskryf is.

Dit is die volgende Psalms:

  • Psalm 24 – vir Sondag;
  • Psalm 48 – vir Maandag;
  • Psalm 82 – vir Dinsdag;
  • Psalm 94 – vir Woensdag;
  • Psalm 81 – vir Donderdag;
  • Psalm 93 – vir Vrydag;
  • Psalm 92 – vir Saterdag, die Sabbatdag.

Die kanse is dus goed dat die dissipelkring dié sewe Psalms in dié tyd tussen Hemelvaart en Pinkster gebruik het in hulle gebede.

Dit sal dus goed wees as ons dié Pinkster dié “Sabbatsweek” Psalms as uitgangspunt neem om voor die Here stil te raak en te bid vir vernuwing en vir ’n groter ervaring van die krag van die Heilige Gees, sodat ons meer en meer aan ons roeping om sy getuies te wees, kan beantwoord.

Vir die dieperdelwers is daar ‘n bietjie meer agtergrond oor die Psalms uit die OT in die boekie.

Gebed

Skriflesing – Ps. 24

Dit is ‘n Psalm vir die tot-rus-kom, vir die tuiskoms van die ark, sowel as die viering van God se voortdurende teenwoordigheid by sy volk.

1 Van Dawid. ‘n Psalm.  Aan die HERE behoort die aarde en alles daarop,  die wêreld en dié wat daar woon,  2 want Hy het dit op oseane gegrond  en op strome gevestig.  3 Wie mag teen die berg van die HERE opgaan  en wie mag in sy heiligdom staan?  4 Die mens met skoon hande en ‘n rein hart  wat nie na nietigheid hunker  en nie sweer by wat vals is nie,  5 sal seën ontvang van die HERE  en geregtigheid van die God wat red —  6 dit is die geslag wat na Hom soek,  hulle wat u teenwoordigheid opsoek,  dit is Jakob.

Sela 

7 Lig op julle koppe, poorte (metafoor vir die bokant van die poort),  ja, lig julleself op, ewige ingange,  sodat die roemryke Koning kan ingaan.  8 Wie is hierdie roemryke Koning?  Die HERE, die magtige held,  die HERE, heldhaftig in die stryd.  9 Lig op julle koppe, poorte,  ja, lig julleself op, ewige ingange,  sodat die roemryke Koning kan inkom.  10 Wie is Hy, hierdie roemryke Koning?  Die HERE, Heerser oor alle magte,  Hý is die roemryke Koning.

Sela 

BYBEL DIREKTE VERTALING

Prediking – om in God se teenwoordigheid tot rus te kom

1.  Ons rus begin by die besef van hoe groot ons sonde en ellende voor God is

Ravi Zacharias – The Great Weaver – haal John Wesley aan oor sonde:

Susanna Wesley was a remarkable woman who gave birth to nineteen children. One can only guess the inner strength she must have had to raise John and Charles, two among many others who sat on her knee and learned from her to walk with the Lord. One day, John asked her to define sin. I doubt any theologian could have done better than she did: “Son, whatever weakens your reasoning, impairs the tenderness of your conscience, obscures your sense of God, or takes away your relish for spiritual things; in short, if anything increases the authority and power of the flesh over the Spirit, then that to you becomes sin, however good it is in itself.” That definition became the guiding beacon for John. He carved it into his consciousness. His mother inbred in him his sensitivity to sin.

Dit is altyd die eerste ding wat ons nodig het om voor God te besef.  Hoe groot ons sonde en ellende is – soos die Heidelbergse Kategismus ons ook oortuig in vraag 2 – en dat daar niks tussen ons en God mag kom wat ons bewussyn van God kan wegneem nie.  Ons het ’n sensitiwiteit nodig vir sonde wat groei hoe nader ons aan die Here kom.

Wat ook al jou denke verduister, wat ook al jou gewete besoedel, wat ook al jou bewussyn van God belemmer, wat ook al jou liefde vir geestelike dinge wegneem, dít is sonde.  As iets die gesag en die krag van die vlees verhoog oor die invloed van die Gees in jou lewe, dan is dit sonde, hoe goed dit ook al in sigself kan wees.

Ek moes die afgelope tyd begin om TV met ‘n baie meer onderskeidende oog te kyk.  Dit is net verstommend hoeveel sekstonele daar in flieks en ander reekse is.  En ek kan net nie meer daarna kyk nie, my gewete laat my net nie toe nie. En ek praat nie eers van vreeslike grafiese goed nie.  Ek het die Big Short nou onlangs begin kyk en binne 2 minute dit afgesit, want die Gees het my deur my gewete gelei om dit te doen toe ek met die konteks waarin dié verhaal gaan afspeel, gekonfronteer word.

Niks mag kom tussen ons en die Here nie.  Niks.

3 Wie mag teen die berg van die HERE opgaan en wie mag in sy heiligdom staan?  4 Die mens met skoon hande en ‘n rein hart  wat nie na nietigheid hunker en nie sweer by wat vals is nie.”

Dit is diegene wat seën van die Here sal ontvang.  Dit is dié mense wat deur die Here as gelukkig beskryf word.  Dit is dié mense wat die geregtigheid van God ontvang wat ons red vir sy koninkryk.

En let op – dit beteken nie geluk en seën soos die wêreld daaroor dink nie.  Daar is gister ingebreek by my huis met groot skade.  God se seën vrywaar ‘n mens nie van skade op menslike vlak nie.  Maar, in dit alles is daar God se geestelike seën – in ons geval het dit darem onder andere ingesluit dat ons nie leed aangedoen is nie, dat ons nie vasgebind is soos onlangs met Ansie Fourie gebeur het en met hulle huishulp nie – maar, God se seën is ten spyte van dié tipe uitdagings waarvan baie van julle al erger dinge ervaar het.

Die punt is net, God se teenwoordigheid kom nie sonder dat ons afreken  met die sonde nie.

Soos Paulus vir ons sê in Romeine 8: “12Daarom dan, broers en susters, staan ons onder ’n verpligting, maar nie teenoor ons sondige natuur om daarvolgens te lewe nie. 13As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees ’n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe. 14Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God.

Dit is onvervreembaar deel van die evangelie.  Jy het doodgewoon nie deel aan die teenwoordigheid van God in jou lewe as jy nie besig is deur die Gees om die werke van die vlees in jou lewe dood te maak nie.  Jy kan nie begin praat oor die rus wat God bring, is jy nie sy stem hoor wat jou deur sy Gees wil heilig en reinig van jou sonde nis.

Dit is die eerste deel van die boodskap van Psalm 24 en die eerste belangrike punt wat ons dié Pinkster sal moet besef.  Sonder om jou voete te sit op die pad van heiligmaking, sal jy nie die wonder van God se teenwoordigheid beleef nie.

Geen wonder dat dit daarom die eerste Psalm was wat in die reeks Sabbatspsalms vir die Jode voorgeskryf was.  En die dissipels moes daardie tien dae tussen Hemelvaart en Pinkster ook hierby begin, by die aflê van die sonde, sodat hulle gereed kon wees om die Gees van Pinkster te ontvang.

Die Gees word nie verniet die Heilige Gees genoem nie.  Sy eerste werk in ons hart is om ons lewe te suiwer en dit is natuurlik iets wat nooit ophou nie.  Dit hou regdeur ons geestelike lewe aan.  Maar, jy kan nie vorder op die pad saam met die Gees, sonder dat Hy nie dinge in jou lewe een vir een uitsorteer nie.

2.  Ons rus in die Here bring ons in die seënende teenwoordigheid van die Here

Die Psalm sê nie net vir ons dat die aarde aan die Here behoort en die volheid daarvan nie.

Die Psalm verseker ons dat die Here die mense seën wat in sy teenwoordigheid wil lewe, wat deur die Gees se werking plek in hulle lewe vir Hom maak.  Almal.  Waar hulle ook al mag wees.

Die Psalm verseker ons daarom dat dié God hier is, en dat ons veilig, vertroos en versorg is in sy teenwoordigheid.  Dit is hierdie gedagtes wat jou binnekant tot rus sal bring en vol van die genade van die Here sal  maak.

Dit is dié teenwoordigheid waarvoor ons dié Pinkster gaan bid.  En ek wil almal uitnooi om hiermee erns te maak.  Ek wil nie ‘n appèl maar op jou lojaliteit om die Pinksterdienste by te woon en mense saam te nooi nie.  Ek wil doodgewoon jou uitnooi om saam te bid dat ons die teenwoordigheid van die Here soos nog nooit te vore in ons lewe sal ervaar.

Gebed

Here onse Here

inderdaad behoort alles aan U-

die aarde met alles daarop want U het dit geskep,

die wêreld en almal wat hier woon want U is die alleen eienaar.

U het die fondamente van die aarde gevestig

sodat ons vandag hier mag skuilgaan.

Wanneer ons nou voor U nader om in U teenwoordigheid te wees

is dit met rein hande en suiwer harte,

is dit sonder bedrog of valsheid,

omdat ons deur God vrygespreek is!

Ons weet dat die seëninge in ons lewens slegs uit die hand van die lewende God ontvang word-

ons weet en ervaar dat U geregtigheid bied vir elkeen wat na U vra en U dien.

En daarom, as U vanoggend voor die deur van my hart staan en klop maak ek oop, wawyd oop, dat U deur U Gees verder in my mag woon.

Want U is die magtige koning,

U is sterk en geweldig,

U is oorwinnaar oor die stryd,

U is die Almagtige!

Amen

GOD STUUR ONS OM TE LEEF

Dankoffer

Slotsang

Lied 440 Die Here salf ons met sy Gees tot diens en heiligheid – staan

Seën

Amen

Respons

Vonkk 144:1 Vrede van God – staan

Vanaand – Pinksterdiens 18:30: Ps 48 – om van God se leiding bewus te word – berei voor met die Krag van Gebed boekie wat in die voorportaal beskikbaar is of van die webtuiste afgelaai kan word.

View all posts in this series

Comment

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.