Skip to main content

Wees Getrou – Eksodus 20:1-11 Preek

In my dekades in hierdie gemeente, het ek al ’n paar keer oor die Tien Gebooie gepreek.  Dis opvallend dat elke preek wat ek hieroor gepreek het, met ’n waarskuwing of ’n voorbehoud – ’n tipe “disclaimer”- begin.  Want sien, die Tien Gebooie is gevaarlik.  Wanneer ons dit uit konteks uit lees – uit die konteks van die verhaal van Eksodus, uit die konteks van die hele Bybel, uit die konteks van God se verhaal met ons – dan raak die tien gebooie wetties.  Dan raak dit ’n lysie wat ons kan afmerk, ’n etiese maatstaf om ons sukses die afgelope week te toets.  Daarom moet ons altyd onthou dat die Tien Gebooie nie ’n lysie is wat ons kan afmerk nie.  Dit bevat nie alles wat God van ons verwag nie – en dit bevat alles wat God van ons verwag.

Verwelkoming & afkondigings

Toetrede

Lied 163 Soos ’n wildsbok 

Votum

(Ps. 19:8-10; 15)

8Die woord van die Here is volmaak:

dit gee lewe.

Die onderwysing van die Here

is betroubaar:

dit gee wysheid aan dié

wat nog onervare is.

9Die bevele van die Here

dui die regte koers aan:

dit bring blydskap.

Die gebod van die Here is helder:

dit gee insig.

10Die eise van die Here vir sy diens

is goed:

dit staan altyd vas.

Die bepalings van die Here is reg:

elkeen van hulle is regverdig.

 

15Mag wat ek sê en wat ek dink

tog vir U aanneemlik wees,

Here, my Rots en my Verlosser.

Seëngroet

Lofsang

Psalm 119 vv 1-3

Lied 209 x2 Heer, met my hele hart

Wet en Toewyding

Voorganger:  Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het. Jy mag naas My geen ander gode hê nie.

Gemeente:  Dankie dat ons U kan erken as die enigste ware God.

V:  Jy mag nie enige beeld of afbeelding vereer nie, want Ek eis onverdeelde trou aan My

G: Dankie dat ons U kan leer ken uit u Woord en die sakramente.

V: Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie.

G:  Dankie dat ons u heilige Naam mag aanroep.

V:  Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou.

G:  Dankie dat U vir ons sorg en vir tye van rus.

V:  Eer jou vader en jou moeder.

G:  Dankie vir ons ouers en ander mense wat vir ons omgee.

V:  Jy mag nie moord pleeg nie.

G:  Dankie dat U vir ons die lewe as ’n waardevolle geskenk gee.

V:  Jy mag nie egbreuk pleeg nie.

G:  Dankie dat U dit vir ons moontlik maak om aan mekaar getrou te wees.

V:  Jy mag nie steel nie.

G:  Dankie dat U vir ons die vermoë gee om te kan werk.

V:  Jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie.

G:  Dankie dat U ons in die waarheid lei.

V:  Jy mag nie iemand anders se besittings begeer nie.

G:  Dankie vir wat ons uit u hand ontvang.

Doop

Lied 288 v1 Ons dank U, Heer en bring U eer (sit)

Gebed

Skriflesing

Eksodus 20:1-11

Inleiding

Onthou wat het Jesus gesê is die opsomming van die wet van God?

Matteus 22:37-40:

37Jesus antwoord hom: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. 38Dit is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’  40In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Ons moet God liefhê en ons moet ander mense liefhê.

Jesus sê HELE Bybel – nie net gedeelte vandag gelees – kan so opgesom word:  God liefhê, mekaar liefhê.

Vandag en volgende Sondag kyk presies hoe Tien Gebooie dit uitspel.

Eerste deel:  hoe God lief het.

Prentjies:  Raai watter gebod.

 

Eerste gebod:

Jy mag nie ander gode aanbid nie.  Ek is die enigste God.

[Ander gode – enige iets vir jou belangriker as God.]

=  wees lief vir God!

 

  1. Jy mag nie vir jou ’n beeld maak en daarvoor buig en dit dien nie.

In die plek van God.

= wees lief vir God!

 

  1. Jy mag die naam van die Here jou God nie gebruik vir iets wat verkeerd is nie.

= wees lief vir God!

 

  1. Jy moet onthou dat die Sabbatdag ’n spesiale dag is.

Een dag ’n week (Sondag) rus – huiswerk Saterdag klaarmaak, tyd saam met God spandeer.

=  wees lief vir God!

 

So wat wil God hê moet ons doen?

Vir God lief wees!

 

Preek

Vrywaring

In my 18 jaar in hierdie gemeente, het ek al ’n paar keer oor die Tien Gebooie gepreek.  Dis opvallend dat elke preek wat ek hieroor gepreek het, met ’n waarskuwing of ’n voorbehoud – ’n tipe “disclaimer”- begin.  Want sien, die Tien Gebooie is gevaarlik.  Wanneer ons dit uit konteks uit lees – uit die konteks van die verhaal van Eksodus, uit die konteks van die hele Bybel, uit die konteks van God se verhaal met ons – dan raak die tien gebooie wetties.  Dan raak dit ’n lysie wat ons kan afmerk, ’n etiese maatstaf om ons sukses die afgelope week te toets.  Natuurlik is die sprong van maatstaf vir persoonlike gedrag na voorskrif vir ander en maatstaf tot oordeel, ook nie vreeslik ver nie.

Daarom moet ons altyd onthou dat die Tien Gebooie nie ’n lysie is wat ons kan afmerk nie.  Hierdie is nie die volle wil van God nie.  Dit bevat nie alles wat God van ons verwag nie.  En dit bevat alles wat God van ons verwag.

Jy sien, Christelike moraliteit is nie vervat in ’n stel reëls of in lysies wat ons kan afmerk nie.  Christelike moraliteit is verpak in stories.  Stories wat ons oor en oor moet oorvertel.  In die oorvertel daarvan word ons gevorm.  In die oorvertel daarvan gaan daar telkens nuwe, onverwagse, uitdagende moontlikhede vir ons oop (Hauerwas).

Die storie van bevryding

Die storie van Eksodus 20 is die storie van ’n bedremmelde, identiteitlose groepie mense.  Geen volk nie, geen besef van identiteit, dat hulle ’n nasie is nie.  Vir so lank as wat enige van hulle kon onthou, was hulle slawe.  Besittings.  Gestroop van alle menswaardigheid.  Hulle het hul eie storie vergeet.

Dan gryp God in.  Maar hulle slawerny het hulle so gestroop, dat hulle nie eers meer vir God ken nie.  Daarom bevry God hulle en lei hulle weg, die woestyn in, waar hy alleen met hulle kan wees.  Dan, daar in die woestyn, begin hy om homself aan hulle voor te stel.  En in die proses ook om hulle te vorm.  God sê:  “Dis wie Ek is.  En as dit is wie Ek is, is dit wie julle is.  En as dit is wie julle is, is dit hoe julle moet optree.”

Dit is hoekom die Tien Gebooie begin met die woorde:

2“Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het.

Alles wat hierna volg, staan onder hierdie opskrif.  Eintlik moet ons dit bokant elkeen van die sogenaamde Tien Gebooie skryf.

Want hierdie gebooie is deel van ’n verhaal van verlossing en bevryding.  Hierdie wette is nie ’n nuwe vorm van slawerny vir die bedremmelde groepie voormalige slawe nie.  Dit is ’n gawe van ’n verlossende God.  Die wet sigself is deel van God se verlossingsdaad, van die bevryding wat slawe omvorm tot vry mense, mense wat hul menswees in sy volheid kan uitleef.

’n Vry lewe in verhouding

Wat ons sien, is dat hierdie hele wet – al tien die gebooie – gaan oor verhouding.  Dit is waaroor dit vir God gaan.  God wil dat hierdie groepie mense – dat ons – in verhouding met hom leef.  En dat ons dan, vanuit daardie verhouding met hom, in heel, vry, sinvolle verhoudings met mekaar leef.

In stede daarvan om aan die tien gebooie te dink as ’n stel reëls waarmee jy vir God kan tevrede hou en God se guns en goedkeuring kan verdien, dink daaraan as ’n uitnodiging om saam met God te leef, vrygemaak.

Onthou, jy is deel van die verbond.  Jy is God se kind.  Hy het dit reeds by jou doop gesê – dat hy lief is vir jou.  Daardie liefde is nie voorwaardelik nie.  Dit is nie afhanklik van jou getrouheid aan ’n stel reëls wat jy moet afmerk nie.

Daardie liefde vind gestalte in ’n verhouding, in ’n lewe saam met God en saam met mekaar.

Elkeen van hierdie gebooie gee dan vir ons ’n sleutel wat die moontlikheid tot groter vryheid in verhoudings vir ons moontlik maak.

Geen ander gode

3Jy mag naas My geen ander gode hê nie.

Want God is genoeg.

By die Egiptenare het die groepie eertydse slawe sekerlik geleer dat daar allerhande gode is – ’n god vir elke behoefte.  En jy moet maar seker maak dat jy al die gode tevrede hou, want jy mag dalk die een oortuig kry om na jou behoeftes om te sien, maar dan voel die ander afgeskeep en kom jou hier van links af by.

In ons wêreld leer ons dat ons polis op polis nodig het.  Dat ons nooit werklik veilig is nie.  Dat jy nie al jou eiers in een mandjie plaas nie.  Dat jy maar altyd ’n agterdeur oophou.  Dat jy seker maak die kontrak is stewig.

Ek skat ’n goeie metafoor sal slotte wees.  Ek wil skelms uit my huis uithou, so ek het ’n slot met ’n sleutel.  Maar t.w.v. veiligheid, sit ek ook ’n skuifslot met ’n ketting in.  En ’n loergaatjie, om seker te maak wie ek inlaat.  En sommer nog ’n slot wat outomaties ook sluit, vir ingeval.  En ’n sekuriteitshek.  En ’n groot heining.  Geëlektrifiseer.  Met doringdraad.  En beams.

Ek sê nie ons moenie daardie goed hê nie, né.  Dis ’n metafoor.  Wat God sê, is dat ons hom kan vertrou.  Al het ons slotte en polisse en mediese fondse en spaarrekeninge.  Ons hoef nie op daardie goed te vertrou nie.  Hulle is nie ons God nie.

Al is ons suksesvol, al het ons die erkenning van ons portuurs, al kan ons ’n mooi huis bekostig, ’n gemaklike kar ry, die nuutste modes dra…  Ons hoef nie op daardie goed te vertrou nie.  Dit is nie die goed wat ons gaan beskerm of ons waarde bepaal nie.  Dis nie ons god nie.

God het ons bevry.

God bevry ons.

Wanneer ons bang of uitgelewer of onseker voel, kan ons na hom kyk.  Ons kan volledig in afhanklikheid van hom leef.  Ons kan in absolute lojaliteit teenoor hom leef.

Geen ander gode is nodig nie.

Geen beelde

4“Jy mag nie vir jou ’n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie. 5Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My.

Hierdie is een van daardie gebooie wat ons histories losgemaak het van die storie, die konteks en in die proses sommer heeltemal verkeerd verstaan het.  In die verlede is hierdie dikwels verstaan dat ons geen beelde of uitbeeldings van God mag maak nie.  Maar dis nie waaroor dit hier gaan nie.

Waaroor dit hier gaan, is om God te beheer, of God vas te vat, om God ’n beheerbare, sigbare objek te maak.

Want ons is maar klein ou wesetjies in hierdie heelal.  En wanneer ons nie op God alleen vertrou nie, voel ons maar uitgelewer.  So ons probeer onsself groter maak.  Die belangrikste manier waarop ons onsself groter probeer maak, is deur te maak asof ons weet, asof ons alles verstaan en kan verklaar.  Ook God.

Ons begin dink ons verstaan vir God heeltemal.  Dat ons presies kan sê hoe God is, wat God wil, waarmee God besig is.  Ons idees oor God word beelde of afbeeldings wat God beperk en inperk.

Natuurlik gaan ons prentjies van God hê.  Natuurlik gaan ons ’n greep hê op waarmee God besig is, wat God wil.  Maar God is en bly altyd ’n misterie.  God is altyd méér, groter as ons idees.  Wanneer ons dink dat ons nou vir God heeltemal verstaan, wanneer ons alle misterie uitgeskakel het, dan nooi hierdie gebod ons terug.  Dan herinner dit ons dat daar steeds nuwe aspekte van God is om te ontdek, dat God ons steeds op nuwe paaie neem.  Dat die avontuur van ’n lewe saam met God elke dag nuut is.

Nie Naam misbruik nie

7“Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie,

Weereens, as ons hierdie gebod losmaak van die verhaal en die verhouding, dan dink ons dit gaan hier oor kru taal.  Wat natuurlik nie aanvaarbaar is nie!  Maar ook hier gaan dit oor meer, oor ’n bevrydende verhouding met God.

Dit beteken dat ons God se Naam só sal gebruik, dat dit in lyn is met God se wil.  Deur God se Naam te gebruik, maak ons aanspraak op God se teenwoordigheid.  As ons dan taal of idees oor God inspan om mense te beperk, te bind, om haat te versprei – dan mis ons God se bevrydende karakter.

Dit hou verband met die vorige gebod – dat ons nederig sal bly wanneer ons onsself beroep op God se Naam.  Dat ons soekend sal bly, saam met ander gelowiges sal onderskei, voordat ons God se Naam en wil vir ons inpalm.

Ons sien dit al meer in ons wêreld, waar die middel verdwyn – en waar alle ekstreme kante hulleself op God beroep.  Daarom moet ons nederig bly soek na God, sodat ons, wanneer ons onsself op God se Naam beroep, ons kan weet dat dít wat ons sê van God afkom, in lyn is met die bietjie wat ons weet van God se karakter.

Hou die Sabbat heilig

8“Sorg dat jy die sabbatdag heilig hou.

Soos die ander, wanneer ons hierdie gebod losmaak van die storie, dan raak dit lukrake reëls oor wat ons op Sondae mag doen en wat nie.  Dan steek jy ’n naald in God se oog as jy dit op ’n Sondag gebruik.

Maar as dit gaan oor verhouding en bevryding, dan sê hierdie gebod vir ons iets heel anders.  Hierdie is ’n positiewe oproep wat gelowiges uitnooi tot ’n dag van herinnering en heroriëntasie.

Op die Sabbat onthou ons dat ons juis vanuit God se bevryding bestaan en leef.  Dat ons op God kan vertrou, dat ons nie allerhande ander dinge hoef na te jaag nie.

Die aanhaling van Brueggemann in die afgelope week se Luisterblad, verwoord dit so pragtig.  Dat die Sabbat ons help om heel mense te word, dat dit help om ons samelewing heel te maak.  Dit spreek tot ’n 24/7 samelewing, waar ons die hele tyd produseer en verbruik, bereik, behaal, verrig, besit.  Waar ons meer wil hê, meer wil doen, meer wil wees.  Die Sabbat help ons om daardie siklus te deurbreek en te fokus op wat werklik belangrik is:  God, ander mense, die lewe.

Veral in ’n gemeenskap soos hierdie, waar kinders afstuur op vroeë uitbranding en mense begin dink dat ons menswaardigheid lê in wat en hoe ons produseer, in ons sukses, waar kinders gelukkig is as die skool nie die uur of wat wat hulle by die kerk is, aktiwiteite het nie en waar twee ure te lank is om by die kerk te spandeer – in so ’n gemeenskap is ’n Sabbat, ’n dag van rus, ’n dag van fokus op God, ’n radikale ding.  Dit posisioneer ons teenoor die waardes wat sê dat ek net is wat ek doen en wat ek produseer.  Dit sê dat ek nie afhanklik is van hierdie goed nie, dat sukses en doen nie vir my ’n afgod geraak het nie.  Maar dat ek kan rus.  Ek kan rus, want ek vertrou op God.  En God is genoeg.

Dit is onbeskryflik bevrydend.

Dit is ’n geskenk van die God wat sê

2“Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het.

Wat ons innooi om in verhouding met hom en met mekaar, te leef.

Vry.

Wees lief vir God

Al vier hierdie eerste gebooie van die sogenaamde tien gebooie, sê, soos ek netnou vir die kinders gesê het:  wees lief vir God!

Of, in die woorde van Jesus:

37Jesus antwoord hom: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. 38Dit is die grootste en die eerste gebod.

Volgende week gaan ons DV kyk na die ander gebooie en die vryheid wat dit vir ons moontlik maak.

Gebed

Dankoffer

Slotsang

Lied 509: 1, 2 en 4 Op berge en in dale

Seën

24Die Here sal julle seën

en julle beskerm;

25die Here sal tot julle redding

verskyn

en julle genadig wees;

26die Here sal julle gebede verhoor

en aan julle vrede gee!

Respons

Lied 312 Amen

Eksodus 20, tien gebooie, Wees Getrou, wet

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.