Skip to main content

Die kragveld van die Gees – Galasiërs 5:16-26

Die verhaal van die kerk
Tema:  Die kragveld van die Gees – Galasiërs 5:16-26
Youtube 09:00 30 Augustus 2020  Somerstrand Familiediens

Youtube
Boek

Verwelkoming

Welkom by ons geloofsgemeenskap op Youtube. Mag die Here jou op ‘n spesiale manier met hierdie boodskap seën.

Erediens in die kerk

Ons het vandag twee eredienste in die kerkgebou. ‘n Nagmaal om 09:00. ‘n Doop om 10:30 – ‘n tweeling – Duncan en Isabella Young van Adam en Ilse Young! Onthou om vir volgende week se kerkdiens om 09:00 in te skryf by Liésl (ngksomer@global.co.za).

Verjaarsdae

Baie geluk aan almal wat vandag verjaar. Christine de Wet word 2 vandag! Hanrie Kritzinger en Mareli Neethling verjaar ook vandag. Alexander Serfontein word dié week 11. Baie geluk. ‘n Lys met al die verjaarsdae die week is op die web. Bel en wens mekaar geluk deur die week.

Kermis

Jaffels en pannekoeke dié week Vrydag, 4 September beskikbaar. Inligting op die skerm. Jaffels R20. Pannekoek R5. Bestel teen Woensdag 13:00. Jy kan ook by die kerk inbetaal Woensdag 09:00-10:00. Haal dit af Vrydag 17:00 by 14 Brewerweg. Ons het met die vorige rondte so R3 000 ingesamel. Kom ons versprei die nuus en raak betrokke!

Behoeftes

Onthou die kos en klere projekte wat ons deurlopend hardloop. Bydraes vir Jaco en Annemarie Barnard by Bognorstraat 6 en vir Theo by Total en Elsje by die spreekkamer of by Cecile by 3de Laan. Bydraes vir die Noodfonds is ook steeds welkom.

Kategese

Ons skakel vir die laerskool kategese in die tyd van die inperking in by die Lofkabouters van PE Hoogland. Vandag is dit die letter “i” in ds Thania Botha se Geloofsalfabet. Waarvoor staan die letter “i” in ons Geloofsalfabet? Ons leer vandag meer oor ons IDENTITEIT in God en maak klei van conditioner, kan jy glo?! Gebruik die 10 minute aanbieding vir gesprek en aktiwiteite met julle kinders. Geniet!

Pulse

Ons informele erediens vanaand, Pulse, gaan ook oor die tema van ons verhouding met die omgewing. Ek hanteer dit. Ons beleef tans die Vierde Industriële Revolusie. Dit is ‘n revolusie van data, die “Internet of things”, die vermenging van die fisiese, biologiese, en digitale wêrelde, die virtuele wêrelde waarin ons leef. Dit is wonderlik, maar dit verhoog die probleem wat ons het met besoedeling, afval, en die oorbenutting van bronne. Dit is dan só bevredigend om die Bybel op die eerste bladsy oop te maak en agterkom dat die visie van God vir hierdie wêreld nog presies in die kol is. Dat geen revolusie die basiese dinge wat God ons daar leer, ontkrag nie. Dat die visie van die Bybel vir ons verhouding met die omgewing nog steeds die beste prentjie is wat daar is. Want, God se droom vir die aarde kan in drie woorde saamgevat word … Kom luister Sondag 18:00 na Pulse op Youtube. Jy kan ook 1 GB data wen met ‘n app wat ons bekend stel: Boats.

Die verhaal van die kerk – Paulus versit berge

Dit is week 6 van my fokus op die lewe van Paulus. Tot en met Advent. Ons lees saam die boek Handelinge en Paulus se dertien briewe. Titel en tema: Die verhaal van die kerkPaulus versit berge.

Daar is ‘n Bybelstudieboek vir stiltetyd en kleingroepe. Jy kan alles gratis aflaai op ons webwerf. Hierdie week is dit hoofstuk 6 met die brief aan die Galasiërs op die tafel. Met die tema: Die kragveld van die Gees.

Youtube

Teken sommer nou in op die Youtube kanaal op jou skerm. Dit is die rooi subscribe knoppie. Jy kan notifications ook aansit sodat jy kennis kan kry van elke volgende video.

Onthou die kleiner formaat video of die klankbaan. Die skakels is op Whatsapp, nuusbrief, web en Facebook beskikbaar.

Votum en Seëngroet

Ek groet julle met die groet van Paulus op hierdie tweede sendingreis aan die gemeentes in Galasië:

3 Genade vir julle en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus, 4 Hy wat Homself ter wille van ons sondes gegee het sodat Hy ons kan red uit die huidige bose bedeling volgens die wil van ons God en Vader, 5 aan wie die heerlikheid toekom vir ewig en ewig! Amen.

Dit is weer Kindertyd.

Kindertyd

Vasbyt – julle superhero, oom Jaco, is volgende week terug.

Ek is seker julle weet presies waar hierdie plek is. Net onderkant Something Good. Waar mens die lekker draairoomyse koop.

Op ‘n mooi dag kuier oud en jonk graag hier.

Veral wanneer dit volmaan is, tref ons die mooiste skatte op die strand aan. Hierdie is maar net een.

Maar ongelukkig, is die strand vol gemors. Soos – sigaretstompies, lekkergoed papiere, plastiek, nog plastiek, en nog plastiek. En skroot soos hierdie drade wat jou baie seer kan maak.

God het vir ons die wonder van die natuur gegee. Om Hom as die Skepper daarvan te kan raaksien. En Hom vir die skatte daarin te prys.

Maar dan kom die mens en besoedel dit wat God mooi gemaak het.

In die eerste boek van die Bybel, Genesis, lees ons:

15Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas. (Gen 2:15)

Ons kan nie regtig polisieman speel en met mense raas as hulle gemors strooi nie. Maar ons kan dit optel en herwin.

Herwin julle ouers? Weet julle wat herwin beteken?

Dit is hoe ons herwin. Ons het drie dromme. In die een gooi ons glas, blikke en bottels. In die ander een gooi ons plastiek. In die ander een gooi ons karton en papier.

So voer ons God se opdrag uit, om hierdie aarde te bewaar.

Gebed

Dankie Here Jesus dat U my vergewe het. Dankie dat U nie meer kwaad is vir die lelike dinge wat ons gedoen het nie. Ons vergewe ook ons maats wat lelike dinge doen. En ons wil vir hulle bid en hulle help om na U te luister. Terwyl ons ook versigtig is om nie dieselfde slegte dinge te doen nie. Amen.

Loflied

Kom ons sing van die Gees wat in ons woon in voorbereiding vir die nagmaal en ons prediking oor die Gees.

Lied 442 – Gees van God wat in my woon

Nagmaal

Ons vier die nagmaal as herinnering aan die kruisdood van die Here Jesus Christus. Ek gebruik die kindervriendelike instellingswoorde.

Instelling van die brood

Wanneer ons die brood eet, dink ons daaraan dat Jesus vir ons aan die kruis gesterf het en glo ons dat Hy al ons sondes weggevat het.

Instelling van die wyn

Wanneer ons die wyn drink, dink ons daaraan dat Jesus se bloed vir ons aan die kruis gevloei het en glo ons dat Hy al ons sondes weggevat het.

Gebed

Skriflesing en prediking

Die gemeentes in Galasiërs was vol blydskap en vol van die Heilige Gees

Paulus het in ‘n hele paar stede van die streek van Galasië opgetree op sy eerste sendingreis, 46-47 nC. Onder andere in Antiogië in Pisidië waar ‘n groot deurbraak na die heidene gekom het. Die heidene was baie bly oor die woord van die Here. Almal wat bestem was vir die ewige lewe het gelowig geword. Die woord van die Here het daarom van hulle af na die hele streek van Galasië versprei. En Lukas sê vir ons die gelowiges van Antiogië

“was vol blydskap en vol van die Heilige Gees.”

Dit is die normale Christelike lewe. ‘n Lewe vol van blydskap. ‘n Lewe vol van die Heilige Gees.

Is dit iets wat waar is van jou lewe?

  • Dat daar ‘n bruisende blydskap in God se teenwoordigheid is.
  • Dat daar ‘n verwondering oor die teenwoordigheid van die Gees in jou lewe is.
  • Dat jy opgewonde is dat die Bybel vir jou ‘n bron van krag word.
  • Dat jy die krag in jou teen die sonde en die suigkrag van die wêreld ervaar.

Dit is hoe ‘n lewe vol van die Heilige Gees is. Jy kom in die kragveld van die Gees.

  • Jy hoor sy stem in die Woord en jy word bewus word van sy krag wat in jou en deur jou werk.
  • Jy kry insigte in die Woord wat jou verstom.
  • Jy kry beloftes in die Woord wat die Here vir jou vervul.
  • Jy kry opdragte in die Woord waarmee jy ‘n verskil maak in die lewe.

In die kragveld van die Gees

Dit is asof die Gees soos ‘n kragveld in jou lewe begin werk. Dis asof Hy jou lewe magnetiseer.

My kleinkinders speel op die oomblik met magnetiese boublokke. En dit is ongelooflik hoe dit ‘n mens leer van aantrekkingskragte en afstotende kragte. Die aantrekking en afstotende eienskappe van magnete help hulle om die blokke op die regte manier aan mekaar te sit om huise en enigiets wat hulle verbeelding gaande maak, te bou. Die aantrekkingskrag help om die gebou stewig te maak. Die afstotende kragte help dat die gebou op die regte manier gebou word.

Soos in hierdie video van ‘n magneet:

 Let op hoe die een pool aantrek (Suid) en die ander pool afstoot (Noord). Die liggies help jou om die vloei van die magnetiese veld te kan raaksien. Dàar is ‘n aantrekkingskrag en daar is ‘n afstotende krag.

Twee kragte van die Gees

Dit is hoe die lewe in die Gees ook werk.

  • Die Gees sit ‘n aantrekkingskrag in jou aan die werk wat die goddelike eienskappe aantrek. Dinge soos blydskap, vrede en liefde. Ons noem dit ook die vrug van die Gees.
  • Die Gees sit ook ‘n afstotende krag in jou aan die werk. Hy druk die sonde en die bose uit jou lewe uit.

Wanneer ons vol is van die Heilige Gees en sy aantrekkingskrag:

  • Verdiep Hy ons insig in God en sy plan vir hierdie wêreld.
  • Motiveer die Gees ons met die beloftes in die Woord om aan God gehoorsaam te lewe.
  • Span die Gees ons in met die opdragte in die Woord om ‘n verskil te maak.

En op ‘n soortgelyke wyse – soos ons al hoe voller word van die Gees se afstotende krag:

  • Stoot Hy al hoe meer die sondige praktyke van ons sondige natuur uit ons lewe.
  • Help die Gees ons om op ‘n kragtige wyse weerstand te bied teen die Satan en sy planne.
  • Help die Gees ons om nee te sê vir die ideologie en lewenstyl van hierdie wêreld.

Dit is wat dit beteken om vol van die Heilige Gees te wees. Ons word gemagnetiseer.

  • Positief: Met insigte. Met beloftes. Met opdragte. Met gawes. Met die vrug van die Gees. Met ‘n getuienis na buite.
  • Negatief: Ons weerstaan die sonde. Ons sondige natuur. Die Bose. Die wêreld en sy invloed in ons lewe.

Om jou oor te gee aan die Gees

Maar, hierdie krag van die Gees is iets waaraan jy jou moet oorgee. Jy moet toelaat dat sy krag in jou werk.

  • Paulus praat ook van gelowiges wat sy invloed “blus” soos jy ‘n vuur sou uitdoof (1 Tess 5:19). Wat die duidelike opdragte van die Gees ignoreer. Wat bang is om hulle getuienis te laat hoor weens die druk wat hierdie samelewing op ‘n mens kan uitoefen.
  • Paulus sal later praat van gelowiges wat die Gees “bedroef” – wat die Gees hartseer maak (Ef 4:30) – omdat hulle nie doen wat Hy deur die Woord vir ons sê nie. Wat nie meer leef soos Hy dit in die Skrif vir sê nie.
  • Nog erger, sal Petrus en die Hebreërskrywer later skryf, is daar gelowiges wat hulle harte “verhard.” Wat aktief die invloed van die Gees teenstaan (Hebr 3:8; 4:7; 2 Pet 1:19-21). Wat kies om in sonde te lewe. Wat teen God se wil vir die lewe kies. Wat hulle harte toemaak vir die Gees (Hebr 3:3).

Dit dwarsboom die krag van die Gees in ons lewe.

Die gemeentes van Galasiërs het hulle blydskap verloor

Dit is wat gebeur het met die gelowiges van die gemeentes in Galasië.

Op sy tweede sendingreis – 49-52 nC – het Paulus van die stede in Galasië weer besoek, maar die Here het hom geroep om deur te druk na Griekeland toe. Hy het van Filippi en Tessalonika in die noorde tot in die suide in Korinte die evangelie gebring het.

In sy jaar en ‘n half verblyf in Korinte kry Paulus tyd om na te dink oor sy bediening. Hy kry berig van Timoteus uit Tessalonika met sekere vrae oor die etiek en die Wederkoms. En hy antwoord dit in sy twee briewe aan die Tessalonisense.

Hy het egter ook berig ontvang van mense wat in die gemeentes van Galasië ‘n ander evangelie as hy verkondig het. Wat die gelowiges verwar het. Om die waarheid te sê, hulle betower het, om ‘n ander evangelie te glo.

  • Sommige, waarskynlik Joodse gelowiges, het gesê hulle moet die wet van Moses nakom en het aangedring daarop dat die gelowiges uit die heidene besny word.
  • Ander, waarskynlik gelowiges uit die heidene, het weer gesê dat hulle vry is van alle reëls en daarom maar mag sondig.

En die gevolg was dat hulle nie meer die blydskap en die vervulling van die Heilige Gees ervaar het nie. Sommige se lewe het vasgeval in die tronk van ‘n klomp reëls. Dit het die Gees “bedroef”, want Hy het juis gekom om hulle in die vryheid van Christus te laat vasstaan. Ander se lewe het weer vasgeval in die dryfsand van die sonde. Dit het die werk van die Gees in hulle lewe “geblus” (1 Tess 5:19). Trouens, hulle het hulle harte “verhard”. Die stem van die Gees het stil geraak in hulle lewe.

  • Want dit is wat die wet Dit perk jou in. Dit ontneem jou vryheid. Jy raak ‘n slaaf daarvan. Dit dood die stem van die Gees uit.
  • Dieselfde met die sonde. Dit maak jou ‘n slaaf van jou sondige natuur. Dit laat jou wegsink in ‘n morele moeras waaruit jy nie kan ontsnap nie. Hoe meer jy sukkel om daarvan te ontsnap, hoe dieper sink jy daarin weg. En dan raak jou hart hard, sodat jy nie meer die Gees kan hoor nie.

Daar is geen ander evangelie nie

Daarom skryf Paulus ‘n omsendbrief aan die gemeentes van die provinsie Galasië (Gal 1:2). Met sy volle gesag as apostel – deur God aangestel, nie deur mense nie (Gal 1:1) – spreek hy hulle aan.

En sit sy vinger op die pols. Hulle het geval vir ‘n ander evangelie. Want, waar jy jou visie verloor op God, en jy vasval in die wet of die sonde sal jy altyd die teenwoordigheid van die Gees inboet.

Paulus is só ernstig daaroor dat hy nie eers die normale dankwoorde aan die begin van sy brief skryf nie. Hy herinner hulle onmiddellik daaraan dat hulle lewe op die spel is. Hulle ewige lewe. Jesus het hulle juis kom red uit die teenswoordige bose wêreld (Gal 1:4). Hy het hulle van die tronk van die wet kom bevry. Hy het hulle uit die dryfsand van die sonde kom bevry. Dit is die evangelie. As hulle nou weer vasval in die wet of in die sonde, stel dit hulle ewige lewe in gevaar.

Christus leef in my

Dan gee hy vir hulle drie kritiese perspektiewe wat hulle weer terug op die pad kan bring.

1. Die eerste perspektief is dat hulle moet ophou luister na mense wat ‘n ander evangelie bring.

Daar is net een manier waarop hulle mense moet hanteer wat met ‘n ander evangelie kom, en dit is om hulle as vervloektes te beskou (Gal 1:8-9). Selfs die groot manne in die geloof moet gekonfronteer word as hulle van die waarheid afwyk.

En Paulus illustreer dit uit sy eie lewe. Op ‘n keer moes hy in sy tuisgemeente, Antiogië in Sirië, vir  Petrus en Barnabas konfronteer. Hulle het nie meer reguit geloop volgens die waarheid nie, skryf Paulus. Vir Petrus het Paulus reguit gesê: Jy kan nie in Christus glo en dan nog soos ‘n Jood lewe en daarby die gelowiges uit die heidene dwing om te leef soos ‘n Jood nie (Gal 2:11-21). Dit is ‘n valse evangelie!

Dit geld ook vir jou. Elke kind van God het die Gees van God in hom of haar. En ons kan die groot manne van ons tyd beoordeel of hulle bly by die evangelie van die Here Jesus Christus. En hoe beoordeel ons hulle? Of hulle getrou is aan die boek wat die Gees ons gegee het, die Bybel.

2. Die tweede perspektief is dat Christus in hulle leef:

“Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my.” (Gal 2:20).

Dit is die hart van die evangelie. Dit is die begin van die blydskap wat ‘n mens in die Gees belewe. As die Here Jesus die regte plek in jou lewe inneem.

Jy kan dus nie weer terugval op die wet en dink dat jou saligheid daarvan afhang en ander mense so leer nie. Anders was Christus se dood tevergeefs, sê Paulus.

As jy die wet wil nakom, moet jy immers alles doen. Elke enkele riglyn daarvan. En daar is 613 wette. Nee, ek is met Christus gekruisig. Ek leef nie meer nie. Christus leef in my. Ek is waarlik vry! Hy het my vrygemaak van die wet. Hy het my vrygemaak van die sonde.

Dieselfde geld die sonde. Jy kan nie dink dat jy nou maar kan doen wat jy wil nie. Dat jy kan leef soos die res van die wêreld doen nie. Dat jy die sonde kan toelaat in jou lewe, want dit sal nie jou vryheid bedreig nie.

Nee, jy is dood vir die wet sowel as vir die sonde. Jy is met Christus gekruisig vir die wet. Jy is gekruisig vir die sonde. Jy leef nie meer nie. Christus leef in jou.

  • So, jy vra nie meer, wat sê die wet nie, maar, wat sê Christus.
  • Jy vra ook nie meer, wat sê my sondige natuur nie, maar, wat sê Christus.

En om dit goed te verstaan, en om hierdie tipe lewe te omhels, om weer die blydskap in die Gees te ervaar, beklemtoon Paulus dan die rol wat die Heilige Gees in hulle moet speel.

3. Die derde perspektief is dat die Gees hulle moet lei.

Die Gees is nou die een wat die rol van die wet in hulle lewe vervul, wat hulle trouens help om die wet na te kom, met sy aantrekkingskrag. En die Gees is die een wat die sonde sal oorwin in hulle lewe met sy afstotende krag. Sodat hulle nie vasval in die wet of die sonde nie.

So skryf Paulus:

Galasiërs 5:16-26

16 Maar ek sê: Leef deur die Gees, dan sal julle beslis nie die begeertes van ons sondige aard uitvoer nie, 17 want ons sondige aard begeer teen die Gees, en die Gees begeer teen ons sondige aard; die twee opponeer mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle ook al wil nie. 18 As julle egter deur die Gees gelei word, staan julle nie onder die toesig van die wet nie. 19 Die praktyke van ons sondige aard is goed bekend, naamlik onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, 20 afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloesie, woede, selfsug, tweespalt, skeuring, 21 afguns, dronkenskap, orgies en hierdie soort dinge — waarteen ek julle nou weer waarsku, soos ek julle vroeër gewaarsku het, naamlik dat diegene wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërf nie.  22 Maar die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, 23 sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen hierdie soort dinge is daar nie ‘n wet nie.  24 Almal wat aan Christus Jesus behoort, het ons sondige aard saam met sy hartstogte en begeertes gekruisig. 25 Aangesien ons deur die Gees leef, moet ons ook volgens die Gees optree. 26 Laat ons nie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar jaloers wees nie.

Hoe werk dit?

Paulus sê in vers 16:

“Leef deur die Gees, dan sal julle beslis nie die begeertes van ons sondige aard uitvoer nie.”

Hy gebruik die Griekse woord peripateo. Dit is ‘n woord wat vir “wandel” gebruik word. Ons moet dus leer om in gelid met die Gees te kom. Om in die Gees te wandel. Om na sy stem te luister en die pad te volg waarop Hy ons lei.

Hoe doen ons dit? Ons laat toe dat Hy ons vervul. Dat sy stem die deurslag gee in ons lewe.

Waardeur praat die Gees? Deur die Bybel. Want, dit is die Woord van God. Geïnspireer deur die Gees. Elke woord daarin is gegee dat die Gees jou kan leer hoe jy moet leef.

Dit is wanneer die Gees só oorneem in jou lewe, as jy leer om te leef wat jy lees in die Bybel, dan gebeur met jou wat met ‘n magneet gebeur.

Die Gees in jou stoot die sondige praktyke af en die Gees trek die goddelike gedragspatrone aan.

En die dinge wat afstootlik is, is duidelik. Paulus noem drie groepe van vyftien sondige gedragspatrone.

  • Dinge wat jouself besoedel – onsedelikheid (porneia), onreinheid, losbandigheid, dronkenskap en orgies (slegte moreel-eties praktyke).
  • Dinge wat die gemeente besoedel – vyandskap, twis, jaloesie, woede, selfsug, tweespalt, skeuring en afguns (onderlinge konflik en liefdelose praktyke).
  • Dinge wat ons getuienis in die gemeenskap besoedel – afgodery en towery (godsdienstige praktyke).

Maar, daarteenoor maak die Gees ons vol van aantreklike dinge. Drie groepe van nege geestelike gedragspatrone.

  • Dinge wat jou binnekant vernuwe: liefde, blydskap, en vrede.
  • Dinge wat die gemeente help: geduld, vriendelikheid, en goedheid.
  • Dinge wat die gemeenskap verander: getrouheid, sagmoedigheid, en selfbeheersing.

Paulus herhaal dit in vers 25:

“Aangesien ons deur die Gees leef, moet ons ook volgens die Gees optree”.

Die Griekse woord vir optree (stoicheō) het dieselfde betekenis in hierdie konteks as wandel. Dit is om jou gedrag deur die Gees te laat bepaal. Dit is om doelbewus die Gees se standaarde na te volg. Om in gelid te kom met die Gees se leiding binne die gemeenskap van gelowiges. Die Gees se standaarde bepaal dus ons almal se lewe en ons almal se gedragspatrone.

Dit is wat dit beteken om vol van die Heilige Gees te wees. Om sy blydskap te ervaar. Ons word as’t ware gemagnetiseer.

  • Positief: Met insigte. Met beloftes. Met opdragte. Met gawes. Met die vrug van die Gees. Met ‘n getuienis na buite.
  • Negatief: Met ‘n weerstand teen die sonde. Teen ons sondige natuur. Teen die Bose. Teen die wêreld en sy invloed in ons lewe.

Dit is die lewe in die kragveld van die Gees.

Gebed

Dankoffer

Jy kan jou bydrae gee met Snapscan. Ek sal dit aan die einde vir ‘n halfminuut weer wys.

Die Bankbesonderhede verskyn ook vir mense wat EFT wil doen.

NGK Somerstrand

Absa Tjekrekening 01008731388

Takkode 632005

Bydrae

Evelyn Lotz deel met ons wat op die oomblik in haar bediening gebeur.

Slotlied

Kom ons sing van die krag van die Here.

Vonkk 58 – Ons vind ons krag in die Here

Seën

Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God, en die gemeenskap van die Heilige Gees wees en bly met julle almal.

En die gemeente sê: “Amen!”

Paulus

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.