5-11 Aug – Herbou die muur
RUS
• Laat iemand bid en vir die Here vra om met julle te praat.
• Ons lees vanjaar die hele Bybel saam deur. Sondag maak ons klaar met die Ou Testament. Gee kans dat elkeen in drie sinne (of minder) vir mekaar vertel waaroor hulle dink die Ou Testament gaan.
HOOR
Lees Hoofstuk 21 van Die Storie of Nehemia 4:1-15 uit ’n kinder-vriendelike Bybel (hierdie week se gedeelte gaan oor die herbou van die muur om Jerusalem – Esra 7, Nehemia 1-2, 4, 6-8, Maleagi 1 -4) of hierdie uittreksel uit “Die Bybel vir Almal”:
1 Toe Sanballat hoor dat ons die muur bou, het hy baie kwaad geword. Hy was ontsteld en hy het die Judeërs [God se volk wat besig was om die muur te herbou] gespot. 2 Die ander amptenare en die leër van Samaria het gehoor wat hy sê. Hy het gesê: “Wat doen die Judeërs? Hulle is swak en beteken niks. Wil hulle alles self regmaak? Wil hulle offer? Wil hulle alles op een dag klaarmaak? Wil hulle die klippe wat swart gebrand is, onder die hope grond uithaal? Hulle kan nie dit doen nie.” 3 Die Ammoniet Tobija was langs Sanballat, en hy het gesê: “As hulle dit regkry om die muur te bou, dan sal ’n jakkals dit kan omstamp as hy teen die muur spring.” 4 Ek het gebid … 6 Ons het aangehou om die muur te bou. Die muur was die helfte so hoog soos hy moes wees, en die mense het fluks gewerk. 10 Die Judeërs [God se kinders wat besig was om die muur te herbou] het gesê: “Die mense wat die klippe moet dra, word moeg, en daar is groot hope grond wat hulle moet wegdra. Ons sal nie die muur klaar kan bou nie.” 12 Party Judeërs wat naby ons vyande gewoon het, het vir ons tien maal kom sê dat ons vyande van al die kante kom om ons aan te val. … 14 Ek het vir die … mense, gesê: “Julle moenie bang wees vir die vyande nie, julle moet onthou dat die Here by ons is. Hy is groot, en almal moet bang wees vir Hom. Julle moet veg vir julle broers, vir julle seuns, vir julle dogters, vir julle vroue en julle huise.” 15 Ons vyande het gehoor dat ons weet van hulle planne en dat ons weet dat God hulle planne laat misluk het. Ons het toe almal teruggegaan na die muur, elkeen het sy werk daar gaan doen.
• Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die verhaal. As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.
• Het iemand jou ook al gespot oor iets wat jy doen? Vertel vir mekaar daarvan. Hoe het jy gevoel?
• Kyk wat doen Nehemia wanneer die mense hom spot (v 4 en 6) – hy bid en hou aan waarmee hy besig was. Hoe sal dit werk as iemand jou spot?
LEEF
• Hoe het God vandag deur die storie met jou gepraat? Vertel vir mekaar hoe jy daarop wil reageer. As daar iemand in julle gesin is wat moedeloos is oor iets omdat hulle gespot word of bang is, bid spesifiek daarvoor.
• Hoe gaan julle hierdie week ’n seën wees?
• Gaan deur jul gebedslys- is van jul gebede beantwoord? Sê dankie! Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid. Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys. Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.