Skip to main content

Kyk anders na ontwrigting – Handelinge 9 Preek

Ontwrigtings heroriënteer ons.  Dit laat ons moontlikhede heroorweeg.  Dit laat die skille van ons oë afval en laat ons nuut sien, anders kyk.  Dit breek die ou perspektiewe af en maak moontlikhede oop waaraan ons nooit eers sou gedink het solank ons gemaklik en gerieflik voortgegaan het nie.

Dit veronderstel ’n diep kennis van wie God is, die wete dat ons by hom veilig is, vertroue in die wonders wat God deur wilde omwentelinge kan bewerk.

Dit is wanneer ons ophou om die ontwrigting te beveg, maar eerder te vra waar Jesus in hierdie ontwrigting is, dat ons oë kan oopgaan.

Ek weet nie wat die omwentelinge en ontwrigtings in jou lewe is nie.  Maar ek weet dat ons te maklik nuwe moontlikhede en nuwe verstaan en nuwe visie teëstaan omdat ontwrigting vir ons pynlik is.  Ek weet ook dat God kan aanhou om ons te verras en te verander en te verruim, wanneer ons na hom luister, ook wanneer dit ons bang maak, en hom gehoorsaam volg.

Toetrede

Flam 87 Maak my nou stil, Heer

Votum

Jesaja 43:1     

Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.

Seëngroet

Omdat God ook hierdie gemeente Somerstrand op die naam geroep het en ons aan hom behoort, is daar vir ons genade en vrede in sy Naam.

Lofsang

Psalm 118 v 1 en 6  Kom, loof die Heer

Lied 190  Grote God, aan U die eer

Verootmoediging

Vanoggend se Skriflesing is verhale van bekering en omkeer. Verhale van mense wat na God se stem luister, mense wie se oë oopgaan en  mense wat in gehoorsaamheid reageer.

Want om Jesus te volg, is om aanhoudend tot bekering te kom.  Dit is om telkens van ons blindheid genees te word en Jesus se stem te hoor, soos wanneer hy met ons praat in Matteus 5:43-48:

43“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.’ 44Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, 45sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen. 46As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so nie? 47En as julle net julle broers groet, wat doen julle meer as ander? Maak die heidene nie ook maar net so nie?

48“Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.”

Skuldbelydenis

Tyd vir stil refleksie – luister na die stem van Jesus en bid dat hy jou oë sal oopmaak.

Genadeverkondiging

Lied 280  Here, Redder, groot en magtig 

Gebed

Skriflesing

Handelinge 9:1-19a

Video

A New Way of Seeing (Jesus Storybook Bible) tot by 3:20

Sending terugvoer

Inleiding

Verwelkoming en verjaarsdae

Gebed sendelinge

Preek

Die storie word vertel van ’n man wat geleef het hier aan die begin-dae van Christenskap.  Dis onseker waarvandaan hy gekom het.  Dalk was hy een van die Christene wat uit Jerusalem gevlug het toe daar begin is om die Christene daar te vervolg.  Of dalk was hy een van diegene wat tot bekering gekom het op grond van een van daardie Jerusalem-vlugtelinge se getuienis.  Ons weet nie.

Hoe dit ook al gebeur het, hierdie man was ’n volgeling van die sogenaamde “weg”, op daardie stadium nog nie regtig ’n volwaardige godsdiens van sy eie nie, maar wel ’n radikale ander lewe met radikale ander oortuigings as die Jodedom waarbinne dit ontstaan het.  Die volgelinge van die weg was oortuig dat die koninkryk van God deurgebreek het in die persoon van Jesus Christus, wat opgestaan het uit die dood en sy volgelinge roep tot ’n lewe van radikale liefde, ook vir hul vyande.

Hierdie man, hierdie volgeling van die Weg, het gewoon in ’n dorpie genaamd Damaskus.  Dinge was behoorlik besig om te gons in Damaskus!  Hulle het maar te goed geweet hoe die Christene in Jerusalem vervolg is.  Baie van hulle het immers daarvandaan gevlug!  Hulle het geweet met watter ywer hulle broers en susters – mans en vrouens – vervolg en selfs doodgemaak is.

Dan begin die gerugte.  Die groot vervolger – die een wat met soveel ywer die gelowiges vervolg het, wat met dreiging en moord geblaas het, “he who must not be named”, oor wie hulle vir mekaar bangmaakstories vertel het… was op pad Damaskus toe.  Met die sanksie van die maghebbers, die mense wat veronderstel is om hulle te beskerm.  Maar hy is op pad, lasbrief in die hand.

Ons kan ons goed indink in die atmosfeer in Damaskus.  Moet ons vlug?  Moet ons wegkruip?  Maar om Jesus te volg, beteken juis om in die openbaar vir hom op te staan, hom nie te verloën nie.  Maar die stories wat die vlugtelinge uit Jerusalem vertel…  Sefas het ’n neef in Filippi… dalk moet ons daarheen?

Jesus praat en ons herken sy stem

En dan, te midde van die onsekerheid en vrees en paniek… praat Jesus met hierdie man.

Dis opvallend dat hierdie man dadelik Jesus se stem herken.  Dis vir hom ’n bekende stem.  Hy het daardie stem al vantevore gehoor. En hy reageer:  “Hier is ek.”

Dis een ding wat nog nie vandag verander het nie.  Jesus praat steeds.  Die vraag is of ons hom hoor en of ons sy stem herken.  Is ons bekend genoeg met Jesus se stem, sodat ons kan weet wanneer dit hý is wat met ons praat?  Of mis ons sy stem heeltemal, hoor dit glad nie?  Of het ons bewyse en tekens nodig, voordat ons glo dat dit hy is wat met ons praat?  Of ken ons sy stem goed genoeg, het ons al genoeg tyd bestee om na hom te luister, sodat ons sy stem kan herken wanneer ons dit hoor?

Jesus vra die ondenkbare en ons reageer gehoorsaam

Wanneer hierdie man Jesus se stem hoor en met beskikbaarheid reageer, gebeur daar ’n vreeslike ding.  Jesus vra die ondenkbare.  Jesus stuur hom na daardie einste vervolger, die een oor wie mense paniekerig fluister.   Die vyand.  Die een wat met lasbriewe kom om volgelinge van Jesus gevange te neem en na hul dood te lei.

So hierdie man reageer soos enige regdenkende mens sal reageer:  Here, is U seker?  Miskien het u bietjie vergeet wie hierdie Saulus is en waarmee hy besig is.  Hy doen kwaad aan u eie kinders.  Hy is hier om ons te vervolg.

Here, dis gevaarlik wat u nou van my vra.

Want hierdie man weet van Saulus, wie Saulus is en wat hy alles aangevang het.  Maar hy weet nié dat Jesus ook met Saulus gepraat het nie. Ons weet dit, want ons het al die hele storie gehoor.  Maar onthou, hy het dit nie geweet nie.  Wat Jesus van hom vra, is skrikwekkend.

En laat ons maar ook vir mekaar sê:  soms vra Jesus ook van ons die ondenkbare.  Vra hy van ons om ons vyande lief te hê.  Om hom te vertrou wanneer alles donker en hopeloos lyk.  Om te bly glo in ’n wêreld waar daar soveel vrae en klaarblyklike antwoorde is.  Om te midde van die storm uit die boot te klim.  Stuur hy ons in gevaar in.

Wat is die ondenkbare ding wat Jesus tans van jou vra?

Die wonderwerk van hierdie storie, weggesteek tussen ander meer opspraakwekkende wonderwerke, is dat die man van ons storie gehoorsaam reageer.  Hy gaan na die vervolger, die vyand.  Hy vat aan hom, lê hom hande op en noem hom broer.

Wat natuurlik ook vir ons met die vraag konfronteer:  hoe reageer ons wanneer Jesus die ondenkbare van ons vra?  Trek ons grense en bou ons heinings om mense uit te hou, of steek ons die hand van vriendskap – nee, van liefde – uit aan die mense vir wie alles en almal sê ons moet bang wees, ons moet uithou?  Sluit ons aan en werk ons saam met wat God besig is om te doen in hierdie wêreld?  Of probeer ons dit so gou moontlik stop?

God doen groot dinge met ons gehoorsaamheid

Die man van ons storie, Ananias, waag sy lewe in gehoorsaamheid aan God.  Maar wat hierna van hom geword het, weet ons nie.   Hy verdwyn in die skaduwees.  Ons lees nie dat hy aangegaan het om die evangelie aan nie-Jode te verkondig en kerke oraloor die Romeinse ry te plant nie.  Ons lees nie dat hy oor en oor opgesluit verhoor is weens sy geloof in Jesus nie, of dat hy uiteindelik ter dood veroordeel is ter wille van sy geloof nie.  Ons lees nie sy geskifte in die Bybel nie.

Maar ons lees al hierdie goed van Paulus, dieselfde Saulus vir wie Ananias gaan hande oplê het.  Al wat Ananias gedoen het, was om Jesus se opdrag te gehoorsaam en vir Saulus te bid, SODAT Saulus – Paulus – al hierdie ander dinge kon doen.  Sonder Ananias se gebed sou Saulus sy lewe geleef het as ’n blinde man afhanklik van ander se sorg.

Ons word nie almal geroep om kerke te plant in Rusland, soos Elspeth van wie ek netnou nuus gedeel het.  Ons is nie almal profete, evangeliste, apostels, leraars nie.  Maar ons word almal geroep om Jesus te gehoorsaam, om mense lief te hê, om vir mense te bid.  Ons kan almal Ananias wees.

Wie is die mense in wie se lewens God deur jou wil werk?

Jesus werk deur ontwrigting

Daar is nog een laaste ding wat jy moet raaksien in vandag se storie.  Dit is dat Jesus werk deur ontwrigting. Vandag se verhaal is ’n verhaal van ontwrigting.

Wanneer Saulus vir Jesus ontmoet, word al sy verwagtings en idees ontwrig en word alles omgekeer.

  • Hy verander van iemand wat kon  sien na iemand wat blind is.
  • Sy selfversekerde vervolgers-ywer maak plek vir die belydenis van onkunde, dat hy nie hierdie Here wat aan hom verskyn, herken nie.
  • Hy verander van iemand wat gevangenes in kettings Jerusalem toe wil lei, na iemand wat aan die hand Damaskus toe gelei moet word.
  • Van ’n man op ’n missie, na iemand wat moet wag en leer wat om volgende te doen.
  • Van iemand wat groot mag uitoefen, tot iemand wat deur Jesus oorweldig is.

Ontwrigtings heroriënteer ons.  Dit laat ons moontlikhede heroorweeg.  Dit laat die skille van ons oë afval en laat ons nuut sien, anders kyk.  Dit breek die ou perspektiewe af en maak moontlikhede oop waaraan ons nooit eers sou gedink het solank ons gemaklik en gerieflik voortgegaan het nie.

Dit veronderstel ’n diep kennis van wie God is, die wete dat ons by hom veilig is, vertroue in die wonders wat God deur wilde omwentelinge kan bewerk.

Dit is wanneer ons ophou om die ontwrigting te beveg, maar eerder te vra waar Jesus in hierdie ontwrigting is, dat ons oë kan oopgaan.

Ek weet nie wat die omwentelinge en ontwrigtings in jou lewe is nie.  Maar ek weet dat ons te maklik nuwe moontlikhede en nuwe verstaan en nuwe visie teëstaan omdat ontwrigting vir ons pynlik is.  Ek weet ook dat God kan aanhou om ons te verras en te verander en te verruim, wanneer ons na hom luister, ook wanneer dit ons bang maak, en hom gehoorsaam volg.

Gebed

Dankoffer

Slotsang

Flam 113 Here Jesus, U skyn oor almal 

Seën

Respons

Flam 113 Refrein laaste 2 reëls

Ananias, Damaskus, Handelinge, Handelinge 9, Handelinge 9:1-19, ontwrigting, preek, Rethie van Niekerk, Saulus

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.