Skip to main content

Advent 1 Hoop Habakuk Preek

Bo:  Preek opname

Segun Soyemi – Ave Maria

Segun Soyemi – Away in a Manger

Segun Soyemi – O come all ye faithfull

Segun Soyemi – Sing choirs of angels

Segun Soyemi – Joy to the world

Is jy geduldig of ongeduldig?  Dit hang natuurlik af van die konteks.  As vir iets moet wag.  In ’n ry moet staan.  Jou bestuurslisensie moet hernu,  of iets by Binnelandse Sake moet doen…  Party mense hou hulleself besig met ‘n selfoon, speel speletjies of lees.  Ander beweeg op en af, heen en weer. Soms is daar selfs mense wat net rustig tjoepstil sit.

Ek is oor die algemeen gereed vir wag, want ek het altyd iets byderhand om te lees.  Wat ek nie kan verdra, is dit:  “Configuring Windows updates… Do not turn off your computer”.

Maar daar is baie erger dinge in hierdie lewe as ’n rekenaar wat stadig vat om programmatuur af te laai.

Inleiding

Vandag is die eerste Sondag van Advent – spesifiek die Sondag van Hoop.  Advent is ’n tyd van uitsien en wag.  Soos wat ons uitsien na Kersfees, wag ons en sien ons uit na die koms van Jesus:  sy wederkoms, die koms van sy koninkryk tussen ons, sy teenwoordigheid in ons lewens elke dag.

Ons het ’n paar goed wat ons help om hierdie afwagting simbolies te wys.  Een daarvan is ’n adventkrans.  Terwyl die krans ons laat terugdink aan Jesus se doringkroon, laat dit ons ook in hoop vooruitkyk na die oorwinnaarskroon, terwyl die sirkel ons herinner aan die ewigheid.  Elke week steek ons ’n kers aan wat herinner aan daardie week se spesifieke fokus, terwyl ons dink aan die Lig vir die wêreld.

Vandag is ook die dag om ons Kersbome op te stel en ons huise te versier.  Al hierdie dinge is daar om hierdie gevoel van afwagting te versterk, sodat ons onthou dat Advent ’n tyd is waar ons hoop, waar ons wag op God.

Toetrede

SEGUN SOYEMI:

O Come, all ye faithful  (Kom alle getroues)

Away in a manger  (Al was ek nie daar nie)

Once in royal David’s city  (In die stad van koning Dawid)

Sing choirs of angels  (Kom alle getroues)

Votum (n.a.v. Psalm 130:5-8)

Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord. Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag, wagte op die môre. Wag op die Here, Israel, want by die Here is daar troue liefde, by Hom is die verlossing seker. Hy alleen sal Israel verlos van al sy sondes.

Respons

Psalm 130: 2 Tweede melodie, Cloete beryming

Seëngroet

Genade, barmhartigheid en vrede van God die Vader en Christus Jesus ons Hoop, deur die kragtige werk van die Heilige Gees!

Lofsang

VONKK 283 Kom buig in die stal voor die hemelse Kind

Verootmoediging

Die eerste Sondag van Advent is die Sondag van Hoop.  Ons gedenk die Sondag van Hoop te midde van die 16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue en Kinders.  Die Verenigde Nasies het die afgelope week ’n verslag uitgegee, waarin hulle sê dat meer as die helfte van die vroue wat die afgelope jaar vermoor is, is deur ’n familielid of intieme lewensmaat vermoor.  Wat, volgens die VN, maak dat die gevaarlikste plek op aarde vir ’n vrou, haar eie huis is.

Ons kan ook nie vergeet dat gister Vigsdag was nie.  Ons wil graag dink dat die stryd gewonne is, maar Vigs is steeds ’n “roofdier wat meedoënloos jag”, in die woorde van Annalise Wiid.

Daarom gaan ons vanoggend tot God nader met ’n lament, ’n klaggebed, in aansluiting by Psalm 80

Jan: Luister tog, Herder van Israel, U is die Een wat sorg, die Heilige! Wees ons naby.

Rethie:      Oral om ons sien ons geweld, onreg en die misbruik van mag – in ons huise, kerke, dorpe en land, maar ook in strukture en ideologieë.

Jan: Openbaar u mag en kom help ons tog!

Almal:       Almagtige God, laat dit weer met ons goed gaan, verskyn tog tot ons redding!

Jan: Here, almagtige God, hoe lank nog sal U afsydig staan teenoor die gebed van u volk? U het aan ons trane vir kos gegee en ons ’n beker vol hartseer laat drink.

Rethie:      Ons vrouens word verkrag, ons dogters gemolesteer, ons oumas geslaan, ons jong meisies word mishandel en ons werkende vrouens word onderdruk.

Almal:       Almagtige God, laat dit weer met ons goed gaan, verskyn tog tot ons redding!

Jan: Hou u hand oor die mense wat deur U uitgekies is, oor elke mens wat na u beeld geskape is.

Rethie:      Here, gee aan ons monde wat die stilte breek rondom gesinsgeweld, ore wat die stemme van die stemlose vroue en kinders wat mishandel word hoor, oë wat die verborge seer sien van die wat gemolesteer is en lywe wat ’n veilige ruimte skep waar mense genesing kan vind.

Almal:       Almagtige God, laat dit weer met ons goed gaan, verskyn tog tot ons redding!

Stil gebed….

Almal:       Almagtige God, laat dit weer met ons goed gaan, verskyn tog tot ons redding!

Adventkers:  Sondag van Hoop

Ons het hoop, want ons klag verdwyn nie in ’n donker gat in nie.  Ons lament is teenoor God, wat Immanuel geword het, wat met ons is.

Daarom, terwyl ons wag en vanoggend die eerste kers aansteek, bely ons:

Jan:  Ons verwerp alle vorme van liefdeloosheid en haat, geweld en ontmensliking omdat ons glo in God die Vader.

Rethie:  Die Een wat die wêreld geskep het en wat dit daagliks onderhou.  Die God wat alle mense as gelykes geskep het en wat in besonder medelye betoon met hulle wat arm of vreemd is.

Jan:  Ons erken die menswaardigheid van alle mense omdat ons glo in Jesus Christus.

Rethie:  Die Een wat die pyn en lyding van hierdie wêreld op homself geneem het.  Die God wat die lyding ken van hulle wat leef in situasies van geweld en oorlog.

Jan:  Ons praat en leef profeties omdat ons glo in die Heilige Gees.

Rethie:  Die Een wat ons roep vanuit ons magteloosheid.  Die God wat aan ons ’n stem gee en wat ons roep tot handelinge van medelye.

Hoop, vrede, vreugde en liefde is moontlik omdat ons God ken as Vader, Seun en Gees.

Amen.

Voorsanger:  Joy to the world (Jubel van vreugd’)

Gemeente:    VONKK 277 U is die lig wat deur die donker skyn

Gebed

Skriflesing

Uit Bybeldirektevertaling

Habakuk 1:1-4; 2:1-4; 3:17-19

Inleiding

Wie hou nie van wag nie?  Ons is nou in die tyd wat ons in die kerk “Advent” noem.  Dis die tyd wat ons wag vir Kersfees.  Om Jesus se kind te wees, beteken dat ons soms moet wag.  Partykeer vra jy vir iets, of is daar iets in jou lewe wat nie vir jou lekker is nie en jy praat met God daaroor en vra dat dit moet verander, maar dan verander dit nie.  Dan moet jy wag.  Maar dis nie net ’n slegte wag nie.  Dis ’n goeie wag, omdat ons weet dat God ons lief het, dat God die hele tyd by ons is en dat God ons help om te wag.  So ons wag vir iets, maar ons het ook reeds iets.

Soos Adventkalenders – die soort met die sjokolade.  Jy wag vir die groot geskenk aan die einde, maar jy kry nog steeds elke dag sjokolade.

Preek

Wag

Is jy geduldig of ongeduldig?  Dit hang natuurlik af van die konteks.  As vir iets moet wag.  In ’n ry moet staan.  Jou bestuurslisensie moet hernu,  of iets by Binnelandse Sake moet doen…  Party mense hou hulleself besig met ‘n selfoon, speel speletjies of lees.  Ander beweeg op en af, heen en weer. Soms is daar selfs mense wat net rustig tjoepstil sit.

Ek is oor die algemeen gereed vir wag, want ek het altyd iets byderhand om te lees.  Wat ek nie kan verdra, is dit:  ek moet iewers wees, gaan net gou my rekenaar afskakel – dis ’n laptop, so did deel van die oppak, dan kan ek vertrek vir my afspraak… En dan staan daar: “Configuring Windows updates… Do not turn off your computer”.  Kyk, dan is daar iets in my wat wil breek.  Ek is haastig, ek moet iewers wees.  Ek het nie nou vir Windows gevra om goed op my rekenaar te laai wat ek in elke geval nie wil hê nie.  Maar nou is ek ’n gevangene van hierdie oomblik.  Jy wil my nie graag dan sien nie.

Maar daar is baie erger dinge in hierdie lewe as ’n rekenaar wat stadig vat om programmatuur af te laai.

Dit was in 1983 wat die MI-virus vir die eerste keer geïsoleer en geïdentifiseer is.  Sedertdien is daar globale pogings om hierdie virus te stop, maar dit marsjeer voort soos ’n weermag sonder teenstand. Nou het dit ’n alliansie gesluit met TB, wat in Suid-Afrika versprei onder alle ekonomiese groeperinge en krisisafmetings aanneem, op ’n manier wat meeste van ons nog nie besef het nie.

En wat van geweld?  Met die val van apartheid, amper ’n kwarteeu gelede, sou ’n mens dink dat die geweld en die minagting van menswaardigheid sou afneem.  Maar dit neem net toe.  Mense voel al meer onveilig in hul eie land.  Navorsing wys daarop dat hoe meer vroue in die publieke sfeer bemagtig word, hoe meer is hulle in gevaar van geweld in hul private omgewing.

Hier sit ons, ons voel uitgelewer aan korrupsie.  ’n Mens is te bang om op te kyk na enige leier, want hulle voete is nie van klei nie, maar van die goud wat hulle by die armes gesteel het.

Dan trek jy die sirkel bietjie nader…

’n Beleggingstaat wat jou in koue sweet laat uitslaan.

’n “Regret to inform” brief, nadat jy vir hóéveel werke aansoek gedoen het, of aansoek gedoen het vir ’n beurs of ’n universiteit of ’n kursus.

Of daardie gebede, jaar na jaar na jaar, vir ’n kind wat nie die Here dien nie.

Die desperate gehuil voor God, wanneer jy alleen is en niemand jou kan sien nie, oor ’n siekte wat jou soos ’n monster aanval.

Die hoop dat ’n verhouding sal herstel, maar die koue sprei net dieper.

Wat ook al die omstandighede, die meeste van ons – ek skat waarskynlik ons almal – ken daardie desperate gevoel van voor God staan en soebat.  Van voel dat jy nie genoeg woorde het nie.  As God net kan besef hoe desperaat jy is.  Hoe hard jy bid.  Dan móét hy tog antwoord!

God sê:  “Wag”

God antwoord Habakuk se desperate weeklag.  God sê:  “Wag”.

Nou is ons weer terug by die vraag aan die begin:  hoe is jy daarmee om te wag?

Want dis een ding om te wag vir ’n motorlisensie of vir Windows om op te dateer…  Maar om te wag op geregtigheid en vrede?  Dit is bykans onhoudbaar.  Om in daardie ruimte te bly, daardie tussen-in, nog-nie ruimte – mense noem dit liminaliteit – om daar te bly, is pynlik.  Want hier is ons nou, te midde van die pyn en die onreg en die geweld.  En God sê:  wag.  Dit beteken die pyn en die onreg en die geweld is steeds daar.

Vir baie mense raak die tussen-in, die wag, net te ondraaglik.  So hulle gee op – nie op die wag nie, want jy kan nie anders as om te wag nie – maar op God.  Hulle besluit daar is nie ’n God nie, want hy verander dan nou nie hierdie situasie nie.  Hoe kan daar ’n God wees as daar soveel onreg en onvrede is?

Ander mense besluit om oor die liminaliteit te spring, oor die onsekerheid, solank vooruit na die uitkoms.  God gáán vir ons uitkoms gee.  Jy gáán gesond word.  Jy moet dit net sien.  Jy moet net glo.  Leef asof dit reeds waar is.  Dan sal dit so wees.

Met natuurlik die implikasie dat as dit nié gebeur nie, is dit omdat jy nié goed genoeg geglo het nie, nié positief genoeg was nie.  Dit verplaas natuurlik die geloof van God af, na die uitkoms toe.  So my vertroue is nie in God nie, maar in die resultaat wat ek glo God gaan gee.

Ek het die afgelope paar weke, terwyl ek stoei met Habakuk, baie gedink aan Karl Marx wat gesê het:  “Godsdiens is die opium van die mense”.  Met die bedoel dat godsdiens mense se lyding verlig, omdat dit vir hulle ’n lekker illusie gee.  Hierdie illusie help mense dan om voort te gaan.  Godsdiens was dan volgens Marx skadelik, omdat dit keer dat mense die onreg rondom hulle raaksien.  Godsdiens hou mense mak en inskiklik, sodat hulle niks doen om die onreg te verander nie.  Aldus Marx.

Aktiewe Wag

Maar dit is glad nie die wag wat ons in die Bybel leer ken nie.  Die wag wat ons sien in Habakuk, die wag van Advent, is ’n aktiewe, onrustige wag.  Dit is geensins, op geen manier blind vir onreg soos wat Marx sou beweer nie.  Dit is juis weens die onreg en die onvrede dat ons wag.  Maar dit is ’n onrustige, heen en weer, op en af loop – wag.

Aktiewe Wag:  lament

HABAKUK 1 ( geskryf deur Kobus Lombard)

al sou die rosyntjiebosse in die bot staan

en die kameeldorings grys bepeuld hang

al sou die lammeroes algar drielinge dra

en die afrikaners blinkrooi in die krale drom

 

nogtans sal ek rouklaag

tot God my Redder:

my kind is dood

 

die Here

– nes !Xu –

brei my sole

soos die van ‘n Boesman

in die wit Kalaharison

laat Hy my kaalvoet loop

 

Dit is ’n onrustige, aktiewe wag.   Dit is lament, rouklaag.  Dit is hoekom lament, weeklag, so ’n belangrike deel is van die Christelike lewe.  Iewers in ons piëtistiese geskiedenis het ons die klag begin afskeep.  Ons het hierdie stemmetjie in ons agterkop wat vir ons sê:  jy mag nie kla nie.  Jy moet net dankie sê, net loof.  Vertrou net.

Maar natuurlik moet jy daardie dinge doen. Maar jy kan óók die onreg en pyn wat jy raaksien en beleef helder en duidelik voor God noem.  Jy kan vir God sê presies hoe dit jou laat voel.  Jy mag kwaad wees daaroor.  Jy mag ongeduldig wees daaroor.  Want dit is nie reg nie.

Juis die feit dat ons dit noem, begin reeds om die mag daarvan te breek.  Ek bedoel nou nie om dit te noem op die manier wat ons al hierdie skimme bou van al hierdie kamstige gevare wat oral lê en wag om ons te vang nie.  Ek bedoel om dit te noem – te ontbloot – voor God.  Wanneer jy korrupsie noem, dan is dit ontbloot en begin die proses om dit te ontmagtig.  Enige vorm van onreg floreer in die donker, wanneer niemand daaroor mag praat nie, wanneer die naam gefluister word en die slagoffers gestigmatiseer word.  Maar wanneer ons dit vrymoedig noem, dan val die helder lig van die dag daarop en kan dit nie meer ongestoord voortgaan nie.  Dink maar aan gesinsgeweld – die geheim waaroor niemand praat nie.  Die oomblik wat iemand daaroor praat, is die mag van die geweldenaar gebreek.  Sy mag lê juis in sy vermoë om sy slagoffers te laat dink hulle mag nie hieroor praat nie.

Gewoon om die onreg te noem, om ons vrese en ons seer te noem – en veral, om dit voor God te noem – plaas hulle in die lig, laat reeds die helder lig van God se geregtigheid daarop skyn.

Aktiewe Wag:  Lof

Die ander deel van aktiewe wag, is om God te loof.  Dis Habakuk se “nogtans sal ek in die Here jubel”.   Ons aanbid God nie vir wat ons by God kan kry nie.  Ons aanbid God omdat hy God is.  Wonderlik, liefdevol, genadig, toeganklik, betrokke, God.

Gebed is nie om God se wil te buig tot ons s’n nie.  Gebed is om te nader tot God, om bewustelik in God se teenwoordigheid al daardie goeters – die onreg en die onvrede en die pyn – voor God neer te lê.

Daar, in die gebed, ontmoet ons vir God.  Ons ontdek dat God hiér is, Immanuel is, die hele tyd hier is, in elke oomblik.  Ons ontdek dat God onbeskryflik liefdevol is, meer as wat ons ooit kan begryp.

En DIS die ding wat vir ons krag gee, te midde van die onreg en die onvrede en die pyn.

Dan hou ons die lament en die lofprysing saam-saam vas, terwyl ons hier bly, in hierdie liminale, nog-nie oomblik.

Dis nou vir my moeilik om dit te beskryf sonder om detail te gee, maar ek het dit vanjaar ’n paar keer baie helder sien afspeel.  Dat ek met mense praat wat besig is om deur die ergste moontlike goed te gaan waardeur ’n mens kan gaan.  En hulle is woedend en stukkend.  En 24 uur later praat ek weer met hulle en die omstandighede is nog presies dieselfde.  Maar hulle is heeltemal anders.  Hulle kan God loof.  Hulle kan sê:  dis okay.  Die ergste kan gebeur.  Die ergste hét gebeur. Maar God is goed.  God is liefdevol en genadig.  God is hier.

Hoop

As vandag dan die Sondag van Hoop is, dan moet ons dit vir mekaar sê:  DIS ons hoop:  God.  Natuurlik hoop ons dat dinge anders sal wees, maar ons hoop is God.

Want sien, ons vestig ons oog op dié ding waarop ons hoop.  En dis nie ’n spesifieke toekoms of uitkoms nie.  Dis God.

Sodat, selfs as dinge nie anders is nie, ons steeds hoop het.  Want dis hier wat ons vir God leer ken.  Hier, in die onreg en die onvrede, wat ons vir God leer ken as teenwoordig, betrokke, genadig, liefdevol.

En dáárom kan ons jubel. En daaruit kry ons krag, selfs vir die uitdagende, vreesaanjaende hoogtes.

 

al sou skilderverf opraak

uitdroog in skakerings van smart,

die beeld onvoltooi bly

op die verfdoek van my hart

 

al sou die musiek vervaag,

élke noot verlore raak

en in my sug verdwyn

‘wyl orkesklanke staak

 

al sou my ink ophou vloei

oor papirus van my gees,

my strofes stukkend bloei

en my siel sonder woorde wees

 

sal ek U goedheid skilder,

U liefde lof besing

en van U ontferming skryf

Here, laat ek tog áltyd

-al sou die vyeboom nie bot nie-

van U grootheid getuig

(Francois Meyer)

OF

18nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.

19Die HERE Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes. Vir die musiekleier op snaarinstrumente.

Gebed

Dankoffer

Ave Maria  (Franz Schubert)

Slotsang

Lied 516 Al sou dan ook die vyeboom nie bot nie

Seën

Mag die God van hoop deur geloof jou vervul met alle vreugde en vrede, sodat jou hoop sterker kan word deur die krag van sy Gees.

Amen

Respons

Flam 386 Mag die God van hoop

advent, Habakuk, hoop, preek, Rethie van Niekerk

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.