Author Archive

God die Vader

Hoe dink jy oor God die Vader? Hoe sou jy Hom beskryf?

Baie van ons kyk na God die Vader deur die bril van ons ervaring. Dit beïnvloed ons beskrywing van God as Vader.

As ons eie pa’s ‘n goeie invloed op ons gehad het, dink ons God is soos hulle.

Ek onthou my pa as iemand wat altyd daar was vir my, selfs al het sy werk hom weke op ‘n keer van ons af weg geneem. Hy het moeite gedoen oor naweke, dinge saam met ons gedoen, al ons wedstryde bygewoon. Dit het by my die idee gelaat dat hy altyd daar was.

Natuurlik was my ma ook daar. Trouens, sy het baie keer sy rol vervul. Maar, daar was ‘n baie spesiale plek in my lewe vir my pa.

En ek dink vandag só oor God.

As ons pa’s egter ‘n slegte invloed op ons gehad het, dink ons God is soos hulle. Die ontstellende statistiek in Suid-Afrika is dat 68 % van kinders word gebore sonder ‘n pa wat naby is. Dit het ‘n geweldige impak op die wyse waarop kinders grootword.

Gisteraand het ek en my vrou die nuwe rolprent Capernaum gekyk. Dit handel oor die jong twaalfjarige Zain wat grootword in ‘n omgewing waar beide sy ouers moed opgegee het om iets aan hulle lewe te doen. Met groot gevolge vir hulle kinders.

Zain beland op die straat en maak uiteindelik ‘n saak teen sy ouers. Hy wil nie hê hulle moet meer kinders hê nie. Hulle is nie in staat om ouers te wees nie. ‘n Rolprent wat soos ‘n skop in die maag voel. Trouens, die hartseer hou net nooit op nie.

Ons kyk dus ook deur die bril van ander se ervarings. Die dinge wat ons lees, die flieks wat ons kyk, die wyse waarop pa’s geskets word, dit alles het ‘n invloed op ons. Ons is boonop baie keer uitgelewer aan die ideologieë van die media wat vir ons doelbewus prentjies voorhou wat pa’s sleg uitbeeld.

Maar, ons moet net nie dink dat dit al wyse is waarop ons oor God as Vader mag nadink nie. Dit maak nie saak hoe goed of hoe sleg jou ervaring van aardse pa’s is nie. Dit maak nie saak hoe goed of sleg die media vir jou pa’s voorhou nie.

Selfs jou eie pa, hoe goed hy ook al vir jou gesorg het, is uiteindelik nie ‘n maatstaf van God as Vader nie. Die maatstaf vir sy Vaderskap lê in sy eie openbaring van Homself, in die Bybel en in die verwoording daarvan in die geloofsbelydenisse deur die eeue.

Download the English: God the Father

Continue Reading

Katalisator vir die Koninkryk – Stefanus

Handelinge 6:1-8:3 – Somerstrand 18:30 10 Maart 2019

Groot krisisse in ons samelewing

Ons leef in ‘n tyd waar daar groot krisisse is in ons samelewing. Julle het dit self beleef hierdie week op die kampus. Die botsing tussen die belange van die studente en die kampus. Met die oplossing van ‘n Clearing House wat legitieme klagtes hanteer. Daar is die hoop dat dit die situasie sal normaliseer.

Daar is egter ander krisisse wat nie so maklik hanteer word nie. Of waar die oplossing ander probleme veroorsaak. Die korrupsie in ons land. Die grondeise. Eskom. SAL. Nasionalisering.

Soos ook in die kerk. Julle het seker die uitspraak van die hof gelees oor die saak wat teen die NG Kerk gemaak is oor die toelating al dan nie van gays in die kerk. Ter sprake is die 2016 besluit van die NG Kerk wat sekere beperkings op gays geplaas het in die lig van die Skrif.

Op een vlak het die regters bevind dat die kerk fouteer het met sy prosedures. Die 2016 besluit is as onwettig en ongeldig bevind. Dit beteken die 2015 besluit wat gays toelaat om predikante te wees sonder dat hulle selibaat lewe, en dat selfdegeslagverbintenisse in die kerk gesluit mag word, dié besluit is nou die wettige en geldige een.

Op ‘n ander vlak het die uitspraak egter veel verder gegaan, en die reg van die kerk om oor sy eie geloofsake te beslis aan die verskanste regte in die grondwet onderhewig gemaak. Dit het ook nie net uitsprake gemaak oor gays nie, maar oor die hele spektrum van LGBTIQA+ seksuele oriëntasies. Iets wat nie eers voor die hof was nie.

Die implikasies hiervan moet nog deurdink word. Maar, talle berigte wys uit dat die swaard van die grondwet nou oor die geloofsbesluite van alle kerke hang. Trouens, ek sou wou sê dat alle geloofsgemeenskappe in Suid-Afrika hierdeur geraak word, ook die Jode en die Moslems. Jy kan volgens hierdie uitspraak nie iets glo of jou godsdiens só beoefen dat daardie geloof of godsdiensbeoefening die menseregte wat in die grondwet verskans is, op enige manier benadeel nie.

Dit maak nie eers regtig saak hoe jy oor die inhoud van die uitspraak dink nie. Die uitspraak gaan die beoefening van geloof en godsdiensvryheid waarskynlik fundamenteel beïnvloed.

Die rol van ‘n katalisator (catalyst)

Die uitspraak is dus ‘n katalisator wat die potensiaal het dat geloof en die beoefening van godsdiens heel anders daar gaan uitsien as wat ons dit tot dusver geken het.

Julle weet wat is ‘n katalisator, ‘n catalyst?

Dit is ‘n stof wat ‘n chemiese proses vinniger laat verloop. Jy verander skadelike uitlaatgasse (bv koolstof monoksied) deur ‘n metaal platinum of palladium in skadelose uitlaatgasse (bv koolstof dioksied en water). ‘n Mens kry dit ook in jou liggaam. Jy kry die ensiem amilase in die speeksel in jou mond en dit help om koolhidrate vinniger te verteer.

Katalisators in die samelewing

‘n Mens kan dus ook van mense praat as katalisators. Figuurlik gesproke. Mense wat die gang van die geskiedenis verander het. Ook uitsprake wat die gang van die geskiedenis verander, soos nou met die hofuitspraak.

Ons kan uiteraard nie anders as om by dié dinge wat op die kampus gebeur, en dié dinge wat in ons howe gebeur, om daarby betrokke te raak nie. As studente kan julle nie die ontwikkelinge op die kampus vermy nie. As gelowiges kan ons nie die ontwikkelinge in die kerk vermy nie. Dit is ‘n gegewe.

Maar, ek dink tog dat ons nie moet dink dat dié krisisse, op die kampus of die kerk, die ultimate krisisse is nie. Dat dit ons hele lewe moet bepaal nie. Want, dieper as die krisisse op kampus of in die kerk, is die krisis van die koms van die koninkryk van God.

En dit is waarvoor God ons roep. Om katalisators vir die koninkryk te wees midde in die krisisse wat ons beleef.

Download a partially translated version: Katalisator vir die Koninkryk – Stefanus – mixed language

Continue Reading

Jesaja 52:13 – 53:12 – die krag van die kruis

Ons maak moeilik vrede met lyding

Ons maak baie moeilik vrede met lyding. Veral ons eie lyding of die lyding van mense na aan ons.

Tog is daar iets fassinerend in die lyding van ‘n besondere mens of ‘n leier.

Hoekom?

Want ons weet uit die geskiedenis dat daar ongelooflike krag sit in die lyding van iemand wat nie vir die opoffering van die lyding terugdeins nie, en selfs bereid is om sy of haar lewe vir ‘n saak op te offer, ten spyte van die koste daarvan.

Lydensverhale inspireer

Sulke verhale van vasberadenheid onder lyding het baie keer die potensiaal om mense tot groter hoogtes te inspireer as wat verhale van voorspoed en suksesse het.

Dink maar net aan die talle en talle verhale uit die Hervorming.

Mense wat hulle met groot persoonlike opoffering aan God se roeping in die Skrif gewy het.

Download English Translation: Isaiah 52_13-53_12

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS:

Continue Reading

Numeri 21 – “Elkeen wat opkyk, sal lewe.”

Die pas begin versnel met die trek langs die Dooie See op aan die oostekant van die Jordaan.  Die eerste oorwinning wat die tweede generasie van Israel behaal, is teen die Kanaäniete van koning Arad wie se stede hulle met die banvloek tref.

‘n Mens sou wou dink dat die probleme van die verlede oorkom is.  Hulle oorwin juis dié mense waarteen hulle ouers verloor het 38 jaar gelede (Num. 14:45). Ek het drie weke terug oor die vier voorbidders voor die volk in Numeri 14 gepreek.

En ‘n mens begin opgewonde raak oor die feit dat hulle dié keer die Here aanroep in gebed, selfs ‘n gelofte aan Hom maak, en alles vir Hom gee, elke stukkie van die buit wat hulle in die oorlog maak.

Verset lei tot veroordeling

Maar nee, die opgewondenheid oor die tweede generasie verdamp wanneer dié groot oorwinning opgevolg word deur nog ‘n tranedal van verset oor kos en water.  Die skrywer gee dit weer met ‘n perfekte idioom: “die siel van die Israeliete het kort geraak.”  Hulle het sat geraak vir hierdie slegte kos.

Die blydskap oor die oorwinning was dus van korte duur.  In plaas daarvan om soos met die bedreiging van koning Arad van die Kanaäniete tot die Here te bid, vaar hulle uit teen Moses en die Here oor hulle omstandighede.  Die reis deur die woestyn het ‘n groot tol van hulle geëis.  Miskien was daar verwyte teen hulle ouers.  Maar dieper was die ongeduld met die Here.

Die Here se reaksie dié keer op hulle verset is weereens drasties.  Hy stuur giftige slange onder hulle in en baie van die Israeliete sterf.  Die giftigheid van hulle verset word begroet deur die gif van God se oordeel.  Verset lei tot veroordeling.

Vertroue lei tot verlossing

Die Here se oordeel word egter genadiglik begroet met skuldbelydenis deur die volk – teenoor die Here sowel as teenoor Moses – en die hoeveelste voorbidding deur Moses vir die volk in verset.  Op bevel van die Here maak Moses hierdie keer ‘n koperslang maak met die belofte: “Elkeen wat gepik is en daarheen opkyk, sal lewe.”

Die slang het die vloek voorgestel wat hulle getref het.  Deur die slang “op te lig” teen die paal is die vloek weggeneem, sodat, wanneer hulle daarheen gekyk het, ‘n teken van geloof en vertroue, hulle genees sou word.

En dit is presies wat gebeur.  Soos hulle na die koperslang opgekyk het in vertroue, het die gif uit hulle sisteem verdwyn en het die lewe teruggekeer en is hulle genees.  Vertroue lei tot verlossing.

Uit die hierdie boodskap wil ek ‘n paar gevolgtrekkings trek vir jou eie geestelike lewe.

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS:

Continue Reading

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Rethie van Niekerk

    |

    Hallo Marita. Ai, jammer dat jy moes sukkel! Ons het wel toilette vir gestremdes, met o.a. ‘n handvatsel teen die muur. Dankie dat jy ons daarvan bewus maak dat dié toilette nie duidelik gemerk is nie! Ons sal plan maak!

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Marita. Dit is ‘n goeie idee. Ons sal aandag gee. Dankie!

  • Avatar

    Marita Kotze

    |

    Ek is bejaard, nie heeltemal rolstoel gebonde nie, maar sukkel om van ‘n lae toilet af op te staan. Ek het Dinsdagaand se pragtige musiek konsert baie geniet, maar moes hulp vra om van sie toilet af op te kom. Tuis kan ek op die bad se rand druk om op te staan. Dit het nie vir my gelyk of u maklik ‘n toilet vir gestemdes kan installer nie, maar vir mense soos ek kan ‘n handvatsel teen die muur of sels ‘n ingeboude toiletrol houer of selfs ‘n stewige houer vir gebruikte sanitere dovekies groot verleentheid bespaar. Baie dankie,
    Marita Kotze

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Hi Fransina

    Twee mans was op die opstandingsdag van Jerusalem na die dorp Emmaus op pad, so 12 km van Jerusalem af. Hulle het met mekaar gepraat oor alles wat hulle gehoor het van die opstanding.

    Jesus kom dan self nader en loop saam met hulle. Hulle het Hom egter nie herken nie, want Jesus het dit verhoed.

    Jesus vra dan waaroor hulle praat en waarom hulle hartseer is.

    Een van hulle, Kleopas, vra dan vir Jesus hoe dit moontlik is dat Hy nie weet wat gebeur het nie. Hy vra, nou watter dinge?

    Dan antwoord hulle dat hulle praat oor die dinge van Jesus, die man van Nasaret, wat ‘n profeet was en kragtige werke en woorde voor God en die hele volk gelewer het. Die owerpriesters en owerstes het Jesus egter die doodstraf opgelê en Hom gekruisig.

    Dan praat hulle oor die hoop wat hulle gehad het dat Jesus Israel sou verlos, maar nou is dit al die derde dag, en hulle het Hom nie gesien nie. Net gehoor dat ‘n paar vroue nie sy liggaam by die graf kon kry nie, en toe by engele gehoor het dat Hy lewe.

    Van die mans het gaan seker maak dat dit so is – Petrus en Johannes – en agter gekom dat die graf leeg was, maar vir Jesus het hulle nie gesien nie.

    Dan berispe Jesus hulle omdat hulle so dom is, en boonop traag is om te glo wat juis die profete oor die Christus geskryf het. Jesus wys dan vir hulle uit die wet en die profete en die res van die OT dat al die dinge wat hulle vir Hom vertel, daar staan. Dat die Christus moet ly vóór Hy in die heerlikheid kan ingaan.

    As hulle by Emmaus kom teen die aand se kant, wil Jesus verder stap, maar hulle vra dat Hy by hulle oorbly en saam met hulle eet.

    Jesus neem dan die brood aan tafel en dank die Here daarvoor. Toe Hy dit breek en aan hulle uitdeel, maak Hy hulle oë oop dat hulle Hom kan herken. Met dít verdwyn Hy uit hulle gesig.

    Hulle opgewondenheid het nie perke geken nie en hulle herinner mekaar daaraan dat hulle harte al begin brand het toe Hy die Skrifte vir hulle uitgelê het.

    Hulle reis onmiddellik terug Jerusalem toe en vertel vir die elf dissipels – dit sluit dus Thomas in – en die ander wat saam met hulle bymekaar was wat met hulle gebeur het. Dié op hulle beurt vertel vir die twee van Emmaus dat Jesus – hulle noem Hom Here – waarlik opgestaan het en aan Simon, dit is Petrus, verskyn het.

    Groete

    Chris

  • Avatar

    Fransina Hashipala

    |

    Goeie dag Pastoor Chris ek wil die storie van die Emmausganger mooi verstaan kan u asb vir my net biekie inlig.