Skip to main content

Kleingroepmateriaal 31 Julie tot 6 Augustus 2017

SAAM-LUISTER

Ingenooi deur God: Vertel vir mekaar waar en hoe julle tans die Here se seën beleef.

Ingaan in God se tyd: Laat iemand Psalm 67 biddend voorlees.

Luister na God se Woord:  Lees Numeri 6:22-27.  Gee kans dat elkeen rustig op hul eie oor die teks reflekteer:  wat staan vir jou uit, wat raak jou?

Luister na mekaar:  Vertel vir mekaar wat julle gehoor het in die teks.

Luister na ander en die tye:  Kyk na die verskillende woorde wat in die teks gebruik word:  seën, beskerming, redding, genade, gebedsverhoring, vrede (shalom) – wat beteken elkeen van hierdie seëninge inhoudelik vir julle?

Sommige mense sê as jy iets uitspreek, sal dit gebeur.  ’n Seën soos hierdie raak dan byna towerwoorde om voorspoed te verseker.  Hoe gemaak as ’n mens voel dat jy nié hierdie seëninge (soos beskerming, gebedsverhoring, ens.) beleef nie?

In jul ervaring, hoe kan ’n mens God se seën te midde van swaarkry en teëspoed beleef?

Luister weer na God se Woord:  Hierdie kort seën is in pragtig poëtiese Hebreeus geskryf.  In Hebreeus het die eerste reël drie woorde, die tweede vyf woorde en die laaste sewe woorde.  Dit reflekteer die uitwaartse beweging van God se seën.

Elke seën het twee dele:  God se beweging na mense, gevolg deur die resultaat van die goddelike beweging.

God word elke keer eksplisiet genoem as die bron van die seën.  Ook die “Ék” in vers 27 is emfaties.  Die seën kom van God af.  Al spreek die priesters die seën uit, kom die seën nie van hulle af nie.  Die seën is ook nie in die woorde self nie.  Die seën kom van God af.

Vers 25 sê letterlik:  “Die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn…” Die lig van God simboliseer dinge soos helderheid, openbaring, die warmte van sonskyn, redding uit donker, vreugde, nuwe lewe, ens.

Fokus op wat God nou doen:  Wat het vir julle oopgegaan in jul gesprek oor hierdie teks?

Die teoloog Olson sê dat die finale (“ultimate”) woord in God se seën “vrede” is.  This gracious nod of God toward the community signifies favor and acceptance, even when not deserved.  Kyk weer na die hele seënbede en sien watter sentrale rol genade daarin speel.  Hoe beleef jy God se seën deur sy genadige guns en aanvaarding?

Antwoord met ons lewe:  Bid saam.  Reageer op wat julle uit die Woord gehoor het.  Bid ook vir mekaar.

FAMILIE-LUISTER

Rus:  Ouers vertel so bietjie hoe kerk was toe julle kinders was.  Watter seën het die dominee gewoonlik uitgespreek?  Kan jy dit nou nog onthou?  Vertel wat julle gunsteling seën is.

Laat iemand bid en vir die Here vra om met julle te praat.

Hoor:  Lees Numeri 6:24-26.

Gesels oor die manier waarop sommige woorde afbreek en ander woorde opbou.  Noem voorbeelde van woorde wat breek en woorde wat bou.

Leef:  Sê vir mekaar bou-woorde.  Maak beurte (dalk kan elkeen ’n spesiale dag kry), sodat elkeen ’n geleentheid kry waar die elke lid van die familie vir hulle sê hoekom hulle kosbaar is.

PERSOONLIKE LUISTER

Stop: Word stil.  Stap in jou gedagtes deur die afgelope 24 uur.  Dink na oor God se teenwoordigheid in elke oomblik.

Neem Waar:  Lees Numeri 6:22-27.  Watter woord of frase staan vir jou uit?  Staan stil by daardie woord of frase.  Hoekom haak dit in jou gedagtes vas?  Wat sê die Here daardeur vir jou?  Fokus op insigte, ingewings, gewaarwordings, prentjies, ‘n lied of gedig wat by jou opkom.  Vra jouself af, of dit jou troos, seën of ont-steld laat.  Dink na oor wat God daardeur vir jou wil sê.  Bid om helderheid, oortuiging en vrede.  Skryf jou gedagtes in jou joernaal, sodat jy oor tyd kan agterkom hoe die Here besig is om jou te begelei rondom herhalende insigte en ingewings.

Luister:  God seën ons met sy teenwoordigheid.  Gaan weer in jou gedagtes deur die afgelope 24 uur en dank God vir sy seën van oomblik tot oomblik.  Dink vooruit aan die 24 uur wat voorlê.  Bid om God se seën vir alles wat voorlê.

 

 

 

Huisgodsdiens, Kleingroepe, kleingroepmateriaal, Numeri, Numeri 6, selgroep, selmateriaal, stiltetyd

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.