Skip to main content

Vreugdevol Vry! Meer as genoeg… net Jesus

As jy aan Jesus dink, wat is die prentjie wat jy in jou gedagtes sien?  Die verlosser aan die kruis?  Dalk ’n prentjie uit klassieke kuns, of ’n meer onlangse uitbeelding soos uit The Passion of the Christ?  Of dink jy aan die oorwinnaar, die opstanding, aan Christus wat heers aan die regterhand van God?  Of dink jy aan die Man wat op aarde geleef het, saam met dissipels gereis, mense genees en geleer het?  Was Hy nors en kwaai, of vriendelik en uitbundig? Hartseer?  Tussen-in?  Is die prentjie in jou gedagtes ’n blou-oog Jesus met ligte hare?  Of ’n Midde-Oosterse man met ’n blas vel en ’n welige donker baard?

Hierdie vrae maak ons dalk effens ongemaklik, ons voel dis disrespekvol.  Tog is dit belangrik, want ons prent van Jesus is ons prent van God.  Die prentjie in ons gedagtes beïnvloed wie ons dink God is, wat ons dink God doen.  Uiteindelik beïnvloed dit ook ons optrede.

Verwelkoming & Afkondiginge

Toetrede

Lied 529 Dank, dank die Heer

Votum

In Openbaring 22 (v13) sê Jesus:

Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde.

Seëngroet

En dit is omdat Jesus hierdie dinge is, ook vir ons, dat ek julle vanoggend kan groet in die Naam van die Drie-enige God en sê:  Genade en vrede vir jou!

Lofsang

Lied 167 Jesus, bron van al my vreugde

Lied 168 Heilige Jesus

Koor Halleluja, loof God (uit Ps. 150)

Danksegging

Vonkk 130  Dankie vir hierdie nuwe môre

Dankoffer

Koor: Vonkk 226 Neem, Heer, my hart en reinig my

Gebed

Skriflesing

Lukas 7:20-23, 34-35 (BDV)

 

Inleiding

J is for Jesus:  The sweetest story ever told deur Crystal Bowman

Toewyding

Vonkk 200  Daar is ’n Verlosser

Preek

Jesus

As jy aan Jesus dink, wat is die prentjie wat jy in jou gedagtes sien?  Die verlosser aan die kruis?  Dalk ’n prentjie uit klassieke kuns, of ’n meer onlangse uitbeelding soos uit The Passion of the Christ?  Of dink jy aan die oorwinnaar, die opstanding, aan Christus wat heers aan die regterhand van God?  Of dink jy aan die Man wat op aarde geleef het, saam met dissipels gereis, mense genees en geleer het?  Was Hy nors en kwaai, of vriendelik en uitbundig? Hartseer?  Tussen-in?  Is die prentjie in jou gedagtes ’n blou-oog Jesus met ligte hare?  Of ’n Midde-Oosterse man met ’n blas vel en ’n welige donker baard?

Hierdie vrae maak ons dalk effens ongemaklik, ons voel dis disrespekvol.  Tog is dit belangrik, want ons prent van Jesus is ons prent van God.  Die prentjie in ons gedagtes beïnvloed wie ons dink God is, wat ons dink God doen.  Uiteindelik beïnvloed dit ook ons optrede.

Jesus aan tafel

Ek dink aan my pa se woorde in my kinderdae, wat in my gedagtes oor en oor soos ’n refrein herhaal:  “Wys my jou vriende en ek sê vir jou wie jy is.” As wil weet wie iemand is, wat vir hulle belangrik is, wat hul waardes is – kyk wie die mense is met wie hulle uithang.

So vanoggend wil ek julle herinner aan die 8 keer in die evangelies wat Jesus ete-uitnodigings aanvaar het.  Ek gaan nie alle implikasies uitspel  nie.  Dis Jesus, ons gaan nooit kan ophou nie! Jy kan gerus jou eie afleidings maak.

Daar is die bruilof in Kana (Johannes 2), wat Jesus saam met sy ma en vriende bygewoon het toe die wyn opgeraak. Jesus verander die water in wyn.  So is sy heerlikheid geopenbaar en kon mense sien hy is deur God gestuur.

Jesus is die Gestuurde.

Daar is die ete Marta en Maria se huis (Lukas 10:38-42), waar Jesus – teen alle konvensie en fatsoenlikheid in – toegelaat het dat ’n vrou, Maria, tussen die manne sit en saam met die manne onderrig ontvang, terwyl Marta in die kombuis rondskarrel. Waar Jesus dan nog (skande op revolusionêre skande) Maria se keuse verdedig en dit “die beste” noem.  Jesus wys dat hy mense kom bevry van alle vorme van onderdrukking.

Die Verlosser.

Daar is die baie interessante ete in Emmaus (Lukas 24:13-35), na Jesus se dood en opstanding, wanneer hy as gas die gasheer word en die waarheid van sy hele lewe in die breek van brood aan sy gasheer en vrou openbaar word: Dat al hierdie dinge van die begin af God se plan was, sodat Jesus verheerlik word, om saam met sy Vader te regeer.

Die Heerser.

Dan is daar twee interessante etes by gashere genaamd Simon. Dit kon moontlik dieselfde geleentheid wees, of dalk twee etes met interessante ooreenkomste.

By Simon die Fariseër (Luk. 7:36-49) kom ’n sondige vrou en salf Jesus se voete met duur olie en trane en droog dit met haar hare af.  As jy enige begrip het van die Midde-Ooste, selfs vandag, sal jy besef dis skandalig:  voete, ’n vrou se hare…

Simon die Fariseër is geskok – soos wat goeie, getroue, godsdienstige mense meestal geskok was deur Jesus.  Geskandaliseer.

Jesus vertel dan ’n gelykenis oor skuld wat vergewe word en sê:

47Ek sê vir jou, omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde.”

48En Jesus sê vir haar: “Jou sondes is vergewe.”

49Toe begin dié wat saam aan tafel was, onder mekaar sê: “Wie is hierdie man dat hy selfs sondes vergewe?”

50Maar Jesus sê vir die vrou: “Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.”

Jesus is die een wat sonde vergewe.

Die ander Simon is ’n melaatse! (Markus 14:3-9)  Dis weereens skandalig!  Dat Jesus binne sigafstand van melaatse kan wees?!  Saam kan eet?!  Dit is – vanuit menslike, kulturele, maar veral godsdienstige oogpunt – walglik.  Hy stel homself daarmee buite al wat goeie, getroue, godsdienstige geselskap is.  Hy maak homself onrein, onaanvaarbaar voor God – volgens hulle verstaan van God se wil.

Weer kom ’n vrou en giet kosbare olie oor hom uit – hierdie keer darem oor sy kop.  Weer is mense verontwaardig – hierdie keer omdat dit duur olie is.  Met die geld kon hulle armes versorg.  Hierdie keer sê Jesus dat sy hom voorberei het vir sy begrafnis.

Jesus is die een wat gesterf het en daarmee die sonde oorwin het, die dood oorwin het, die magte van hierdie wêreld en onder hierdie wêreld oorwin het.  Juis Jesus se dood maak van hom die oorwinnaar.

Dan was daar ook die keer wat Jesus by die leier van die Fariseërs gaan eet het, op ’n Sabbatdag (Lukas 14:1-6).

Dis interessant, wanneer Jesus ook al by een van die godsdienstige, sosiaal gerekende mense gaan eet, kan jy maar weet:  hier kom moeilikheid.  Of hulle gaan met hom skoorsoek, of hy met hulle.  Jesus het hulle ongemaklik gemaak, hierdie godsdienstige mense wat al die regte dinge gedoen het.

Hierdie keer is daar ’n man wat aan water ly, wat Jesus dan op die Sabbat gesond maak.  Jesus gebruik die geleentheid om vir die Fariseërs te verduidelik dat mense belangriker is as reëls.

Dan vertel Jesus ’n gelykenis oor ’n groot feesmaal, waar dit juis die uitgeworpenes, die mense sonder sosiale status, die armes en kreupeles en blindes en verlamdes is, wat uitgenooi word.

Want Jesus wys vir ons dat God lief is vir mense, dat God vir mense sorg, dat die reëls daar is t.w.v. mense en nie mense t.w.v. reëls nie.  Jesus maak ons gesond en maak ons heel.  Jesus sien die mense raak wat deur die samelewing weggegooi word en nooi hulle na ’n feesmaal.

Die laaste twee is albei tollenaars. Nou moet jy iets mooi verstaan van tollenaars:  hulle het belasting gegaar namens die onderdrukkers, namens die mense wat hul land ingeneem het.  Hulle het dit gedoen vir kommissie.  So hulle het wins gemaak uit hul eie mense se onderdrukking.  Gewoonlik was hulle nog skelm ook.  Hulle kon nie in ’n Joodse hof getuig nie, so min vertroue  het mense in hul woord gehad.  Hul aalmoese vir armes is nie aanvaar, so besmet was hul geld.

Jesus se eerste ete saam met ’n tollenaar is sommer aan die begin van sy bediening al (Lukas 5).  Levi is besig om daardie einste gewraakte belasting – die slag in vorm van tolgeld – in te samel toe Jesus hom roep om ’n dissipel te word, een van die 12.

29Levi het ’n groot feesmaal in sy huis gehou ter ere van Jesus, en ’n groot aantal tollenaars en ander mense het saam met hulle aangesit. 30Die Fariseërs, en veral die skrifgeleerdes onder hulle, het by sy dissipels gekla en gesê: “Waarom eet en drink julle saam met tollenaars en sondaars?”

31Toe antwoord Jesus hulle: “Dié wat gesond is, het nie ’n dokter nodig nie, maar dié wat siek is. 32Ek het nie gekom om mense wat op die regte pad is, tot bekering te roep nie, maar sondaars.”

Saggeüs (Lukas 19:1-10), die hooftollenaar, vir wie Jesus uit ’n boom uitroep.  Dan nooi Jesus sommer homself na Saggeüs se huis.  Natuurlik is die mense ontsteld dat Jesus by ’n sondaar tuisgaan. Jesus reageer:

10Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is.”

Jesus was ’n vriend van sondaars.

Hy was vir sondaars onweerstaanbaar, maar vir godsdienstiges was hy afstootlik.  Sondaars het hy gemaklik laat voel, terwyl hy vroom mense ongemaklik gemaak het.  Dalk juis omdat die sondaars – die wat deur die vromes verstoot is weens hul sondes – se sondes in die oopte was.

Want sien, Jesus bring sonde na die oppervlak.  En dan vergewe hy dit.  Dit is wanneer jy jou sonde probeer wegsteek, of ontken, dat Jesus jou ongemaklik maak, as’t ware teenoor jou staan.

Jesus nooi ons om eerlik te wees oor onsself, oor ons sonde, ons mislukkings, ons broosheid. Wanneer ons na hom toe gaan en eerlik erken:  “Here, ek is nie goed genoeg nie.  Maak nie saak hoe hard ek probeer nie:  ek kan nie goed genoeg wees nie.  Ek sal nooit goed genoeg wees nie.”, dan ontdek ons:  by Jesus is ons veilig.  By Jesus word ons sondes vergewe en word ons ingenooi, kan ons aansit aan die feesmaal, by die tafel wat Jesus self met sy eie liggaam gedek het.

[Nagmaal]

Om “God” te sê, is om “Jesus” te sê

Hoekom is jy ’n Christen?  Ek weet hoekom ek is.  Ek is ’n Christen, omdat ek in Jesus glo.  Omdat die God wat ek in Jesus leer ken, my asem wegslaan.  Omdat ek glo dat Jesus die verlosser is, die Here, die Seun van God en self God.

Nadat Jesus mens geword het, kan ons nooit meer “God” sê, sonder om nie ook “Jesus” te dink nie.  Jesus het die hele konsep van God verander.  Vir altyd.  Nou is God Vader.  Meer nog:  hy is “Abba”.  Pappa.  God wil in verhouding met ons leef.  God sal alles gee om daardie verhouding te vestig en te beskerm.

Hoe lyk jou prentjie van God?  Is hy die oom met die wit baard, die regter op die troon in die hemel wat net wag om jou te betrap in sonde?  Die wese wat van ver af jou dophou, sonder veel belang in jou wel en wee?

Ons hoef nie te sukkel om ’n prentjie van God te vorm nie.  God het self vir ons ’n prentjie van homself gegee:  Jesus.

Ek glo in hierdie Vader

wat Hom geopenbaar het in Sy Seun,

die Mens wat tussen ons kom woon het

as die Waarheid teen die Leuen:

“Sien dan dié Mens! – die geheim van My gesig.”

 

Ek glo in hierdie Seun

die Timmerman van Nasaret

wat gekom het

en kom om ons te ken

elkeen na sy naam ­

in die fynheid en die grofheid van sy grein

en in die jaarringe van sy pyn.

 

Ek glo in Jesus Christus

die Mens na God se hart

wat God se wil gekies het

om deur die haat en klein begrip

van mense ‘n doringkroon te dra,

en van God geskei te word

in die Godverlatenheid van Golgota ­

die doderyk deurgrond het

en opgestaan het

dat ons onvervreem van God

verby die dood ewig vry kan lewe.

 

Ek glo in hierdie Jesus

wat opgevaar het na die Vader

en vandaar die sagte oordeel bring

omdat Hy nader aan my is

as wat ek aan myself is;

my kern ken,

verby die vel

tot in die chemie van die sel;

wat weet hoe diep my blindheid is

en my vashou ­–

styf teen die braille van Sy lyf.

(uit:  Blydenuus van Geloof deur Wilhelm Jordaan)

Gebed

Slotsang

Lied 215 v1, 2 en 5 Besing die lof van Jesus saam

Seën

Mag die liefde van die Here Jesus ons na hom toe trek.

Mag die krag van die Here Jesus ons sterk maak in sy diens.

Mag die vreugde van die Here Jesus on vervul.

Mag die seën van die almagtige God, die Vader, Seun en Heilige Gees, tussen ons wees en vir altyd bly.

William Temple

Respons

Lied 215 v5 laaste twee reëls:  en dien Hom, volg Hom, loof Hom – Christus is dié Heer!

Lukas 7, preek, sola, Solus Christus

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.