• Home
  • Preke
  • Liefde wat ons laat sien – Johannes 9

Liefde wat ons laat sien – Johannes 9

Om Jesus te sien en te beliggaam in donker oomblikke…

Die vraag is nie “hoekom” of “wie se skuld is dit” nie.  Die vraag is:  “hoe kan ek vir Jesus in hierdie donkerte sien?”

Hierdie man in vandag se storie, leer vir Jesus ken deur worsteling.  Dit is te midde van die teëstand wat sy kennis van Jesus al meer uitkristalliseer, wat sy verstaan van wie Jesus is ontwikkel.  Totdat hy kan bely en, uiteindelik, kan aanbid.

Dis ook hoe dit in ons lewens werk.  Dis dikwels juis in ellende, hartseer, pyn, swaarkry, worsteling en verlies wat ons God se genade die helderste sien.  Hoe slegter dit gaan, hoe meer kan ons onder die indruk kom van God se genade en versorging.  Hoe slegter dit gaan, hoe meer raak ons bewus van ons afhanklikheid van God en hoe beter leer ons hierdie God ken.

Ons moenie die fout maak om ons so blind te staar na die donkerte, dat ons die Lig mis nie.  Om so die donker te vervloek, dat ons nie die Lig aanbid nie.

Toetrede

Paar oomblikke stilte:  wat is die situasies in jou lewe/omgewing/land wat vir jou duister is, waar jy sukkel om God se lig te sien?

Psalm 23 v 1-3 Spies beryming

Votum

Aan U kom die lof toe, Here God, die Koning van die heelal.   U laat u lig skyn uit die duisternis. Die mense wat in donkerte geleef het, het ’n groot lig gesien. Laat die lig van God se Seun, Jesus Christus, in ons harte skyn soos wat U lig skyn oor almal wat in duisternis leef. Amen.

Seëngroet

Lofsang

Lied 491 v1, 4 en 5  ‘k het Jesus lief, hy is my lig en krag

Doop

Lied 167 Jesus, bron van al my vreugde

Gebed

Geneser Christus, u het die heilige geskrifte gelees oor herstel van gesig vir blindes en bevryding vir gevangenes.  Kom ook nou na ons toe en laat ons oë oopgaan, ons geloof bevry word, totdat ons u kan sien, ook in ons donker tye.

Skriflesing

Johannes 9

Inleiding

I am Helen Keller, vertel deur Brad Meltzer, illustrasies deur Christopher Eliopoulus.

Gebed vir Onderwysers

Interlude

Vonkk 23 Afr Eng Afr Jesus, U is die lig van ons lewe

Skriflesing

Johannes 9

As my rekords reg is, is hierdie die derde keer wat ek oor hierdie gedeelte in hierdie gemeente preek.  Die vorige keer was Maart verlede jaar!  So ek gaan nie vanoggend die hele gedeelte lees nie.  Jy kan in jou Bybel volg terwyl ek sekere dele uitlig.

9 Terwyl Jesus wegstap, sien Hy ’n man wat van sy geboorte af blind was. 2Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n?”3En Jesus antwoord: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word. 4So lank as dit nog dag is, moet ons die werk doen van Hom wat My gestuur het; die nag kom, wanneer niemand kan werk nie.

’n Mens sou ook die teks anders kon vertaal, sodat dit lui:

Nóg hy, nóg sy ouers het gesondig, maar sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word, moet ons die werk doen van Hom wat my gestuur het…

5Terwyl Ek in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.”

Dit laat ’n mens dink aan die woorde van Genesis 1:

In die begin het God die hemel en die aarde geskep. 2Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters, maar die Gees van God het oor die waters gesweef.

3Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig.

6En toe Hy dit gesê het, spuug Hy op die grond en maak klei van die spuug en smeer die klei aan die oë van die blinde man

En hier dink ’n mens aan Genesis 2, waar die Here die mens geskep het uit die stof van die aarde

7en sê vir hom: Gaan was jou in die badwater Silóam, wat vertaal word: Uitgestuur.

Hierdie storie was vir lank vir die vroeë Christene ’n simbool van die doop en die nuwe lewe wat dit gee.  Dit word dikwels in frescos gebruik om die betekenis van die doop uit te beeld, of die reis van nuwe gelowiges wat gedoop word en vir Jesus leer ken.

Wat natuurlik ook so besonders is hiervan – net soos met die doop – is dat hierdie man glad nie vir Jesus vra om hom te genees nie!  Net soos met die doop – nog voordat ons kon kies, kon vra – het God ons reeds uitverkies en afgesonder deur sy genade.

Die man, natuurlik, reageer gehoorsaam:

En hy het gegaan en hom gewas; en hy het siende teruggekom.

En ’n mens sou dink dat sy lewe nou beter is.  Hy was blind, nou kan hy sien.  Hy was ’n behoeftige bedelaar.  Maar nou begin sy moeilikheid eers.  Nou word hy ondervra en beskuldig.  Hy is natuurlik geen teoloog nie.  Al wat hy kan doen, is om te getuig van wat hy beleef het – wat hy natuurlik ook oor en oordoen.

Maar dis interessant hoe die man se eie insig toeneem, soos wat die teenstand toeneem:

11En hy antwoord: “Die man met die naam Jesus het ’n bietjie klei aangemaak en dit aan my oë gesmeer en vir my gesê: ‘Gaan na Siloam toe en was jou.’ Ek het gegaan en my gewas, en ek kon sien!”

17Hulle sê toe weer vir die man wat blind was: “Wat sê jý van hom? Hy het mos jou oë genees.”

“Hy is ’n profeet,” het hy geantwoord.

Sy ouers word ingeroep, maar hulle gooi hom vir die wolwe.

Daarna:

30“Dis darem snaaks,” sê hy daarop vir hulle. “Julle weet nie waar hy vandaan kom nie, en tog het hy my oë genees. 31Ons weet dat God nie na sondaars luister nie; maar as iemand vir Hom ontsag het en doen wat Hy wil hê, luister God na hom. 32Van ewigheid af is daar nog nooit gehoor dat iemand die oë van een wat blind gebore is, genees het nie. 33As hierdie man nie van God was nie, sou hy niks kon doen nie.”

34Hulle sê toe vir hom: “Jy is van jou geboorte af die ene sonde, en wil jy ons staan en leer?”

En hulle het hom uitgeban.

Nou, uiteindelik, het die ergste gebeur.  Om uitgeban te word uit die sinagoge, was om uit die samelewing verwerp te word.  Dit is om uit alle sosiale, godsdienstige en gemeenskaplike lewe verban te word.  Voorheen was hy dalk ’n randfiguur, maar hy was op die rand van die gemeenskap.  Nou is hy buite.  Verwerp.

En dan, vir die eerste keer, praat Jesus self weer:

35Jesus het gehoor dat die Jode die man uitgeban het; en toe Hy hom kry, vra Hy vir hom: “Glo jy in die Seun van die mens?”  36Hy het geantwoord: “Wie is dit, Meneer, sodat ek in Hom kan glo?” 37Jesus het vir hom gesê: “Jy sien Hom. Dit is Hy wat met jou praat.” 38Die man sê toe: “Ek glo, Here!” En hy het Hom aanbid.

En so het sy geloof gegroei:  van “’n man”, na “’n profeet”, na iemand wat van God afkom – na die Seun van die mens, die Here wat hy aanbid.

39Toe sê Jesus: “Ek het na hierdie wêreld toe gekom met die oog op ’n beslissing, sodat dié wat nie sien nie, kan sien, en dié wat sien, kan blind word.”  40Party Fariseërs wat by Hom was, het dit gehoor en vir Hom gesê: “Ons is mos nie blind nie!” 41Jesus antwoord hulle: “As julle blind was, sou julle nie skuldig gewees het nie; maar nou sê julle: ‘Ons sien.’ Daarom bly julle skuldig.”

En hier, uiteindelik, kom die vraag na sonde weer op die tafel.  En nou word die beantwoord – soos wat dit inderdaad deur die hele Johannes evangelie beantwoord word.  In Johannes gaan sonde oor verhouding, nie wet nie.  Die oordeel word, vir Johannes, gevel op grond van geloof, nie dade nie.  Sonde, in Johannes, is om nie in verhouding met God te leef nie, om nie te glo in Jesus nie.

Preek

Om Jesus te sien in donker oomblikke

Maar kom ons gaan gou weer terug na die vraag wat hierdie hele storie begin het:  “deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is?”

Dit is vandag nog ’n baie relevante vraag wat ons gereeld vra.  Wat het ek gedoen om dit te verdien?  Here, hoekom straf u my so?  Wat het ek verkeerd gedoen dat die Here hierdie ongeluk oor my laat kom?

Die hele wêreld het hierdie afgelope week weer ontplof omdat Angus Buchan kwansuis sou gesê het dat God kwaad is vir Kaapstad.  Sy presiese woorde was en ek haal aan:  “God is not happy with Cape Town.  He’s had enough of the abuse of women and children, gangsterism, lawlessness.  He’s had enough.  Segregation, the gap between the extreme rich and the extreme poor.  He’s had enough.  It will rain when the people repent.  Which people?  The people of Cape Town and the Western Cape.”

Nou kan ’n mens verstaan waarom mense woedend was – veral die mense van Kaapstad.  ’n Mens wil vra, is die mense van Gauteng dan soveel beter as die mense van Kaapstad?  Wat van ons in die Nelson Mandela Metropool?

Maar dalk was mense so woedend, omdat daar iets in die menslike psige sit wat ons laat dink:  dalk is oom Angus reg.  Wie se skuld is dit?  Wie het gesondig?  As ons net die bendes kan uitwis, dan sal dit weer reën.

Tog is dit nie so eenvoudig nie.  Soms kan ’n mens ’n direkte lyn trek tussen sonde en swaarkry – jy is in die tronk want jy het gesteel, byvoorbeeld.  Maar meestal, meestal is daar nie antwoorde nie.  Ons lewe in ’n gebroke wêreld.  Mens en dier ly onder hierdie verskriklike droogte.  Siekte bekruip ons en voor ons ons kon kry, is ons besig met ’n stryd om lewe en dood.  En daar is geen oorsaak en gevolg nie.  Besighede ly skipbreuk.  Mense ly aan depressie.  Kinders het ernstige probleme op skool.  Geliefdes kry seer.

Soms raak die lewe vir ons so donker dat ons net wil vra:  wie se skuld is dit?  Deur wie se sonde moet ek nou hierdie pyn beleef?

En dalk is daar soms ’n antwoord!  Maar ek wil suggereer dat dit die heel verkeerde vraag is.  Die vraag is nie “hoekom” of “wie se skuld is dit” nie.  Die vraag is:  “hoe kan ek vir Jesus in hierdie donkerte sien?”

Hierdie man in vandag se storie, leer vir Jesus ken deur worsteling.  Dit is te midde van die teëstand wat sy kennis van Jesus al meer uitkristalliseer, wat sy verstaan van wie Jesus is ontwikkel.  Totdat hy kan bely en, uiteindelik, kan aanbid.

Dis ook hoe dit in ons lewens werk.  Dis dikwels juis in ellende, hartseer, pyn, swaarkry, worsteling en verlies wat ons God se genade die helderste sien.  Hoe slegter dit gaan, hoe meer kan ons onder die indruk kom van God se genade en versorging.  Hoe slegter dit gaan, hoe meer raak ons bewus van ons afhanklikheid van God en hoe beter leer ons hierdie God ken.

Ons moenie die fout maak om ons so blind te staar na die donkerte, dat ons die Lig mis nie.  Om so die donker te vervloek, dat ons nie die Lig aanbid nie.

Dink aan die donkerte waaraan jy heel aan die begin van die diens gedink het.  Ek sê nie daardie donker kom van God af nie.  Ek sê, eerder as om te vra “hoekom”, vra:  “hoe kan ek God hierin leer ken”?  Hoe is God ook hierdeur besig om in my te werk, om homself aan my te openbaar?  Hoe kan ek, ook in hierdie donkerte, God se liefde sien?

Dit is juis in die oomblikke wat die donkerste voel, dat die Lig die helderste skyn.  Dit is juis in sulke tye wat ons krag ontvang.  Wat ons die liefdevolle nabyheid van Christus kan beleef en aan hom kan vasklou.

Om Jesus te beliggaam in donker oomblikke

Daar gebeur in hierdie verhaal ’n ander wonderlike ding.  TERWYL hierdie man aangekla word en swaarkry, groei se geloof.  Maar TERSELFDERTYD getuig hy ook oor Jesus.  Verteenwoordig en beliggaam hy eintlik op ’n baie spesifieke manier vir Jesus.  In vers 9, wanneer hy vir die eerste keer praat en sê dat hy die een is wat deur Jesus genees is, gebruik hy die woorde (nie duidelik sigbaar in Afrikaanse vertaling):  “Ek is.” Die woorde wat in die res van die Johannes evangelie net deur Jesus self gebruik word.  Die woorde waarmee God homself aan Moses bekendstel.

So terwyl hierdie man, al stamelend en onseker, getuig oor wat Jesus in sy lewe gedoen het, verteenwoordig hy vir Jesus tussen die mense.  Hy het nie allerhande wonderlike teologiese argumente nie.  Hy het nie al die antwoorde nie.  Om die waarheid te sê, hy wonder eintlik maar self.

Al wat hy het, is sy getuienis.  Die verhaal van wat Jesus in sy lewe gedoen het.

En dit is waar van die meeste van ons.  Veral in daardie oomblikke wat ons oorweldig voel, wat ons voel ons het al ons krag nodig om te oorleef.  Dan hoef jy nie fancy referate uit te dink nie.  Die manier waarop jy oorleef, is jou getuienis.

Dit is juis wanneer ons seer het, wanneer ons bang is, wanneer ons onseker is, wat ons getuienis die hardste spreek.  Wanneer ’n gemeenskap die werklikheid in die gesig staar dat hulle water kan opraak, dan getuig hul optrede die hardste.  Blaam, haat, woede, misdadigheid?  Of sorg, afhanklikheid, vertroue, verantwoordelikheid. Om maar een voorbeeld te noem.

Enige swaarkry is ’n geleentheid vir ons om God se werk in ons lewe te sien en beleef.  Maar dit is ook ’n geleentheid om teenoor die wêreld te getuig van God se liefdevolle omgee.

Dan is dit natuurlik interessant dat die man se omstandighede, uiteindelik, ook maar sleg is, menslik gesproke.  Mense was nie ontvanklik vir sy getuienis nie.  Hy gaan nie nou finansieel beter daaraan toe wees nie.  Hy is uitgewerp.

Uitgewerp, in Jesus se arms in.  In ’n heel nuwe gemeenskap, waar heel nuwe waardes tel.

Die goeie herder

Dan lewer Jesus self kommentaar op hierdie gebeure, verduidelik Jesus dit self.  Ons moet eintlik Johannes 9 en 10 saam lees.  Wanneer Jesus hierdie man in ’n nuwe gemeenskap verwelkom, dan praat Jesus van dié ding wat hy beloof:  ’n lewe in gemeenskap met hom.

14“Ek is die goeie herder. Ek ken my skape, en my skape ken My, 15net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; en Ek lê my lewe af vir die skape.

En daarom kan ons bid saam met Psalm 23,

Gebed

Psalm 23

 

 

Dankoffer

Orrelspel Lied 270

Slotlied

Vonkk 277 U is die Lig wat deur die donker skyn

Seën

Die Here verlig jou verstand en jou interpretasie.

Die Here verlig jou oë en die manier waarop jy kyk.

Die Here verlig jou mond en jou woorde.

Die Here verlig jou hart en dit wat jy dink.

Die Here sal met jou wees waar jy nou hiervandaan vertrek.

(15de eeuse gebed, aangepas uit 2001 Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle. Lux Verbi.BM)

Respons

Lied 189 Hallelujah

     

Tags: , , , ,

Trackback from your site.

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Bybelskool » Bou of breek ons die aarde?

    |

    […] is dit iets waaroor ons gerus beter kan nadink, vanuit ‘n Bybelse perspektief daaroor. Lees gerus hierdie preek van my (uit 2012) om jou denke uit te daag en te verander. Dit neem jou op ’n toer deur die […]

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Uitstekend en meesleurend! Dankie.

  • Avatar

    Tokkie Young

    |

    Ek het so pas die preek oor Nehemia gelees en ek verstaan nou baie duidelik dat ek baie in my lewe God se beloftes vir my eie gerief, veiligheid en voorspoed net vir my toegeëien het. Daar het nou vir my ‘n nuwe lig oor beloftes opgegaan. Dankie.

  • Avatar

    Chris van Wyk

    |

    Dankie Tokkie. Vanaand se bydrae oor geloof sal nog verder lig werp op die sekerheid van God se beloftes, en die bewys wat ons in onsself kry as getuienis van God se goedkeuring om die beloftes vir ons te vervul. Geloof is daardie diep wete dat God se beloftes vir ons bedoel is, in Christus ja en amen. Dit is waarom ons kan vra wat ons wil, omdat ons in ‘n verhouding met God al hoe meer weet watter dinge Hom verheerlik, en dan daarvoor te vra.

  • Avatar

    Tokkie Young

    |

    Dankie, Chris, ek het al baie gewonder oor Johannes 15:7 se belofte en hierdie preek het baie van my vrae en onsekerheid beantwoord,