Ons reik uit – 18-28 Augustus
RUS
Vertel vir mekaar hoe julle gewoonlik probleme hanteer. As jy bv. ’n slegte dag gehad het, wat doen jy? Is jy ’n glas half-vol of half-leeg mens?
HOOR
Lees Filippense 1:12-26.
1. Gesels oor wat julle in dié gedeelte tref.
2. Tydens Paulus se aanvanklike besoek aan Filippi eindig hy in die tronk – en kom die tronkbewaarder en sy huishouding tot bekering (Handelinge 16:22-32). Die brief aan die Filippense wat ons vandag in die Bybel het, skryf Paulus waarskynlik terwyl hy onder huisarres is (iewers tussen 61 en 63 n.C. – Handelinge 28:16-30).
3. Paulus is verbasend positief oor sy gevangenskap. Hoe laat sy verstaan van sy eie swaarkry jou voel? Troos dit jou? Of laat dit jou verward, selfs opstandig voel?
4. Watter moeilike omstandighede is daar tans in jou lewe? Hoe sou jy daaroor voel om soos Paulus daaroor te dink: dat God jou moeilike omstandighede gebruik om die verkondiging van die evangelie te bevorder? (Natuurlik beteken dit nie dat God noodwendig die slegte omstandighede oor jou pad gebring het nie. Tog is dit steeds vir God moontlik om slegte omstandighede te gebruik.) Watter opsies/moontlikhede is daar vir jou in jou huidige omstandighede wat die verkondiging van die evangelie kan bevorder? En kan belemmer?
LEEF
• Waartoe roep God jou nou? Hoe gaan jy daarop reageer?
• Hoe gaan elkeen van julle persoonlik in die komende week die evangelie verkondig – deur woorde of dade? Na wie toe stuur die Here jou?
• Dink aan ons gemeente se sendelinge. Wil julle groep nie een van die sendelinge “aanneem” en moeite doen om hulle te ondersteun nie? Kontak hulle, hoor hoe dit gaan, bid vir spesifieke behoeftes, ens.
Filippense, Kleingroepe, materiaal, Ons Gee Om, selgroep, selmateriaal, uitreik