Die begin van lewe soos ons dit ken – Genesis 1-11 (13-19 Januarie)
Die begin van lewe soos ons dit ken – Genesis 1-11
Die verhaal van Genesis kan in twee hoofdele verdeel word, hfst. 1-11 en 12-50 wat ons in die volgende 3 weke gaan lees. Dis die verhaal van die:
- Oergeskiedenis (4 sleutel gebeure) met ‘n meer universele karakter en die
- Aartsvaders (4 sleutel karakters) wat in sy fokus op families die begin van die volk van God is.
Dit is ‘n boek wat fokus op die stories van families en God se bewaring (Noag en Josef). Maar bo alles is dit die verhaal van God, wat ingryp in die menslike toestand deur individue en hulle families te kies en hulle te seën en te begelei.
Riglyne vir die lees van Genesis 1-11
Let op na die volgende hierdie week:
- Skepping – alles is deur God gemaak en dit was goed (Skepping en die mens). Lig is ‘n dominante metafoor vir God se betrokkenheid en teenwoordigheid by alles.
- Sondeval – daar het verwydering gekom tussen God en mens (tuin van Eden) en tussen mens en mens (toring van Babel). Donkerte is ‘n dominante metafoor vir hierdie verwydering. Paulus skryf daaroor, “almal het gesondig … en dit ontbreek ons aan die heerlikheid van God” (Rom 3). Dit is ‘n ontsaglike werklikheid: die visie op God en sy natuur en wese is versteur, die beeld van God in ons is versteur en die teenwoordigheid van God in ons is deurbreek. Dit het tot gevolg dat die leuen bo die waarheid verkies word, dat ons lewens selfliefde eerder as God- en naasteliefde vertoon, en dat ons die sin en doel van ons plek in God se skepping verloor het.
- Saligheid –die teenpool van die donkerte kom in die vorm van God wat aktief werk om mense met Hom te versoen en vir hulle en die aarde rus te bring (Noag). Dit is die verhaal van God se keuse van mense en hulle families, deur hulle geslagte heen, tot by die keuse van die Seun, die een wat die prys kon betaal wat mense se visie op God herstel het, in Wie ons God se familie word.
Kleingroep byeenkoms
Gebruik die RUS, LUISTER, LEEF metodiek wat julle al goed ken. Hier is ’n paar besprekingsvrae om met die luister te help (julle kan ook die besprekingsvrae agter in die boek DIE STORIE gebruik):
- Wat het julle getref met die lees van Genesis 1-11? Gee genoeg tyd, sonder evaluering.
- Watter 4 sleutelgebeure het julle raakgelees? Bespreek (julle hoef nie konsensus te hê nie!).
- Hoe raak die stryd tussen lig en duisternis julle en hoe reageer julle daarop (Persoonlik – Publiek)?
- Hoe het die Here jou en jou familie geseën? Hoe kan God vandag jou en jou familie gebruik om ander en die wêreld te seën?