Handelinge 17:22-31 – 19-25 Mei

Gee geleentheid dat elkeen iets deel wat gebeur het sedert julle laas by mekaar was.

RUS
Deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons (Hand. 17:28a). Raak stil. Lees Hand 17:28a rustig. Gee ruim (minstens 5 min) stilte dat almal oor die woorde kan reflekteer. Gee geleentheid vir gebed om te reageer op die woorde van die teks.

HOOR
1. Agtergrond: Vandag se teks beskryf Paulus se besoek aan Atene en sy getuienis daar. Atene was die intellektuele hoofstad van die antieke wêreld. Die denkers en filosofieë van hierdie stad beïnvloed die Westerse wêreld tot vandag toe. Mense soos Sokrates, Plato en Aristoteles het ons beskawing help vorm. Athene was vol idees, denkraamwerke en ook afgode. Verskillende vorme van godsdiens het hier floreer. Paulus was trouens verontwaardig toe hy sien hoe vol afgodsbeelde die stad is (16). Op die markplein debatteer hy met Epikuriese en Stoïsynse filosowe, op daardie tydstip die twee groot, invloedryke filosofiese skole in Athene.

Epikuriërs: Volgens die Epikuriërs was die wêreld en die gode baie ver van mekaar verwyderd. Daar was min of geen kommunikasie tussen mens en gode nie. Gevolglik moes mens die meeste van die lewe maak, en maksimum plesier uit jou bestaan put.

Stoïsyne: Volgens die Stoïsyne was die goddelike binne-in die bestaande wêreld, en binne-in elke mens. Mens moes hierdie innerlike goddelike krag ontdek en benut. Die goddelike was nie persoonlik nie, maar ‘n vorm van rasionaliteit. Jy moes dus leer om rasioneel te lewe. Impulse van buite en emosies van binne was gevaarlik. Jy moes leer om koel, objektief, onverstoorbaar en rasioneel te lewe.

Areopagus: Die Areopagus is ‘n rotsheuwel in Atene waar vroeër regspraak gelewer is, en waar die stadsvaders elke dag vergader het. Daar is ‘n onheilspellende klank wanneer die mense Paulus uitnooi om hier op te tree. Die filosowe noem Paulus ‘n praatjiesmaker. Die Griekse term laat jou dink aan iemand wat woorde rondstrooi, soos ‘n voëltjie wat saadjies oppik en in die proses verstrooi. Dié praatjiesmaker het ‘n vreemde boodskap oor vreemde gode. Hy praat oor Jesus en sy opstanding. Die Griekse woord vir opstanding is anastasis, wat aan die naam van ‘n vroulike godin herinner. Die Griekse filosowe wonder dus wie die vreemde God Jesus, en sy vroulike godin, tog kon wees. Om ‘n vreemde boodskap oor vreemde gode te bring, was in Athene gevaarlik. Vroeër is die filosoof Sokrates ter dood veroordeel presies op die klag dat hy vreemde gode en vreemde leringe verkondig. Om vreemde leringe kwyt te raak, kon jou in die moeilikheid laat beland. Vandaar die byna dreigende vraag in verse 19-20.: “Mag ons weet wat die nuwe leer is wat deur jou verkondig word? Want dit wat jy sê val vreemd op ons ore en ons wil graag weet wat dit beteken.”

2. Lees Handelinge 17:22-31. Laat elkeen vir hulle ’n karakter of uitkykpunt in die teks kies. Maak jou oë toe terwyl die teks gelees word en sien jouself in die teks. Deel met mekaar watter karakter jy was en wat met jou gebeur het toe jy jou só in die teks inleef. Gesels oor wat julle in dié gedeelte tref.

3. As jy Paulus se verhaal in hierdie teks moes herskryf binne vandag se Suid-Afrikaanse konteks, hoe sal jy dit doen? Hoe lyk Paulus? In watter dorp speel die gebeure af? Wat is die afgode wat Paulus sien? Met wie redeneer hy? Wat sal die mense se reaksie wees? Hoe sou Paulus se getuienis (v31) vandag klink? Hoe sal die altaar “aan ’n onbekende god” vandag lyk?

LEEF
St Francis van Assissi het gesê: “Verkondig te alle tye die evangelie en, as dit nodig is, gebruik woorde.” Hoe kan jy die evangelie verkondig?

     

Tags: , , , , , ,

Trackback from your site.

Leave a comment