Wees Toegewyd – Wees Dapper en Sterk – Rut 3
“And ain’t I a woman?”
Dit was die woorde van Sojourner Truth by die Ohio Women’s Rights Convention in 1851 in die VSA.
Sojourner Truth is gebore as ’n slaaf, maar het in 1826 met haar dogter gevlug, hof toe gegaan om haar seun terug te kry en die eerste swart vrou in die VSA geword wat ’n saak teen ’n wit man gewen het. Sy het vir haarself die naam Sojourner Truth gekies, omdat sy geglo het dat God haar geroep het om rond te reis en ’n boodskap van hoop te verkondig, terwyl sy haar beywer vir die afskaffing van slawerny.
Haar beroemdste toespraak is die een in Ohio, waar sy gesê het:
Daardie man daar sê dat ’n vrou in ’n perdekar ingehelp moet word, oor slote gelig moet word en dat sy oral die beste plek moet hê. Niemand het my ooit in ’n perdekar ingehelp, of oor modderpoele, of vir my die beste plek gegee nie. En is ek nie ’n vrou nie? Kyk na my! Kyk na my arm! Ek het geploeg en geplant en in skure bymekaargemaak en geen man kan beter doen nie. En is ek nie ’n vrou nie? Ek kan so hard werk en soveel eet soos enige man – as ek dit kon kry – en nog die sweep ook verdra. En is ek nie ’n vrou nie? Ek het aan 13 kinders geboorte geskenk en gesien hoe hulle in slawerny verkoop word en toe ek met my moederlike smart uitgeroep het, het niemand behalwe Jesus my gehoor nie. En is ek nie ’n vrou nie?
Sy was nie besig om teen goeie maniere te protesteer nie, maar teen die idee dat vroue soos fyn teekoppies behandel moet word. Haar diepe oortuiging was dat om ’n vrou te wees in hierdie gebroke wêreld dikwels beteken om moeilike dinge te doen, jou spiere te rek en morsige probleme te pak – probleme wat nie genoem word in boeke oor vroulikheid nie.
Toetrede
Lied 214 Here ons sal U loof
Votum
Seëngroet
Oproep tot lof
Lofsang
Psalm 130 v 1 en 3
Lied 209 Heer, met my hele hart
Toewyding
Ons het verlede week gepraat oor ons verantwoordelikheid teenoor die mense wat op die rante leef – ons roeping om te sorg, mense met waardigheid te behandel en gemeenskap te vorm oor grense heen. Saam met die kinders het ons dit genoem “om gaaf te wees”.
Dink na oor die afgelope week. Waar het jou pad gekruis met mense wat op die rante leef? Het jy hulle met menswaardigheid behandel, het daar nuwe gemeenskap tussen julle ontstaan? Of het jy hulle ignoreer, of erger nog, nie met waardigheid behandel nie?
Stilte
Lied 203 Loof die Here, al wat lewe
Geloofsbelydenis
Vonkk 132 Soos Mamma my lief het
Gebed
Inleiding
Verlede week het ons die storie gelees “Wees Gaaf” – onthou julle? Van Trisha wat druiwesap op haar klere gemors het en die dogtertjie wat gewonder het hoe sy gaaf kan wees met Trisha. Toe het ek gesê julle moet die week dink aan maniere waarop julle gaaf kan wees en probeer gaaf wees. Wie wil vir my vertel: wat het jy gedoen?
Facebook verjaarsdagwense
Gesien: klomp mense gesels, meisie wat in bos woon gesels saam, sê iets duidelik nie waar, ou spot haar, probeer vir almal wys hoe slim hy is en hoe verkeerd sy is – gedink, ons almal weet jy is reg. Hoef haar nie te spot om slimmer te lyk nie – jy lyk net naar. Soms gaaf deur nie daarop aan te dring om reg te wees.
Tannies Bybelstudiegroep is gaaf – almal wat gehelp het.
Vandag voorlaaste episode van Rut – Rut 3.
Verlede week: Rut gaan tel koring op, ontmoet vir Boas, Boas help haar, sê sy moet heeltyd op sy lande koring optel, Naomi bly. Rut vir ongeveer 2 maande so koring opgetel. Dan Rut 3:
Op die laaste dag van die oes sê Naomi vir Rut: Vanaand gaan daar ’n groot partytjie wees om die oes te vier. Luister nou mooi vir my wat jy moed doen: was jou skoon, sit lekkerruikgoed aan en trek jou mooiste klere aan. Dan, wanneer Boas aan die einde van die partytjie daar agter die hoop strooi gaan lê, gaan maak sy voete oop en lê by hom. Hy sal vir jou sê wat om te doen.
In die middel van die nag skrik Boas wakker, want sy voete is yskoud! Dis pikdonker. In die donker besef hy – hier is iemand by hom! Hy skrik groot en vra: Wie’s daar?
En weet julle wat doen Rut toe? Sy sê: Ek is Rut en ek wil hê jy moet met my trou.
En sowaar, daar sê Boas: jy is ’n dapper, sterk vrou! Ek wil graag met jou trou.
MAAR, volgens die wette van ons land, is daar iemand anders wat eintlik met jou moet trou. Moet jy nou nie in die donker huis toe stap nie. Bly hier. Dan sal ek môre met daai vent gesels wat eintlik met jou moet trou. As hy bereid is om met jou te trou, goed. So-nie sal ek met jou trou.
Die volgende oggend het hy vir haar ’n klomp koring in haar mantel gesit en sy is huis toe. By die huis was Naomi natuurlik baie nuuskierig om te weet wat gebeur het. Nadat Rut vertel het van die koring, sê Naomi: Nou moet ons wag en kyk wat gaan gebeur. Boas sal nie rus voordat hy gedoen het wat hy belowe het nie.
Einde van episode 3. Nou wat nou? Dink julle Rut en Boas sal kan trou, of sal daardie ander vent met haar trou? Oooeee, die spanning! Volgende week oom Chris laaste episode vertel.
Skriflesing
Rut 3 – Bybeldirektevertaling
1 Naomi, Rut se skoonma, het vir haar gesê: “My dogter, moet ek nie vir jou ‘n tuiste soek waar dit met jou goed sal gaan nie? 2 Nou ja, Boas wie se werkers jy gevolg het, is mos familie van ons. Hy gaan vanaand by die dorsvloer gars uitwan. 3 Was jou, smeer geurige olie aan en trek jou beste klere aan.
Sommige kommentare wys daarop dat wat Naomi hier beskryf, soortgelyk is aan ’n bruid se voorbereidings vir ’n huwelik – Esegiël 16:9-12.
Dan gaan jy af dorsvloer toe. Maar moenie dat die man weet jy is daar voordat hy klaar geëet en gedrink het nie. 4 En as hy gaan slaap, maak seker van die plek waar hy lê. Gaan dan nader, maak sy voete oop en gaan lê daar. Hy sal dan self vir jou sê wat jy moet doen.” 5 Rut het geantwoord: “Ek sal alles doen wat Ma sê.”
Rut se onderdanige reaksie is vreemd! Ons ken nie vir Rut as hierdie onderdanige, gedweë skoondogter wat maar gehoorsaam doen wat haar skoonma sê nie. Inteendeel: ons het haar leer ken as ’n rebel, ’n vrou wat gaan waar sy wil, wat nie doen wat haar skoonma sê net omdat haar skoonma so sê – soos Orpa – nie. ’n Vrou wat inisiatief neem. Vir haar om nou so gedweë “ja” te sê vir hierdie snaakse plan van Naomi, is vreemd.
6 Sy het na die dorsvloer toe afgegaan en alles gedoen wat haar skoonma haar voorgesê het. 7 Nadat Boas geëet en gedrink het en hy in ‘n gemoedelike bui was,
Die einde van die dorsproses was ’n groot feesgeleentheid. Daar is gewoonlik nie “goeie” vroue toegelaat nie. Maar dit was ’n groot partytjie waar daar lekker feesgevier en gedrink is. Boas se “gemoedelike bui” – of vrolik, soos die ander Afrikaanse vertaling sê – is dan waarskynlik ’n eufemisme.
het hy aan die kant van die hoop graan gaan lê. Sy het stilletjies nadergegaan, sy voete oopgemaak en daar gaan lê.
Die woord vir “voete” hier beteken eintlik “bene” en kan na Boas se onderlyf verwys. Weereens dalk ’n eufemisme? Of dalk nie?
Ook die woord vir “oopgemaak” is ook dubbelsinnig. Deut. 22:30 sê bv. ’n seun mag nie die kombers van sy vader oplig nie, wat ’83 vertaal as dat hy nie gemeenskap mag hê met sy pa se vrou nie. Lev. 18 gebruik aanmekaar die woord “ontbloot” om na gemeenskap te verwys.
Net so is “gaan lê” dubbelsinnig.
8 In die middel van die nag skrik Boas wakker. Iets raak aan hom, en sowaar, daar lê ‘n vrou by sy voete! 9 “Wie is jy?” vra hy. Sy antwoord: “Ek is Rut, u slavin. Gooi u mantel oor u slavin, want u is die losser.
Ah, hallo Rut! Hierdie lyk meer soos die Rut wat ons ken. Want let op, sy doen nié wat Naomi sê nie. Volgens Naomi se instruksies moet sy nou wag dat Boas inisiatief neem en vir haar sê wat om te doen. Maar nie Rut nie. Rut is ’n vrou met ’n plan.
Rut gebruik Boas se einste woorde van laas op sy landerye – in hoofstuk 2 – nou vir hom. In vers 12 van hoofstuk 2 sê hy:
12Mag die Here jou beloon vir wat jy gedoen het. Mag jy ’n welverdiende beloning ontvang van die Here die God van Israel onder wie se vleuels jy kom skuil het.”
So sy sê nou vir hom – dit wat jy gebid het die Here moet vir my doen – wees jy nou die instrument waarmee die Here dit doen. Die woord wat sy gebruik vir “mantel” het ook die suggestie van “vleuels”.
Maar dit is óók ’n verwysing na ’n huwelikseremonie, waar ’n man simbolies ’n gedeelte van sy mantel oor ’n vrou gooi. So Rut vra vir Boas om met haar te trou! Dis nie hierdie gedweë ou meisietjie wat maar met haar laat gebeur wat gebeur nie. Sy neem inisiatief.
Dan sê sy by dat Boas haar losser is. Nou ’n losser se taak hou verband met grond, nie huwelike nie. As ’n familie om die een of ander rede in gevaar is om hul grond te verloor, moet ’n ander familielid intree en die grond oorneem. Daardie familielid spandeer dan natuurlik geld aan die grond, bewerk dit. As die oorspronklike familielid weer op hul eie voete kan staan, moet die grond teruggegee word. Dus nie ’n baie gewilde wet nie, want dit kos die losser geld, wat hy alles kan verloor.
Maar dis nie die leviriaat nie. Die leviriaat gaan daaroor dat ’n man met sy ouer broer se kinderlose weduwee trou. Dan is die eerste kind uit daardie huwelik gesien as die ouer broer se kind, sodat die ouer broer se erfporsie in sy nageslag bly.
Rut verbind hierdie twee wette aan mekaar. Sy lig die gees eerder as die letter van die wet uit – dis Boas se taak om vir hulle te sorg. Sy leer ons dat die regte toepassing van die wet nie gaan oor die objektiewe letter van die wet nie. Dit gaan eerder daaroor om die implikasies van die wet te verstaan en dan op te tree op ’n manier wat die waardes van die wet vergestalt. Sy stel voor dat Boas vir haar sorg deur met haar te trou.
Nie alleen gee sy haar eie interpretasie aan die wet nie – ’n mens sou selfs kon argumenteer dat wat sy vra, téén die wet is. Onthou, dit was teen die wet vir is Israelitiese man om met ’n Moabitiese vrou te trou. ’n Dapper plan!
10 Hy sê toe: “Mag jy geseën word deur die HERE, my dogter. Jou trou aan die familie blyk nou nog duideliker as voorheen aangesien jy nie agter jong mans, of hulle arm of ryk is, aanloop nie.
Totaal teen enige verwagting in, kry Boas hier nie koue voete nie.
Die woord wat Boas vir “trou” gebruik, is die Hebreeuse “hesed” – ’n woord wat ’n belangrike tema in die verhaal van Rut is. Dit verwys na verbondstrou, wat getrouheid aan God impliseer, trou bo wat van jou verwag word.
Die Midrash, die antieke Joodse kommentaar op Rut, het gesê dat Boas ongeveer 80 jaar oud was ten tyde van hierdie gebeure.
11 Moet dus nie bang wees nie, my dogter. Alles wat jy vra sal ek doen. Al my mense in die dorp weet immers dat jy ‘n deugsame vrou is.
Die woord wat Boas gebruik vir Rut, wat hier vertaal word as “deugsaam” – of in die ’83 vertaling as “goed” – is presies dieselfde woord waarmee Boas aan ons bekendgestel word in Rut 2:1, wat daar vertaal word as “vermoënd”. Die woord beteken sterk, dapper of wys. Dis ook hoe dit gewoonlik vertaal word. Dis net wanneer dit na vrouens verwys, wat dit as “goed” of “deugsaam” vertaal word – wat meer sê van die vertalers as van die betekenis van die woord.
12 Dit is nou wel waar dat ek ‘n losser is, maar daar is ook ‘n losser wat nader familie is as ek. 13 Bly vannag hier. En môreoggend, as hy jou wil loskoop, goed, laat hy jou dan loskoop. Maar as hy jou nie wil loskoop nie, dan sal ek, sowaar as die HERE leef, dit self doen. Bly nou maar lê tot môreoggend.” 14 Sy het tot die môre toe by sy voete bly lê. Nog voordat ‘n mens iemand anders sou kon herken, het sy opgestaan, want hy het gesê: “Dit mag nie bekend word dat ‘n vrou na die dorsvloer gekom het nie.”
Wat het gebeur, daardie aand op die dorsvloer? Wat gaan hier aan? Die teks is hoogs suggestief en dubbelsinnig. Dit is so dubbelsinnig dat dit doelbewus móét wees.
MAAR dit is nie eksplisiet nie. Dit spel nie uit wat daar gebeur het nie. Dit word, soos hulle sê, aan ons verbeelding oorgelaat. En glo my, mense verbeel vir hulle. So oor die jare kry ’n mens allerhande interpretasies van hierdie nag op die dorsvloer: sommige sê dit was ’n kuise ontmoeting tussen twee deugsame mense. Ander sien dit as ’n vreeslike romantiese verhaal, met romantiese spanning die hele tyd onderliggend en hierdie gebeure dan as ’n liefdesverklaring – hoewel romantiese liefde in Rut en Boas se tyd natuurlik nie ’n groot deel of enigsins ’n voorvereiste was vir ’n huwelik nie. Ander sien dit as ’n desperate, arm jong vrou se desperate pogings om te oorleef, deur haarself aan te bied vir ’n ou, boepens, skewe-tand man. Sommige wys daarop dat Boas net ’n man van aansien kon wees, as hy reeds seuns gehad het. Wat beteken dat Boas óf ’n wewenaar was, of waarskynlik reeds ’n vrou – of meer – gehad het. Nog ander sien hierdie as ’n slinkse plan van twee vroue om ’n onskuldige man te vang – entrapment – waar hy hom in ’n situasie bevind waar hy gedwing word om met Rut te trou.
Dis alles, letterlik, interpretasies wat mense van hierdie teks gee. Baie daarvan gebou op soliede inligting oor die leefwêreld van die tyd. Maar niks daarvan in die teks nie. Die teks los alles doelbewus aan ons verbeelding oor. En leer vir ons in die proses ’n baie belangrike les. Want wat ons dink daar op die dorsvloer gebeur het, sê meer van ons as van die verhaal van Rut en Boas.
Vroeërjare het mense altyd gepraat van die wêreld agter die teks, in die teks en voor die teks. Die wêreld agter die teks sal dan die wêreld wees waarin die teks ontstaan het, die geskiedenis en gebruike van die tyd. Ek het die afgelope weke vir julle baie van hierdie inligting gegee: oor die Rigters, oor Esra/Nehemia. Die gebruike rondom lossers en leviriaat, of dorsvloere en huwelike, is die wêreld agter die teks wat ons help om die teks beter te verstaan.
Die wêreld in die teks is die teks self. Dit is goed soos die feit dat Rut 2 en 3 as parallelle geskryf is, met interessante ooreenkomste. Dit is die betekenis van woorde, soos voete of deugsaam, of dat dieselfde woorde en uitdrukkings in hoofstuk 2 en 3 gebruik word. Dit gee vir ons dieper leidrade rondom die betekenis van die teks.
Die wêreld voor die teks is dan ons as lesers se wêreld. Die wêreld waarin ons leef, ons verstaan en kultuur en vooroordele, het altyd ’n invloed op hoe ons die teks wat ons lees, verstaan en interpreteer. As ons vanuit ’n model van romantiese liefde werk, dan is dit wat ons in die verhaal gaan sien. Wat die verhaal van Rut doen, is om daardie beginsel vir ons uit te lig – sodat ons altyd bewus daarvan kan wees. Ons eie wêreld het altyd ’n impak op hoe ons die Bybel verstaan. Dis hoekom dit so belangrik is dat ons die Bybel saam met ander lees. En hoekom dit so belangrik is dat Christelike gemeenskappe diverse gemeenskappe moet mees – sodat ons bewus kan raak van ons eie wêreld en ons eie vooroordele. Dit is ook hoekom ons verskille moet vashou en mekaar nie moet afskryf wanneer ons verskil nie – omdat ons mekaar help om meer en dieper te reflekteer en te verstaan.
15 Boas sê toe vir haar: “Gee die tjalie wat jy om het en hou dit oop.” Sy het dit oopgehou en hy het ses mate gars daarop afgemeet en dit op haar skouer getel. Daarna is hy die dorp in.
Dit kan ook lees: “daarna is sy die dorp in”
16 Toe sy by haar skoonma kom, vra sy vir haar: “Hoe het dit toe gegaan, my dogter?” Sy het haar alles vertel wat die man vir haar gedoen het.
Dis nie duidelik of Rut vir Naomi vertel het wat sý gedoen het nie!
17 Sy het ook gesê: “Hierdie ses mate gars het hy vir my gegee, want hy het gesê: ‘Jy mag nie met leë hande by jou skoonma aankom nie.’ ” 18 Naomi antwoord: “My dogter, wag nou maar totdat jy weet hoe die saak uitval. Die man sal nie tot rus kom tensy hy die saak vandag nog afhandel nie.”
Preek
Ain’t I a woman?
“And ain’t I a woman?”
Dit was die woorde van Sojourner Truth by die Ohio Women’s Rights Convention in 1851 in die VSA.
Sojourner Truth is gebore as ’n slaaf, maar het in 1826 met haar dogter gevlug, hof toe gegaan om haar seun terug te kry en die eerste swart vrou in die VSA geword wat ’n saak teen ’n wit man gewen het. Sy het vir haarself die naam Sojourner Truth gekies, omdat sy geglo het dat God haar geroep het om rond te reis en ’n boodskap van hoop te verkondig, terwyl sy haar beywer vir die afskaffing van slawerny.
Haar beroemdste toespraak is die een in Ohio, waar sy gesê het:
Daardie man daar sê dat ’n vrou in ’n perdekar ingehelp moet word, oor slote gelig moet word en dat sy oral die beste plek moet hê. Niemand het my ooit in ’n perdekar ingehelp, of oor modderpoele, of vir my die beste plek gegee nie. En is ek nie ’n vrou nie? Kyk na my! Kyk na my arm! Ek het geploeg en geplant en in skure bymekaargemaak en geen man kan beter doen nie. En is ek nie ’n vrou nie? Ek kan so hard werk en soveel eet soos enige man – as ek dit kon kry – en nog die sweep ook verdra. En is ek nie ’n vrou nie? Ek het aan 13 kinders geboorte geskenk en gesien hoe hulle in slawerny verkoop word en toe ek met my moederlike smart uitgeroep het, het niemand behalwe Jesus my gehoor nie. En is ek nie ’n vrou nie?
Sy was nie besig om teen goeie maniere te protesteer nie, maar teen die idee dat vroue soos fyn teekoppies behandel moet word. Haar diepe oortuiging was dat om ’n vrou te wees in hierdie gebroke wêreld dikwels beteken om moeilike dinge te doen, jou spiere te rek en morsige probleme te pak – probleme wat nie genoem word in boeke oor vroulikheid nie.
Ek is diep ongemaklik met enige boek of praatjie wat probeer voorskrifte vir “vrou-wees” of “man-wees” voorhou. Veral as sulke praatjies probeer maak asof daar ’n spesifieke Bybelse model vir vrou-wees of man-wees is. Mens-wees, ja. Maar spesifieke voorskrifte oor hoe dit lyk om ’n vrou of ’n man te wees, nee wat.
Maar nou noem Boas in vandag se teks vir Rut ’n “goeie” of ’n “deugsame” vrou. “Worthy woman”, soos wat die Engels sê. En nou leef ons in ’n wêreld waar jy jou nie kan draai nie, of daar is ’n “worthy women” konferensie of ’n boek wat vir vroue wil vertel hoe om vrou te wees.
So, aangesien dit Donderdag Vrouedag is en aangesien Boas vir Rut ’n “goeie vrou” noem, kom ons kyk vandag vinnig na wat dit beteken wanneer die Bybel praat van ’n “goeie vrou”.
Rut
Rut is oor die millennia al baie dinge genoem. Dante praat van haar as die “optel-meisie, sagmoedige voormoeder van Dawid”. Milton gebruik haar as die voorbeeld van ’n deugsame jong dame – “virtuous young lady”. Maar Boas noem haar “hayil”. Die woord “hayil” se woordboek-definisie is krag (strength), mag might, doeltreffendheid, rykdom en weermag. Wanneer dit gebruik word om ’n mens te beskryf, word dit gewoonlik vertaal as dapper of held. ’n Hayil is ’n held soos in ’n Griekse epos. Dit is iemand wat sterk en dapper is, met morele moed en invloed.
Daar is net 4 plekke in die Bybel waar die woord Hayil van ’n vrou gebruik word: hier, in Rut en in Spreuke. Die konneksie tussen Boas se woorde en Spreuke 31 is in die teks so helder, dat Boas duidelik Spreuke 31 in gedagte gehad het wanneer hy na Rut verwys as hayil.
En dis interessant, in die Hebreeuse Bybel volg Rut net na Spreuke en maak dit deel uit van die wysheidskorpus. Hulle sien haar verhaal dus as wysheidsliteratuur, eerder as geskiedenis, soos wat die plasing in ons Bybel sal suggereer.
Spreuke 31-vrou
Spreuke 31:10-31
10Alef. Wie sal ’n deugsame [hayil – dapper, sterk] vrou vind? want haar waarde is ver bo korale.
11Bet. Die hart van haar man vertrou op haar, en aan wins sal dit hom nie ontbreek nie.
12Gimel. Sy doen aan hom goed, en nie kwaad nie, al die dae van haar lewe.
13Dalet. Sy sorg vir wol en vlas, en sy werk met gewillige hande.
14He. Sy is soos die skepe van ’n handelaar—van ver af bring sy haar brood in.
15Wau. En sy staan op as dit nog nag is en gee voedsel aan haar huisgesin en die bestemde deel aan haar diensmeisies.
16Sajin. Sy dink na oor ’n stuk grond en koop dit, van die vrug van haar hande plant sy ’n wingerd.
17Get. Sy omgord haar lendene met krag en hou haar arms stewig.
18Tet. Sy voel dat haar wins goed is, in die nag gaan haar lamp nie dood nie.
19Jod. Sy steek haar hande uit na die spinstok, en haar handpalms hou die spoel vas.
20Kaf. Sy brei haar handpalm uit na die ellendige, en sy steek haar hande uit na die behoeftige.
21Lamed. Sy is nie bevrees vir haar huisgesin vanweë die sneeu nie, want haar hele huisgesin dra skarlaken stof.
22Mem. Sy maak vir haarself dekens, haar tabberd is van fyn linne en purper.
23Noen. Haar man is bekend in die poorte as hy saam met die oudstes van die land sit.
24Samek. Sy maak hemde en verkoop dit, en gordels lewer sy aan die handelaars.
25Ajin. Sterkte en eer is haar kleed, en sy lag oor die dag wat kom.
26Pe. Haar mond maak sy oop met wysheid, en vriendelike onderrigting is op haar tong.
27Sade. Opmerksaam gaan sy die werksaamhede van haar huis na, en die brood van luiheid eet sy nie.
28Kof. Haar seuns tree op en noem haar gelukkig, haar man ook, en hy prys haar:
29Resj. Baie dogters het hulle knap gedra, maar jy oortref hulle almal.
30Sjin. Die bevalligheid is bedrog, en die skoonheid is nietigheid; ’n vrou wat die HERE vrees, sy moet geprys word.
31Tau. Gee haar van die vrug van haar hande, en laat haar werke haar prys in die poorte.
Die uitstaande kenmerke van hierdie hayil vrou, is haar krag, haar vertand en haar karakter. Sy is ’n besigheidvrou.
In die manier waarop sy haar besigheid benader, sien ons dat sy wys en intelligent is. Sy kan planne maak, vooruitbeplan. Sy het insig.
Ons sien dat sy krag het. En die woord wat gebruik word vir haar krag, sluit ekonomiese, militêre en morele krag in. So sy is sterk en dapper.
Haar krag is haar kroon.
Omdat sy wys is, onderrig sy. Mense leer by haar. Mense baat by haar slim lewe.
Sy doen goed, nie skade nie. Sy is fluks. Sy dien die Here.
En sy beplan nie net vir goeie tye nie. Haar krag en wysheid is ook sigbaar in slegte tye, in tye van teenstand. Dit is juis in tye van teenstand wat haar slimmigheid – die Engels praat van “shrewdness”, maar die Afrikaanse “uitgeslape” het negatiewe konnotasies – maar dit is juis in slegte tye wat ’n mens sien dat sy slim planne maak.
Spreuke 31 hou die beginsel voor. Die verhaal van Rut wys dan vir ons hoe dit prakties lyk. Hoe lyk die lewe van ’n hayil vrou, wanneer dinge skeef loop, wanneer dit sleg gaan en oorlewing op die spel is?
Weer: Rut
In Rut se optrede sien ons dan hierdie beginsels uitspeel:
Eerstens, Rut is nie passief nie. Sy wag nie vir ’n ridder op ’n wit perd om haar te kom red nie. Hoewel dit deurgaans duidelik is dat sy aan God glo, sit sy ook nie eers terug en wag vir God om haar situasie te verander nie.
Sy kyk na haar situasie en sy kyk na hierdie God van die Hebreërs en dan maak Rut ’n plan. Sy werk met wat sy het en sy neem inisiatief. Wanneer dinge verkeerd is, tree sy op om dit reg te maak. Wanneer haar omstandighede verhoed dat sy floreer, dan sit sy haar tee. Sy breek reëls en konvensies en waag gróót kanse.
Alles om op ’n plek te kom waar nie net sy nie, maar ook haar skoonma, veilig is, waar daar vir hulle voorsien word.
En God gebruik Rut se dapperheid en waagmoed en slimmigheid. Hy maak dit deel van sy groter plan.
’n Hayil vrou
Nou wil ek graag weer sê – ek dink nie hierdie is beginsels wat net vir vroue geld nie. Die Bybel praat met ons oor menswees, eerder as man- of vrou-wees.
Maar wanneer ons hierdie week Vrouedag gedenk, dan gedenk ons ’n lang geskiedenis van sterk, dapper vroue. Nie net in ons land se geskiedenis, of in ons onderskeie kulture se stories nie, maar in ons geloofsgeskiedenis. Rut. Naomi. Tamar, wat in hoofstuk 4 by die verhaal van Rut ingesluit word. Miriam. Ragab. Jael. Debora. Ester. Elisabet. Maria, Jesus se ma. Hanna. Lydia. Priscilla. Marta. Maria, die eerste onder die apostels. Dorcas, ook bekend as Tabita. Loïs en Eunice en nog baie ander.
As daar dan iets is wat ons moet nastreef, dan is dit verbondstrou: trou aan God wat neerslag vind in dade van verstommende gehoorsaamheid. En daardie dade vra van ons krag en dapperheid en, dikwels, slimmigheid.
Gebed
Dankoffer
Koor Vonkk 403 Op U verlaat ek my
Slotsang
Lied 557 Hoor, Heer, ons aandgebede
Seën
Respons
Lied 203 v 4 laaste twee reëls (staan)
rut, Rut 3, Spreuke 3, Vrouedag, worthy woman, worthy women. deugsame vrou