Lukas 4:14-30 – 25-31 Mei
Week van 25-31 Mei
Ons fokus hierdie Pinkster op die werk van die Heilige Gees in die lewe van Jesus, soos ons dit in die evangelies raaksien, en meer spesifiek in Lukas 4:18-19 soos in ons visie verwoord: Geseën om te seën.
RUS
Gesels met mekaar oor wat Pinkstertyd vir jou al beteken het.
Raak stil en bid dat die Here ons opnuut met sy Gees dié Pinkster sal aanraak.
HOOR
1. Lees Lukas 4:14-30. Deel met mekaar wat jou tref in dié gedeelte.
2. Jesus is verwek deur die Heilige Gees (Luk. 1:35), Hy het grootgeword in ‘n huis en ‘n geloofsgemeenskap waar die Heilige Gees werksaam was (Luk. 1:67, 80; 2:26, 38), en Hy is gedoop deur die Heilige Gees om sy bediening te begin (Matt. 3:16-17). Wat lees julle in dié gedeelte oor die werk van die Heilige Gees in Jesus se lewe? Wat leer julle daaruit?
3. Lees Luk. 11:13. Wat is God se belofte aan ons? Hoe kan ons dit ontvang?
4. Lees Joh. 14:26. Hier word ‘n belangrike aspek van die werk van die Heilige Gees uitgespel. Hoe kan ons daarmee saamwerk?
5. Lees Mark. 13:11 (vgl ook Luk.12:12). Hier word nog ‘n belangrike aspek van die werk van die Heilige Gees uitgespel. Kan ons daarop staatmaak dat die Gees ook só in ons lewe werk?
6. Lees veral vers 22 en 25 in Gal. 5:19-26. Watter verband is daar tussen die vrug van die Heilige Gees en die lewe deur die Gees? Wat leer die Here vir jou daardeur?
LEEF
Die Heilige Gees werk in die gemeenskap van gelowiges. Spreek af hoe julle as groep Pinkster gaan bywoon.
Nooi van julle vriende en kennisse saam, ook na die Pinksterete.
Onthou om te bespreek daarvoor by Liésl: 041 583 5115.