Luisterblad 16 tot 22 Januarie 2017
PERSOONLIKE LUISTERBLAD
RUS
- Raak stil. Dink na oor wat die afgelope 24 uur gebeur het. Dank God vir die goeie. Gee vir Hom die slegte.
HOOR
Lees Jesaja 8:23-9:6
- Lees die gedeelte in die Bybel soos dit aangetoon word. Fokus op wat jou tref.
- Lees my bydrae oor die gedeelte hieronder by Luister na ander en die tye.
- Kies een gedagte wat jou tref en dink daaroor na. Dink veral oor die praktiese betekenis daarvan vir jou.
- Antwoord die Here in gebed.
- Geniet ‘n paar oomblikke die teenwoordigheid van die Here sonder woorde.
LEEF
- Besluit op ‘n praktiese manier om op God se woord aan jou te reageer.
- Onthou om die Ekstra materiaal vir Stiltetyd wat in die kerkkantoor en op die webtuiste beskikbaar is, te gebruik.
SAAMLUISTER
Ingenooi deur God
- Begin om oor julle ervaring in die kleingroep te gesels. Deel met mekaar wat julle verlede jaar waardeer het van die kleingroepe. Deel julle verwagting van die kleingroep vir die jaar.
Ingaan in God se tyd
- Dit is die tyd van Epifanie, die viering van die Lig wat Jesus vir ons gebring het. Deel met mekaar julle verwagting vir die jaar. Laat iemand open met gebed.
Luister na God se Woord
- Lees nou Jesaja 8:23-9:6. Wat ruk jou? Wat troos jou?
Luister na mekaar
- Deel met mekaar wat julle tref. Gee genoeg tyd vir hierdie deel.
Luister na ander en die tye
Jesaja gee hier ‘n prentjie van ‘n uitkoms in die toekoms. Dit sal groot verligting bring vir die duisternis waarin gebiede van Sebulon en Naftali, die pad na die see van Galilea, die Jordaanstreek en die gebied van die heidene net te vore gedompel is. Hierdie noordelike gebied van Israel het meesal eerste die aanslag – donkerte – van vreemde leërs moes trotseer. Onder andere is ‘n deel van hul bevolking deur Tiglat-Pileser III weggevoer in 732 v.C. (2 Kon. 15:29).
Met verwysing na die verlossing wat God deur Gideon vir die volk gegee het in sy oorlog teen Midian (Rigt 6), word voorspel dat die volk weer versamel sal word en hulle in God se teenwoordigheid sal verbly.
Dié uitkoms word dan spesifiek verbind aan ‘n Seun wat vir hulle gebore sal word, waarvan die titels sy uitstaande kenmerke uitspel wat Goddelik van aard sal wees: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, en Vredevors. Hy sal die Dawidsryk herstel, maar anders as Dawid wat bekend was vir sy militêre optrede, sal Hy vrede en voorspoed bring, en dit vir altyd.
Jesus se vestiging in die dorp Kapernaum, juis in dié gebied, was vir die evangelieskrywers ‘n duidelike vervulling van die eerste deel van die profesie oor Sebulon en Naftali – Matt. 4:12–17. Jesus is dus die lig waarna Jesaja in die profesie uitgesien het. En die koninkryk wat Jesus kom stig het, is die vervulling van die tweede deel van die profesie oor die Dawidsryk.
Hierdie uitkoms staan in skerp kontras met die geskiedenis van Sebulon en Naftali. Ek gee ‘n bietjie meer detail as agtergrond:
NAFTALI word gebore as Jakob se sesde kind, die tweede van Ragel se slavin Bilha. Sy wou met Lea kompeteer met kinders, maar was onvrugbaar. Daarom gee sy haar slavin Bilha vir Jakob en hy het twee seuns by Bilha, Dan en Naftali. Bilha se tweede kind word die naam van Naftali gegee. Daarmee verwoord Ragel haar stryd met Lea: “ek was in ’n bitter swaar stryd gewikkel”. (Gen 30:8).
Naftali word wel geteken deur Jakob as vlugvoetige en mooi mense (Gen. 49:21): “Naftali is ’n takbok wat vry rondloop, hy het ’n mooi nageslag.” Moses verwoord ook die seën van die Here oor hulle (Deut. 33:23): “Naftali geniet baie guns, hy word ryklik geseën deur die Here en besit die see en die suide.” Maar, hulle het nie ‘n groot bydrae met die Intog in die land Kanaän gelewer nie en gevaar geloop om eerder deel van die Kanaäniete te word (Rigt. 1:32), hoewel hulle darem onder die leierskap van Debora hulle deel gedoen het en vir hulle doodsveragtende optrede geloof word (Rigt. 5:18).
Hulle het ook hulle deel gedoen met die feesvieringe toe Dawid later koning geword het, en het volop meel en vyekoeke, rosyntjiekoeke, wyn en olie, grootvee en kleinvee gebring vir sy inhuldiging (1 Kron. 12:40). Geen wonder hy sluit hulle in by die lys van stamme wat die Here loof dat Hy hulle dag na dag dra (Ps. 68:28).
Die laaste wat ons egter in die geskiedenisverhale van hulle hoor, is hulle weggevoer na Assirië en het die gevaar geloop om heeltemal in die geskiedenis te verdwyn (2 Kon. 15:29).
Jesaja voorspel egter ‘n omkeer in hulle geskiedenis wat met die Messias verbind word (Jes. 8:23). Jesus gaan bly dan ook in Kapernaum in die gebied van Naftali (en Sebulon) in vervulling van dié profesie soos Matteus ons vertel (Matt. 4:13-15).
SEBULON word gebore as die tiende kind van Jakob. Hy is die sesde eie kind van Lea en kry die naam Sebulon wat verband hou met die Hebreeuse woord vir “bly by” (Gen. 30:20): “God het hierdie keer ’n mooi geskenk aan my gegee. Nou sal my man by my bly, want ek het ses seuns vir hom in die wêreld gebring.” Haar droom is dat haar man by haar sal bly, ‘n droom wat met die konstante wedywering van drie ander vrouens ‘n onhaalbare droom gebly het.
Tog heg Jakob nie veel waarde aan Sebulon nie, soos ‘n mens op sy sterfbed agter kom (Gen. 49:13): “Sebulon woon by die strand, by die strand waar skepe is, sy oë is op Sidon gerig.” Hierdie verbintenis van Sebulon met die see en met die heidense nasie Sidon kan volgens geleerdes moontlik dui op ‘n toekoms wat in die vergetelheid sal verdwyn, al is dit nie presies seker wat daarmee bedoel word nie.
Tog het Moses ook weer mooier woorde vir Sebulon: “Jy moet bly wees, Sebulon, as jy op pad gaan.” (Deut. 33:18). Hulle het egter ook nie hulle deel in Kanaän gedoen nie en die Kanaäniete met rus gelaat, soos Naftali ook gedoen het (Rigt. 1:30). Hulle het darem hulle deel gedoen in die groot oorlog onder Debora en saam met Naftali diens gedoen (Rigt. 4:10). Hulle was ook doodsveragtend dapper in die oorlog (Rigt. 5:18).
Hulle het ook hulle deel gedoen met die feesvieringe toe Dawid later koning geword het, soos dit die geval was met Naftali en het volop bygedra vir sy inhuldiging (1 Kron. 12:40). Dawid sluit hulle dus ook in by die lys van stamme wat die Here loof dat Hy hulle dag na dag dra (Ps. 68:28).
In die tyd van Hiskia was daar pogings om hulle weer in te trek by die Suidryk met ‘n groot paasfeesviering (2 Kron. 30:10), maar dit was net gedeeltelik geslaag. Sommige het die boodskappers uitgelag en gespot. Maar daar was ‘n paar wat berou gekry het en tog gekom het na Jerusalem (2 Kron. 30:11). Hulle was egter duidelik onbekend met hulle eie tradisies en het nie geweet hoe om hulle te reinig en die Paaslam te te eet volgens die voorskrifte nie (2 Kron. 30:18). Maar, nietemin het Hiskia vir hulle gebid dat die Here in sy goedheid vir hulle versoening sal doen. En sommige van hulle was darem daar en het weer deel geword van hulle eie tradisies!
Die laaste wat ons egter in die geskiedenisverhale van hulle hoor, is dat hulle weggevoer is na Assirië en die gevaar geloop het om heeltemal in die geskiedenis te verdwyn soos trouens die hele Noordryk (2 Kon. 15:29).
Tog sou ook Sebulon die plek word waar Jesus in Kapernaum gaan bly het (Matt. 4:13-15) soos dit in Jesaja voorspel is (Jes. 8:23). Daarmee is hulle historiese vernedering opgehef.
Luister weer na God se Woord
- Kyk weer vlugtig na die teks (of lees dit weer ‘n keer). Hoe het hierdie inligting jou verstaan van die teks verander of bevestig? Wat maak die Heilige Gees nou vir jou duidelik?
Fokus op wat God nou doen
- Wat maak God nou vir jou duidelik oor die betekenis van hierdie teks?
Antwoord met ons lewe
- Ons is reisgenote wat telkens mekaar bemoedig op ons geestelike reis. Ons is ook verantwoordelik om die boodskap van hierdie evangelie regdeur die wêreld te neem. En ons moet dié mense wat die risiko aanvaar om oor grense in ander lande en kulture te gaan werk, ondersteun. Mense soos ons sendelinge. Tree vir hulle in in julle gebede. Raak ook betrokke by hulle op enige manier wat die Here op julle hart lê.
- Onthou die Bybelskool oor Eksodus waarvan die eerste bydrae 18 Januarie by bybelskool.com verskyn. Die eerste byeenkoms is Woensdag 25 Januarie 18:00-19:00 in die konsistorie.
FAMILIE-LUISTER
RUS
- Vertel mekaar wat die afgelope 24 uur in julle familie gebeur het. Bid dan saam. Dank God vir die goeie. Gee vir Hom die slegte en bid vir verandering.
HOOR
- Lees Jesaja 8:23-9:6 en gesels met mekaar oor wat julle daarin tref. Indien julle kinders groter is, kan julle van die detail oor Naftali en Sebulon met hulle deel in die deel by Luister na ander en die tye
LEEF
- Gesels oor lig en donker. Gebruik ’n flits wat nie batterye in het nie. ’n Flits sonder batterye kan nie lig skyn nie! Ons kan ook ligte wees vir die wêreld, maar nét omdat ons self die Lig ontvang het. Ons is soos flitse – en die batterye is die Goeie Nuus in Jesus! Of gesels oor hoe een lig donker kan verdryf – bv. ’n LED-liggie aan jou sleutelring, of ’n naglig – iets wat kinders goed verstaan! Dan kan jy ’n naglig wys en gesels oor hoe dit kinders help om nie bang te wees nie.