Skip to main content

Tag: gebed

10-16 Feb – Skynheiligheid Ontbloot – Matt 6:1-18

OMGEE GESPREKKE

Vertel vir mekaar wat die goed is waarvoor jy hierdie week wil bid en wil hê die ander moet vir jou bid.  Hoekom wil julle spesifiek vir dié goed bid?

BYBEL LEES

Gesinne met Gr 1-3’s lees deur die week die materiaal in hul kategese werkboek.

Lees Matteus 6:9-13

  • Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die gedeelte.  As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.
  • Jesus het gereeld gebid.  Hy wil ook hê dat ons gereeld sal bid.  Kyk of julle uit die Onse Vader-gebed (die Skrifgedeelte) kan agterkom waaroor ons alles met God kan praat in gebed.  Waaroor kan ons nog met God praat?
  • Vertel vir mekaar waarmee julle sukkel as dit kom by gebed.  Gee vir mekaar raad.

GEWOONTES EN GEBRUIKE

Leer die “Onse Vader” gebed.  Julle kan dit elke dag saam bid, of Lied 266 leer en saam sing.

GESEËN OM TE SEËN

  • Kan julle dalk hierdie week vir iemand kos gee wat nie gereeld kos kry nie?  Dalk kan julle vir Anna-Marie Voges (041 583 6236) help om sop en/of broodjies te maak vir die bosslapers?
  • Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid.  Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys.  Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.

“Hoor tog” – 2 Konings 19

Ek dink die versoeking is daar vir ons as kinders van die Here om te dink dat God ons moet seën, aan mekaar, sonder ophou.  Dit is tog hoe God is.  Hy is goed.  Hy is almagtig.  Hy wil vir ons die beste hê.  Ons dink “Life is beautiful” – soos daardie onvergeetlike fliek van Roberto Benigni onderstreep het – en wil graag hê, trouens verwag dit dat ons gehoorsaamheid vir ons voorspoed sal bring.

Maar ek dink ons vergeet dat die pa in die fliek moet sterwe om sy kind en uiteindelik sy vrou die gawe van die lewe te kan gee.  Ons leef mos ons lewe tussen die twee pole van “Life is difficult” – soos Scott Peck dit gemunt het in sy boek The Road Less Travelled – en “Life is beautiful” – soos Benigni dit vir ons interpreteer.  Die twee pole van die lewe vorm eintlik die Seisoene van die Siel, soos ek onlangs in ’n nuwe ongepubliseerde boek van Riaan van der Merwe gelees het.

Continue reading

Leer jou kind bid

DOEL: 

Om families met Gr 1-3 kinders te bemagtig om kinders toe te rus om ‘n groeiende gebedslewe te hê.

VOORAF:

  • Ark met rondte tafeltjies vir 30 mense
  • Boekmerke en inkleurkryte op elke tafeltjie
  • Skoon papier op elke tafel vir hand-tekeninge
  • Papiere met teksverse op tafeltjie
  • Kopie van Psalms vir Families vir elke gesin
  • Blaaibord & koki

BYEENKOMS

Aankoms

Elke gesin gaan sit by ‘n tafel, Kleur solank hul boekmerke in

Verduidelik dit

Welkom!

Doel van byeenkoms:  help ouers om kinders te help om groeiende gebedslewe te ontwikkel.

  • Gebed verbind kinders op kragtige manier aan God!
  • Beplan om saam met jou kinders te leer van gebed.
  • Moenie verwag om ‘n gebedskundige te wees nie.  Jy hoef nie lang gebede met groot teologiese woorde te bid nie.
  • Al wat jy moet doen, is om te bid!  Wees eg (authentic) en God sal die res doen!

Modelleer

Wat sê ons wanneer ons bid?  Ons het nie regtig patrone en modelle nodig nie. Ons kan gewoon bid wat op ons hart is.  Tog help dit om in ons gereelde gebedstyd ‘n sekere patroon te volg.   Sodoende leer ons ons kinders om nie net selfsugtig te bid nie, maar om die volle omvang van gebed te leer ken.

Daarom wil ons in gebed:

  • Loof
  • Jammer
  • Dankie
  • Vra

 

Elke kind sit hand op papier, ouers teken omtrek van hand. Skryf soos ons aangaan by elke vinger waaraan dit ons herinner.

 

Loof

Duim is eerste – ons begin altyd by God deur God te loof – deur vir God te sê hoekom ons lief is vir hom.

ð  Gesinne gesels:  waarvoor kan ons vir God loof?  (Voltooi die sin:  Ek loof God, want hy is… liefdevol, magtig, genadig, slim, getrou…)

[Gee tyd vir gesprek.  Vra vir terugvoer.  Skryf terugvoer op blaaibord.]

Kom ons bid almal saam: 

Bid:  Here, ons prys U, want u is (lees die woorde op die blaaibord).  In Jesus se Naam, Amen.

 

Jammer

Wysvinger – wanneer iemand met jou raas of sê wat jy moet doen, wys hulle met hierdie vinger.

Volgende sê ons vir God jammer vir die goed wat ons verkeerd gedoen het.  Billy Graham het gesê dat die Christelike lewe nie ‘n konstante “high” is nie. Soms moet ons met trane in ons oë na God toe gaan en vra:  ‘Here, vergewe my’, of ‘Help my’.”

1 Joh 1-9 Ons moet vir Hom sê ons is jammer oor wat ons gedoen het. Ons moet ook sê dat ons nooit weer daardie lelike ding wil doen en sy hart so seermaak nie … en dit regtig bedoel. God sal ons vergewe en nie meer vir ons kwaad wees oor die sonde nie. Ons kan God maar vertrou. Hy doen altyd wat Hy sê en Hy weet wat reg is. (Die Nuwe Testament vir Kinders)

ð  Gesinne gesels:  waarvoor kan ‘n mens alles vir God jammer sê?  (Voltooi die sin:  Here, ek is jammer dat ek… nie my kamer skoongemaak het nie, ongeduldig was met ‘n familielid, lelik was met mamma, gejok het…)

[Gee tyd vir gesprek.  Vra vir terugvoer.  Skryf terugvoer op blaaibord.]

Kom ons bid almal saam: 

Bid:  Here, ons is jammer vir al die dinge wat ons verkeerd gedoen het.  Ons is jammer vir al die kere wat ons … (lees die woorde op die blaaibord).  In Jesus se Naam, Amen.

Dankie

Middelvinger – dis die langste vinger, want dis belangriker dat ons “dankie” sê as om te vra vir goed.

Ons sê ook vir God DANKIE wanneer hy ons gebede beantwoord, wanneer hy iets in ons lewens doen en vir al die seëninge wat hy vir ons en ander gee. 

Psalm 107:1 Julle moet vir die Here dankie sê, want Hy is goed, ja, Hy doen altyd wat Hy belowe het. (Die Bybel vir Almal)

ð  Gesinne gesels:  waarvoor kan ‘n mens alles vir God dankie sê?  (Voltooi die sin:  Here, dankie dat U… my hond gesond gemaak het, my Pappa veilig teruggebring het na sy reis, my beter laat voel het, altyd by my is, vir my wonderlike vriende gegee het, vir ons die Bybel gegee het…)

[Gee tyd vir gesprek.  Vra vir terugvoer.  Skryf terugvoer op blaaibord.]

Kom ons bid almal saam: 

Bid:  Here, dankie vir alles wat U vir ons doen.  Dankie vir … (lees die woorde op die blaaibord).  In Jesus se Naam, Amen.

 

Vra

God wil ook hê ons moet VRA vir wat ons of ander mense nodig het. 

Ringvinger – dis die swakste vinger, daarom bid ons vir ander mense wat swak is.

Pinkie – dis die kleinste, so ek bid heel laaste vir myself.

Matt 7:7-8 7–8 “Bid gereeld. Moet nooit ’n dag oorslaan nie. Elke gebed is soos ’n klop aan die deur van God se hemelse paleis. Hoe ernstiger jy bid, hoe harder klop jy aan sy deur. En nou ’n stukkie goeie nuus: as jy so bid, sal God die deur vir jou kom oopmaak! Hy luister na elkeen wat ernstig bid. (Die Nuwe Testament vir Kinders)

ð  Gesinne gesels:  waarvoor kan ‘n mens alles vir God vra?  (Voltooi die sin:  Here, sal u asseblief… by ouma wees, my help met my toets, gee dat ek ‘n kontrak kry, help my om met my boetie oor die weg te kom…)

[Gee tyd vir gesprek.  Vra vir terugvoer.  Skryf terugvoer op blaaibord.]

om ons bid almal saam: 

Bid:  Here, ons het U so nodig en is so dankbaar dat U ons versoeke hoor.  Ons vra… (lees die woorde op die blaaibord).  In Jesus se Naam, Amen.

 

Hersien & Oefen

  • Duim = God = Loof
  • Wysvinger = Jammer
  • Middelvinger = langste = Dankie
  • Ringvinger = swakste = Vra vir ander
  • Pinkie = kleinste = Vra vir jouself

Gesinne oefen ‘n kort gebed saam

Neem dit huis toe

Elke gesin kry ‘n Gebede uit die Psalms vir julle Familie-plakkaat.

Verdere bron:  Faith Begins @ Home Prayer – jy kan dit hier koop.

Verootmoediging en Gebed vir Suid-Afrika

TOETREDE

Ons land is stukkend.  Ons land se mense is stukkend.

 

Psalm 56

9My ellende het nie ongemerk by U verbygegaan nie, U het op my trane gelet. In u boek staan hulle opgeteken.

 

Romeine 12

15Wees bly saam met dié wat bly is en treur saam met dié wat treur.

 

Lied 282vv 1, 3 & 4

Terwyl ons bid vir elke volk deur U op aard’ geplant, hóór ons, o Heer, wanneer ons bid vir hierdie dierbaar land.

Wil elke vyans van ons weer, gee vrede in ons land, dat voorspoerd onder ons mag heers as gawe van u  hand.

Behou dan almal wat hier woon in liefde tot mekaar, en laat geregtigheid dié band van eenheid steeds bewaar.

 

TREUR

Die rooi lap herinner ons aan die bloed van Christus, wat ons lyding op homself geneem het (Matt 8:17)

Habbakuk 1

2Hoe lank moet ek om hulp roep voordat U hoor, Here, moet ek by U bly kla oor geweld voordat U red? 3Waarom laat u my die onreg sien  wat gedoen word, waarom kyk U toe as daar soveel ellende is? Oral rondom my is daar onderdrukking en geweld, en word daar getwis en gebaklei. 4Die wet het nie meer krag nie, en daar geskied nie meer reg nie. Slegte mense het die oorhand oor die goeies, en so word die reg  verkrag. 

Gebed: Vertel vir God wat jy in ons land sien en hoe jy daaroor voel.

• Stil gebed

 Lied 279 Hoor ons sug, o Heer;  hoor ons sug, o Heer.  Draai tog u oor na ons, en gee ons u rus.

Verootmoediging

Jesus het gesê:

21″Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; en elkeen wat moord pleeg, is strafbaar  voor die regbank’. 22Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir ‘n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir ‘n idioot, is strafbaar met die helse vuur. (Matt 5)

Romeine 12

9Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is. 10Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar; bewys  eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld. 11Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here. 12Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed. 13Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid.  14Seën julle vervolgers, ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie. 15Wees bly saam met dié wat bly is en treur saam met dié wat treur. 16Wees eensgesind onder mekaar. Moenie hooghartig wees nie, maar skaar julle by die nederiges. Moenie eiewys wees nie. 17Moenie kwaad  met kwaad vergeld nie. Wees goedgesind teenoor alle mense. Wanneer ons ons skuld bely, wy ons onsself opnuut toe aan die Here. Ons  erken ons eie sonde en liefdeloosheid. Ons tree egter óók in vir die skuld van ons land en verootmoedig ons voor die Here.

Skuldbelydenis: Spandeer tyd aan skuldbelydenis en verootmoediging.

• Stil gebed

Lied 279 Hoor ons sug, o Heer; hoor ons sug, o Heer.  Draai tog u oor na ons, en gee ons rus.  Amen

Genadeverkondiging

Romeine 5

God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus. 2Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan.

 

OORWINNING

(wit lap)

Jesus het gesê (Joh 11)

25″Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; 26en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit  sterwe nie.” 

en ook (Joh 14)

13Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. 14As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.”

 

In die lig van Christus se oorwinning, tree ons in gebed in vir ons land:

Bid vir alle slagoffers van geweld. Bid vir die families en geliefdes van mense wat gewelddadig gesterf het.

• Stil gebed

Lied 278 Hoor ons bid, o Heer (sonder amen)

 

Bid vir die misdadigers, die mense wat geweld pleeg.

• Stil gebed

Lied 278 Hoor ons bid, o Heer (sonder amen)

 

Bid vir die polisie en almal wat betrokke is by die beskerming van die reg.

• Stil gebed

Lied 278 Hoor ons bid, o Heer (sonder amen)

 

Bid vir die regering.

• Stil gebed

Lied 278 Hoor ons bid, o Heer (sonder amen)

 

Bid vir ons veiligheid.

• Stil gebed

Lied 278 Hoor ons bid, o Heer (met amen)

 

HOOP

Johannes 1

4In [Jesus] was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. 5Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.

Kerse is vir ons ‘n simbool van hoop, van die lewe en oorwinning wat daar in Christus is. Neem een van die kerse by die Nagmaalstafel en steek dit aan as simbool van jou hoop en vertroue in God.

Mense kom steek kerse aan terwyl orrel sag speel, wanneer mense klaar is, sonder aankondiging:

Lied 516 Al sou die vyeboom nie bot nie. 

 

Seëngebed

Here, ons bid

dat u ons sal seën en sal beskerm;

dat u tot ons redding sal verskyn en ons genadig sal wees

dat u ons gebede sal verhoor en aan ons verde sal gee.

Amen

Hoe om saam te bid (4-6 jariges)

HuisGeloof:  Familie Gebed : 4-6 jariges 

DOEL: 

Om families te bemagtig om die gereelde gewoonte van gebed te ontwikkel en sodoende die volgende generasie op ‘n kragtige manier aan God te verbind.

VOORAF:

  • Ark met rondte tafeltjies vir elke gesin
  • Inkleurprente en inkleurkryte op elke tafeltjie
  • Papiere met teksverse op tafeltjie
  • Kopie van Psalms vir Families vir elke gesin
  • Kopie van CLF pamflet “Kom, laat ons bid” vir elke gesin
  • Blaaibord & koki

BYEENKOMS

Aankoms

Elke gesin gaan sit by ‘n tafel

Kleur solank hul prente in

Verduidelik dit

Welkom!

Doel van byeenkoms:  help gesinne om gebed as gereelde gewoonte te ontwikkel

  • Gebed verbind kinders op kragtige manier aan God!
  • Beplan om saam met jou kinders te leer van gebed.
  • Moenie verwag om ‘n gebedskundige te wees nie.  Jy hoef nie lang gebede met groot teologiese woorde te bid nie.
  • Al wat jy moet doen, is om te bid!  Wees eg (authentic) en God sal die res doen!
  • Vandag net inleiding – om mekaar te herinner dat gebed belangrik is en ‘n commitment te maak om saam te bid.

     

Gesels as gesin:  Wat is gebed?

[Gee tyd vir gesprek.  Vra vir terugvoer.  Skryf terugvoer op blaaibord.]

Moontlike antwoorde:

  • Tyd saam met God
  • Kommunikeer met God
  • Praat met God
  • Vra vir God om hulp
  • Luister na God
  • Laat God jou lei in jou lewe
  • Soek God se wil vir jou lewe
  • Vertel vir God hoe lief jy hom het
  • Vra vir God om ander te help

ð 

Gesels as gesin:  Hoekom is gebed belangrik?

[Gee tyd vir gesprek.  Vra vir terugvoer.  Skryf terugvoer op blaaibord.]

Moontlike antwoorde:

  • Help ons om God te ken
  • Herinner ons dat God by ons is
  • Herinner ons dat God ons kan help
  • Help ons om ons moeilikhede en moeilike tye met God te deel.

Hierdie is fundamentele goed!  Ons wil graag hê ons kinders moet selfversekerd kan bid.

ð 

Gesels as gesin:  Hoekom bid mense nie?

[Gee tyd vir gesprek.  Vra vir terugvoer.  Skryf terugvoer op blaaibord.]

Moontlike antwoorde:

  • Geïntimideer:  Ons voel dat ons lank moet bid en groot woorde moet bid.  Jesus sê dit is nie so nie! 

Matteus 6:7-8 Wanneer julle bid, moenie ’n klomp woorde sê en weer en weer dieselfde dinge vra nie. Mense wat nie vir God ken nie, bid so. Hulle dink hulle afgode sal luister na hulle as hulle baie woorde gebruik en lank bid. Julle moenie soos hulle bid nie. Want julle Vader weet wat julle nodig het, Hy weet dit voordat julle dit vir Hom vra.  [Die Bybel vir Almal]

  • Dis nie ‘n gewoonte nie:  Ons is dalk nie gewoond daarom om gereeld te bid nie.
  • Besig:  Ons lewens  is so vol, dat ons nie altyd tyd maak vir gebed nie. 

Mark 4:19 Die dinge van die wêreld is soos die dorings wat die koringplantjies  toegroei. Vir hierdie mense word ander dinge belangriker as die boodskap van God.

  • Nie effektief nie:  Kan God ons hoor wanneer ons met hom praat?

Psalm 4:3 Die Here sal nou ook hoor wanneer ek roep en vra dat Hy my moet help.

Twee benaderings

Julle gesin kan op twee maniere ‘n lewe van gebed vestig.

Eerstens, ontwikkel ‘n roetine van gebed. 

Alle mense het roetine nodig – veral kinders!  Roetine help ons om belangrike goed te onthou en konsekwent te wees.  Ons moet ‘n tyd kies wat ons elke dag kan gebruik om met God te praat.

Gesinne noem voorbeelde van verskillende tye wat kan werk as daaglikse gebedstyd:

  • Voor ons bed toe gaan
  • Voor etes
  • In die oggend
  • Voor skool
  • Wanneer Mamma en Pappa terugkom van werk af
  • Wanneer ons saam in die kar ty op pad êrens heen.

ð  Gesinne gesels:  Wil julle ‘n gereelde gebedstyd vestig?  Wanneer gaan julle gebedstyd wees?

 

Tweedens, wees op die uitkyk vir gebedsgeleenthede.

Dis dalk selfs nog belangriker as gereelde gebedstye – om daaglikse geleenthede te gebruik om ons kinders te leer, nie net van gebed nie, maar ook van God se krag en werk in ons lewens.  Wanneer ons as deel van ons daaglikse lewe na God toe draai, demonstreer ons op ‘n kragtige manier vir ons kinders dat God altyd by ons is en dat ons in ‘n verhouding met hom leef.

1 Tessalonisense 5:17 17 Bid elke keer as julle die kans kry. Moet nooit moeg word om te bid nie. God hoor julle!  (Die Nuwe Testament vir Kinders)

Inspireer

Dave Teixeira vertel:

My vrou is baie lief vir diere en is veral ‘n honde liefhebber.  Gevolglik is sy baie sensitief oor hoe mense hul diere versorg.  Sy raak veral gespanne wanneer sy sien dat mense hulle honde sommer agter op bakkies laat ry.  So, as ons in ons kar ry en ons sien ‘n hond agter op ‘n bakkie, dan word daar vir die hond gebid. 

Hierdie gewoonte het afgesmeer op ons dogtertjie van drie.  Sy freak letterlik uit en dring daarop aan dat daar gebid word elke keer wat hy ‘n hond agter op ‘n voertuig sien. 

Oor-gebruik van gebed?  Dalk, maar die wonderlike deel van die storie is dat gebed uit die roetine van kerk en etes beweeg het, in ons kar in, enige dag op enige oomblik.  Ons gebruik ook gebedsgeleenthede wanneer ons ‘n motorongeluk of ambulans sien.  Die punt is om te kyk vir geleenthede en om dwarsdeur die dag te bid.

ð  Gesinne gesels:  Wat sal goeie geleenthede wees om te bid?

  • Wanneer iemand seerkry.  In plaas van die tradisionele “Laat mamma dit beter soen”, gebruik die seerkry om hulle te leer dat ons met God kan praat wanneer ons seer het.  ‘n Eenvoudige troosgebed kan ‘n groot impak hê.
  • Wanneer iemand hartseer is.  Kinders voel hartseer oor verskillende goed.  Leer jou kinders om regtig hulle bekommernisse op Jesus te werp en eerlik hul gevoelens te verwoord.
  • Wanneer iemand bang is.  Kinders voel dalk bank vir die donker, vir skool toe gaan, vir Kersvader, vir die bure se hond.  Moedig hulle aan om vir God te vertel van hul vrese en te vra vir sy beskerming.
  • Wanneer iemand suksesvol is.  Vier jy kind se suksesse deur God te prys vir die gawes wat hy vir hulle gegee het.
  • Wanneer iemand iets nuuts probeer.  Daar is altyd ‘n nuwe sport, nuwe vermoë, nuwe stokperdjie.  Herinner hulle om God te vra om hulle te help.

Modelleer

Julle het nou twee goed bepaal:

  • ‘n Roetine van gebed – gereelde gebedstye.  (Sê weer vir mekaar wanneer dit gaan wees.)
  • Wees op die uitkyk vir gebedsgeleenthede

Ons gaan nou saam bid.  Party mense noem die manier waarop ons gaan bid, ‘n “popcorn gebed”,  omdat springmielies so een-een pop.

Elke gesin vat hande.  Ek gaan ‘n sin sê en elke gesin gaan dan op die ry af die sin voltooi.  Ons wag in stilte totdat ek die volgende sin sê.  Wanneer ek “amen” sê, sê julle ook almal “amen”.

  • Here, dankie vir…
  • Here, kyk asb mooi na…
  • Here, help ons gesin om…
  • Here, help my om…
  • Amen

Neem dit huis toe

Elke gesin kry ‘n Gebede uit die Psalms vir julle Familie-plakkaat.

Elke gesin kry “Kom, laat ons bid” pamflet van CLF.

Verdere bron:  Faith Begins @ Home Prayer – beskikbaar by loot vir R70.

 

[Vertaal en aangepas uit Take it Home van Mark Holmen en Dave Teixeira] 

Psalm 72 – Epifaniefees – Son 3 Januarie 10

Verwelkoming

Ons vier vandag ‘n besonderse fees in die kerk.  Dit is Epifanie, ‘n baie ou fees, wat al vanaf die vierde eeu deur Christene gevier is.

Tog interessant hoe ons vandag geneig is om die tyd voor Kersfees te gebruik om vrolik te wees.  Ons wag Christus se koms feesvierend af, sing Kersliedere en hou Kerssangdienste.  Kom Kersfees, dan deel ons presente uit, gaan kerk toe en eet ‘n lieflike ete saam.  Ons vier God se menswording en onthou ons familie en vriende, mense wat vir ons dierbaar is.  En dis goed so, dat ons Kersfees so vier.

Maar eeue gelede het Christene hierdie tyd anders gevier, en miljoene Christene doen dit nog steeds anders.  Hulle vier die tyd voor Kersfees, die vier weke van Advent, as ‘n tyd van stilte en meditasie, ‘n tyd waarin Christene reflekteer oor hulle lewens en hulle verhouding met God.

Op Oukersaand bars hulle dan uit in feestelikheid – ‘n fees wat 12 dae duur, tot 5 Januarie, met die Epifanie-fees op 6 Januarie.  En daarmee vier hulle God se verskyning op aarde.  Dis immers wat Epifanie beteken:  “Verskyning”.

Votum

Seëngroet

Lofliedere

Lied 342 – O Jesus, ons Heer, U het ons verbly, uit boeie kom U ons bevry.

Lied 353 – Die Heiland is gebore, soos eeue reeds voorspel.  Daar in die stad van Dawid word Hy Immanuel.

Gebed

Skriflesing

Psalm 72

Woordverkondiging

Nuwejaarsvoornemens

2010

Die jaar waarna baie mense uitsien, want dit is Wêreldbekersokkerjaar.

Dit is ook die tyd van die jaar vir Nuwejaarsvoornemens.  Wonder watter voornemens jy gemaak het?

  • Lees van ‘n vrou (Erma Bombeck) wat ‘n paar interessante voornemens deur haar lewe gemaak het:
    • “Ek sal nie na ‘n dokter toe gaan wie se plante in sy kantoor doodgegaan het nie.”
    • “Ek gaan my man se suggestie volg deur vir ‘n bietjie opwinding in ons lewe te sorg. Ek gaan binne ons begroting lewe.”
    • “Ek sal nooit ‘n kar van my leen vir iemand aan wie ek geboorte geskenk het nie.”
Verandering

Nuwejaarsvoornemens is goed – veral as ‘n mens veranderinge wil aanbring.

  • Lees van ‘n ou wat sy meisie bel en toe die boodskap op die antwoordmasjien kry: “Ek is nie nou beskikbaar nie, maar dankie vir jou oproep. Los ‘n boodskap na die toon. Ek maak ‘n paar veranderinge vanjaar. As ek nie terugbel nie, is jy een van die veranderinge.”

Dit bly egter goed om veranderinge aan te bring.  Niemand van ons is immers perfek nie.  En sonder verandering sal daar baie dinge wees wat ons berou of ten minste oor spyt sal wees.

Maar, dit is interessant, die Bybel is altyd minder gefokus op die verlede en die dinge waaroor ons spyt moet wees, as op die toekoms en watter nuwe moontlikhede daar vir kinders van die Here wag. Dit is waarom gebed so ‘n belangrike rol speel in die Bybel, nie om net skuld te bely of boete te doen nie – dit is ook nodig op sy tyd – maar veral om te bid vir verandering en fokus in ‘n mens se lewe.

Fokus

En ons moet dit met absolute doelgerigtheid en passie navolg.  En keer dat enigiets ons van dié fokus wegrokkel.

Ek lees van ‘n baie goeie bloedhond wat een keer in Engeland ‘n groot takbok met pragtig horings, ‘n regte trofee bok, begin jag het.  Op die jag kruis daar toe ‘n jakkals die spoor en jag hy verder die jakkals.  ‘n Haas kruis toe die spoor, en hy verander sy jagtog en hardloop agter die haas aan.  Oplaas kruis daar toe ‘n muis die spoor en toe jaag hy die muis binne ‘n skuur in.

Hy het begin met ‘n grootse doel, die takbok wat ‘n groot trofee vir sy baas sou wees, en geëindig met ‘n muis (Eric Ritz).

Om afhanklik van die Here te lewe

So waarop moet ons in 2010 fokus?

Ek dink as daar een ding is wat ons kan kies, tussen al die ander mooi en lofwaardige voornemens, is dit om afhanklik van die Here te lewe.

Dit is wat ek leer by Dawid in Psalm 72, oor wat regtig belangrik is, en waarop ons ons harte en lewens moet fokus.

Dawid het Psalm 72 geskryf aan die  begin van sy seun Salomo se regering.  Daarmee het hy sy gebed vir Salomo op aangrypende wyse verwoord.

En die heel eerste ding wat hy vra, is dat Salomo volgens God se wil sal reageer.  Dat hy sal weet wat God se wil is, en dat hy dit sal doen (vers 1).

Dit is ook wat Jesus in die Bergrede as vertrekpunt gebruik vir alles wat Hy gaan sê oor die verhouding met God.  “Gelukkig is die mens wat wéét hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel” (Matt 5:9).

Alles wat Dawid verder in die Psalm vra, spruit voort uit hierdie enkele doel, om van God afhanklik te lewe.

  • Let op hoe Dawid bid dat die koning die reg sal handhaaf – soos God dit wil (vers 1-2).
  • En die doel van die beskerming van die reg van die verdruktes is – sodat mense aan God verbind kan bly en Hom sal dien van geslag tot geslag (vers 4-5).
  • En so kan ‘n mens voortgaan: die veronderstelling van elke aksie van die koning en elke stukkie voorspoed wat vir hom toegebid word, is dat dit sal kom vanuit sy lewe in afhanklikheid van God.
Dit beteken om tyd in gebed met God deur te bring

Die vernaamste manier om in afhanklikheid van God te bly, is deur te bid. Dit sluit die kort skietgebedjies, die saambid met ander en die langer tye van alleen worstel met geloofsake in.  Jy kan eintlik op geen manier regtig groei in jou afhanklikheid van God, as jy dit nie doen vanuit ‘n gebedsverhouding nie.

Ons praat baie keer van die belangrikheid van ‘n persoonlike verhouding met God, en dan bedoel ons dat iemand persoonlik in God moet glo, dat hy of sy persoonlik vir God moet ken, dat so ‘n persoon die ervaring van God se verlossingswerk in sy binneste moes ervaar het.

Maar dit is net so belangrik, indien nie in die praktyk nog belangriker nie, dat jy in ‘n gebedsverhouding met God sal wees.  Want dít is waar ‘n mens afhanklikheid van God leer en waar jy dit uitleef.

In ‘n deel van Afrika, lees ek die week, was die eerste bekeerlinge baie ywerig in hulle gebede.  Om die waarheid te sê, elke gelowige het sy eie spesiale plekkie buitekant die dorpie gehad waar hulle gegaan het om stil te word met God en alleen met Hom in gebed te verkeer.

En elke gelowige het na sy of haar “gebedskamer” gestap op hulle eie private voetpaadjie.  As die paadjie dus begin toegroei het met gras, was dit gou duidelik vir die ander dat die persoon wie se voetpaadjie dit was, nie meer so gereeld gebid het nie.

Omdat hierdie nuwe Christene besorgd was oor die ander se geestelike welstand, het ‘n unieke gebruik by hulle ontstaan.  Wanneer enigiemand agter gekom het, ‘n gebedsvoetpaadjie begin toegroei, het hulle mekaar vriendelik vermaan en gesê: “Vriend, daar is gras op jou voetpaadjie!”

Dit sal ons help om in die gejaag van ons normale lewe met meer aandag en afhanklikheid te lewe, om by ‘n rooi robot, net ‘n erkenning van ons afhanklikheid te maak (oop oë asb.!), of as iemand in ons gedagte opkom, net hulle naam voor die Here te noem.  Of jy kan dit doen in die oggend terwyl jy êrens fiets ry of draf of langs die see stap.  Noem net die mense se name voor die Here, soos jy aan hulle dink, en vertrou Hom vir wat hulle nodig het.

Die netto effek op jou sal ‘n groei in ‘n afhanklike lewe saam met die Here wees, en jy sal verras wees met die gebedsverhorings wat so mettertyd ook deel van jou lewe sal raak.

Dit beteken om saam met God te begin voel

Von Rad, befaamde OT teoloog, het profesie as volg gedefinieer: Een wat deelneem in die emosies van God! ‘n Profeet is dus iemand wat begin om saam met God te voel, wat met God se emosies na die wêreld begin kyk.

Wel, as jy begin groei in jou gebedsverhouding met God, en jy begin jou eie geloofsworstelinge met Hom deurbid en jy begin om ander se name voor Hom te noem, en jy begin raaksien wat Hy doen in antwoord op gebed, sal jou oë al hoe groter oop raak vir dit wat in hierdie wêreld nodig is.  En jy sal God se gevoelens daaroor in jou binneste begin ronddra en vanuit daardie afhanklikheid van God begin optree.

Dan sal die visie wat Psalm 72 so duidelik uitspel, van hoe God dinge wil laat lyk, en wat moet gebeur om die dinge wat daarmee in stryd is, aan te spreek.

  • Let op hoe die Psalm oor verdruktes praat aan wie reg moet geskied (in 5 verse: verse 2, 4, 12, 13, 14). Hulle moet beskerm word, van hulle verdrukkers bevry word, gered word as hulle om hulp roep, veral as daar geen ander hulp meer oor is nie. Hulle lewens moet kosbaar wees in ons oë.

Een persoon wat só begin lewe het, was William Booth, die stigter van die Heilsleër.  Sy evangelie het bestaan uit “seep, sop en saligheid”.

Alles het begin toe William een nag nie kon slaap nie. Hy het by sy snoesige huis in Londen uitgestap en gedwaal deur die agterstrate van Londen, waar hy normaalweg nooit gekom het nie. Toe hy by sy huis terugkom, het sy vrou hom gevra: “Waar was jy?”

Hy het geantwoord: “Katherine, ek was in die hel, ek was in die hel!” En hy het haar alles vertel.

Op daardie dag het hy en sy vrou besef daar word te min vir die armes gedoen. William Booth het begin om tussen hulle te werk en te leef en so het hy gou tot die besef gekom dat die armes Kersfees vier deur hulle dronk te drink. Net daar besluit hy dat hy met die volgende Kersfees sou sorg dat daar vir elkeen ‘n Kersete is. Saam met sy vrou Katherine het hy ‘n sopkombuis begin, want, só het hy geglo: “Niemand kan Jesus aanneem op ‘n leë maag nie.” Die armes kon enige tyd van die dag of nag vir hulle sop gaan haal by dié kombuise.

Teen 1878 was daar altesaam 81 sulke sopkombuise waarheen die armes kon gaan vir iets te ete, en 127 evangeliste het saam met William en sy vrou gewerk. Dis toe dat hulle besluit het om hulleself die Heilsleër (“Salvation Army”) te noem. ‘n Orkes is ook gestig wat altyd gespeel het waar William opgetree het. Die musiek het gehelp om die mense na die byeenkomste te lok.

Op ‘n ander dag het William oor die bekende Londen brug gestap toe hy daar ‘n klomp hawelose mense onder stukkende, ou komberse sien lê. Hy het ‘n pakhuis by die dokke gehuur en dit omskep in ‘n nagskuiling vir hawelose mense.

Die dag toe William Booth dood is, het selfs die koningin sy begrafnis bygewoon. Langs die koningin het daar ‘n vrou gesit wat voorheen ‘n prostituut was. Toe die koningin haar vra hoekom sy die begrafnis bywoon, het sy geantwoord: “Omdat hy vir mense soos ek omgegee het.”

Slot

Ek sluit af.

‘n Mens kan uit die verhaal van William Booth aflei, dat dit in die koninkryk oor die groot dinge gaan wat jy vir die Here regkry, en dan effens moedeloos wees oor jou eie bydrae.

Dit is goed om die lewensmotto van Helen Keller te onthou vir hierdie jaar:

“I long to accomplish a great and noble task, but it is my chief duty to accomplish small tasks as if they were great and noble.”

Duisende klein dade van reg en omgee laat die koninkryk kom.

Toewyding

Lied 500 – Gods dade is volmaak en goed, sy wil is altyd heilig.

Gebed

Dankoffer

Slotlied

Lied 508 – Vaste Rots op wie ek bou, een op wie ek kan vertrou.

Seën

Amen

Lied 314