Skip to main content

Psalm 72 – Epifaniefees – Son 3 Januarie 10

Verwelkoming

Ons vier vandag ‘n besonderse fees in die kerk.  Dit is Epifanie, ‘n baie ou fees, wat al vanaf die vierde eeu deur Christene gevier is.

Tog interessant hoe ons vandag geneig is om die tyd voor Kersfees te gebruik om vrolik te wees.  Ons wag Christus se koms feesvierend af, sing Kersliedere en hou Kerssangdienste.  Kom Kersfees, dan deel ons presente uit, gaan kerk toe en eet ‘n lieflike ete saam.  Ons vier God se menswording en onthou ons familie en vriende, mense wat vir ons dierbaar is.  En dis goed so, dat ons Kersfees so vier.

Maar eeue gelede het Christene hierdie tyd anders gevier, en miljoene Christene doen dit nog steeds anders.  Hulle vier die tyd voor Kersfees, die vier weke van Advent, as ‘n tyd van stilte en meditasie, ‘n tyd waarin Christene reflekteer oor hulle lewens en hulle verhouding met God.

Op Oukersaand bars hulle dan uit in feestelikheid – ‘n fees wat 12 dae duur, tot 5 Januarie, met die Epifanie-fees op 6 Januarie.  En daarmee vier hulle God se verskyning op aarde.  Dis immers wat Epifanie beteken:  “Verskyning”.

Votum

Seëngroet

Lofliedere

Lied 342 – O Jesus, ons Heer, U het ons verbly, uit boeie kom U ons bevry.

Lied 353 – Die Heiland is gebore, soos eeue reeds voorspel.  Daar in die stad van Dawid word Hy Immanuel.

Gebed

Skriflesing

Psalm 72

Woordverkondiging

Nuwejaarsvoornemens

2010

Die jaar waarna baie mense uitsien, want dit is Wêreldbekersokkerjaar.

Dit is ook die tyd van die jaar vir Nuwejaarsvoornemens.  Wonder watter voornemens jy gemaak het?

  • Lees van ‘n vrou (Erma Bombeck) wat ‘n paar interessante voornemens deur haar lewe gemaak het:
    • “Ek sal nie na ‘n dokter toe gaan wie se plante in sy kantoor doodgegaan het nie.”
    • “Ek gaan my man se suggestie volg deur vir ‘n bietjie opwinding in ons lewe te sorg. Ek gaan binne ons begroting lewe.”
    • “Ek sal nooit ‘n kar van my leen vir iemand aan wie ek geboorte geskenk het nie.”
Verandering

Nuwejaarsvoornemens is goed – veral as ‘n mens veranderinge wil aanbring.

  • Lees van ‘n ou wat sy meisie bel en toe die boodskap op die antwoordmasjien kry: “Ek is nie nou beskikbaar nie, maar dankie vir jou oproep. Los ‘n boodskap na die toon. Ek maak ‘n paar veranderinge vanjaar. As ek nie terugbel nie, is jy een van die veranderinge.”

Dit bly egter goed om veranderinge aan te bring.  Niemand van ons is immers perfek nie.  En sonder verandering sal daar baie dinge wees wat ons berou of ten minste oor spyt sal wees.

Maar, dit is interessant, die Bybel is altyd minder gefokus op die verlede en die dinge waaroor ons spyt moet wees, as op die toekoms en watter nuwe moontlikhede daar vir kinders van die Here wag. Dit is waarom gebed so ‘n belangrike rol speel in die Bybel, nie om net skuld te bely of boete te doen nie – dit is ook nodig op sy tyd – maar veral om te bid vir verandering en fokus in ‘n mens se lewe.

Fokus

En ons moet dit met absolute doelgerigtheid en passie navolg.  En keer dat enigiets ons van dié fokus wegrokkel.

Ek lees van ‘n baie goeie bloedhond wat een keer in Engeland ‘n groot takbok met pragtig horings, ‘n regte trofee bok, begin jag het.  Op die jag kruis daar toe ‘n jakkals die spoor en jag hy verder die jakkals.  ‘n Haas kruis toe die spoor, en hy verander sy jagtog en hardloop agter die haas aan.  Oplaas kruis daar toe ‘n muis die spoor en toe jaag hy die muis binne ‘n skuur in.

Hy het begin met ‘n grootse doel, die takbok wat ‘n groot trofee vir sy baas sou wees, en geëindig met ‘n muis (Eric Ritz).

Om afhanklik van die Here te lewe

So waarop moet ons in 2010 fokus?

Ek dink as daar een ding is wat ons kan kies, tussen al die ander mooi en lofwaardige voornemens, is dit om afhanklik van die Here te lewe.

Dit is wat ek leer by Dawid in Psalm 72, oor wat regtig belangrik is, en waarop ons ons harte en lewens moet fokus.

Dawid het Psalm 72 geskryf aan die  begin van sy seun Salomo se regering.  Daarmee het hy sy gebed vir Salomo op aangrypende wyse verwoord.

En die heel eerste ding wat hy vra, is dat Salomo volgens God se wil sal reageer.  Dat hy sal weet wat God se wil is, en dat hy dit sal doen (vers 1).

Dit is ook wat Jesus in die Bergrede as vertrekpunt gebruik vir alles wat Hy gaan sê oor die verhouding met God.  “Gelukkig is die mens wat wéét hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel” (Matt 5:9).

Alles wat Dawid verder in die Psalm vra, spruit voort uit hierdie enkele doel, om van God afhanklik te lewe.

  • Let op hoe Dawid bid dat die koning die reg sal handhaaf – soos God dit wil (vers 1-2).
  • En die doel van die beskerming van die reg van die verdruktes is – sodat mense aan God verbind kan bly en Hom sal dien van geslag tot geslag (vers 4-5).
  • En so kan ‘n mens voortgaan: die veronderstelling van elke aksie van die koning en elke stukkie voorspoed wat vir hom toegebid word, is dat dit sal kom vanuit sy lewe in afhanklikheid van God.
Dit beteken om tyd in gebed met God deur te bring

Die vernaamste manier om in afhanklikheid van God te bly, is deur te bid. Dit sluit die kort skietgebedjies, die saambid met ander en die langer tye van alleen worstel met geloofsake in.  Jy kan eintlik op geen manier regtig groei in jou afhanklikheid van God, as jy dit nie doen vanuit ‘n gebedsverhouding nie.

Ons praat baie keer van die belangrikheid van ‘n persoonlike verhouding met God, en dan bedoel ons dat iemand persoonlik in God moet glo, dat hy of sy persoonlik vir God moet ken, dat so ‘n persoon die ervaring van God se verlossingswerk in sy binneste moes ervaar het.

Maar dit is net so belangrik, indien nie in die praktyk nog belangriker nie, dat jy in ‘n gebedsverhouding met God sal wees.  Want dít is waar ‘n mens afhanklikheid van God leer en waar jy dit uitleef.

In ‘n deel van Afrika, lees ek die week, was die eerste bekeerlinge baie ywerig in hulle gebede.  Om die waarheid te sê, elke gelowige het sy eie spesiale plekkie buitekant die dorpie gehad waar hulle gegaan het om stil te word met God en alleen met Hom in gebed te verkeer.

En elke gelowige het na sy of haar “gebedskamer” gestap op hulle eie private voetpaadjie.  As die paadjie dus begin toegroei het met gras, was dit gou duidelik vir die ander dat die persoon wie se voetpaadjie dit was, nie meer so gereeld gebid het nie.

Omdat hierdie nuwe Christene besorgd was oor die ander se geestelike welstand, het ‘n unieke gebruik by hulle ontstaan.  Wanneer enigiemand agter gekom het, ‘n gebedsvoetpaadjie begin toegroei, het hulle mekaar vriendelik vermaan en gesê: “Vriend, daar is gras op jou voetpaadjie!”

Dit sal ons help om in die gejaag van ons normale lewe met meer aandag en afhanklikheid te lewe, om by ‘n rooi robot, net ‘n erkenning van ons afhanklikheid te maak (oop oë asb.!), of as iemand in ons gedagte opkom, net hulle naam voor die Here te noem.  Of jy kan dit doen in die oggend terwyl jy êrens fiets ry of draf of langs die see stap.  Noem net die mense se name voor die Here, soos jy aan hulle dink, en vertrou Hom vir wat hulle nodig het.

Die netto effek op jou sal ‘n groei in ‘n afhanklike lewe saam met die Here wees, en jy sal verras wees met die gebedsverhorings wat so mettertyd ook deel van jou lewe sal raak.

Dit beteken om saam met God te begin voel

Von Rad, befaamde OT teoloog, het profesie as volg gedefinieer: Een wat deelneem in die emosies van God! ‘n Profeet is dus iemand wat begin om saam met God te voel, wat met God se emosies na die wêreld begin kyk.

Wel, as jy begin groei in jou gebedsverhouding met God, en jy begin jou eie geloofsworstelinge met Hom deurbid en jy begin om ander se name voor Hom te noem, en jy begin raaksien wat Hy doen in antwoord op gebed, sal jou oë al hoe groter oop raak vir dit wat in hierdie wêreld nodig is.  En jy sal God se gevoelens daaroor in jou binneste begin ronddra en vanuit daardie afhanklikheid van God begin optree.

Dan sal die visie wat Psalm 72 so duidelik uitspel, van hoe God dinge wil laat lyk, en wat moet gebeur om die dinge wat daarmee in stryd is, aan te spreek.

  • Let op hoe die Psalm oor verdruktes praat aan wie reg moet geskied (in 5 verse: verse 2, 4, 12, 13, 14). Hulle moet beskerm word, van hulle verdrukkers bevry word, gered word as hulle om hulp roep, veral as daar geen ander hulp meer oor is nie. Hulle lewens moet kosbaar wees in ons oë.

Een persoon wat só begin lewe het, was William Booth, die stigter van die Heilsleër.  Sy evangelie het bestaan uit “seep, sop en saligheid”.

Alles het begin toe William een nag nie kon slaap nie. Hy het by sy snoesige huis in Londen uitgestap en gedwaal deur die agterstrate van Londen, waar hy normaalweg nooit gekom het nie. Toe hy by sy huis terugkom, het sy vrou hom gevra: “Waar was jy?”

Hy het geantwoord: “Katherine, ek was in die hel, ek was in die hel!” En hy het haar alles vertel.

Op daardie dag het hy en sy vrou besef daar word te min vir die armes gedoen. William Booth het begin om tussen hulle te werk en te leef en so het hy gou tot die besef gekom dat die armes Kersfees vier deur hulle dronk te drink. Net daar besluit hy dat hy met die volgende Kersfees sou sorg dat daar vir elkeen ‘n Kersete is. Saam met sy vrou Katherine het hy ‘n sopkombuis begin, want, só het hy geglo: “Niemand kan Jesus aanneem op ‘n leë maag nie.” Die armes kon enige tyd van die dag of nag vir hulle sop gaan haal by dié kombuise.

Teen 1878 was daar altesaam 81 sulke sopkombuise waarheen die armes kon gaan vir iets te ete, en 127 evangeliste het saam met William en sy vrou gewerk. Dis toe dat hulle besluit het om hulleself die Heilsleër (“Salvation Army”) te noem. ‘n Orkes is ook gestig wat altyd gespeel het waar William opgetree het. Die musiek het gehelp om die mense na die byeenkomste te lok.

Op ‘n ander dag het William oor die bekende Londen brug gestap toe hy daar ‘n klomp hawelose mense onder stukkende, ou komberse sien lê. Hy het ‘n pakhuis by die dokke gehuur en dit omskep in ‘n nagskuiling vir hawelose mense.

Die dag toe William Booth dood is, het selfs die koningin sy begrafnis bygewoon. Langs die koningin het daar ‘n vrou gesit wat voorheen ‘n prostituut was. Toe die koningin haar vra hoekom sy die begrafnis bywoon, het sy geantwoord: “Omdat hy vir mense soos ek omgegee het.”

Slot

Ek sluit af.

‘n Mens kan uit die verhaal van William Booth aflei, dat dit in die koninkryk oor die groot dinge gaan wat jy vir die Here regkry, en dan effens moedeloos wees oor jou eie bydrae.

Dit is goed om die lewensmotto van Helen Keller te onthou vir hierdie jaar:

“I long to accomplish a great and noble task, but it is my chief duty to accomplish small tasks as if they were great and noble.”

Duisende klein dade van reg en omgee laat die koninkryk kom.

Toewyding

Lied 500 – Gods dade is volmaak en goed, sy wil is altyd heilig.

Gebed

Dankoffer

Slotlied

Lied 508 – Vaste Rots op wie ek bou, een op wie ek kan vertrou.

Seën

Amen

Lied 314

View all posts in this series

'Psalm 71', afhanklikheid, Epifanie, Epifaniefees, gebed, Psalms

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.