Skip to main content

Jesus, die Verlosser, word gebore uit die Heilige Gees – Matteus 1:18-25

Alida Bothma

Matteus begin sy evangelie met die geslagsregister van Jesus Christus – Matt. 1:1-17.  Hy neem vier vroue daarin op – Tamar, Ragab, Rut en die vrou van Urija (dws Batseba) – anders as Lukas wat net die manlike voorvaders noem. Al vier dié vroue het ‘n interessante geskiedenis waarin hulle afkoms van ander volkere, hulle verstommende inisiatief en wysheid sowel as God se genade om hulle te seën, uitstaan.  Daarmee beklemtoon hy die historisiteit van Jesus se geboorte.  Matteus wil vir jou sê, jy kan maar glo wat jy lees.  Daar is ‘n lang geskiedenis wat op hierdie wonderlike geboorte uitgeloop het, die geboorte van Jesus uit die geslag van Abraham, Dawid en Jojagin.

Dan volg Matteus dit op met die beskrywing van Jesus se geboorte waarin gefokus word op op twee goed.  Die rol van die Heilige Gees in die swangerskap van Maria waarin Josef op ‘n baie spesifieke manier ingetrek word.  En die boodskap dat Jesus God se volk van hulle sonde sal verlos in vervulling van al die profesieë en beloftes van die OT – Matt. 1:18-25.

Matteus wil dus vir ons nie net sekerheid gee oor die historisiteit van Jesus se geboorte nie.  Hy wil ons ook blootstel aan die teologiese betekenis van Jesus se geboorte.  Jesus word as mens uit ‘n gewone vrou gebore, maar ook as God deur die werk van die Heilige Gees.  En Hy het gekom om ons van ons sonde te verlos, soos dit deur die eeue in die OT profesieë voorspel is.

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS:

Verwelkoming

Toetrede

Lied 354:1,4 O Christus ons verlange – sit

Votum en Seëngroet

Lied 367 Ere aan God – staan

Lied 344 O die goeie tyding – sit

Gebed

Inleiding

Matteus begin sy evangelie met die geslagsregister van Jesus Christus – Matt. 1:1-17.  Hy neem vier vroue daarin op – Tamar, Ragab, Rut en die vrou van Urija (dws Batseba) – anders as Lukas wat net die manlike voorvaders noem. Al vier dié vroue het ‘n interessante geskiedenis waarin hulle afkoms van ander volkere, hulle verstommende inisiatief en wysheid sowel as God se genade om hulle te seën, uitstaan.  Daarmee beklemtoon hy die historisiteit van Jesus se geboorte.  Matteus wil vir jou sê, jy kan maar glo wat jy lees.  Daar is ‘n lang geskiedenis wat op hierdie wonderlike geboorte uitgeloop het, die geboorte van Jesus uit die geslag van Abraham, Dawid en Jojagin.

Dan volg Matteus dit op met die beskrywing van Jesus se geboorte waarin gefokus word op op twee goed.  Die rol van die Heilige Gees in die swangerskap van Maria waarin Josef op ‘n baie spesifieke manier ingetrek word.  En die boodskap dat Jesus God se volk van hulle sonde sal verlos in vervulling van al die profesieë en beloftes van die OT – Matt. 1:18-25.

Matteus wil dus vir ons nie net sekerheid gee oor die historisiteit van Jesus se geboorte nie.  Hy wil ons ook blootstel aan die teologiese betekenis van Jesus se geboorte.  Jesus word as mens uit ‘n gewone vrou gebore, maar ook as God deur die werk van die Heilige Gees.  En Hy het gekom om ons van ons sonde te verlos, soos dit deur die eeue in die OT profesieë voorspel is.

Skriflesing – Matteus 1:18-25

18Hier volg nou die geskiedenis van die geboorte van Jesus Christus.

Toe sy moeder Maria nog aan Josef verloof was, het dit geblyk dat sy swanger is sonder dat hulle gemeenskap gehad het. Die swangerskap het van die Heilige Gees gekom. 19Haar verloofde, Josef, wat aan die wet van Moses getrou was maar haar tog nie in die openbaar tot skande wou maak nie, het hom voorgeneem om die verlowing stilweg te verbreek. 20Terwyl hy dit in gedagte gehad het, het daar ‘n engel van die Here in ‘n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef seun van Dawid, moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees. 21Sy sal ‘n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.” (Jesus se naam hou verband met die werkwoord “verlos”)

22Dit het alles gebeur sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word:

23“Die maagd sal swanger word en
‘n Seun in die wêreld bring,
en hulle sal Hom Immanuel noem.” (Jes. 7:14; 8:8)
Die naam beteken God by ons.

24Toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het en met haar getrou. 25Hy het egter nie met haar omgang gehad voordat sy haar Seun in die wêreld gebring het nie. En Josef het Hom Jesus genoem.

Prediking

Soos ek reeds gesê het, Matteus wil vir ons twee dinge van die geboorte van Jesus Christus vertel in hierdie gedeelte.  Die eerste is dat Maria se swangerskap van die Heilige Gees was.  Die tweede is dat Jesus God se volk van hulle sondes sal verlos.  Die een boodskap het te make met die afkoms van Jesus – uit die Heilige Gees.  Die ander het met sy toekoms te make – Hy sal sy volk van hulle sondes verlos.

Maria se swangerskap was van die Heilige Gees

Matteus begin die geboorteverhaal deur te vertel dat Jesus se moeder Maria aan Josef verloof was, maar dat dit geblyk het dat sy swanger was sonder dat hulle gemeenskap gehad het. Die swangerskap het van die Heilige Gees gekom.

Waar die aankondiging van Jesus se geboorte in Lukas met uitbundige blydskap en vreugde ontvang is deur Maria, word die nuus in Matteus se verhaal met kommer en stilswye deur Josef ontvang. In Matteus is Josef ‘n man met ‘n probleem. ‘n Groot een.  Sy verloofde, Maria, was swanger en Josef het geweet dis nie sy kind nie.

Die maagdelikheid van ‘n bruid is, in die antieke wêreld, as ononderhandelbaar gesien vir enige eerbare huwelik. Meisies het tipies rondom hulle twaalfde verjaarsdag verloof geraak waarna hulle onder die gesag van hul toekomstige man geplaas is, al het hulle nog nie hulle ouerhuis verlaat nie. Laasgenoemde het eers gebeur nadat die bruidegom al sy verpligtinge teenoor die bruid se vader nagekom het. Die verlowing het gewoonlik twaalf maande geduur (totdat die meisie puberteit kon bereik) waarna die formele huwelikseremonie sou plaasvind en die bruidegom sy bruid na sy huis sou neem.

Mens verstaan dus Josef se bekommernis. Josef het geweet dat as hy Maria sou beskuldig van owerspel, sy, soos die Wet vereis het, gestenig sou kon word (Deut 22:23-24). Hy wou haar ook nie in die openbaar onteer deur op ‘n verhoor aan te dring om vas te stel waarom sy swanger was nie.  Dan sou vasgestel kon word of dit die gevolg was van verkragting of van owerspel.

Daarom is die besoek van die engel aan Josef so belangrik. Dit gebeur in sy slaap. Josef hoor dat die kind in Maria deur die Heilige Gees verwek is. Die Engel vertel wie die Seun is, met verwysing na sy twee name – Jesus (Verlosser) en Immanuel (God by ons). Op hierdie manier trek die engel Josef in by God se plan met die wêreld.

Die swangerskap het dus van die Heilige Gees gekom. “Josef, seun van Dawid”, sê die engel, “moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees.

Dit verander alles.  Josef kies om God te gehoorsaam. Die Kersboodskap word vir hom ook goeie nuus, die nuus van die Heilige Gees wat iets wonderliks kom doen het.

Jesus het gekom om God se volk van hulle sondes te verlos

En wat is die inhoud van dié wonderlike nuus?  Die engel sê: “Sy sal ‘n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.

Die naam “Jesus” is die Griekse vorm van die Hebreeuse Yēshūa wat “God is verlossing” beteken. Dit was ‘n algemene Joodse naam, wat in Matteus ‘n unieke betekenis kry, omdat dit enersyds deur God self aan Jesus gegee is, en vanweë die engel se openbaring dat Jesus sy volk van hulle sondes sal verlos.

Daarmee gee die engel ‘n belangrike aanduiding van Jesus se sending. Hy het ons kom verlos sodat ons verlede sy mag oor ons kan verloor. Sonde word vergewe, vergeet en verlos. Dit beteken dat ons sonde nie langer die pad tussen ons en God, of tussen ons en mekaar toemaak nie. Trouens, dit verander ons só fundamenteel dat ons ‘n nuwe pad met God en mekaar kan bewandel.  Vergifnis bring verlossing, verandering en nuwe lewensmoontlikhede – tussen God en mens, en mens en mens. Vyande en vervreemdes kan vriende word, omdat ons verlos is.

Dit is belangrik om te besef, hierdie verlossing beteken nie net vergifnis nie. Die werk wat Jesus vir ons en in ons doen, beteken baie spesifiek verlossing, soos die boodskap van die engel inderdaad lui.  Jesus word die Verlosser wat God se volk van hulle sondes verlos.

Verlossing was immers God se idee van die begin af.  Matteus herinner ons daaraan dat dít juis die hele idee van die boodskap van die profete was.  Dit het alles gebeur, sê Matteus, “sodat die woord wat die Here deur sy profeet (Jesaja) gesê het, vervul sou word:  Die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.  Die naam beteken God by ons.

Dat God by ons is, dat Hy in ons kom woon, het te make met die verlossing wat Hy wil bring in ons lewe.  Ja, Hy is in ons om ons Vriend te word.  Ja, Hy is by ons om ons te begelei om volgens sy wil te lewe.  Maar, dit kan net gebeur as ons van ons sonde verlos word, as ons dit algaande begin regkry om volgens sy wil te lewe.

Ek dink ons het soms ‘n wanpersepsie van hoe dit werk met die verlossing van sondes.  Jesus verlos God se volk van hulle sondes.  Dit is dié wat in Hom glo wat verlos word, dié wat deel van God se volk is.  Verlossing is iets anders as vergifnis.  Vergifnis herstel die verhouding met God.  Vergifnis help ‘n mens om van ‘n slegte gewete ontslae te raak.  Dit help jou om die Here in die oë te kyk en met Hom ‘n pad te begin stap.  Vergifnis haal die las van die skuld van jou sonde van jou rug af.

Maar, verlossing is iets wat ‘n voortgaande werk van God in jou lewe is.  Soos Paulus op ‘n plek skrywe: “So was julle” en dan gee hy ‘n hele lys van sondes, “maar julle het julle laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek”, d.w.s. julle is vergewe, om wat te doen? “Om God in julle liggaam te verheerlik.” (1 Kor. 6:11, 20).

Verlossing het te make daarmee dat jy met jou hele wese God begin verheerlik.  Dit sluit jou liggaam in.  Dit sluit jou denke in.  Dit sluit jou gedrag in.  Dit sluit jou verhoudings in.  Daar is niks wat uitgesluit is nie.  Jesus het vir jou gekom om jou nie net in ‘n nuwe verhouding met God te stel weens die vergifnis van jou sondes nie, maar om jou van dié sondes te verlos en in ‘n nuwe lewe te laat leef.  Soos Johannes in sy eerste brief skryf: “As ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.” (1 Joh. 1:9).

Vergifnis is die begin. Verlossing is die reis waarop ons met Jesus vertrek wat eers voltooi word by ons ontvangs in die hemel aan die einde van ons lewe.

En oor daardie verlossing wil ek twee baie praktiese goed sê:

1.  Calvyn het my ‘n tyd terug herinner in sy kommentaar op Genesis van die parallelle wat daar tussen ons ervaring en Jakob s’n by die Jabbokrivier in sy stryd met God is (Gen. 32). Verlossing van versoekings, sê Calvyn, is nie net ‘n worsteling met jou eie begeertes en behoeftes en die verleiding van die wêreld nie, maar baie keer ‘n worsteling met God self en sy wil vir jou lewe, soos Jakob se verhaal illustreer.

In ‘n sekere sin, sê Calvyn, veg God téén ons en vír ons. Hy maak ons sterker in dié ervarings wat voel asof God téén ons is, deurdat dit juis Hy is wat ons die krag gee om te kan oorwin:

For we do not fight against him, except by his own power, and with his own weapons; for he, having challenged us to this contest, at the same time furnishes us with means of resistance, so that he both fights against us and for us … in as much as he supplies us with more strength to resist than he employs in opposing us, we may truly and properly say, that he fights against us with his left hand, and for us with his right hand. For while he lightly opposes us, he supplies invincible strength whereby we overcome.” (John Calvin’s Commentaries on Genesis 24-50).

2.  Ek begin ook stadigaan die waarheid hiervan besef in my eie worstelinge oor die jare. Ek het al ervaar dat die Here my “skoonmaak” en verlos van dinge – bv. toe ek gebid het om van die verslawing van rook ontslae te raak jare gelede. Dit het twee jaar geneem, maar op ‘n dag was die lus en versoeking net weg.

Ja, dit begin so onskuldig. ‘n Pyp in ‘n resessie in die Vloot by Gordonsbaai. Gou geskuif na sigarette en sigare, ‘n kettingroker van formaat. Heerlike geure by die tabakwinkels op Groenmarkplein in die Kaap, en die muwwe bitter smaak aan die einde van ‘n nagskof by Silwermyn in Tokai. Baie lekker en baie sleg, tegelykertyd. En die worsteling, selfs die ooreenkoms met die Here dat ek wéér tot bekering sal moet kom as ek nie drie maande sonder rook kan klaarkom nie. Negentig dae volgehou en die eerste dag daarna vyftig gerook. Lang gebede sien my ‘n jaar later stap in Parow se strate waar ek straatwerk gedoen het, en van een tree tot die volgende skiet die heerlike besef my te binne, ek is vry, verlos. Ek toets dié besef een keer tot my absolute skade, en probeer ‘n siggaret rook daarna met drastiese naar nagevolge. Ek het nooit weer daarna gerook nie. Dit is nou 38 jaar later.

Ek het ook ervaar dat op ander terreine van my lewe dit juis nie gebeur het nie, tot my groot frustrasie – bv. met ‘n geneigdheid tot humeurigheid. Maar, wat ek wel ervaar het, is dat daar ‘n al hoe groter kapasiteit in myself gekom het om te kies om “alle woede te laat staan” – soos Paulus in Efesiërs voorskryf.

Verlossing van sonde kom dus deur ‘n reiniging van binne, en dit is wonderlik.

Verlossing van sonde kom egter ook deur ‘n genesende herbouproses van my vermoë om nee te kan sê vir die sonde, en ja te sê vir die wyse pad wat God wys in verhoudings. Calvyn het my woorde gegee vir wat ek oor jare ervaar het, maar nou eers regtig verstaan.

Die Here neem, sóós vroeër in my lewe, die smaak weg, óf Hy bou in jou die kapasiteit om néé te sê, soos ek dit nou ervaar.

Dit is ‘n avontuur, die avontuur van verlossing!

En as ek nou terugkyk na my ervaring van verlossing, was my groot probleem eintlik dat ek nie geglo het dat die kapasiteit wat die Here my gegee het om vir drie maande op te hou rook, genoeg is om te hou nie!  Dit is die leuen waarmee die duiwel ‘n mens wysmaak dat daar geen uitkoms uit die tronk van jou begeertes is nie. Dat jy nie anders kan en sal kan leef nie. Dat ek nou so “hook line and sinker” daarvoor geval het. Ai tog! Gelukkig is dié leuen nou ontmasker in my lewe.

Josef eer die werk van die Heilige Gees en noem die seun Jesus

Terug by die verhaal.  Wat doen Josef toe hy dié boodskap hoor?

1.  Toe hy uit die slaap wakker word, eer hy in die eerste plek die werk van die Heilige Gees en maak soos die engel van die Here hom beveel het. Hy het met Maria getrou.  Maar, hy het nie met haar omgang gehad voordat sy haar Seun in die wêreld gebring het nie.

Let op hoe dit baie duidelik gestel word dat Josef nie met Maria gemeenskap gehad het vóór haar swangerskap nie, sowel as nie ná die tyd tot en met Jesus se geboorte nie (vers 18, 25).  Dit word ook geïmpliseer met die aanhaling uit Jes. 7:14 dat die “maagd sal swanger word“.

Die goddelikheid van Jesus se geboorte word daarmee geaksentueer (die swangerskap is uit die Heilige Gees, nie uit Josef nie) sowel as die menslikheid daarvan (Jesus is uit Maria gebore, nie uit ‘n engel of een of ander ander geestelike of goddelike wese nie).

Dié getuienis het tot die belydenis van die “maagdelike geboorte” gelei, hoewel dit duidelik ook ‘n “goddelike geboorte” is, iets wat vir my nog meer gewig dra en die wonder van die gebeure verhoog.

2.  En in die tweede plek het Josef die seun Jesus genoem, Verlosser, waarmee hy erkenning gegee het dat dié kind ‘n besondere rol gaan speel in die verlossing van sondes, baie spesifiek die sondes van God se volk.

Dit is wonderlik hoe sentraal die idee van ‘n familie in hierdie gedeelte staan, die konteks wat God kies om die grootste transformasie van die menslike geskiedenis in werking te stel.  Dit is dan ook Josef wat Jesus sy naam gee binne die familie-konteks.  Hy gee daarmee aan Jesus ‘n menslike tuiste.

Deur Maria, maar ook deur Josef wat die God-mens Jesus tot sy kind aanneem, kom God op die aarde aan. Dit is die vervulling en hoogtepunt van God se werke met sy volk oor eeue heen.  Hy is met ons … en Hy verlos ons.

Gebed

Dankoffers

Slotlied

Lied 334 God is liefde juig ons harte – staan

Seën

Respons

Lied 334:4 Refrein: Mag sy Seun al meer gestalte in ons doen en late vind! – staan

View all posts in this series

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.