Romeine 8:12-17 Preek: Aangeneem
Ek is nou al in my 40’s. My ouers het meer as ’n dekade gelede al getrek uit die huis waarin ek grootgeword het. Wanneer ek by hulle gaan kuier, moet ek die klokkie lui. Dan word die deur oopgemaak, word ek ingenooi, word daar vir my koffie gemaak – spesiale koffie, wat hulle spesiaal vir my aanhou, want hulle weet van my. Terwyl ons koffie drink, word daar vir my sleutels van die huis gegee. Nou is ek tuis. Ek hoef nie te vra as ek iets wil hê nie. Hiervandaan maak ek vir myself – en vir die ander – koffie. Het ek self sleutels. Al was ek lanklaas daar – ek is tuis.
Om God se kind te wees, beteken jy is altyd welkom by God. Selfs al het jy drooggemaak. Selfs al het jy érg drooggemaak, so erg dat jy gedink het jy gaan nóóit weer met die sleutels vertrou word nie, wat nog te sê in die huis ingelaat word. As God se kind, is jy altyd welkom by God, al het jy afgedwaal. Al het jy lanklaas gebel, al het jy jou rug op God gedraai.
Vooraf
ECCC Ave Maria (Vavilov) Soliste: Laura Potgieter
Verwelkomings en Afkondigings
Toetrede
ECCC Lied 169 Heilig, Heilig, Heilig
Votum (nav Ps 29)
Leser 1: Prys die Here, julle hemelinge!
Leser 2: Prys die Here om sy eer en mag!
1: Prys die Here om die eer van sy Naam!
2: Buig voor die Here by sy heilige verskyning!
1: Die stem van die Here weerklink oor die waters. Dit is die magtige God wat die weer laat dreun; die Here self is op die groot waters!
2: Die stem van die Here is magtig, die stem van die Here is vol majesteit. Die stem van die Here kloof die seders van die Libanon oop. Hy laat die Libanon bokspring soos ’n kalf en die Sirjon soos ’n jong bees.
1: Die stem van die Here laat weerlig uitslaan.
2: Die stem van die Here laat die woestyn bewe. Die Here laat die Kadeswoestyn bewe.
1: Die stem van die Here laat die wildsbokke ruk van skrik; dit stroop die bosse kaal. In sy paleis roep almal uit: “Hoe geweldig!”
2: Die Here heers oor die watermassas, Hy heers vir altyd as koning.
1: Die Here gee krag aan sy volk;
2: die Here seën sy volk met oorvloed.
Seëngroet
L: Genade en vrede van een Skepper-God
G: van alle sienlike en onsienlike dinge.
L: Genade en vrede van een Here, Jesus Christus, Lig uit lig,
G: wat sit aan die regterhand van die Vader.
L: Genade en vrede van die Heilige Gees,
G: wat ons Here en Lewendmaker is.
Almal: Amen.
Lofsang
ECCC Psalm 150 (Kódaly)
Psalm 29 verse 1, 2 en 5
Lied 454 Vader, ons eer U
Verootmoediging en toewyding
Romeine 8:12-17
Lied 510 Genade, onbeskryflik groot
Geloofsbelydenis
(n.a.v. die geloofsbelydenis van Atanasius)
Voorganger: Ons eer één drie-enige God.
Gemeente: Ons eer U, Vader. Ons eer U, Seun. Ons eer U, Heilige Gees.
Voorganger: Ons eer U, ewige majesteit.
Gemeente: Ons eer U eenheid: Vader, Seun en Heilige Gees.
Voorganger: Niemand het God geskep nie. Die Vader is deur niemand geskep nie. Die Seun is deur niemand geskep nie, maar verwek deur die Vader alleen. Die Gees is deur niemand geskep nie, maar gaan van die Vader en die Seun alleen uit.
Gemeente: U is die ewig onmeetlike God! U is één.
Voorganger: God se mag ken geen einde nie!
Gemeente: Die Vader is almagtig, die Seun is almagtig, die Heilige Gees is almagtig.
Voorganger: Die Vader is nie meer of minder as die Seun of die Gees nie. Die Seun is nie meer of minder as die Vader of die Gees nie. Die Gees is nie meer of minder as die Vader of die Seun nie.
Gemeente: Die Vader, Seun en Gees is gelyk in waarde, mag en eer. Ons eer U, drie-enige God.
Voorganger: Ons eer één drie-enige God.
Gemeente: Ons eer U, Vader. Ons eer U, Seun. Ons eer U, Heilige Gees
Almal: Amen!
Gebed
Inleiding
Storie: Yes, I am adopted!
Deur Sharlie Zinniger
Illustrasies Tiffany Cunliffe
As jy netnou mooi geluister het toe ons uit die Bybel gelees het, dan sou jy ’n ander wonderlike ding oor aanneming gehoor het. Wie het dit gehoor? Die Bybel sê ons is elkeen deur God aangeneem. God het ons aangeneem soos wat die mamma en pappa die seuntjie in ons storie aangeneem het. Hy is ons elkeen se Pappa – en jy is sy kind. Jy mag met hom gesels. Hy is lief vir jou. Jy is welkom by hom.
Vonkk 213 God is lief vir my
Preek
Ons Skriflesing vanoggend is Romeine 8:12-17, wat ons netnou gelees het. Chris het Maandagaand by die Kerkraadsvergadering vir ons die Message vertaling van die gedeelte gebring, waarin verse 15-16 lees:
This resurrection life you received from God is not a timid, grave-tending life. It’s adventurously expectant, greeting God with a childlike “What’s next, Papa?” God’s Spirit touches our spirits and confirms who we really are. We know who he is, and we know who we are: Father and children. And we know we are going to get what’s coming to us—an unbelievable inheritance!
Vers 15 lees in die 1983 vertaling:
Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader.
Die 1953 vertaling vertaal dit meer akkuraat:
Want julle het nie ontvang ’n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!
Aangeneem
’n Gees van aanneming tot kinders.
Nie ’n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar ’n Gees van aanneming tot kinders.
Dis hoekom ek vanoggend die prentjie gebruik van die gesiggie op die hand. Dit is die wêreldwye simbool van Wêreld aanneming dag, wat jaarliks op 9 November gevier word.
In my voorbereiding kom ek af op die verhaal van ’n seuntjie genaamd Jacques. Dis ’n ware verhaal wat baie, baie jare gelede gebeur het. Een aand, hierdie baie jare gelede, was daar ’n vreeslike storm. Tydens die storm word Jacques-hulle se huis deur weerlig getref en slaan dit aan die brand. Die vuur het vinnig versprei en die huis heeltemal verwoes. Die man en vrou het gesterf, maar hul agt-jarige seuntjie, Jacques, het die brand oorleef. Daar was geen ander familie by wie Jacques kon bly nie en so het hy in ’n kinderhuis geëindig.
Dit was ’n baie moeilike tyd vir Jacques. Hy was alleen. Hy het baie keer gevoel hy is nie goed genoeg nie. Baie keer het mense gekom om ’n kind aan te neem, maar dit was nooit Jacques nie. Hy het begin dink dat niemand hom wil hê nie. En toe, uiteindelik, na vier lang jare, het ’n gesin hom aangeneem. Hy het weer aan ’n familie behoort.
Wat vir hom die wonderlikste was, was dat hulle hom behandel het asof hy nog altyd deel was van hulle gesin. Hy het twee broers gehad en hulle het hom glad nie anders behandel nie. Hy kon weer vir iemand “Mamma” en “Pappa” sê. Hy het vreeslik lief geraak vir hulle. Hy het soos die ander in sy gesin begin optree. Naderhand kon niemand eers raai dat hy aangeneem is nie.
Later sou Jacques twee goed uitlig wat hy gesê het hom finaal laat besef het hy is deel van hierdie gesin:
Die eerste het gegaan oor die skool se boelie, Ronnie. Ronnie het besluit om op Jacques te pik. Hy sou vir Jacques voor almal ’n “optelkind” noem. Een middag het Ronnie weer vir Jaques ingewag. Hy het vir Jaques rondgepluk. Maar net toe Ronnie vir Jacques wou slaan, het iemand skielik vir Ronnie van Jacques afgepluk. Dit was Jacques se twee broers! Hulle het sommer gelyk met Ronnie gepraat: “Dis ons kleinboetie die. Los hom uit. Ons wil nooit weer hoor dat jy hom slegsê nie. Verstaan jy mooi?”
Ronnie het soos ’n mak lammetjie geknik en weggehardloop. Van toe af het hy nooit weer met Jacques skoor gesoek nie. En Jacques het gedink: “My broers het my gehelp.”
Die ander insident was toe hulle eenslag aan tafel sit en hul ouers aankondig dat hulle hul testament hersien het. Jacques gaan ook erf. En nie sommer net ’n stukke as ’n nagedagte aan die einde nie. Hy gaan dieselfde erf as sy broers. Sy ouers het besluit om hul boedel gelykop te verdeel tussen al drie hul kinders.
Toe het Jacques geweet: ek is een van hulle. Dis my gesin hierdie.
Jacques het gesê die verskil tussen kinders wat aangeneem is en kinders wat deur geboorte hul ouers se kinders is, is dat sy broers in hul ma se baarmoeder gegroei het, maar hy het in sy ouers se harte gegroei. Daarom is al hulle kinders ewe spesiaal.
’n Gees van aanneming tot kinders
Hierdie is al weer een van daardie goed wat ons so gereeld hoor, dat ons nie besef hoe wonderbaarlik dit is nie. Dat jy ’n kind van God kan wees!
Dieselfde Griekse woord wat Jesus beskryf as God se kind, word ook gebruik om ons te beskryf as God se kinders. DIS hoe lief God ons het. Soos sy eie Seun. Wanneer God ons aanneem, word ons volledig sy kinders, ingesluit in sy testament. Ons is nie tweederangse kinders wat half skoor voetig by die tafel toegelaat word nie. Ons word God se eie kinders.
En as jy nou in Paulus se tyd hierdie brief gelees het, sou jy selfs nog beter as ons besef het hoë ongewoon en wonderbaarlik hierdie aanneming is.
Onthou, Paulus skryf hierdie brief aan die gelowiges in Rome. Aan die Romeine.
Hoewel aanneming ‘n algemene gebruik in Paulus se tyd was, gaan God verder as wat hulle in hul tyd geken het:
- Romeine het nie vreemde kinders aangeneem nie. Kinders is gewoonlik uit die vriendekring of bekende kring aangeneem.
- Dit was totaal vreemd om slawe, selfs vrygemaakte slawe, aan te neem
- Waar ouers ‘n wettige erfgenaam gehad het, sou hulle nie nog kinders aanneem nie.
Terwyl God ‘n Seun het, neem God nogtans voormalige slawe, wat Hy self vrygekoop het, aan tot kinders.
Dis hoe vreemd, hoe verstommend en wonderbaarlik, ons aanneming is. Die God wat skepper van die heelal is, neem jou aan as sy kind. Vir jou, wat voorheen ’n slaaf was. Hy koop jou vry en maak jou sy kind. Want dis hoe lief God ons het.
En net om seker te maak daar bestaan géén twyfel nie, sê die teks:
16Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is
Dit sluit weer aan met die praktyke van die Romeine vir wie Paulus skryf. Die aannemingseremonie het in die teenwoordigheid van sewe getuies plaasgevind. As daar dan iewers ’n dispuut ontstaan oor die reg van die aangenome kind, sal een van die getuies na vore tree en die status van die aangenome kind bevestig. Op hierdie manier is die reg van die aangenome kind verseker.
Paulus sê die Heilige Gees self is die getuie van ons kindskap van God. Ons is aangeneem tot familie van God.
Dit is wettig gedoen. Niemand kan na die tyd kom en dit op tegniese punte ongedaan maak nie. Niemand kan kop uittrek nie. Ons is nou kinders, net soos wat biologiese kinders hul biologiese ouers se kinders is. Daar is nie backsies nie.
Welkom
Dit beteken dat ons welkom is by God. Dat jy altyd welkom is by God.
Ek is nou al in my 40’s. My ouers het meer as ’n dekade gelede al getrek uit die huis waarin ek grootgeword het. Wanneer ek by hulle gaan kuier, moet ek die klokkie lui. Dan word die deur oopgemaak, word ek ingenooi, word daar vir my koffie gemaak – spesiale koffie, wat hulle spesiaal vir my aanhou, want hulle weet van my. Terwyl ons koffie drink, word daar vir my sleutels van die huis gegee. Nou is ek tuis. Ek hoef nie te vra as ek iets wil hê nie. Hiervandaan maak ek vir myself – en vir die ander – koffie. Het ek self sleutels. Al was ek lanklaas daar – ek is tuis.
Om God se kind te wees, beteken jy is altyd welkom by God. Selfs al het jy drooggemaak. Selfs al het jy érg drooggemaak, so erg dat jy gedink het jy gaan nóóit weer met die sleutels vertrou word nie, wat nog te sê in die huis ingelaat word. As God se kind, is jy altyd welkom by God, al het jy afgedwaal. Al het jy lanklaas gebel, al het jy jou rug op God gedraai.
Die gelykenis van die verlore seun herinner ons dat God soos ’n pa wie se kind weg is, elke dag in die pad staan en kyk: wanneer kom my kind terug? En dan, wanneer die kind terugkom, maak nie saak hoe erg die afdraaipaaie was, hoe lank jy weg was, wat jy aangevang het nie – dan word daar fees gehou.
’n Kind is altyd welkom. ’n Kind is altyd welkom terug.
Veilig
As ’n kind van God is jy veilig. Let op, dit beteken NIE dat daar nie gaan swaarkry wees of dat daar nie slegte goed gaan gebeur nie. Inteendeel.
Maar ek hoop dat jy die ervaring het, dat jy weet hoe dit voel om swaarkry te beleef in die wêreld, wetende dat daar mense is wat jou ondersteun. Wanneer die boelie jou rondpluk, dat daar broers is wat vir jou gaan intree.
Dis ’n interessante ding van grootmens wees, dat jy nog steeds jou ma se kind bly. Wanneer daar bekommernis of onsekerheid of ontsteltenis is, dat jy maar nog steeds graag jou ma wil bel.
Wat gaan jou ma tog doen? Sy gaan daar wees vir jou. Sy gaan die bekommernis saam met jou dra. They’ve got your back.
Ek vermoed dis hoekom die verlies aan ’n ouer – maak nie saak hoe oud hulle is nie – vir ons so erg is. Want daar was nog altyd iemand agter jou. En skielik voel jou rug so oop, so blootgestel.
Maar om God se kind te wees, beteken dat God altyd daar is vir jou. Ook wanneer dit sleg gaan. Dat God jou ondersteun en dra en beskerm deur die storms.
Gevorm
Die ander ding van familie is natuurlik dat hulle die eerlikste mense op die planeet is. Ek meen, geeneen van my vriende sal dit waag om van die goed vir my te sê wat my familie vir my sê nie! Dit sal ongetwyfeld die einde van die vriendskap beteken!
Maar familie kom weg daarmee. Soms lyk en voel dit nie asof hulle wegkom daarmee nie! Want familie se eerlikheid maak dikwels seer. Dit maak ons kwaad. Ons gooi tantrums en baklei en sit ons teë en praat vir ’n tyd lank nie met hulle nie.
Tog, in die proses word ons gevorm. Ons families se eerlikheid en se stampe vorm ons tot volwasse, geïntegreerde mense.
En dit kan jy maar weet: God het jou oneindig lief. En God sal altyd eerlik wees met jou. Die liefdevolle Vader gaan nie vir jou vertel dis maar okay dat jy selfsugtig of hoogmoedig of oneerlik is nie. Nee, hy gaan soos ’n pottebakker wees wat jou vorm, wat hier ’n skurwe kant wegneem en jou daar in ’n rigting vorm wat beter pas by die mense van sy familie.
Jy is altyd welkom as jy droogmaak. Maar jy kan nie aanhou droogmaak nie. Jou hemelse Vader gaan jou in liefde vorm.
Geliefd
Let wel: altyd in liefde. Ons het al dikwels in hierdie gemeente – in erediensreekse of in van die kursusse wat ons aanbied, daaroor gepraat: dat God se stem ’n stem van liefde is.
Wanneer jy dink God praat met jou en daardie stem is nie liefdevol nie, dan is dit nie God se stem nie.
Die feit dat jy God se kind is, beteken dat God lief is vir jou. Dit beteken dat jy nooit ooit ooit alleen is nie. God is deur sy Gees altyd by jou. Hy sal jou altyd lei, altyd wys in watter rigting jy moet gaan, hoe jy moet reageer, hoe jy moet leef.
Jy kan in ’n lewende, kragtige verhouding met die lewende God leef. Jy kan hom ken. Jy kan van hom hoor, met hom gesels, met hom saam-leef soos wat jy met jou aardse familie saamleef.
Dis is te wonderbaarlik vir woorde!
Erfgenaam
As kind van God, is jy ’n erfgenaam.
Dink ’n bietjie aan iemand wat ’n erfgenaam van ’n groot boedel is. Of wag, in die lig van die onlangse koninklike troue, dink wat dit beteken om die erfgenaam van daardie troon en daardie boedel te wees.
Dit beteken dat jy sekuriteit, vryheid en hoop het wat baie ander mense nie het nie. Bloot omdat jy in die ry staan om daardie boedel te erf, hoef jy nie bekommerd te wees oor begrotings nie. Hoef jy nie te wonder hoe gaan ek my kinders se skoling bekostig nie. Jou toekoms is relatief veilig. Jy hoef nie nagte wakker te lê en te wonder wat vir jou wag nie – daardie boedel bepaal jou toekoms.
Maar saam met die boedel, kom ook verantwoordelikheid. Jy kan nie, maar net doen wat jy wil nie. Jy kan nie die koninklike skatte verkwansel op dobbelary en duur partytjies nie. Jy moet ook omsien na die mense om jou. Jy moet diegene raaksien wat nié erfgename van hierdie vreeslike rykdom is nie en na hulle uitreik, hulle versorg.
So die feit dat jy ’n erfgenaam is, bring vir jou sekuriteit en verantwoordelikheid.
Dis dieselfde met erfgename van God. Omdat ons weet ons is God se erfgename, het ons sekuriteit, vryheid en hoop. Ons hoef nie nagte wakker te lê nie. Ons is nie slawe van ’n gees van vrees nie. Ons weet aan wie ons behoort. Ons weet wat voorlê. Ons weet wie in beheer is.
Maar dit bring ook vir ons verantwoordelikheid. Om te leef as kinders van God. Om mekaar lief te hê. Om uit te reik na diegene wat God se liefde nié ken nie. Om om te sien na diegene wat swaarkry en seer het. Om al ons ander aangenome broers en susters te verwelkom as broers en susters, soos wat ons verwelkom is.
Broers en susters
So, my liewe broers en susters, die feit dat ek julle susters en broers noem, die feit dat ons mekaar so noem, is nie, maar hogere kerkerige aanspreektaal nie. Dit is ’n verwoording van ’n realiteit. Dat ons God se kinders is. Dat ons mekaar se susters en broers is.
Met al die wonderlike, uitdagende realiteite wat daarmee saamgaan.
Gebed
Dankoffer
ECCC Laudate Dominum (Mozart) Soliste Laura Potgieter
ECCC I shall sing (Rutter)
Slotlied
Lied 450 Vader, Seun, Heil’ge Gees
Seën (Gal. 4:6-7)
Ons is God se kinders.
Omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: “Abba!” Dit beteken: Vader!
Jy is dus nie meer ’n slaaf nie; jy is nou ’n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak.
Gaan dan nou en leef as kind en erfgenaam van die Drie-enige God.
Amen
Respons
ECCC Hallelujakoor (Händel)
Chris van Wyk
Uitstekend en meesleurend! Dankie.