Skip to main content

Johannes 8:1-11 – #gracemustrise

Ingenooi deur God

Ek dink dié week weer aan die man wat gevang is teen ver oor die 200 km/h.  Sy verduideliking was: “Ek was op pad kerk toe!”  Nou of hy reg was of nie, miskien het jy ook gejaag om hier te kom.  En miskien dink jy al reeds waarheen jy na die tyd op pad is.  Óf – miskien is daar dinge wat jou jaag: ‘n onvervulde behoefte, ‘n onopgeloste vraag, ‘n diep behoefte aan rus.

Wel – die Here nooi jou uit om tot rus te kom by Hom.  Raak stil, sien as’t ware hoe ‘n deur vir jou oopgemaak word en jy binnegenooi word om in God se teenwoordigheid te kom rus … en maak jou hart oop in gebed vir God.

Ingaan in God se tyd

Maak nou die volgende gebed uit Psalm 16, jou eie:

1: “Ek het vir die Here gesê: ‘Ek behoort aan U, daar is vir my niks goeds nie behalwe by U.”

5: “U is my lewe, U sorg vir my, Wat ek ontvang, kom alles van U af.”

9: “Daarom is ek bly en juig ek en voel ek my veilig.”

Genade

Ek wil met julle gesels oor genade.  Ons tema is #gracemustrise.

Een manier om oor genade te dink, is om dit aan die hand van vergifnis te verstaan.  Dit is genade as iemand jou vergewe.  As jy ‘n fout gemaak het, of ‘n sonde gedoen het, en jy daarvoor vergewe word.

Dit is soos met ʼn uitveër.  Dit vernietig dit wat daar was, jy kan dit nie meer sien nie.  Dit kan nie meer teen jou gehou word nie.

Die uitveër is natuurlik nie so volledig soos bv. die “backspace” van die sleutelbord nie, want jy kan altyd in die afdruk op die papier nog sien wat daar gestaan het.  Maar die voordeel van die uitveër bó die “backspace” is dat daar nie ʼn “undo” knoppie is wat ons kan druk, wat dit wat weggevee is, weer terugbring nie.  Dit uitveër maak skoon.  Dit gee jou ‘n tweede kans.

Dit is soos die Here ons vergewe.  Met ‘n uitveër.  Hy vee dit uit.  Jy sal altyd die herinnering daaraan hê dat jy iets verkeerd gedoen het, maar dit kan nooit weer teen jou gehou word nie.  Die getuienis is weg. Die papier is skoon.  Jou skuld is uitgevee.  Hy was jou genadig.

Luister na God se Woord

Johannes 8:1-11

7:53 Elkeen het na sy eie huis teruggekeer, 8:1 maar Jesus het na die Olyfberg gegaan. 2 Vroeg die oggend het Hy weer by die tempelterrein aangekom. Die hele volk het na Hom gekom, en Hy het gaan sit en hulle onderrig. 3 Die skrifkenners en die Fariseërs bring toe ‘n vrou wat op owerspel betrap is en laat haar in die middel staan. 4 Hulle sê toe vir Hom: “Meester, hierdie vrou is op heterdaad betrap terwyl sy egbreuk pleeg. 5 In die wet het Moses ons beveel om sulke vroue te stenig. Maar u, wat sê u?” 6 Dit het hulle gesê om Hom te toets, sodat hulle iets kon hê waarvan hulle Hom kon aankla. Maar Jesus het afgebuk en met sy vinger op die grond geskryf. 7 Toe hulle egter volhou met hulle vrae aan Hom, het Hy regop gekom en vir hulle gesê: “Laat die een wat sonder sonde is, eerste ‘n klip na haar gooi.” 8 Hy het weer afgebuk en op die grond geskryf. 9 Dié wat dit gehoor het, het een vir een, van die oudste af, weggegaan; net Hy het oorgebly en die vrou daar in die middel. 10 Jesus het toe regop gekom en vir haar gevra: “Vrou, waar is hulle? Het niemand jou veroordeel nie?” 11 Sy antwoord: “Niemand nie, meneer.” Jesus sê toe: “Ek veroordeel jou ook nie. Gaan, en moet van nou af nie meer sondig nie.”

Dit is die tyd van die Loofhuttefees

Dit is die tyd van die Loofhuttefees in Jerusalem.  Jesus het op die Olyfberg oornag en elke dag, van vroeg af, by die tempel gaan sit het om mense te leer.  Elke aand is die mense weer huis toe.  Jesus het Hom dan afgesonder op die Olyfberg om die volgende dag weer die volk te leer in die tempel.

Jesus het ‘n dag of wat vroeër op roerende wyse gepraat oor die lewe wat Hy vir mense bring:

As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.” (Joh. 7:38).

Sy lewe sal genade instort in die lewe van mense en hulle van binne af heelmaak, vrede bring, hulle skuld uitdelg, hulle die wonderlike teenwoordigheid van die Heilige Gees gee om in ‘n nuwe lewe met God te wandel.

Maar die wonderlike boodskap het verdeeldheid gebring onder die mense. Sommige het dié boodskap aangegryp en gesê Hy is die Messias.  Ander het in opstand gekom en wou hom opsluit gevange neem, omdat hulle gedink het Hy is ‘n valse profeet.  Nikodemus het die Jode egter gewaarsku dat hulle darem eers moet vasstel of hy die wet oortree het.

En dit is dan presies wat hulle doen die volgende dag.  Hulle toets Jesus se gehegtheid aan die wet.

Die Fariseërs bring ‘n vrou wat owerspel gepleeg het na Jesus

Terwyl Jesus die volgende dag weer gesit en die volk geleer het, het die Skrifgeleerdes en die Fariseërs daar aangekom met ʼn verskrikte vrou.  ʼn Verskrikte vrou wat op heterdaad betrap is, terwyl sy owerspel gepleeg het.  Dit is duidelik dat hulle iemand gaan soek het wat hulle kon gebruik om Jesus mee by te kom.

Hulle laat die onbekende vrou by Jesus in die middel van ‘n kring staan.  Moontlik was sy nog jonk.  Ouer vroue is gewoonlik nie gestenig nie, maar verwurg, volgens latere Joodse tekste.  Sy was nie ʼn prostituut of  ʼn bekende sondaar nie.  Sy het egter die wet oortree deur owerspel.  En dit sou haar haar lewe kos.  Die wet het naamlik vereis dat sy én die man by wie sy betrap is, saam gestenig moes word.

Iemand wat egbreuk pleeg met die vrou van ’n medeburger, moet doodgemaak word. Dit geld vir die man en ook vir die vrou wat egbreuk pleeg.” (Lev. 20:10; Deut. 22:22).

Die vrou staan egter alleen daar as aangeklaagde.  Hoekom?  Dalk het die man weggekom toe hulle op heterdaad betrap is.  Maar, meer waarskynlik, kon hy aandadig gewees het aan die lokval wat vir Jesus gestel was.  Dis immers eintlik Jesus wat deur die Joodse leiers verhoor word en nie die vrou nie, soos ons hier agterkom.  Daarby is dit duidelik dat die Fariseërs hulle eie wet nie nakom deur albei oortreders na Jesus toe te bring nie.  Net die vrou is daar.  Nie die man nie.

Dis eintlik Jesus wat verhoor word

Jesus herken egter  ʼn lokval as Hy een sien.  Hy weet dis nie die vrou wat verhoor word nie, maar Hy.  Ignoreer Hy die Joodse wet, is Hy in die Jode se oë skuldig aan minagting van die wet van Moses.  Laat Hy haar stenig, oortree Hy weer die Romeinse wet, wat die doodmaak van mense deur die Jode verbied het.

Om nie te praat van die feit dat sy eie boodskap van genade op die spel is.  Dit is dan juis waaroor die verdeeldheid onder die mense gekom het.  Kan dit regtig wees dat Jesus die lewe bring vir sondaars?  Kan dit regtig wees dat Hy sonde kan vergewe?  Kan dit regtig wees dat die Jode in Jesus genade en vergifnis uit God se hand kon ontvang?

Onbewus van die Jode se verhoor van Jesus, staan die vrou daar gedweë.  Sy pleit nie om genade of betwis nie haar vonnis nie.  Sy het reeds haar lot aanvaar.  Sy wag gewoon vir die eerste klip.

Jesus skryf op die grond

Dan doen Jesus ʼn vreemde ding.  Hy buk en skryf in die stof van die tempelplein.  Hy ignoreer die Skrifgeleerdes, sodat hulle Hom herhaaldelik moet vra “wat sê U, wat sê U… wat sê U?”  Jesus hou egter aan met skryf.  Wat Hy skryf word nie vermeld nie.  Dalk dele van die wet wat valse getuienis veroordeel.  Moontlik skryf Hy soos ʼn Romeinse magistraat eers haar vonnis uit voor Hy dit lees.

Of Jesus skryf moontlik dele van Jeremia 17:13 neer:

Here, Hoop van Israel, wie van U af weggaan, kom bedroë daarvan af; wie van U af wegdraai, is vir die dood opgeskryf, (letterlik “is in die stof geskryf) want hulle verlaat die Here, die bron van die lewe.”

Die enigste Bybelse parallel vir “in die stof geskryf”.  ‘n Gepaste kommentaar op die ongenadige optrede van die Jode wat dié vrou gebruik om Hom by te kom.

Op hulle aandrang beveel Hy dat die een met ʼn skoon gewete – nie die aanklaer soos die gebruik was nie – die eerste klip gooi.

Jesus gee vir haar genade

Maar dan begin hulle een vir een wegdwaal.  Eers die vernames en die geleerdes en dan die jonges wat net gekom het vir aksie.  Uiteindelik kyk Jesus op en sien die vrou alleen by Hom staan.  Sy het nie gevlug nie.  Sy het bly staan.  Sy wag vir Jesus se antwoord.

Miskien het sy geweet dat sy veilig was van die ander omdat niemand se gewete skoon was nie.  Of miskien het sy geweet dat daar wel Een was wat waardig was om die eerste klip te gooi.  In die ganse geskiedenis van die mensdom was daar immers Een, en net Een, wat haar vonnis sou kon voltrek:  Jesus – die Seun van God.  Die Man sonder sonde.

Sy sou kon gewonder het of sy uitspraak nie maar net was dat Hy die eerste klip sou gooi aangesien sy gewete skoon was nie?

Jesus het egter geen begeerte om haar vonnis te voltrek nie.  Die timmerman van Nasaret – wat gewoond was om te bou met hout, metaal en klip – het nie gekom om klippe na ons te gooi nie, maar eerder om die struikelblokke wat ons pad na God versper, te verwyder.

Hy vra haar dus: “Vrou, waar is hulle? Het niemand jou veroordeel nie?”  En toe sy antwoord: “Niemand nie, meneer”, sê Jesus: “Ek veroordeel jou ook nie.”  Watter wonderlike genadige woorde.  Hy vee haar skuld uit.  Hy stort sy genade oor haar uit.  Jy is vrygespreek.  Ek veroordeel jou ook nie.

Soos Hy in die stof geskrywe het, en die wind en die weer dit mettertyd sou uitvee, so vee Hy haar sonde uit met sy genade.  Die klagstaat teen haar is uitgevee.  Dit is skoon.  Haar sonde sal nie meer teen haar gehou word nie.

Jesus daag haar uit om nie meer te sondig nie

Jesus daag haar uit: “Gaan, en moet van nou af nie meer sondig nie.” Hy daag haar uit om die genade wat Hy haar gee, toe te laat om haar lewe nuut te maak.  Om die genade die eerste klip te maak van ‘n nuwe lewe wat sy saam met Hom kan begin bou.

Jesus gee die vrou dus nie ʼn vrypas om aan te hou met sondig nie.  Hy gee aan haar ʼn vrypas – genade – om nuut binne God se wil te lewe, om die lewe wat Hy gee, soos ‘n bruisende fontein van water, toe te laat om haar van binne af nuut te laat lewe.

Jesus bied ons dieselfde genade aan

Ek wil jou uitnooi om vanaand in die naamlose vrou se sandale te kom staan. Met jou eie sonde.  Met jou eie skuld.  Met dié dinge wat jy gedoen het wat jy weet God se goedkeuring nie wegdra nie, wat jou in sy oë skuldig maak.  Met dié dinge waarvan jy weet, jy kan eintlik net jouself blameer.  Dit is jy wat drooggemaak het.  Jy weet jy het gesondig, maar jy smag intens om dit ongedaan te maak.  Net, jy kan nie.  Dit is uit jou hande uit.  Jy sou alles wou gee om dit reg te maak.

Dink jou in dat jy wag vir die eerste klip … en dan ontvang jy onverwags genade!  In plaas daarvan dat jou aanklaers jou met klippe doodgooi, stap hulle een vir een weg.  En in plaas daarvan dat dié Een wat die reg het om jou met klippe dood te gooi, God self, die eerste klip gooi, spreek Hy jou vry.  Haal Hy die las van jou skouers af en vergewe jou.  Maak jou klagstaat skoon en vee dit uit.

Dit is wat genade is. Om die dood te verdien, maar vrygespreek te word.  En dit is wat God nou vanaand vir jou kom aanbied.  Regtig.  Vir jou.

En hoor die woorde van Jesus dan vir jou vanaand: “Ek veroordeel jou ook nie.”  Wat jy ook al gedoen het: “Ek veroordeel jou ook nie.”  Hoe jy ook al voel daaroor: “Ek veroordeel jou ook nie.”  Wat ander mense ook al daaroor sê: “Ek veroordeel jou ook nie.

Jesus daag ons uit tot ‘n nuwe lewe

En hoor dan Jesus se verdere woorde: “Gaan, en moet van nou af nie meer sondig nie.”  Jesus nooi jou uit, nee, Hy daag jou uit, om nie Johannes 8 as ʼn vrypas te gebruik om weer te sondig nie.  In die vrou se geval, owerspel sny diep – dit vernietig mense.  Dis nie ʼn ligte aangeleentheid nie.  So ook enige ander sonde.

Tog vergewe God ons selfs die seer wat ons aan mense doen.  Hy doen dit egter nie sodat ons in ons sonde kan volhard nie, maar sodat ons nuut volgens sy wil kan lewe. Dat ons kan regmaak wat ons verbrou het, restitusie kan doen, en ‘n ander lewe kan lei, ‘n lewe waarin die sonde nie meer die laaste sê oor ons lewe het nie, maar Hyself.

En jou boodskap aan die wêreld is dan dat hierdie genade in Christus vir almal is.  Jy kan dit wyd en syd verkondig:

As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.” (Joh. 7:38).

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.