Ek hou daarvan om kerkgeboue af te neem. Nie in die eerste plek twv die gebou en die argitektuur nie, maar eerder die konteks. So het ek onlangs in Queenstown ‘n foto geneem van die Metodistekerk – tussen Kia Motors en Beekman Fitment Centre, voor ‘n groot industriële gebou.
Net om die draai van waar ek woon, is die Grace Bible Church. Dis op ‘n gewone perseel, op geen manier indrukwekkend nie. Eintlik maar tipies van Sentraal.
Behalwe, reg langsaan – in dieselfde gebou – is die Red Door Gentlemen’s Club. Net ‘n entjie af in die straat is Adult World. So tussen die Red Door Gentlemen’s Club en Adult World: die Grace Bible Church.
Genade en waarheid.
Ons dink baie keer aan die werk van die Gees in ons lewe uit die perspektief van die troos wat Hy bring asook die vrug wat Hy in ons lewe dra. En dit is baie relevante perspektiewe. Jesus noem die Gees die Trooster (Joh. 16). Die Gees is die Voorspraak, die Een wat nie net in ons is nie, maar vir ons intree by God (Rom. 8). Die Gees gee vir ons gawes (1 Kor. 12). En Hy dra vrug in ons lewe: liefde, vrede, selfbeheersing (Gal. 5:22).
Maar, dit is nie hoe Miga in die eerste plek dink aan die Gees nie. Hy dink aan vervulling met die Gees as die krag om op te tree teen onreg, soos hy in hfst 3:8 sê. Hy dink aan die Gees as die Een wat vir hom ‘n sin gee vir wat reg is, wat die moed gee om te praat oor die geweld, en onreg en gierigheid wat hy in die samelewing van oud-Israel raaksien.
Dit is dinge wat nie soseer jou geestelik bevestig en tot rus bring nie. Dit is dinge wat jou ontwrig, en ontstel, en wil laat optree. Die krag om op te tree, die sin vir wat reg is, wat jou teen alle onreg in opstand bring, wat jou die moed gee om te praat oor wat verkeerd is. Dit is soos ‘n vuur wat in jou brand waaroor jy nie stil kan bly nie.