Skip to main content

Johannes 18:1-27 – Liefde roep ons terug

http://fullydevotedone.blogspot.co.za/2014/03/station-four-peter-denies-jesus.html

STILTETYD

Rus: Fokus jou gedagtes op Johannes se uitspraak oor Jesus: “So sou vervul word wat Hy voorheen gesê het: ‘Van dié wat U My gegee het, het Ek niemand verlore laat gaan nie.’” (Joh 18:9).

Hoor: Lees die verhaal van Petrus in Johannes 18:1-27 en leef jou daarin in. Merk al die karakters. Dink na oor elkeen se gedagtes, gevoelens en gedrag. Dink na oor wat Jesus vir elkeen sê. Dink na oor wat Jesus self voel en wat Hy doen. Hoe spreek dit jou aan? Watter boodskap het dit vir jou? Fokus op insigte, ingewings, gewaarwordings, prentjies wat die Gees by jou laat opkom. Vra jouself af, of dit jou troos, seën of ontsteld laat. Dink na oor wat God deur hierdie verhaal vir jou wil sê.

Leef: Neem tyd vandag om na te dink oor Jesus se belofte in vers 9. Wat sê dit vir jou van Jesus? Wat sê dit vir jou van jouself? Watter sekerheid gee dit jou? Onthou ook die verhaal van wat uiteindelik met Petrus gebeur. As jy wil, lees daarvan in Johannes 21:15-25. Wat sê dit vir jou van Jesus se liefde wat ons terugroep?

Loof die Here in gebed vir sy belofte. Bid om sekerheid as jy dit nie het nie.

KLEINGROEPTYD

Ingenooi deur God: Vertel vir mekaar wat tans in jul lewens aangaan op julle reis met God.

Ingaan in God se tyd: Laat iemand Johannes 18:9 biddend voorlees (sien hierbo). Gee tyd vir stilgebed. Fokus op die belofte van sekerheid wat die Here vir jou gee.

Luister na God se Woord: Die verhaal van die laaste dag in Jesus se aardse lewe speel hom af tussen twee tuine. Die tuin Getsemane by die Kedronspruit aan die voete van die Olyfberg waar Jesus verraai is (Joh 18:1). En die tuin van Josef van Arimatea waar Jesus se liggaam toegedraai en begrawe is na sy kruisiging en dood (Joh 19:38). Tussen-in is daar die verhaal van die binnehof van die hoëpriester Annas waar Petrus by ‘n vuur gestaan het in die koue en die Here Jesus drie keer verloën het (Joh 18:15-18; 25-27).

Lees nou Johannes 18:1-27. Gee kans dat elkeen rustig op hul eie oor die teks reflekteer: wat staan vir jou uit, wat raak jou? Julle kan ook die vrae in die Stiltetyd hierbo gebruik.

Luister na mekaar: Vertel vir mekaar wat julle gehoor het in die teks.

Luister na ander en die tye: “Watter opeenstapeling van verspilde kanse. Judas verspeel sy kans op inkeer. Die Jode verspeel hul kans om hul Koning te vereer. Petrus verspeel sy kans om sy lojaliteit aan Jesus te bewys. Pilatus verspeel sy kans om Jesus ’n regverdige verhoor te gee. En in dit alles is Jesus eintlik besig om sy eie keuses uit te oefen. Hy gaan nie die verraaier teë nie. Hy dwing die Jode nie tot verering nie. Hy dwarsboom nie Pilatus se diplomatieke spel nie. Hy gee Homself oor aan die onreg omdat Hy die belofte van God het dat hierdie offer die weg tot lewe vir almal wat in Hom glo, sal word.” (Bybelskool.com).

Bespreek die boodskap daarvan vir julle.

Luister weer na God se Woord: Lees weer gedeeltes uit Johannes 18:1-27 wat nou vir jou bybly. Vertel mekaar hoekom? Onthou ook die verhaal van wat uiteindelik met Petrus gebeur. As julle wil, lees daarvan in Johannes 21:15-25. Wat sê dit vir julle van Jesus se liefde wat ons terugroep?

Fokus op wat God nou doen: Waarvan oortuig die Here jou nou? Wat gee Hy vir jou?

Antwoord met ons lewe: Bid saam. Reageer op wat julle uit die Woord gehoor het. Bid ook vir mekaar. Dink veral aan die sekerheid wat God vir elkeen van ons in hierdie lewe gee.

FAMILIETYD

Rus: Laat iemand Johannes 18:9 biddend voorlees (sien hierbo). Gee tyd vir stilgebed. Fokus op die sekerheid wat die Here vir jou in hierdie lewe gee.

Hoor: Lees Johannes 18:1-27 soos ek dit hier uit die Nuwe Testament vir Kinders aanhaal:

Slegte Mense Vang vir Jesus

1–11 Hierna is Jesus-hulle na ’n tuin in die Kedronvallei toe. Hulle het baie soontoe gegaan. Judas, wat Jesus verraai* het, het dit geweet. Hy vat toe ’n groot klomp gewapende polisiemanne saam met hom tuin toe. Hulle het vir Jesus gaan soek.

Jesus het geweet hulle kom. Toe hulle daar aankom, vra Jesus: “Wie soek julle?”

“Jesus wat van Nasaret af kom,” sê hulle. Judas het tussen die polisiemanne gestaan.

Jesus sê toe: “Dit is Ek.” Toe Jesus dit sê, skrik die soldate so dat hulle sommer oor mekaar val.

Jesus vra toe weer: “Wie soek julle?”

“Jesus, van Nasaret,” sê hulle weer.

“Dis Ek. Ek het mos so gesê. As julle My soek, los my vriende uit.” Jesus het mos belowe dat Hy hulle sal beskerm. Hulle sal niks oorkom nie.

Simon Petrus pluk toe ’n swaard uit. Hy kap na Malgus wat vir die Joodse leiers gewerk het. Hy slaan sy regteroor morsaf. Jesus keer Petrus. “Sit jou swaard weg. Ek moet gevang word. My Vader het dit so beplan. Wil jy miskien hê Ek moet ongehoorsaam wees?”

Slegte Mense Probeer Fout Vind met Jesus

12–14 Die polisiemanne gryp en boei toe vir Jesus. Hulle het Hom toe na Annas toe gevat. Hy was Kajafas, die belangrikste Joodse leier, se skoonpa. Hy het mos vir die Jode gesê dat Jesus liewer doodgemaak moet word as dat die Romeine almal kom doodmaak.

15–18 Simon Petrus en ’n ander vriend van Jesus het agter Jesus en die polisie aangeloop. Die vriend het Kajafas, die belangrike Joodse leier, geken. Hulle is na Kajafas se huis toe. Hy help toe ook vir Petrus om in Kajafas se agterplaas in te kom. Die wag by die huis was ’n vrou. Petrus stap verby haar. “Is jy nie een van Jesus se vriende nie?” vra sy skielik. “Glad nie,” sê Petrus.

In die agterplaas was ’n lekker warm vuur, want dit was koud buite. Almal het in ’n kring om die vuur gestaan om warm te kry. Petrus het ook by hulle gaan staan.

19–24 In die huis het Kajafas Jesus begin uitvra. Hy wou weet wat Jesus alles gesê het en wie sy vriende was. Jesus sê toe: “Ek het niks weggesteek nie. Ek het tot hier in julle kerke gepreek. Ek het nie in die geheim mense opgesweep nie. Ek gaan nie alles weer sê nie. Die mense wat My hoor preek het, weet wat Ek gesê het.”

’n Polisieman klap Jesus toe deur die gesig: “Jy praat nie so met ons leier nie,” skreeu hy.

Jesus vra toe: “Wat het Ek gesê wat verkeerd is? Sê My. As Ek niks verkeerds gesê het nie, waarom klap jy My dan?”

Annas stuur Jesus toe geboeid na Kajafas toe.

25–27 Petrus het nog by die vuur gestaan. “Is jy nie een van daardie man se vriende nie?” vra hulle.

“Julle verbeel julle,” sê Petrus.

“Jy was dan ook in die tuin saam met hom?” sê een van Malgus se familielede. Petrus het weer gesê dat dit nie so is nie. Net toe kraai die haan.

Vertel vir mekaar wat julle gehoor het in die teks.

Leef: Gesels met mekaar oor Jesus se belofte: “Hulle sal niks oorkom nie. Hoe laat dit jou voel? Wat wil jy nou vir Hom sê? Wat dink julle het met Petrus uiteindelik gebeur? As julle wil, lees daarvan in Johannes 21:15-25.

* Om agter iemand se rug hom in die moeilikheid te bring.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.