Vryheid en Slawerny – Handelinge 16 Preek
In Charles Dickens se “Christmas Carol” sien die karakter Scrooge die spook van Jacob Marley, vasgebind in ’n lang ketting, gemaak van “cash-boxes, keys, padlocks, ledgers, deeds, and heavy purses wrought in steel.”
Wanneer Scrooge hom hierna vra, is sy antwoord:
“I wear the chain I forged in life. I made it link by link, and yard by yard; I girded it on of my own free-will, and of my own free-will I wore it. Is its pattenr strange to you? Or would you know the weight and length of the strong coil you bear yourself? It was full as heavy and as long as this, seven Christmas-eves ago. You have labored on it since. It is a ponderous chain!”
On/vry
Vandag se skrifgedeelte is ’n baie interessante speling met vryheid en slawerny, vryheid en gevangenskap. Dit vraag: wat is vryheid? Wanneer is ’n mens vry?
Verwelkoming & afkondigings
Toetrede
Lied 154 Kom nou tesaam
Votum
Habakuk 3:17-19
Seëngroet
Lofsang
Psalm 100
Lied 220 Met ons harte sing ons, Here
Verootmoediging
Galasiërs 5:1, 4-5, 13-14
Geleentheid stil nadenke:
Wat is die dinge wat jou gevange hou, wat jou bind? Hardheid, wette, idees, verlede, seer, wrokke, vrees..
Vonkk 180 Wees ons genadig, Heer
Genadeverkondiging
Flam 541
Waar Jesus self die sondaar nooi
Om al die seer en self probeer
Te kom verruil vir soveel meer
Ek is vry, waarlik vry
Deur u bloed gestort vir my
Genade vloei waar God moes bloei
Daar aan die kruis, die liefdeskruis
Daar staan ‘n graf wat leeg getuig
U triomfeer en vrees moet swyg
Dit skree: die dood het doodgegaan
Die Lewensvors het opgestaan
Ek is vry, waarlik vry
Want U leef, U leef in my
Dit is volbring, U het oorwin
Daar staan ‘n graf, ‘n leë graf
Skriflesing
Handelinge 16:16-34
Paulus, van wie se bekering ons verlede week gelees het, kom ’n paar jaar later in die Romeinse kolonie Filippi aan. Daar was nie ’n sinagoge nie, maar wel ’n groepie mense wat die Joodse godsdiens gevolg het, onder leiding van ene Lidia, ’n besigheidsvrou. Sy kom tot bekering en haar hele huisgesin word gedoop. Dan nooi sy vir Paulus en sy reisgenoot, Silas, om by haar tuis te gaan.
Daar is ’n patroon in die Nuwe Testament van slawemeisies wat die waarheid praat – en die apostels in die proses irriteer. Dink maar bv. ook aan Petrus.
Hierdie slawemeise praat presies die waarheid. Sy sê eintlik dat hulle slawe is van God: Grieks “douloi” – slawe. Maar dis nie wat vir Paulus irriteer nie, want hy verwys elders na homself as ’n slaaf van God.
Interlude
Vonkk 59 Ukuthula / Gee ons vrede
Preek
In Charles Dickens se “Christmas Carol” sien die karakter Scrooge die spook van Jacob Marley, vasgebind in ’n lang ketting, gemaak van “cash-boxes, keys, padlocks, ledgers, deeds, and heavy purses wrought in steel.”
Wanneer Scrooge hom hierna vra, is sy antwoord:
“I wear the chain I forged in life. I made it link by link, and yard by yard; I girded it on of my own free-will, and of my own free-will I wore it. Is its pattern strange to you? Or would you know the weight and length of the strong coil you bear yourself? It was full as heavy and as long as this, seven Christmas-eves ago. You have labored on it since. It is a ponderous chain!”
On/vry
Vandag se skrifgedeelte is ’n baie interessante speling met vryheid en slawerny, vryheid en gevangenskap. Dit vra: wat is vryheid? Wanneer is ’n mens vry?
Wat dink jy? Wanneer dink jy is jy vry? Wat moet gebeur, wat moet jou omstandighede wees vir jou om te voel jy is vry?
Die eerste karakter is letterlik ’n slaaf. Met nog boonop ’n waarsêersgees ook. Dan word sy in die Naam van Jesus bevry. Vry van die gees.
Maar die teks sê nie vir ons wat hierna met haar gebeur nie. Hierdie slawemeisie het die afgelope paar weke by my gespook. Wat het van haar geword? Best case scenario is sy nie net van die gees bevry nie, maar ook uit slawerny. Het sy deel geraak van die Christelike geloofsgemeenskap waar sy tot haar volle reg kon kom as ’n waardige mens, ’n volledige deel van die samelewing.
Maar alles wat ons van die wêreld van daardie tyd weet, laat ons vermoed dat dit onwaarskynlik is. Sy is bevry van die gees. Maar sy is steeds ’n slaaf. ’n Slavin wat nie meer deur waarsêery vir haar eienaars kon geld inbring nie. Nou sou hulle waarskynlik ander maniere moes vind om haar ’n lonende kommoditeit te maak. Dalk was sy uiteindelik méér gebind as aan die begin.
Ek wil tog graag dink dat sy wél deel geraak het van die geloofsgemeenskap. Hierdie radikale anderste gemeenskap waar die skatryk besigheidsvrou, die godsdienstige Jood, die Romeinse soldaat en selfs die slawemeisie op gelyke voet deel van ’n diepe, hegte gemeenskap – broers en susters – was.
Dan is daar Paulus en Silas. Letterlik gevangenes. Vasgeketting in die binneste sel van die tronk. En heeltemal, volledig vry. Vry-er as almal in die storie. Vry om lofliedere te sit en sing om middernag, in die tronk. Vry genoeg om selfs te bly wanneer die deure oopgaan en die kettings losbreek.
En dan is daar die tronkbewaarder. ’n Vry man wie se werk dit is om ander in kettings te hou. Maar hy het meer kettings as hulle. Onsigbare kettings wat maak dat hy hom self byna doodmaak.
Wanneer Paulus met hom praat, vra hy: “Wat moet ek doen om gered te word?” Ons hoor so ’n sin en ons dink onmiddellik hy bedoel “wat moet ek doen om in die hemel te kom?” Maar dis nie hoe die NT die woord “redding” gebruik nie. Jesus het dikwels die woord “redding” gebruik wanneer hy gepraat het van genesing. “Redding” is letterlik om vrygemaak te word.
Die antwoord is: glo in die Here Jesus.
En die gevolg van sy nuutgevonde vryheid is dat hy die gevangenes versorg.
Vry om lofliedere te sing in die tronk
Dis treffend – en ontstellend of dalk ’n ontsettende troos – om hierdie spel tussen vryheid en gevangenskap raak te sien.
Want dit beteken dat vryheid, op die ou end, ten diepste, hoegenaamd niks te doen het met ons omstandighede nie. Dat ’n mens kan vry wees, al is jy in die tronk. Dat jy vir God kan loof, selfs al is dit middernag, al is jy in die tronk.
Wanneer jy werklik vry is, sal jy vir God loof, maak nie saak wat jou omstandighede is nie. Dan kan jy ’n loflied sing omdat jy vry is. As jy nie vry is nie, kan jy eintlik nooit werklik ’n loflied sing nie.
Maar nou moet jy mooi sien: hierdie teks sê nie jy moet God loof al is jy in die tronk nie. Dit is nie ’n opdrag nie. As dit ’n opdrag was en iets was wat ons gedoen het omdat ons gedink het ons moet – as ons God net loof omdat ons moet – dan is dit nie lof nie, dan ontken ons hoe ons werklik voel en dan is dit eintlik patologies.
Jy kan God net loof as jy vry is.
En ook vryheid is nie ’n opdrag nie. Dit is iets wat jy ontvang – jy word vrygemaak, vrygespreek.
En dan kan ons vra soos die tronkbewaarder: wat moet ek doen? Wat moet ek doen om vry te word?
En die antwoord is dieselfde: Glo in Jesus. Dis so eenvoudig. Glo in Jesus. Gee die beheer, die eienaarskap van jou lewe, aan hom oor. Word ’n dienaar – ’n slaaf – van Christus – en jy word vry. Glo in Jesus.
Vry in Christus
Dan sal jy vrygemaak word in Christus. Dis die belangrikste ding wat ons moet weet van die vryheid waarvan ons hier praat, die vryheid wat kan sing in die tronk – dit is in Christus.
Daarna vermoed ek dat dit verskillende goed op verskillende tye vir verskillende mense beteken. Ek gaan dit waag om ’n paar breë lyne – potloodsketse – te trek, om ’n beeld te skep van wat hierdie vryheid is. Maar dis is soveel méér. Jy is welkom om ook jou potlood te neem en die lyne te trek wat ek nie trek nie, of hier en daar ’n lyn donkerder in te kleur as wat ek dit doen.
Vry van
Om in Christus vry te wees, beteken dat ons vry is van sonde en dood. Dit beteken nie dat ek glad nie meer sonde doen nie, maar wel (1) dat ek nie in my eie kragte probeer om op te hou sondig nie. Ek het die krag van die Gees, ek kan met Christus praat oor die sondes waarmee ek worstel en toelaat dat die Gees in my werk, my verander en vorm. Dit beteken ook (2) dat ek nie meer bang is vir straf nie. Ek is vry. Maak nie saak hoe ek worstel en hoe my donker kant uit die spieël vir my gluur nie – ek is vry. Jy is vry van die wet en die dreigende oordeel wat die wet inhou. Jy het genade ontvang.
Daarom kan jy vry wees van vrees – veral vrees vir God, vrees vir oordeel. Jy kan vry wees van skuldgevoelens. Nie net van skuldgevoelens nie, maar ook van die gevoel van skande – van shame – wat ander dikwels op jou hoop wanneer hulle bewus raak van jou klei voete.
Die feit dat jy vry is van sonde en dood, beteken ook dat jou verbintenis met hierdie wêreld op losse skroewe staan. Jy kan saggies aan die dinge van hierdie wêreld vashou. Want al is die dinge aan hierdie kant van die dood kosbaar, is dit eintlik maar relatief. Daar is nog iets groter, iets meer.
So jy hoef jou nie op te jaag om in hierdie lewe suksesvol te wees, skatryk te wees, diep spore te trap wat vir altyd gaan bly nie – want hierdie lewe is maar net ’n oogwink, ’n druppel in ’n baie, baie groot emmer.
Vry vir
Wanneer ’n mens vry is, is jy vry van ’n klomp goed – maar jy is ook vry om ’n klomp goed te doen. Scott McKnight praat van ’n onweerstaanbare gees-gevormde nuwe vryheid om te doen wat God ons geroep het om te wees.
Jy is nou vry om met vrymoedigheid na God te gaan. Jy kan die God van die heelal ken. Jy kan by sy voete sit en hom daagliks al beter leer ken. Jy kan in verhouding met die God van liefde leef, veilig in die palm van sy hand.
Jy is ook vry om hom te volg. Soms kan dit beteken dat jy hom volg in die tronk in. Maar dan beteken dit ook dat selfs die tronk sin maak. Dat selfs die tronk nie ons vryheid kan wegneem nie, want ons is steeds in God se hand, steeds deel van sy plan.
Ons is ook vrygemaak vir gemeenskap. Jesus red mense in ’n groep. Ons hoort saam. In Christus kom die vryheid van herstelde verhoudings. In Christus kom die vryheid om lief te hê.
Nou daardie liefde beteken nie dat altyd alles wonderlik voorspoedig gaan wees en dat almal altyd gelukkig gaan wees of vreeslik liefdevol sal wees nie. Die vryheid om lief te hê, beteken dikwels ook die keuse om te deel in ander se pyn. Dit beteken dikwels om deel te bly van iemand se lewe, al is dit moeilik en seer.
Hoewel dit, natuurlik, ook soms juis kan beteken dat jy daardie persoon moet laat gaan.
Vryheid beteken dat ons soos die tronkbewaarder kan maak en die kans kan waag om ander te dien, om hulle wonde te versorg en vir hulle kos te gee. Om uit te reik na mekaar en werklik vir mekaar om te gee.
Wat beteken vryheid vir jou?
Waar beleef jy vryheid?
Waar smag jy na die vryheid van Christus?
Hoe gaan jy dit kry?
Glo in Jesus.
Gebed
Dankoffer
Koor Halleluja loof God
Slotlied
Lied 516 Al sou dan ook die vyeboom nie bot nie
Seën
Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ’n slawejuk laat indwing nie.
Onthou, die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Skepper en die kragtige teenwoordigheid van die Heilige Gees, sal vir altyd met ons wees.
Respons
Lied 516 laaste reëls
Handelinge 16, Paulus, preek, Rethie van Niekerk, Silas, vry, vryheid