Luisterblad 26 Februarie tot 5 Maart 2017
PERSOONLIKE LUISTERBLAD
RUS
- Raak stil. Dink na oor wat die afgelope 24 uur gebeur het. Watter versoekings moes jy trotseer? Dank God vir die oorwinnings. Gee vir Hom die nederlae.
HOOR
Lees Matteus 4:1-11
- Lees die gedeelte in die Bybel soos dit aangetoon word. Fokus op wat jou tref.
- Lees my bydrae oor die gedeelte hieronder by Luister na ander en die tye.
- Kies een gedagte wat jou tref en dink daaroor na. Dink veral oor die praktiese betekenis daarvan vir jou veral in versoekings.
- Antwoord die Here in gebed.
- Geniet ‘n paar oomblikke die teenwoordigheid van die Here sonder woorde.
LEEF
- Besluit op ‘n praktiese manier om die Here te vertrou in versoekings.
SAAMLUISTER
Ingenooi deur God
- Begin om oor julle ervarings van versoekings dié week in die kleingroep te gesels. Deel met mekaar hoe julle die Here se teenwoordigheid daarin ervaar het.
Ingaan in God se tyd
- Dit is die begin van Lydenstyd, die tyd wat ons fokus op Jesus se lyding wat ons motiveer tot persoonlike geloof en gehoorsaamheid. Laat iemand die Here dank vir sy teenwoordigheid en open met gebed.
Luister na God se Woord
- Lees nou Matteus 4:1-11. Wat ruk jou? Wat troos jou? Wat bemoedig jou? Wat daag jou uit?
Luister na mekaar
- Deel met mekaar wat julle tref. Gee genoeg tyd vir hierdie deel.
Luister na ander en die tye
Hoekom word Jesus só vroeg in sy bediening aan die versoeking in die woestyn blootgestel? NT Wright sê: “Jesus must face these temptations now, and win at least an initial victory over them. If he doesn’t, they will meet him suddenly, in the middle of his work, and they may overwhelm him.” (Matthew for Everyone).
Die res van Jesus se bediening hang dus af van wat in die woestyn gebeur. Wat hier gebeur, sal uiteindelik bepaal wat later kán gebeur.
Wat ons dus moet raaksien, is dat dié versoeking nie maar net ʼn lastige deel van Jesus se pad was, iets wat Hy moes deurgaan en so vinnig as moontlik agter die rug moes kry nie. Nee, dit was ʼn sleutel aspek van sy bediening, van sy voorbereiding vir wat Hy uiteindelik moes doen.
Dit is ook die doel van versoekings in jou lewe. Jy kan dalk dink God is ongenadig om jou bloot te stel aan versoekings, wat dit ook al vir jou mag wees. Maar, al is dit sleg en swaar, die doel daarmee is om jou sterk te maak van binne, sodat jy nie in jou geloof wankel en in gehoorsaamheid struikel nie.
Hoe help dit jou om nee te sê vir die versoekings waaraan jy blootgestel word?
Luister weer na God se Woord
- Kyk weer vlugtig na die teks (of lees dit weer ‘n keer). Hoe het die inligting hierbo jou verstaan van die teks verander of bevestig? Wat maak die Heilige Gees nou vir jou duidelik?
Fokus op wat God nou doen
- Wat maak God nou vir jou duidelik oor die betekenis van hierdie teks? Wat kan jy doen om staande te bly in versoekings en te volhard in geloof en gehoorsaamheid?
Antwoord met ons lewe
- Ons is reisgenote wat telkens mekaar bemoedig op ons geestelike reis. Hoe kan julle mekaar dié week ondersteun om te volhard in geloof en gehoorsaamheid en staande te bly in versoekings? Bid vir mekaar.
FAMILIE-LUISTER
RUS
- Vertel mekaar wat die afgelope 24 uur in julle familie gebeur het. Waar het julle versoekings beleef? Bid dan saam. Dank God vir die goeie. Gee vir Hom die slegte en bid vir verandering.
HOOR
- Gebruik die volgende vertaling van Matteus 4:1-11 en gesels met mekaar oor wat julle daarin tref:
Jesus en die Duiwel Veg
4:1–3 Na Jesus se doop het die Heilige Gees vir Hom gewys om na die woestyn toe te gaan. Vir veertig dae het Jesus daar niks geëet nie. Hy was toe baie honger. Dit was net die kans waarop die duiwel gewag het. Hy het na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Ek hoor jy is God se Seun vir wie Hy baie lief is. Sê vir die klippe wat hier rondlê om in brood te verander. Dan glo ek Jou.”
4 Maar Jesus was te slim vir die duiwel. Hy het vinnig geantwoord: “Die Bybel sê dat mens nie net brood nodig het om van te leef nie. Nee, jy moet ook luister na alles wat God sê. Dan is jy die Here se kind.”
5–6 Die duiwel het nie ’n antwoord hierop gehad nie. Hy maak toe ’n ander plan. Hy het Jesus gou na Jerusalem toe gevat. Toe hulle daar kom, is hulle reguit na die tempel toe. Dit was die plek waar die Israeliete die Here aanbid het. Die duiwel het Jesus bo-op die dak van die tempel laat staan. Hy sê toe vir Hom: “Ek is nog nie tevrede dat Jy regtig God se Seun is nie. Bewys dit! Spring hier van die dak af. Jou Bybel sê mos:
‘God sal vir sy engele sê om jou op te pas.’ Daar staan ook: ‘Die engele sal seker maak dat jy nie jou toon teen ’n klip stamp nie.’”
7 Maar Jesus was reg vir die duiwel: “Ja, maar daar staan ook in die Bybel: ‘Jy moenie die Here kwaad maak deur verkeerde dinge van Hom te vra as jy bid nie.’”
8–9 Die duiwel was nog nie klaar nie. Hy het vir Jesus na ’n baie hoë berg toe gevat. Daar bo-op die berg het hy vir Jesus al die lande van die wêreld gewys. “Is dit nie mooi nie? Kyk net al die lande met hulle baie geld en mense. Dit alles gee ek vir Jou. Maar Jy moet net gou een klein dingetjie vir my doen. Buig voor my. Sê dat ek jou god is.”
10 Jesus was baie kwaad toe Hy dit hoor. “Gee pad van My af, Duiwel!” het Hy geantwoord. “Die Bybel sê: ‘Daar is net een God. Dit is die Here. Mens mag net voor Hom buig en tot Hom bid.’”
11 Die duiwel het gesien Jesus is heeltemal te sterk vir hom. Hy het toe padgegee. Hierna het engele na Jesus toe gekom. Hulle het vir Hom kos gebring.
(Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.)
- Indien julle kinders groter is, kan julle van die detail met hulle deel in die deel by Luister na ander en die tye
LEEF
- Hoe kan julle sorg dat julle al hoe meer ooggetuies word van Jesus se teenwoordigheid en werk?