Skip to main content

Dankofferfees Lukas 15 Preek

Ons het dikwels hierdie idee van ‘n God wat sit in die hemel en voorsien vir hierdie aardse ou gepeupeltjies doer ver onder.  Maar dis nie God nie.  God kom af.  God word mens, so ernstig is hy daaroor om homself te gee.  God gee sy teenwoordigheid.  Hy deel in ons lewens, is by ons, lei ons as ons daarvoor vra, beskerm ons.

Dis die verrassende deel van God:  God het nie nodig om al die dinge met ons te deel nie.  Maar juis omdat hy ons lief het, wil hy met ons deel, wil hy met ons wees.

God gee insig in sy planne.  God gee liefde.  Al gooi jy alles weg. Al is jy ‘n pyn.

Verwelkoming en aankondiginge

Toetrede

Summerwood Koor: Deck the Halls, Antiphonal Noel

Votum

1 Joh. 4 sê:

God is liefde.  Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar:  sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

Respons:

Laerskool Summerwood Senior koor:  Agnus Dei

Seëngroet

Dis omdat God liefde is, dat ons aan begin van diens nie net mekaar groet nie, maar ook groet in God se Naam: sodat jy onthou dat jy ook hier verwelkom word deur die genade en liefde van God.

Lofsang

Laerskool Summerwood Senior koor:    Gloria in Excelsis Deo

Danksegging

Dink:  waarvoor is jy dankbaar?  Dis natuurlik ’n lang lys, maar probeer om dieper te dink as die voor die hand liggende goed soos gesondheid, werk, dak oor jou kop.  Vertel vir mekaar wat die dinge is waarvoor julle dankbaar is.

Danklied

Vonkk 130 Dankie Vir Hierdie Nuwe Môre

Danksegging

Ons is geneig om vir God net te dank vir die goeie dinge.  Dink na oor die goed wat jy nié sal beskryf as “goed” nie, wat jy dalk selfs as “sleg” sal beskryf.  Kan jy God dank ook te midde van slegte dinge, te midde van uitdagings?  Dalk selfs ook vír die slegte goed?  Waarvoor en hoe is jy dankbaar, juis te midde van uitdagings?

Toewyding

Lied 200 U goedheid, Heer, kan ons nie peil nie

Dankoffers

Dankoffers is ’n simbool, waarmee ons uitdrukking gee aan ons dankbaarheid. Daarmee herinner ons onsself dat alles van God afkom, dat ons slegs bestuurders – rentmeesters daarvan is.  Dis ’n erkenning dat alles van God af is, ’n uitdrukking van dankbaarheid en ’n verbintenis om verantwoordelike bestuurders te wees.

Epiklese

Lied 556 Vervul my hart met dankbaarheid

Skriflesing

Lukas 15:25-32

Lukas 15 begin:

Die tollenaars en sondaars het almal die gewoonte gehad om na Jesus te kom luister. 2Hierteen het die Fariseërs en die skrifgeleerdes beswaar gemaak en gesê: “Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle.”

Hierop reageer Jesus deur die gelykenisse van die verlore skaap, die muntstuk en die verlore seun te vertel. Laasgenoemde eindig:

 “Sy oudste seun was nog in die veld.  Toe hy terugkom en naby die huis was, hoor hy die musiek en die singery.  Hy roep toe een van die bediendes nader en vra hom wat aan die gang is. Die bediende antwoord:  ‘U broer het gekom, en u pa het die vetgemaakte kalf geslag omdat hy hom behoue en gesond teruggekry het.’  “Toe het die oudste seun kwaad geword en hy wou nie in die huis ingaan nie. Sy pa gaan toe uit en praat mooi met hom; maar hy antwoord: ‘Kyk, al die jare werk ek soos ‘n slaaf vir Pa. Nog nooit het ek ‘n opdrag van Pa verontagsaam nie,  en vir my het Pa nog nooit eers ‘n bokkie gegee sodat ek saam met my vriende kan feesvier nie. Maar nou dat hierdie seun van Pa, wat Pa se goed met prostitute deurgebring het, terugkom, het Pa vir hom die vetgemaakte kalf geslag!’ “Toe sê die pa vir hom: ‘Kind, jy is altyd by my, en alles wat ek het, is ook joune.  Maar ons kan tog nie anders as om fees te vier  en bly te wees nie, want hierdie broer van jou was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ons het hom teruggekry.’ ”

Inleiding

Ek het vir Anke Serfontein gevra om vanoggend met ons te gesels en spesifiek om haar medaljes saam te bring.  Gesprek:  Watter sport?  Onlangs Egipte – waarvoor? Medaljes?  Voorbereidings?  Harde werk?  Baie geluk, baie dankie!

Die Here het vir Anke besondere gawes gegee as atleet.  Maar het julle gehoor sy werk ook baie hard?

Die Here het vir elkeen van ons gawes gegee.  Meeste van ons gaan nooit wêreldkampioene word nie, maar ons almal het gawes.

Sien, alle gawes is God s’n.  Hy leen dit vir ons, sodat ons dit mag gebruik.  Ons is bestuurders daarvan.  “Rentmeesters”.  Dis soos wanneer pappa jou toelaat om sy kamera te gebruik.  Jy gaan baie versigtig wees, want jy weet dis kosbaar en dis eintlik pappa s’n.

So werk gawes ook.  My gawe is woorde en om te praat.  Ek sal nooit die beste in die wêreld daarmee wees nie, maar ek werk hard met my gawe, ek gebruik dit.  Want God het dit vir my geleen.

Party mense is baie slim.  Hulle werk nie baie hard nie, dan doen hulle baie goed op skool.  Ander werk hulle byna dood, kom net-net deur.  Wie dink julle is die beste “rentmeesters”,  bestuurders van God se gawes?  Die wat hard werk met wat hulle het, dit goed, versigtig hanteer.

Of jy ’n wêreldkampioen word, of heel laaste kom:  jy moet jou gawe gebruik, hard werk, mooi daarmee werk.

Daar is ook ander dinge wat gawes is.  Die goed wat ons het, ons besittings, is ook gawes wat God vir ons leen.

Ook mense.  Henry, my man, is ’n gawe wat God vir my gegee het.  Hy is eintlik Jesus se kind, maar Jesus leen hom vir my.  So ek moet hom mooi behandel.  Jou mamma/pappa, boetie/sussie, maatjies is almal Jesus s’n.  Hulle word vir jou geleen.  Daarom moet jy hulle mooi behandel.

En ons gawes pas by mekaar.  Die  goed wat ons het of kan doen, kan ons gebruik om ander te help.  Ek gebruik woorde om julle te leer.  As jy goed is met drukkies gee, kan jy dit gebruik om ander beter te laat voel.  As jy baie geld het, kan jy dit gebruik om vir ander ander kos te gee.

Preek

Amasone

Wanneer die oudste broer buite sit en sulk – die Afrikaans is blykbaar pruil – maar wanneer hy buite sit en sulk, dan kom sy pa uit, gesels liefdevol met hom.  Dan sê die Vader:

v31:  en alles wat ek het, is ook joune.

Die Amasone Rivier is blykbaar ongeveer ’n vyfde van die wêreld se riviervloei.  Dit verwater die see se soutwater vir ongeveer 160km in die Atlantiese Oseaan in.  Tegnies is dit seker nie heeltemal vars water nie, maar dis ook nie so erg sout nie.  En ek skat hoe nader jy aan die kus, hoe varser gaan die water sekerlik wees?

Nou gestel jy is in ’n vliegtuig wat val.  Jy eindig in ’n bootjie in die see, naby die mond van die Amasone, maar jy weet nie.  Jy kan doodgaan van die dors, omring deur vars water.

Vissie

Jaco, ons gemeente se multimedia bestuurder, het jare gelede vir my hierdie prentjie geteken, van ’n klein vissie wat vir haar mamma vra:  kan ek slukkie water kry?

Dis die Verhaal van die verlore seun:  die erfporsie word verdeel, die jongste seun kry ’n derde.  Wat oorbly – alles – is die oudste seun s’n.

Maar kyk wat gebeur wanneer hy terugkom:  hy sulk.  “Hoekom is Pa so bly oor hierdie gomtor wat terugkom?  Wat van my?”

Alles is syne, sy vader deel dit alles met hom, maar hy kan dit nie sien nie!  Hy is stiksienig.

Wat deel God met jou?

  • Liggaam
  • verstand
  • gawes
  • geliefdes
  • vriende
  • kinders
  • kos
  • besittings
  • geld
  • natuur

Rentmeesterskap

Dis waar die konsep van Rentmeesterskap vandaan kom:  die goed wat jy “het”,  behoort eintlik aan God.  God deel dit met jou –  jy “bestuur” dit.

Dit het implikasies vir wat jy met jou gawes doen, hoe jy mense hanteer, hoe jy jouself behandel.  Want dis eintlik God s’n.  Hy deel dit met jou, vertrou jou daarmee.

Die oudste broer het dit nie verstaan nie.  Hy sê hy werk soos ’n slaaf, sloof homself af – terwyl alles eintlik met hom gedeel word.

Hy het nie bestuur nie.  Hy het versamel.  Hy het gedink wat hy eendag daarmee gaan doen wanneer alles syne is.  Hy besef nie:  dis reeds syne, sy vader vertrou hom daarmee.

Die oudste seun se probleem is natuurlik dat hy vashaak by die materiële.  Hy fikseer op die goed, die stuff:  kamele, tente, slawe. ’n Bokkie om te slag vir ’n partytjie met sy vriende.

Maar hy is by sy pa.  Hy het sy pa se teenwoordigheid.  Hy het sy pa se liefde, beskerming, leiding.

Ons is natuurlik ook geneig om vas te haak by die stuff:  God gee kos, klere.  Maar God gee ook ander dinge:  God gee homself.

God deel homself

Ons het dikwels hierdie idee van ‘n God wat sit in die hemel en voorsien vir hierdie aardse ou gepeupeltjies doer ver onder.  Maar dis nie God nie.  God kom af. God word mens, so ernstig is hy daaroor om homself te gee.

God gee sy teenwoordigheid.  Hy deel in ons lewens, is by ons, lei ons as ons daarvoor vra, beskerm ons.

Dis die verrassende deel van God:  God het nie nodig om al die dinge met ons te deel nie.  Maar juis omdat hy ons lief het, wil hy met ons deel, wil hy met ons wees.

God gee insig in sy planne.  God gee liefde.  Al smyt jy alles weg. Al is jy ‘n pyn.

Kyk,  as ek die pa was, – en die oudste seun sit buite en sulk – dan sou ek gesê het:  “Man, laat hy op eie sy opsnork!  My kind is terug!  Ons hou partytjie.”   Of ek sou uitgaan en sê:  “Ruk jou reg.  Moenie so pateties wees nie.”

Maar die pa gaan uit en “praat mooi met hom”, sê Jesus.

So ernstig is God daaroor om homself met jou deel, selfs wanneer jy droogmaak, wanneer jy sit en sulk, sal God homself steeds met jou deel.

God deel sy goed, maar meer nog:  God deel homself met ons.

Ons is dikwels soos die oudste seun.  Ons sit en sulk.  “Ek het nie dit en dit nie.  Daai en daai werk nie lekker uit nie.  Die Here straf my.  Hoekom moet ek so sukkel?  Kyk hoe lekker het so-en-so dit en kyk hoe moet ek swaarkry.”  Ons is soos vissie wat swem, omring deur water, wat kla omdat ons dors is.

Fokus op ander

Daar’s goed wat keer dat ons sien wat God met ons deel.  Die oudste seun in Jesus se gelykenis kyk wat die vader vir die broer gee, maar sien nie raak wat hy alles self het nie.

Een ding wat maak dat ons nie kan sien wat God alles met ons deel nie,  is omdat ons fokus op wat God vir ander gee.  Ons fokus op ander, ons fokus nie op God nie.  “Hoekom het daai mense so baie goed?  Hoekom is hulle lewe so maklik?  Hoekom is  daardie huwelik so gelukkig?  Daardie mense se kinders so voorbeeldig?”

Ons swem in water rond en stik van die dors, omdat ons kyk hoe ander visse in water swem.

Probeer te hard

Die tweede ding wat maak dat die oudste seun nie raaksien wat die vader met hom deel nie, is omdat hy te hard werk!  Hy sê hy “werk soos ‘n slaaf vir pa”.  Hy probeer sy pa se guns verdien!

Soms het ons hierdie idee dat ons God moet beïndruk:  As ek hard genoeg werk (aan my geloof), goed genoeg doen, goed genoeg is, genoeg Bybel lees,  lank genoeg bid… dan sal dit goed gaan.  Dan sal God vir y gee wat ek wil hê.

Maar God verwag nie dat jy jou oor ’n mik moet werk om sy liefde te verdien nie.  God verwag dat jy die verhouding met hom moet geniet!  Geloof is nie harde werk nie, maar ’n verhouding, lewe saam met Iemand wat jou liefhet, wat jy liefhet.

Dankbaarheid

So miskien is die uitdaging vandag, om om jou rond te kyk en die water te sien!  Sien dat jy omring is van die dinge wat God met jou deel.

Natuurlik kom daar verantwoordelikheid daarmee saam:  rentmeesterskap – om dit te versorg en te bestuur.

Maar jy kan dit ook vier,  dit geniet.  God deel alles wat jy het met jou.  Hy deel sy ander kinders met jou.  Hy deel homself met jou!

As jy dan in hierdie water swem, sien dit raak, drink dit!

Gebed

Slotsang

Lied 259 vv1-3 Dank, dank die Heer

Seën

Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.

Respons

Lied 259 v4 Dank, dank die Heer

dankbaarheid, dankoffer. dankofferfees, Oudste broer, preek, rentmeesterskap, Rethie van Niekerk, verlore seun

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.