Markus 7: Respekteer

Die vreemde verhaal van Jesus se ontmoeting met die Siro-Fenisiese vrou beklemtoon drie verskillende vlakke van menswaardigheid:  etnisiteit, gender en sosio-ekonomiese verhoudings.

Toetrede

Lied 176, 177 , 176 Halleluja! U is Koning en Jesus, gróót bo almal

Votum & Seëngroet (n.a.v. Psalm 146:6-10)

Lofsang

Flam 6 Heer Jesus, my Redder

Lied 167 Jesus, bron van al my vreugde

Gebed

Skriflesing

Markus 7:24-30

Inleiding vir Kinders

Al wat jy nodig het deur Max Lucado

Toewyding

Lied 271 vers 1 Heil’ge Jesus, wat my lewe

Preek

Ons Skriflesing vanoggend, uit Markus, is die oudste weergawe van die verhaal in die evangelies.  Dieselfde teks – met subtiele maar beduidende verskille, is ook in Matteus 15:21–28.

Albei Skrifgedeeltes se konteks is dieselfde:  Jesus is in strydvrae gewikkel met Joodse leiers oor wat ’n mens rein / onrein maak.  Dis beduidend, want vanoggend se Skriflesing gaan ook oor wie in is en wie nie.  Verder is die verhaal tussen twee vermeerderings van brood.  Dis ook beduidend, omdat dit in vandag se verhaal gaan oor brood en krummels!

Matteus 15: 21Jesus het daarvandaan weggegaan en na die streke van Tirus en Sidon toe vertrek. 22’n Kanaänitiese vrou

Dis vreemd dat Matteus die vrou Kanaänities noem, want daar was geen Kanaäniete in die omtrek in Jesus se tyd nie.  Markus noem haar ’n Siro-Fenisiese Griek. Waar dit in Markus duidelik is dat sy ‘n buitestander is – onrein weens haar etnisiteit – oordryf Matteus die etniese verskille:  sy verteenwoordig die antieke vyand van Israel.

wat in daardie gebied gewoon het, het onverwags by Hom aangekom.

Hier is ’n ander verskil:

Hoewel Markus nie spesifiek sê waar die gesprek plaasgevind het nie, lyk dit asof dit in ’n huis was, dus ’n privaat plek.  In Matteus wil dit voorkom asof die gesprek publiek is.

Sy het aanhoudend geroep: “Ontferm U oor my, Here, Seun van Dawid! My dogter is in die mag van ’n bose gees, en dit gaan sleg.”

In Matteus praat die vrou baie meer as in Markus.  Hy gee haar baie meer van stem.  In die proses onderstreep Matteus haar dapperheid, haar mag, vasbeslotenheid en uithouvermoë

23Maar Hy [Jesus] het haar niks geantwoord nie. Sy dissipels

wat nie in Markus genoem word nie.  Dit onderstreep weereens die publieke aard van die gesprek.  dit gaan nie net oor die vrou en haar dogter nie, maar juis om vir Jesus se volgelinge ’n bepaalde waarheid te demonstreer.

kom toe by Hom en vra: “Stuur haar weg, want sy hou aan met skreeu hier agter ons.” 24Jesus antwoord: “Ek is net na die verlore skape van die volk Israel toe gestuur.” 25Maar die vrou kom kniel voor Hom en sê:

“Here, help my!” 26Hy sê vir haar: “Dit is nie mooi om die kinders se brood te vat en vir die hondjies te gooi nie.”

Jesus se reaksie is verstommend!

As ’n mens vir die eerste keer die verhaal van die evangelies sou hoor, sal jy sekerlik hier stop en sê:  “Wag, wat het nou gebeur?! Jesus is nie so nie!” Die gehoor was waarskynlik meer geskok as wat die vrou was!

Dalk is ons nie geskok genoeg wanneer ons dit lees nie.  Jesus is basies besig om die vrou en haar dogter honde te noem.  In geen kultuur is dit ’n goeie ding om ’n vrou ‘n hond te noem nie!  Of om mense van ander rasse honde te noem nie.

In Jesus se tyd as dit nog erger.  Honde was nie troeteldiere nie, maar onrein aasdiere.

Selfs die verkleinwoordjie help nie.  Ons het onlangs duidelik gesien hoe geen verkleinwoordjie ’n belediging minder beledigend maak nie!

Nou wil ’n mens sê:  “Ja, maar Jesus haal net ’n uitdrukking van sy tyd aan.” Maar bloot omdat daar ’n spesifieke uitdrukking bestaan, maak dit nie die uitdrukking minder aanstootlik nie!

Dis ook die ding wat hierdie teks vir ons van die moeilikste in die evangelies maak: Jesus se optrede!  Meeste verklaarders probeer op ’n manier vir Jesus verskoning maak.  Spesifiek oor die vertelling in Matteus sê verklaarders dat Jesus so optree, omdat hy aan die einde oor die vrou se geloof praat.  Jesus is eintlik besig om haar geloof te toets, sê hierdie verklaarders.

Tog bly Jesus se woorde vreemd, want dis nie hoe Jesus gewoonlik optree nie!  Wanneer ons eerlik met hierdie teks werk, dan moet ’n mens vra:  Is dit nie moontlik dat Jesus iets by die vrou leer nie?  Dat sy eie verstaan van sy bediening deur haar verander word nie?

Dis ’n ongemaklike teks, wat ons konfronteer met Jesus se menslikheid.  Dit terwyl ons eintlik wil fokus op sy Godheid en meestal sy volledig mens-wees probeer wegsteek.

Tog is dit ook goed om ons ongemak met die Skrif vas te hou – veral  ons ongemak met  Jesus.  Te dikwels dink ons ons verstaan, dat ons interpretasie die – enigste – regte een is.  Maar Jesus bly altyd net-net buite ons begrip.  Net soos ons dink:  “Nou verstaan ek vir Jesus, nou pas hy mooi in hierdie boksie van my”, dan is hy anders, meer, daag hy ons uit om wyer, dieper te dink en te kyk.

Nou gebeur hier ’n interessante ding in die Skrifgedeelte.  Die VROU  – vir wie Jesus nou net op ’n slegte manier afgejak en beledig het, draai Jesus se stelling om, teen hom:

27“Dit is waar, Here,” sê sy, “maar die hondjies eet darem van die krummels wat van hulle base se tafels afval.”

Dis ook baie belangrik om te verstaan wat hier aangaan – in beide Matteus en Markus.  Ons lees dikwels in die evangelies dat Jesus in strydgesprekke met mense betrokke is.  Dis tipies van die eer en skande kultuur van Jesus se tyd. [Malina, Bruce.  1993. The New Testament World, Louisville:  Westminster John Knox Press.]
Spesifiek vir mans, was eer nie iets wat jy vanself het nie.  Jy kon egter eer verdien en vergroot.

Een van die belangrikste maniere waarop mans eer verdien het, was deur publieke strydgesprekke (Engels “verbal sparring”).  Die een persoon / groep sal vir die ander iets vra, of hom belediging.  Dan volg daar ’n heen en weer gesprek, totdat daar ’n duidelike wenner is.

Ons sien dit dikwels in die evangelies: dat Jesus in strydgesprekke betrokke is met bv. die Fariseërs.  Jesus wen telkens hierdie strydgesprekke.  Hy kry die eer en hulle word beskaam.

Wat die vrou hier doen – in stede daarvan om Jesus toe te laat om haar af te jak – is om toe te tree tot ’n strydgesprek.  Sy gebruik die tipiese manier wat mans in ’n publieke ruimte gebruik om eer te kry.

En sy wen.

Jesus se reaksie:

28“Mevrou,” sê Jesus vir haar, “jou geloof is groot. Jou wens word vervul.” Van daardie oomblik af was die dogter gesond.

In  Markus lees ons:

29Toe sê Hy vir haar: “Op grond van wat jy gesê het, kan jy maar huis toe gaan;

As ons nou op skool was en hierdie ’n begripstoets was waar ons moes sê wat die genre van hierdie verhaal is, dan sou ons sê dat hierdie nié ’n wonderwerk verhaal is (’n verhaal van genesing) nie, maar eerder ’n strydgesprek.

Menswaardigheid

Ons is tans in ’n seisoen van menswaardigheid.  

Dit gebeur so maklik dat ons na mense kyk en hulle nie as gelykwaardige ménse sien nie.  Ons maak mense onsigbaar en begin dink sekere mense verdien meer van ons tyd en aandag as ander.  Dan luister ons makliker na sekere mense as na ander.  Daar is selfs sommige na wie ons glad nie luister nie, wat geen stem het nie.  Kinders.  Haweloses.

Die skrywer Brennan Manning, vertel van ‘n insident wat dit treffend illustreer:  Terwyl hy nog ’n katolieke priester was, het ’n paar invloedryke, ryk vriende hom genooi om ’n Broadway vertoning in New York te gaan kyk. Hy het die kans met albei hande aangegryp.

Tydens pouse het hulle op die sypaadjie gestaan en gesels, mekaar probeer beïndruk met hulle kennis van die teater.   ’n Hawelose vrou wat koerante verkoop het, het hom genader .  Sonder om sy gesprek te onderbreek, het hy ’n muntstuk uit sy sak gehaal en vir haar gegee.  Sy het vir hom sy koerant aangebied, maar hy het haar – sonder om eers in haar rigting te kyk – weggewys.  Die vrou het aan sy priesters boordjie opgemerk dat hy ’n priester is. Sy het saggies met hom begin praat: “Father, kan ek gou met jou praat?”

Manning vertel dat hy kwaai na haar gedraai het en vir haar gesê het:  “Kan jy nie sien dat ek met iemand praat nie?  Val jy mense gewoonlik in die rede? Dis geen wonder jou omstandighede is wat dit is nie.  Wag daar by die muur, ek sal met jou kom praat wanneer ek klaar is.”

Die vrou het geretireer en saggies hakkelend vir Manning, wat toe al weer na sy vriende teruggedraai het, gesê:  “Jesus sou nie met Maria Magdalena so gepraat het nie.”

In die oomblik wat die woorde by Manning ingesak het en hy kon terugdraai na haar, was sy weg! Hy het naarstiglik gesoek na haar, maar kon haar nie weer kry nie.

In sy kommentaar op hierdie storie merk hy later op: “Ek soek nog steeds na haar. Ek het dit vir haar moeilik gemaak om te glo dat God, wat sy nie kan sien nie, haar lief het terwyl ek, die priester wat sy kan sien, haar nie lief het nie.”

Hierdie storie illustreer presies wat ons bedoel met menswaardigheid.

In die teks wat ons vandag gelees het, kom drie vlakke van menswaardigheid na vore:

1.  Etnisiteit

Die eerste, voor die hand liggende vlak, is etnisiteit.

Dis nodig, veral in Suid-Afrika, dat ons oor etnisiteit praat.  Die NG Kerk se Algemene Sinode het ‘n (lang) verklaring uitgereik hieroor.  Ook die VG Kerk het ’n verklaring uitgereik.

Die NG Kerk se verklaring sê o.a.:

Rassisme neem baie gestaltes aan, maar in die kern daarvan lê daar meerderwaardigheid, dus die minagting van mense net omdat hulle aan ‘n bepaalde ras behoort, vooroordeel, veralgemenende aannames, disrespek, onbegrip, afguns, misbruik en vernedering. …

Daarteenoor leer die Evangelie dat God vir alle mense lief is. Alle mense is na die beeld van God geskape. …

Daar is géén plek vir rassisme in die koninkryk van Jesus nie.

Een van plekke in Bybel wat dit reflekteer, is vandag se skrifgedeelte.

Hierdie teks wys dat God se bevryding grense van ras oorsteek.  En as dit waar is van Jesus, dan is dit ook waar van sy volgelinge.

Ons uitdaging vandag is nie om ras te ontken nie.  Dit al net nog ’n manier wees waarop ons mense onsigbaar maak en probleme ontken.  Ons uitdaging is eerder om nie nét ras te sien nie.

Die feite is: Jesus het grense oorgesteek, almal ingesluit in God se koninkryk.  Die enigste manier waarop ons ons vooroordele, meerwaardigheid en disrespek (waarvan die NGK se verklaring praat) gaan oorkom, is deur grense oor te steek, uit te reik na gelowiges van ander rasse as ons, mekaar te leer ken, te leer raaksien as susters en broers in die geloof.

2.  Gender

Die tweede voor die hand liggende vlak van menswaardigheid wat hier ter sprake is, is gender.  Dis opvallend watter rol die vrou in hierdie verhaal speel.  In Matteus lyk dit asof die verhaal in ’n publieke ruimte afspeel.  Dit lyk na publieke gedrag – die tipiese strydgesprekke waarna ek netnou verwys het.

In Jesus se tyd was vroue se ruimte die private sfeer, die huis.  Mense het geglo (soos wat mense deesdae dikwels nog grappenderwys beweer en daardeur eintlik hul diepste oortuigings ontbloot:) dat vroue nie intellektueel in staat is tot sulke gesprekke nie, dat hulle eintlik maar moet fokus op die sagte, emosionele goed.

Hierdie vrou se gedrag, om taal te gebruik wat mense graag vandag gebruik, is onvroulik.  Sy gaan na ’n vreemde man toe.  Sy praat eerste met hom.  Sy stry met hom.  En sy wen.

In die vroeë Christelike beweging was daar baie vroue.  Hulle het Jesus en sy dissipels gefinansier, later kerke in hul huise geplant, gedien as leiers in die kerke.  Die vroeë Christelike kerk was revolusionêr in die gelyke rol wat vroue, slawe, nie-Jode (die mense  wat onsigbaar is in die magspeletjies van die samelewing) in die kerk gespeel het.  [Schottroff, Lydia.  1995.  Lydia’s Impatient Sisters, Louisville:  Westminste John Knox Press]

So revolusionêr, dat ons kan sien hoe die tweede generasie Christene geworstel het, hoe hulle die radikale inklusiwiteit begin afwater het ter wille van sosiale aanvaarding.  Dis waarom die evangelies baie meer radikaal is as sommige van die briewe in die Nuwe Testament.

Vir die vroue van Jesus se tyd was die vryheid wat hulle by Jesus ontvang het, onweerstaanbaar. Dorothy Sayers het in 1938 ’n boekie geskryf getiteld Are Women Human?  Daarin skryf sy:

Perhaps it is no wonder that women were the first at the Cradle and the last at the Cross. They had never known a man like this Man – there never has been another. A prophet and teacher who never nagged at them, never flattered or coaxed or patronized; who never made arch jokes about them, never treated them as “The women, God help us!” or “The ladies, God bless them!”; who rebuked without querulousness and praised without condescension; who took their arguments seriously; who never mapped out their sphere for them, never urged them to be feminine or jeered at them for being female… There is no act, no sermon, no parable in the whole Gospel that borrows its pungency from female perversity; nobody could possibly guess from the words or deeds of Jesus that there was anything “funny” about woman’s nature.

Behalwe, miskien, die teks wat ons vanoggend gelees het.

Dalk is dit een van redes waarom Jesus sê wat hy sê en optree soos wat hy optree?  Dalk voer hy hier ‘n toneel op, wat nie soseer hom verander nie, maar sy volgelinge verander.  Hy gee vir die vrou geleentheid om met hom te argumenteer, om ’n publieke, sterk rol in te neem… en te wen.  Daardeur wys hy vir sy dissipels en die ander mense rondom hulle, dat die vrou plek het in die publieke ruimte, die vermoë het om daardie rol te vervul… EN dat hy dit goedkeur.

Dis jammer dat kerke deesdae dikwels die teenoorgestelde verkondig as wat hierdie verhaal – en soveel ander plekke in die Nuwe Testament – wys.  Ek wens ons was net so geaffronteer, het net so ’n sosiale en politieke bohaai opgeskop, wanneer mense seksisties is as wanneer mense rassisties is.  Ek wens dat die NGK en VGK net sulke lang, sterk bewoorde verklarings wou uitreik wanneer gelowiges (sonder om te blik of te bloos) die waarde en plek wat Jesus vir vroue gegee het ontken en minag.

3.  Sosio-ekonomies

Maar hier is nog ’n interessante dimensie van menswaardigheid in hierdie verhaal: Sosio-ekonomies.

Die kanse is baie goed dat hierdie vrou ’n geleerde, stedelike, ryk vrou is.  Daar is ’n paar leidrade in die teks. So bv. is die woord wat gewoonlik vir “bed” gebruik word “krabattos” – wat verwys na ’n matras, ’n draagbare, opvoubare lêplek.  Sy gebruik die woord “klinē”, wat meer soos ’n rusbankis .

Latere geskrifte gee vir haar ’n naam:  Justa (Latyn vir regverdig) en beeld uit as eerbare, geleerde, hoërklas vrou, wat die twee broers van Clement van Rome aangeneem en in Griekse geleerdheid opgevoed het.

Hierdie vrou kom uit die stad Tirus.  Sy nader tot ’n landelike rondreisende prediker, die man van Nasaret…en as jy nou wil praat van spreekwoorde, wat van:  “Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?”

Die area van Tirus was afhanklik van landbouprodukte wat hulle van Galilea af ingevoer het. Dit is waarskynlik dat die ekonomies sterker Tirus letterlik die brood uit die monde van arm Jode gevat het, dat hulle hul finansiële mag gebruik het om die beskikbare graan op te koop.

As ons hierdie teks so lees, dan verteenwoordig die vrou die onderdrukkers en is Jesus die onderdrukte.  En dan is die wonderwerk nie die genesing nie, maar, in die woorde van Theissen [Aangehaal in Gench, Frances Taylor.  2004.  Back to the Well:  Women’s Encounters with Jesus in the Gospel.  Louisville: Westminster John Knox Press.):

the overcoming of an equally divisive distance: the prejudice-based distance between nations and cultures, in which the divisive prejudices are not simply malicious gossip, but have a real basis in the social, economic, and political relationships between two neighboring peoples.”

Hierdie vrou neem Jesus se siniese beeld en herstruktureer dit, sodat dit ’n nuwe blik op die situasie moontlik maak, sodat dit die mure en vooroordele afbreek.  As sy die bevoorregte een is, dan laat sy in haar antwoord die posisie van bevoorregting gaan en identifiseer met die armes, die wat lei onder haar mense se ekonomiese onderdrukking.

In hierdie verhaal sien die onderdrukker dan die menswaardigheid raak van diegene wat nie in haar bevoorregte posisie is nie. En die onderdrukte sien die menswaardigheid van die onderdrukker raak.  Hulle ontmoet op ’n plek van menslike nood.

Jesus verander

En dan sien ons ’n paar dinge in hierdie verhaal – oor menswaardigheid, oor ons lewe voor God en met mekaar.

Eerstens: Jesus wys vir ons dat mense kan verander.  As God self iemand op ’n harde manier wegwys en na ’n ontmoeting met daardie mens hul waarde raaksien en vir hulle omgee – hoeveel te meer is dit nie moontlik van ons nie?

Tweedens: Hierdie verhaal onderstreep die ou Bybelse tradisie van stry met God (dink maar aan Jakob, Abraham, Psalmdigter).  Die tradisie van an aanhou pleit, jou nood keer op keer voor God se aangesig bring, tot jy ’n antwoord kry.  Dit is juis daardie optrede, hierdie aandring op ’n antwoord, wat maak dat Jesus van hierdie vrou sê dat haar geloof groot is. Hierdie verhaal kan ons inspireer tot ’n vrymoedige geloof (Engels boldness), wat volhard in gebed, volhard in geloof, vasklou aan God se beloftes.

Derdens herinner hierdie verhaal ons aan die manier waarop  rasse, gender en ekonomiese vooroordele in ons samelewing steeds voortbestaan, en help dit ons om na te dink oor ons eie taak.  Dit praat oor die rol van menslike inisiatief om grense oor te steek, om aan te hou, vol te hou, totdat ons vooroordele oorkom.

Dis waaroor kerk-wees gaan: om God sáám te aanbid; om in ons manier van kerk-wees God se insluitende liefde te reflekteer; om kragtige getuienis te wees van die versoening en eenheid wat Gees onder mense werk.

Soos Len Sweet sê:

Ons hoef nie van alles te hou wat in die kerk gebeur nie.  Elke aktiwiteit wat aangebied word, elke Bybelstudie wat gereël word, elke preek wat gepreek word, elke lied wat gesing word, elke spreker wat praat, elke instrument wat gespeel word, elke besluit wat geneem word.  Om die waarheid te sê, gaan Sweet voort, as jy hou van alles wat in jou kerk gebeur, dan bereik jou kerk eintlik net vir jou en mense soos jy.

Ons moet ook met die ongemak van verskille saamleef.  Want ’n vrou het voor Jesus gekniel en vir ons almal geleer om almal te respekteer, maak nie saak hoe groot ons vooroordele voorheen was nie.

Gebed

 

Dankoffer

 

Slotsang

 

Vonkk 124 Jesus bring vreugde (staan)

Seën

 

Respons

 

Respons Vonkk 124:1 drie laaste reëls:

Wyd oor die aarde kring sy behae; Hy kom vergewe, Hy laat ons lewe. Hy maak ons, mense, kinders van God.

     

Tags: ,

Trackback from your site.

Leave a comment